Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Rose vir Roselle deur Rosita Oberholster

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Rosita Oberholster

Rosita Oberholster woon op die oomblik nog in die pragtige Moorreesburg, maar sluit eersdaags by haar man en skoolgaande dogter in Vredendal aan.

Rosita is ’n ingeligte, intelligente skrywer wat haar markvorsing goed doen en sodoende ook goed verkoop. Van haar vorige vyf Romanzas is saam al meer as 12 000 kopieë verkoop, want lesers weet hulle kry gehalte. Sy het die ATKV-Woordveertjieprys vir Romanses in 2017 met Troue in ’n towerbos gewen.

Marisca Harris skryf op Goodreads oor Troue in ’n towerbos: “Rosita Oberholster het die kuns van moeitelose dialoog vervolmaak. Eers toe ek die boek toemaak tref dit my dat ek nie eenkeer na die taal opgelet het of my aandag afgelei was deur onegte karakters nie. Ek het ’n heerlike paar uur spandeer saam met Hannah, Emsie en Malan.”

Rosita is die ma van interessante kinders en naas haar skryfwerk, is sy ook baie lief vir skilder. Solank sy kan wegraak in haar wêreld van woorde en kuns is sy op haar gelukkigste.


Opsomming

Rose vir Roselle
Rosita Oberholster
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799386950

’n Ontroue verloofde en haglike finansies bring Roselle terug op die familieplaas wat hare sal word wanneer haar twee tantes die dag nie meer daar is nie.

Terug hier op La Roseraie lyk dit nie asof die spogroosplaas so winsgewend is as wat haar tantes haar laat verstaan het nie. Dalk was dit, maar nou kort die plaas ’n ferm hand. Droogtes het hul tol geëis en mense haal nie meer so baie geld vir hierdie eksotiese blomme uit nie.

Om alles te kroon, het haar tantes ’n swerwer wat vir kos en verblyf werk, ingeneem. Roselle vertrou hom nie. Wie is hy en waar kom hy vandaan? Wat soek hy hier? Haar tantes weet nie en hy weier om haar te sê toe sy hom direk vra.

Tog, hy help en om vorentoe te boer, sal sy die swerwer se hulp nodig hê.

Haar eksverloofde se meesterlike vermoë om te manipuleer het egter steeds gevolge en Rosalie se trots maak dat sy weier om die swerwer se raad te vra.

Rose vir Roselle is ’n meer verwikkelde, langer romanse wat gekenmerk word deur sterk verhoudings en karakters.

Rose vir Roselle is geskryf ter nagedagtenis aan die skrywer se babasussie wat net sewe weke oud geword het – haar naam was Roselle. Die baba se graf dra die inskripsie Laat die kindertjies na My toe kom ... en word ook in die boek genoem.


Uittreksel

“Staan op.”

“Nee.”

“Staan op, Roselle, of ek sleep jou uit die bed. En dis nie grappies nie, jy ken my.”

Roselle trek die duvet van haar gesig af. ’n Lang, gekaftande figuur staan haar hande in die sye en bekyk. “Hemel, Sophia,” kraak dit deur haar stembande. Sy maak keel skoon en lek oor haar droë lippe. “Gaan net weg en laat my in vrede. Ek pla mos niemand nie.”

“Jy werk op almal se senuwees. Die hele verdomde plaas staan stil, want Haar Hoogheid lê in ’n donker kamer en sulk oor God knows what.” Gordyne en blindings word raserig oopgemaak. “Jy kan alle vrede kry wat jy wil hê, as jy jou gat uit die bed lig en vir my en Freya kom vertel hoekom jy vroualleen al die pad van Johannesburg ry tot hier, om tweeuur in die môre met dikgehuilde oë die agterdeur te kom afbreek. En net vir ingeval jy vergeet het, dit was al amper twee dae gelede. Jy skuld ons ’n verduideliking.”

Helder lig slaan hard en diep agter haar oogbanke vas. ’n Steekpyn klief deur die linkerkant van haar skedel, gevolg deur dowwe, ritmiese slae. Sy trek die punt van die duvet oor haar een oog. Die kant waar dit die seerste is. Sy wag dat die pyn ietwat bedaar voor sy praat. “Ek het gesê ek wil rus, ek sal later met julle praat. Respekteer dit, asseblief,” probeer sy teen haar beterwete met die hardkoppigste mens op aarde redeneer.

