Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Sondag deur Irma Venter

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Irma Venter

Irma Venter is ’n joernalis by ’n mediamaatskappy in Johannesburg. Sy het in 2012 die Siemens Africa Profile-toekenning vir haar skryfwerk oor wetenskap en tegnologie ontvang. Sy het die ATKV-woordveertjie vir spanningsverhale ontvang vir haar debuut, Skoenlapper. Dit word opgevolg deur Skrapnel, Sondebok, Skarlaken en Sirkus.


Opsomming

Sondag
Irma Venter

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798177399

Sondag. Oukersaand. Ná ’n inbraak by die Stables Estate in Pretoria-Oos word bekende sakeman Lafras van Zyl vir dood agtergelaat. Die res van die Van Zyl-gesin verdwyn spoorloos: Katerien van Zyl, vryduiker met ’n Amerikaanse paspoort, en ook haar kinders Willem en Cath. Ná ses weke is daar nog geen leidrade nie, en kaptein AJ Williams van die Brooklyn-speurtak moet inspring om te help.

Joernalis Alex Derksen en fotograaf Ranna Abramson is op die spoor van sewentienjarige Martina Buitendag van Stilfontein. Sy het in Johannesburg vermis geraak en die enigste leidrade oor waar sy haar bevind is ’n verslete tas met R20 000 kontant en ’n handvol foto’s.

Twee misdade. Talle sondes. Meer vrae as antwoorde.


Uittreksel 

Die voordeur swaai geruisloos oop toe ek die knip afdruk. Ek staan vir ’n oomblik stil in die skemerte van die dag, luister hoe die geelvinke kwetter in die tuin se wuiwende luiperdbome, swaar van voëlneste, asof ek ’n indringer is. Asof hulle die huis se mense wil waarsku dat hier ’n ongenooide gas is.

Te laat om dit nóú te wil doen.

Ek skop my gemaklike swart skoene uit, leun af en rol wit materiaalsokkies oor my kouse. Trek latekshandskoene aan en raakvan my baadjie ontslae. Die aand bied geen genade teen die hitte nie en hier is niemand om vir die pistool aan my sy te skrik nie.

Ek maak my hare in ’n poniestert vas en tree tot in die voorportaal van die ruim  ubbelverdiepinghuis in Brooklyn.

Die vinke skree blou moord.

Binne die huis is daar minder stof as wat ek sou dink. Die plek staan al ses weke toe. Die reuk verras my ook. Laventel en suurlemoen.  Niks van die sweet of bloed wat ek sou verwag nie, die kloustrofobiese paniek van mense wat wegskarrel voor geweld nie.

Ek sit die sitkamerlig aan, soek die reuk se oorsprong. Vind dit op die televisiekas: ’n aërosol wat kort-kort parfuum die lug in blaas. Sjjjt, sê dit toe ek verbyloop, die reuk skerp in my neus, die sproei wat in fyn druppels op my val.

Ek stap verby die leerrusbanke, die Kersboom wat steeds rooigeel- groen flikker. Verby die kombuis. Ek tree versigtig oor die bloed – so baie bloed – op die trappe, teen die muur.

Dis lankal nie meer rooi nie, eerder amper swart.

Ek mik na die boonste verdieping, waar een van hierdie saak se grootste raaisels lê. Die een wat my eerste in die dossier opgeval het toe ek dit vanoggend ontvang het.

In by die eerste deur aan die linkerkant. Cath van Zyl se kamer.

Ek skakel die lig aan, gaan sit op die deurmekaar bed. Die spierwit beddegoed lyk nog nuut.

Teen die oorkantste muur is twee geraamde swart-en-wit foto’s van die Amerikaanse ballerina Misty Copeland. Dit hang waar mens dit heeltyd kan sien, of jy in die bed lê of by die kas staan en aantrek. Die een waar sy reguit in die kamera kyk, is geteken. Op die ander een staan EK KAN in dik swart letters. ’n Plakkaat wat ’n uitvoering van Giselle in Londen adverteer, hang bo die bed.

Ek staan op en loop na die venster, maak dit oop. Dis ’n houtraamvenster sonder diefwering hier op die huis se boonste verdieping. My eenslaapkamerwoonstel op die tiende vloer in Hatfield het oral Trellidors, selfs voor die vensters wat nie oopmaak nie. Seker ’n polisieding. En dalk is dit nodig in Hatfield, maar sekerlik nie hiér in die Stables Estate met sy 25 luukse huise, groot erwe, sekuriteit en 24-uur-patrollies nie.

Ek leun buitetoe, soek na bewyse dat die Van Zyls se enigste dogter tydens die aanval by die venster uit is. Die driemotorgarage se dak is net onder die venster, teenaan die huis, seker so twee, drie meter ondertoe. Cath van Zyl is jonk en atleties; dié sprong sou geen moeite wees nie.

Dis te sê as sy gevlug het en nie ontvoer is soos wat die dossier suggereer nie.

Ek soek weer, maar kan niks ongewoons in die flou straatligte uitmaak nie. Geen gebreekte dakteëls of flenters klere nie.

Ek kan nie die gevoel afskud dat sy nié ontvoer is nie. Niemand het dan nog enigiets van haar gehoor nie.

Nee, iets anders het hier gebeur.

Die donkerte verbaas my. Wanneer het die son gesak? Ek kyk op my horlosie. Dis al halfagt.

Ek gaap moeg. Tyd om huis toe te gaan. Ek sal môre terugkom. Ek trek die handskoene uit en druk dit in my jeans se sak terwyl ek ondertoe loop. Op die oog af is alles in die huis steeds nes die Sondagnag toe die Van Zyls verdwyn het.

Nee. Die nag toe Lafras van Zyl vir dood agtergelaat is en sy gesin verdwyn het.

Katerien, Willem en Cath van Zyl. Skoonveld.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top