Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Sielskos deur Koos van der Merwe

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Koos van der Merwe

Koos van der Merwe het bekendheid verwerf as deel van die groep Prophet met die treffer "Houtkruis". Koos is ook ’n predikant, filosoof en woordkunstenaar. Onlangs het hy ook Leonard Cohen en toe Bob Dylan in Afrikaans vertaal en gesing. Hy het vir 15 jaar Sarie se "Laaste sê"-rubriek hanteer.

Foto: verskaf


Opsomming

Sielskos: Stories oor verlange en hoop
Koos van der Merwe

Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320995

Hierdie bundel is saamgestel uit hoogtepunte van die laaste 15 jaar se "Laaste sê"-rubrieke deur Koos van der Merwe in Sarie. Koos weef meesterlik met woorde en het die vermoë om diep betekenis uit alledaagse situasies te haal. Koos vertel van mense, en hulle soeke na hoop, maar ook ons almal se verlange na die Een wat ons nooit sal laat gaan nie.


Uittreksel

Verlang

daar lê lang en somber wense
in die afstand tussen mense
ver lê eendag
hier lê nou
tussenin lê berge blou
met die hartseer tussen daar en hier
bly die mens ’n kuddedier

Geleende tyd

Dit gebeur so dikwels. Jou lewe raak besig. Jou lewe gaan al hoe meer net oor jou eie werk, jou eie huis, eie kinders en vrou. Daar is geen kwade gevoelens tussen jou en jou broers en susters nie. Die lewe het maar net sy gang gegaan. Julle is dekades reeds nie meer kinders nie. Sien mekaar darem nou en dan by ’n troue of ’n begrafnis. Belowe om te bel. Ons moet kuier. En dan gaan maande en jare weer verby.

Abel is suksesvol. En besig. Daar is so ’n effense ongemaklikheid in sy binneste. Dis eintlik seker nie reg dat hy en sy broers so min praat nie. Maar wat kan hy nou eintlik daaraan doen? Sedert sy ouers se egskeiding is dit nou maar die situasie. Daar is nie meer ’n gemeenskaplike huis nie. Dis of die boom sy penwortel verloor het. Hy aanvaar dit maar as ’n deel van die hartseer van die lewe waarvoor hy nie verantwoordelik is nie en waaraan hy nie regtig iets kan doen nie. Ten minste praat hy dikwels met sy dierbare ou moeder en bly op die hoogte van die belangrikste familienuus.

Maar soms dink hy terug aan hoe dit was. Hul kinderdae lê ver terug. Die visvangdae. Die sokkerspeel op die sypaadjie. Die baklei met mekaar, maar die onverbiddelike eenheid as enigiemand van buite dit durf waag om sy hande teen een van hulle te lig. Maar veral die visvang. Hoe sou dit wees as die boeties dit weer saam kon doen? Maar voor die hunkering hom te hartseer stem, gee hy eerder sy gedagtes aan dít wat sy lewe nou van hom vereis. Dit help tog nie om te probeer veg teen die realiteite van die lewe nie.

Drie jaar gelede het Abel die nuus gekry. Faan is siek. Hy was saam met sy ma hospitaal toe. In die hospitaal kom die hunkering weer. Hoe wens hy nie die lewe was anders nie. Maar meer as duisend kilometer skei hulle van mekaar. En ook meer as veertig jaar van hoe die lewe met hulle gemaak het. ’n Paar weke later kry hy die nuus. Die breingewas is nie kwaadaardig nie, maar dokters kan dit nie heeltemal verwyder nie. Die nuus is goed én sleg. Daar is nog tyd. Maar die gewas sal groei en die tyd wat daar nog is, is geleende tyd.

Terug in sy besige lewe vervaag die besluit dat hy moet werk maak en meer met Faan gesels. Dis of die siekte dit nog moeiliker maak. Hy voel ongemaklik. Weet nie wat om met sy emosies te maak nie. Miskien ook skuldig oor die jare se stilte.

Maar dan begin Faan bel. Elke week. Sy spraak is effens anders, maar hy is nog steeds so skerpsinnig soos voorheen. Maar sagter en ernstiger. Die geleende tyd doen iets aan Faan. Hy weet die broers het iets om in te haal. En tyd is min. Ná ’n paar weke is die vreemdheid iets van die verlede. Abel kan nie wag dat Faan bel nie. Faan spreek hom ernstig aan. Jy moet jou ander broers bel. Bloed is bloed. Hy maak die eerste tentatiewe oproepe. Soos ’n ware oudste broer vra Faan verslag.

Abel moet vir sake Vrystaat toe. Miskien moet hy twee dae langer bly en die paar honderd ekstra kilometers na Faan se dorpie toe ry. Sal Faan nog in staat wees om vis te vang? Hulle beplan en die weke kan net nie gou genoeg verbygaan nie.

En dan sien die broers mekaar. Hulle is weer waar hulle vroeër jare was. Dis midwinter en die yskoue plaasdam is plek-plek gevries. Maar Abel en Faan sit by ’n plaasdam. Die water is koud, maar hul harte is warm. Die vis byt nie, maar die vangs is baie groter as ’n net vol vis.