Sophia staan en bekyk haar hande in die sye. “Breakfast is oor ’n halfuur. Kiet dek vir jou ook ’n plek.” Sy kyk vloer toe. “Kom, Arthur, uit is jy. Jy kan ook doen met vars lug.”

Die golden retriever staan teensinnig op en sluip omkyk-omkyk by die deur uit.

Sophia tik op haar polshorlosie. “Tik-tok. Vyf en twintig minute. Moenie dat ek jou moet kom haal nie.”

Bombastiese ou hel. Nie eens die hond sal dit waag om ’n bevel van Sophia te verontagsaam nie. Roselle stoot die vereduvet van haar af. Te veel beweging. Te vinnig. Klop. Klop. Klop. Sy sug hard en berou dit onmiddellik. Weer te veel beweging. “Ek kom.” Sy wag tot Sophia die deur onnodig hard agter haar toemaak voor sy moeisaam opstaan.

Sy moes seker van beter geweet het as om te dink sy sal met hierdie tipe gedrag by Sophia verbykom. Freya miskien nog, maar beslis nie haar bedonnerde rooikoptante nie. Dié het heel agter in die ry gestaan toe takt en geduld uitgedeel is. Of dalk was sy glad nie eens in die ry nie. Heeltemal die teenoorgestelde van die saggeaarde, moederlike Freya. Sy kon nog nooit verstaan hoe dit moontlik kan wees dat haar twee tantes, wat tog uit een baarmoeder gekom het, soos dag en nag kan verskil nie.

Die kamer draai om haar en sy moet eers aan die spieëltafel vashou om haar balans te herwin voor sy badkamer toe kan gaan. Die geklop raak stadig minder, maar ’n dowwe pyn bly sit agter haar oë. Alles voel dik. Haar kop, haar keel, haar oë. Haar lyf voel afgerem en moeg. Sy stap sleepvoet badkamer toe en draai haar kop na die vollengtespieël. Liewe hemel. Trol in wording.

***

“Uiteindelik,” glimlag Freya breed toe Roselle by die kombuis instap. Geforseerd, maar breed. En al lê tekens van kommer om haar mond en oë ingegroef, kan sy steeds deur ’n ring getrek word. Soos altyd. Haar silwer deurweefde donker hare is losweg agter haar kop met ’n groot knip vasgevang, haar rietskraal lyf geklee in ’n jean en ligblou bloes. “Ek is so bly jy het besluit om op te staan. Jy is seker dood van die honger. Jy het skaars geraak aan die kos wat Kiet vir jou kamer toe geneem het.”

“Die besluit was nou nie heeltemal myne nie, maar hier is ek.” Roselle gee onderlangs vir Sophia ’n vuil kyk.

Freya onderskep dit en klap haar tong. “Hene, Sophia. Ek het dan so mooi gevra jy moenie met haar sukkel nie, sy sal vir ons vertel wat gebeur het wanneer sy gereed is. Kom sit, Roselle.” Sy trek ’n stoel aan die kombuistafel uit. Oorkant Sophia.

Sophia trek haar vingers deur haar pennetjieregop hare. “Ek het maar net gereken hoe gouer sy uit daardie donker kamer kom, hoe gouer sal sy regkom. Wat dit ook al is wat sy makeer.” Sy kyk skreefoog oor haar brilraam na Roselle. Vervolg dan in haar Elsabé Zietsman-stem: “Is jy pregnant? Dis regtig nie meer ’n skande nie, jy weet. Hordes ongetroude paartjies het deesdae kinders. Ek sou net ’n ander pa vir die stomme kind wou gehad het, maar nou ja. Jy het jou keuse gemaak.”

Freya laat sak haar mes en vurk en gee vir Sophia ’n moordende kyk. “Moet jy so onsensitief wees?”

Iets stoot brandend en bitter in Roselle se keel op. Sy sluk en sluk, maar dit bly. “Rêrig, Sophia? Is dit die beste waarmee jy vorendag kan kom?” vra sy ergerlik. Sy sug lank en diep. Dit voel skielik asof sy nog ’n dekade by haar vier en dertig somers kan voeg. “Nee, ek verwag nie.” Sy sluk weer ’n paar maal voor sy verder praat. “Maar iémand verwag.” Haar stem breek. “My verloofde se twee en twintigjarige assistent.” Sy probeer nie eens die trane keer wat in haar oë opdam en oor haar wange loop nie. “En Charles is die pa.”

“Louisa? Maar so ’n klein tert,” mompel Sophia. “Sy het nogal nie na die tipe gelyk nie.” En toe harder: “Ek het van die begin af geweet Charles is ’n donnerse rokjagter. Dit staan kruis en dwars oor sy gladde, salonbehandelde bakkies geskryf. Hy’s verdomp oud genoeg om haar pa te wees. En ek hoop na dese is hy jou gewése verloofde.”

Freya neem haar hand. “Ek is so jammer, kind. Dit moes vir jou verskriklik gewees het. Dis goed jy het La Roseraie toe gekom, maar jy moes nie alleen in die nag gery het nie. Jy moes gebel het, ons sou ’n plan gemaak het.”

Roselle knik en vee oor haar wange met die rugkant van haar hand. “Ek weet.” Sy trek haar skouers op. “Maar ek kon nie dink nie. Net doen. Die plan was om te ry en êrens my kop agtermekaar te gaan kry, en toe ek weer sien, toe is ek al amper in Worcester. Toe maak dit sin om die laaste ent Franschhoek toe af te lê.”

Freya vryf oor haar skouers. “Dit maak nie saak nie, jy is nou hier. Van hier af kan dit net beter gaan, jy sal sien. Eet nou iets, dit lyk asof jy gaan omval.”

***

“Dankie, Kiet-Kokkewiet.” Roselle slaan haar arm om die skraal skouers. Baie skraler as wat sy onthou. Sy kyk af op Kiet se grys kopdoek met die fyn skoenlappermotief daarop. Sy het dit vir haar gebring die laaste keer wat sy by die huis was. Meer as ’n jaar gelede. En dit was net vir ’n paar dae. Sy weet sy word stilweg verwyt oor haar onbetrokkenheid by die plaas en sy mense. Háár mense. Wat sy skandelik afgeskeep het die laaste paar jaar.

Kiet pof die laaste kussing op en rangskik dit saam met die ander kussings op die bed. “Plesier. Ek is bly jy het uiteindelik opgestaan.” Sy kyk ondersoekend na Roselle. “Of wil jy maar liewer weer kom lê? Jy is baie maer en bleek.” Haar mond trek in ’n dun lyn. “Dis sulke tye dat ek bly is ek het nooit man gevat nie. Dis net sonde en ergernis.”

Roselle skud haar kop. “Nee wat. Ek is nou op. Twee dae en nagte se gewroeg was lank genoeg om my te laat besef dat die lewe wat ek vir die laaste nege jaar geken het, vir goed verby is. Plus die dag en nag wat ek op pad was. Plus natuurlik die jaar of drie voor dit waarin my en Charles se verhouding van sleg na slegter gegaan het. Dis tyd om aan te beweeg.”

“Dis net die beste.” Kiet skuif die houtraamvenster groot oop. Byna onmiddellik is die hele vertrek gevul met die subtiele geur van rose. Ondertone van katjiepiering en laventel dra by tot die aromatiese ervaring. “Ou Sophia het omtrent swaargekry van skone nuuskierigheid. Sy het seker tien keer voor jou deur omgedraai. En aansienlik meer as gewoonlik geloop en mompel.”

Roselle glimlag. Haar kop voel tog effens beter. Dit moet die ontbyt wees wat Freya haar forseer het om te eet. “Ek kan maar net dink.” Sy trek haar asem diep in. “Ek het dit gemis. Die stilte en die geur van rose. Ek moet dit waardeer terwyl ek dit nog kan ruik. Oor ’n dag of twee is ek die geur gewoond, dan kom ek dit nie meer agter nie.”