Abel ry die lang pad terug. Sy gedagtes is ’n warboel van hartseer en blydskap. Hy wonder hoekom hy so lank gewag het. Maar in die weke wat volg, is daar nie kans vir selfverwyt nie. Die tyd is te kort. Hy en Faan praat elke dag. As die geleende tyd tog net kan hou. Die somer kom. Die plaasdam wag. En skielik is duisende kilometers en ’n paar dekades geen verskoning nie.

Sy wil onthou word

Jy kon haar klein lewetjie se storie sommer op die eerste dag lees. Op haar gesiggie. Die bang oë. Die skurwe hande. Klere wat lank reeds dít geword het waarvoor selfs vierjariges skaam begin kry.

Ander ouers by my sussie se kleuterskool bring die kinders tot by die deur. Kom ons noem haar Emmie. Emmie moet maar by die hek uitklim. Sy is al gewoond dat niemand haar drukkies en soentjies gee nie. Gewoond dat niemand gaan verlang nie. Gewoond om alleen te wees. En bang.

Emmie kyk grond toe. Grootmense se oë maak haar bang. Want waar sy vandaan kom, is grootmense se oë kwaai. Waar sy vandaan kom, is grootmense se oë bloedbelope. Sy kruip weg vir die soort kyk wat haar nie wil raaksien nie. En sy kruip weg vir die asems wat altyd ruik soos die goed wat in die bottel op die tafel is. Nee, sy kyk nie op nie. Daar bo raas en skel dit. Afkyk en wegkyk is beter in Emmie se wêreld.

Sy praat nie baie wanneer sy tussen maatjies kom nie. Eenkant is vir haar veiliger. Naby kom is nie goed nie. Emmie oorleef omdat sy weet om buite trefafstand te bly. Vir maande bly hierdie afkykkind in haar eenkantplek. Speel alleen. Eet alleen. Terwyl ander kindertjies op ouma Breggie se skoot kom sit en hulle verwonder oor die baie plooie onder haar dierbare ou ken en arms sit Emmie onder die boom.

Maar geen kind kan vir altyd die liefde wat wink op die sagte skoot en liefdevolle kyk van ’n ouma vermy nie. Emmie begin opkyk. Skaam en versigtig. ’n Kyk wat vra of sy veilig is. Sy is nie meer elke dag onder die boom in die verste hoek van die tuin nie. Sy loer om die hoek na waar Ouma op haar tuinwoonstel se stoep sit en naaldwerk doen. As Ouma haar roep, hardloop sy weg. Maar môre kom loer sy weer. Effens nader.

Emmie speel steeds alleen. Maar nou nie meer onder die boom nie. Ouma se tuin is nou haar alleenplek. En sy begin al hoe meer opkyk. Haar oë volg die liefdevolle oumens op die stoep. As Ouma ingaan om tee te maak speel Emmie vlak voor die deur. As Ouma uitkom, speel sy weer effens verder. Maar elke dag al hoe nader. Nader aan die vreemde wêreld waar grootmense nie seermaak nie.

My ma ken kinders. Sy het al meer afvlerke in haar nes vertroetel en grootgemaak as wat ons kan tel. Sy weet Emmie is gereed vir haar arms. Emmie speel vlak onder haar oë. Ouma laat val kamma ’n tolletjie gare en maak asof sy sukkel om op te kom om dit op te tel. Emmie tel dit op en gee dit vir Ouma. En op haar kindergesiggie wil-wil dit lyk asof ’n eerste glimlaggie verskyn.

En so begin dit. Die stadige ingang na ’n kinderhart. Emmie kom help met lappies en ouma-goeters. Maar sy is nog buite vat-afstand. Tot op ’n dag. Sy val en skaaf haar knieg. Sonder dat sy dit besef, hardloop sy na Ouma toe. En dan is sy veilig. Op Ouma se skoot. Ouma soen die skaafplek gesond. Vir meer as ’n week kom Emmie elke dag en vertel hoe seer die skaafplek is. En dan soen Ouma. Daar is skaafplekke wat net deur soene gesond gemaak kan word.

Drie jaar later moet Emmie groot skool toe. Sy sit elke dag by die grys tannie en help met dit en dat. In die laaste week draai sy om Ouma. Sy vra ’n skêr en ’n lap. My ma wonder wat in haar kindergedagtes aan die gang is. Emmie sny versigtig ’n lang reep uit die lap wat Ouma vir haar gegee het. En dan bind sy dit aan die tralies voor my ma se deur. Wat maak jy, Emmie? Dis dat Ouma my nie sal vergeet nie. En ou trane rol oor ou wange.

Emmie is amper ’n jaar reeds in die groot skool. En as die motor stilhou om haar boetie te kom haal, spring sy uit. Om my ma te kom druk. En seker te maak die lap is aan die tralie.

Want ons almal wil onthou word …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top