“Ek ruik dit lankal nie meer nie. Gaan jy bly?”

Sy knik. “Ek het nie ’n keuse nie, maar La Roseraie is in my bloed. Dis my plek.” Sy sug. “Al het ek vir jare lank geglo dat Charles my deel is en my plek langs hom. Blykbaar was ek al een wat so gedink het.”

“Ek is bly. Jou twee tantes sal dit ook so wil hê.”

“Ek sal net werk moet kry en gou ook.” Roselle klap haar mond toe. Niemand weet dat haar finansies vir alle praktiese doeleindes ’n nul op ’n kontrak is nie. En hulle hoef ook nie. Sy moet net so gou as moontlik ’n betrekking êrens kry. Maar waar? Wat weet sy van werk? Haar graad gaan haar net mooi niks help nie. Sy het dit meer as tien jaar gelede verwerf en het geen ondervinding nie. Sy gaan sit dwars op die breë vensterbank en trek haar bene op. Stut haar ken op haar knieë soos sy kleintyd gemaak het. Miskien is dit hoekom al hierdie dinge gebeur het; die gans wat die goue eiers gelê het, se doel is uitgedien. Hoe minder haar erfgeld geword het, hoe minder aandag het Charles aan haar gegee. En hoe minder aandag hy aan haar gegee het, hoe harder het sy probeer om hom tevrede te stel. Een lang, bose kringloop.

“Een dag op ’n slag, Roselle. Word eers weer heel,” bring Kiet se stem haar terug na die hede.

Sy knik. “Een dag op ’n slag.”

Roselle kyk by die studeerkamervenster uit. Grasgroen grasperke wat in terrasse uitgelê is, strek tot aan die rand van ’n groot gronddam. ’n Ligte bries roer deur die takke van ’n klompie treurwilgers op die damwal. Nou is daar niks, maar sy weet dat wanneer die winter kom, die damwal oortrek sal wees van aronskelke – varklelies, soos hulle dit noem. Anderkant die dam tussen ’n klomp eikebome steek ’n gedeelte van die ou keldergebou uit. Al vir baie jare nie meer in gebruik nie, en tog lyk dit nie so nie. Seker omdat dit ’n klipgebou is. Weerskante daarvan strek hul wingerde en die bure s’n so ver as wat die oog kan sien. Tot aan die voet van die Franschhoekberge wat stil waghou oor die ouwêreldse prentjie voor hom. Die roostonnels is nie van hier af sigbaar nie, dit lê links van die werf.

La Roseraie. Een van die grootste roosboerderye in die Boland, en sy het die voorreg gehad om hier groot te word. Sy was nog ’n kleuter toe albei haar ouers in ’n bergklimongeluk omgekom het. Vandat sy haar verstand gekry het, was dit maar net sy en haar twee tantes aan vaderskant. En Kiet. Dié drie was so besig om haar pa se boerdery aan die gang te hou en haar groot te maak, dat nie een van hulle ooit tot trou gekom het nie. Snaaks genoeg het sy dit nooit vreemd gevind dat daar nooit iemand in enigeen van die twee susters se lewe was nie. Noudat sy ouer word, wonder sy soms hoekom nie. Albei van hulle is steeds aantreklik en aan geld is daar beslis nie ’n tekort nie. Persoonlikheidsgewys skort daar ook niks met hulle nie. Of altans nie met Freya nie. Sophia is hopeloos te ongeskik om ’n man te kry.

Haar oë dwaal terug tuin toe en kom tot rus op ’n massiewe visvywer. Helder water borrel en bruis uit ’n mosbegroeide kruik wat deur ’n naakte vrou vasgehou word. ’n Plonsgeluid laat haar in die rigting van die swembad kyk. Arthur se kop verdwyn onder die water en skaars ’n sekonde later skiet die dier soos ’n prop boontoe en swem al in die rondte. Sy ril vir sy part. Dit is al middel September, maar steeds ysig koud. Veral soggens.

Sophia se stem ruk haar uit haar mymering. Sy het byna van haar teenwoordigheid vergeet. “Jy moet ’n lys maak van al jou goed wat in Johannesburg is sodat ons dit hierheen kan laat vervoer.”

Roselle skud haar kop. “Ek wil niks hê wat daar is nie. Die meeste van my klere en persoonlike goed het ek saamgebring. Charles moet maar met my paar meubelstukke maak wat hy wil. Ek het gereël dat ’n vriendin my skilderye gaan haal en eers by haar hou. My klere wat nog daar is, kan hy maar vir die kerk gee. Dis nie veel nie.”

“Hoor jy iets van hom?”

Roselle maak ’n blaasgeluid. “Aanhoudend. En hy is erger as ’n vyfjarige. Die een oomblik soebat en huil hy, die volgende skree en stamp hy voete. Ná ons laaste gesprek het ek hom op my foon en alle sosiale netwerke geblokkeer.” Sy skud haar kop. “Ek ken hom glad nie meer nie. Ek het al gewonder of hy nie dwelms of iets gebruik nie. Hy is net nie meer die mens wat hy ’n paar jaar gelede was nie. Maar die verandering was so subtiel, ek het eers agtergekom daar is ’n groot skroef los toe dit hopeloos te laat was.”

Sophia knik. “Moet asseblief net nie dat hy jou ’n gat in die kop praat nie. Dis een ding om probleme te hê, maar ’n ander vrou verwag nou sy kind.”

“Jy ken my, Sophia. Ek is ’n baie verdraagsame mens, maar as ek te ver gedruk word, is dit verby.”

“Kan ons aanvaar jy het gekom om te bly? Ek hoop van harte so. Jy hoort hier. Jy moes in die eerste plek nooit weggegaan het nie.”

Roselle glimlag. Sophia word seker oud, sy is nie juis die sentimentele tipe nie. So ’n uitlating sou meer by Freya gepas het. “Ja, ek het gekom om te bly.” Sy staan op. “Kom ons gaan drink tee.”

Sophia trek die telefoon nader. “Stap jy solank, ek kom. Ek het ’n oproep of twee wat ek moet maak.”

Roselle stap stadig af in die lang, breë gang van La Roseraie se meer as twee honderd jaar oue huis. ’n Massiewe ou Kaaps-Hollandse opstal met glimmende geelhoutvloere. Onmoontlike hoë houtplafonne en swaar kristalkandelare. Dik dakbalke. Oorspronklike skilderye teen die mure en Persiese tapyte. Swaar, antieke meubels wat al vir ten minste vyf of ses geslagte in besit van die Bertrand-familie is. Hier en daar is selfs ’n paar oorspronklike Franse meubelstukke wat deur die eerste Bertrands hierheen gebring is. Die huis is koel en donker. Niks het verander nie. In die nege jaar wat sy weg was, het die horlosie hier ophou tik. Eintlik lank voor dit al.

Aan die onderpunt van die gang kom sy tot stilstand voor ’n skildery van haarself. Ongeveer vyf jaar gelede geskilder toe sy vir drie weke op die plaas gekuier het. Haar donker hare hang los en blink oor haar skouers, haar blou oë groot en helder. Sy kyk af na die naam van die kunstenaar. Sophia Bertrand. Dit was Sophia se laaste fotorealistiese portret. Deesdae is haar werk meer ekspressionisties en sy skilder omtrent net die rose wat Freya so ywerig kweek. Sy sug en draai weg van die skildery.

Charles het nooit saam met haar plaas toe gekom nie. Hy het die meeste van die tyd verskonings en skete uitgedink oor hoekom hy nie saam met haar kon kom nie. Kwansuis omdat hy en Sophia nie langs een vuur gesit het nie. Eers later sou sy uitvind hy het nooit, soos sy, hulle verhouding heilig geag nie. In die tye wat sy weg was, het hy sy meer liberale vriende tuis onthaal. Meesal vriendinne. Drank het vrylik gevloei en naakstudies tot nuwe hoogtes gevoer. Sou dit anders wees as hulle getroud was? Sy het een of twee maal geskimp op ’n meer permanente verbintenis. Al wat sy gekry het, was ’n verloofring om haar te paai. Sot wat sy was. Is.

Sophia is al in die kombuis. “Waar het jy so lank gedraai? Ek dag die tee is al gemaak.” Roselle skakel die ketel aan. “Ek het deur die huis gedwaal. Gekyk of julle nie dalk intussen ’n blompot of portret verskuif het vandat ek laas hier was nie.”

“Ja, spot maar. Jy weet ons hou van ons goeters soos dit is.”

“Waar is Freya? Sy mis nie sommer namiddagtee nie.” Roselle sit drie fyn koppies en pierings op ’n skinkbord reg. Teepot, suikerpotjie en melkbeker.

“Hier is ek,” sê Freya net voor die kombuisdeur en haal haar groot, geblomde laphoed af. “Ons kan oormôre die eerste Belindas begin oes. Net betyds vir die Kallis-troue.” Sy beduie na die yskas. “Haal vir ons van Kiet se wortelkoek uit.”

Sophia steek ’n sigaret aan. “Dis goed. Ek was ’n bietjie bekommerd oor ons tydsberekening.” Sy blaas ’n dun straaltjie rook die lug in.

Freya se wenkbroue trek saam. “Demmit, Sophia, is dit regtig nodig dat ons elke dag oor dieselfde ding baklei? Moenie in die kombuis rook nie!”

“En ek sê jou elke dag, ek rook net waar en wanneer ek lus kry. Ek is siek en sat daarvan om gedurig voorgesê te word.”

Freya druk haar vinger onder Sophia se neus. “Jy gaan jou nog doodstook.”

Sophia maak ’n blaasgeluid. “Jy sal lank voor my gekis word teen die tempo wat jy werk en nooit ’n break vat nie.”

Roselle slaan haar oë dakwaarts. Niks het verander nie. So gaan dit bykans elke dag. En tog kan hulle nie sonder mekaar nie. Sy skud haar kop. “Twee sestig- plussers wat oor nonsens baklei.” Sy kyk vies van die een na die ander. “Sophia, maak dood daardie stink sigaret, jy weet hier word nie in die huis gerook nie. Freya, hou op kerm oor haar rokery, sy gaan nooit ophou nie.” Sy lig die teepot van die skinkbord af. “Tee?”

Sophia rol haar oë en druk haar sigaret dood.

Freya glimlag. “Dis lekker om jou terug te hê. Wil jy môre help met die oes?”

“Ja, natuurlik.”

“Die prinses gaan vroeg opstaan en haar hande vuilmaak?”

Roselle swaai om en kyk in ’n breë borskas vas. Wie? Sy kyk verskrik op. En op. En sluk. Onvriendelike blougrys oë daag haar uit om iets te sê. Haar te verdedig. Sy sluk weer.

Hy vervolg asof hy glad nie bewus is van haar ongemak nie. “Steph.” Hy steek sy hand na haar uit.

“Ons val vyfuur in. Stiptelik.”

Haar hand raak weg in syne. Sy sal iets moet sê. Sy voel soos ’n volslae idioot. Dom en onbeholpe. “Aangename kennis,” is die beste waarmee sy vorendag kan kom, al is die ontmoeting allesbehalwe aangenaam. Sy kan nie glo sy staan met ’n mond vol tande nie.

Hy los haar hand en verdwyn weer net so vinnig as wat hy voor haar verskyn het.

Freya proes agter haar hand. “Waar het hy so vinnig vandaan gekom?”

Sophia roer haar skouers. “Maak toe jou mond, Roselle.”

“Wie was dit?” vra Roselle. “Werk hy hier? En wie de hel gee hom die reg om so met my te praat?” Arrogante bliksem.

Freya beduie na die skinkbord. “Bring die tee stoep toe, dan vertel ons jou.”

Roselle mis nie die vinnige kyk wat die twee van hulle wissel nie.

“Ek-skúús?” Roselle kyk met afgryse na haar twee tantes. “Hy is ’n wat?”

“Ek sê mos . . .’n swerwer. Wel, so soort van,” sê Freya terwyl sy haar kortgeknipte naels aandagtig bestudeer.

“Voor jy gal afgaan, hy is vir ons sy gewig in goud werd hier op La Roseraie,” verdedig Sophia sommer by voorbaat. “Hy doen tien mense se werk. Hy het letterlik die hele plaas op hom geneem.”

Roselle gooi haar hande in die lug. “Ek kan nie glo julle is so onverantwoordelik nie. Die man kan ’n reeksmoordenaar wees. Vir al wat julle weet, is julle besig om ’n adder in julle boesem te vertroetel.” ’n Heel aantreklike adder, as sy dan nou die duiwel die eer moet gee wat hom toekom. Nie modelmooi nie, maar daar is iets omtrent hom wat . . . Nie haar smaak nie, neem haar kop oor. Te boers. Te groot, te sterk, te man. Sy verkies dat ’n man meer verfynd moet wees. Soos Charles. Sy sug. Sou hy haar mis? Voel hy sleg omdat hy haar so skandelik in die steek gelaat het? Sy moenie aan hom dink nie. Daardie gedeelte van haar lewe is verby. Sy fokus weer op die twee voor haar. “Wel?” vra sy met opgetrekte wenkbroue. “Wanneer was julle van plan om my in te lig dat ’n potensiële misdadiger hom hier op La Roseraie kom ingrawe het?”

Sophia frons. “Jy het vanoggend eers opgestaan. Wanneer moes ons jou nogal gesê het? En dis nie asof ons jou toestemming nodig het om mense aan te stel nie.”

“Nee, julle het nie my toestemming nodig nie, maar julle kon my darem maar net gesê het. Hoe lank is hy al hier?”

Freya se oë pleit om begrip. “’n Rukkie. En ons het hom nie eintlik aangestel nie. Hy werk vir kos en verblyf. Jy gaan deur ’n moeilike tyd, ons wou jou nie onnodig ontstel nie,” paai sy.

“Julle logika verstom my.” Sy blaas haar asem hard uit. “’n Swerwer, van alle dinge.”

Sophia vroetel met haar pakkie sigarette. “Moenie so judgmental wees nie. Hy is al maande hier. As hy ons wou vermoor of beroof, kon hy dit al lankal gedoen het.” Sy staan op en stoot haar stoel met mening onder die tafel in.

En hiermee weet Roselle, is die gesprek afgehandel. Steph wie ook al, het gekom om te bly. Of ten minste tot hy uitgekuier is, en die wanderlust hom weer pak. Sy staan ook op. “Hou julle maar aan om in hierdie gekkeparadys te leef. Ek sê nou vir julle, geen man van sy ouderdom swerf sommer net vir die lekker nie. Iewers is ’n helse fout. En die feit dat hy net vir ’n dak oor sy kop en kos werk, verhoog net my suspisies jeens hom.”

Freya draai ’n teelepel om en om tussen haar vingers. Haar tweede koppie tee staan yskoud en vergete voor haar. “Hy is agt en dertig, hy is nie getroud nie, en hy het nie kinders nie. Ons weet dat hy eerlik en opreg is, en nie ’n vlieg skade sal aandoen nie, en dit is vir ons genoeg.”

“Ons sal sien. Verskoon my, ek gaan stap.”

***

Roselle maak die deur van een van die kweekhuise oop. Sy asem die vogtige lug diep in. Verlustig haar in die see van halfoop roomkleurige roosknoppe met ’n skaars waarneembaar salmkleurige tint wat voor haar uitstrek. Die geur is so oorweldigend dat dit haar byna duiselig laat. Sy pluk ’n roosknop en streel oor die fluweelsagte blare. Volgens Freya het haar pa gesweer hy sal nooit ’n roos kweek wat na niks ruik nie, want dan is dit nie meer ’n roos nie. Sy twee susters het dieselfde oortuigings gehad, vandaar al die geurige variëteite op die plaas. Sy besef nou eers in hoe ’n mate sy alles hier gemis het. Die kleure, die geure, die ongekompliseerdheid van die plaaslewe. Die rustigheid.

Behalwe natuurlik die indringer wat dreig om haar sielevrede te verongeluk. Sy skud haar kop. Dalk is dit ’n bestiering dat sy teruggekom het. Sophia en Freya het duidelik iemand nodig om hulle teen hierdie tipe goed te beskerm.

Andenken an Alma de l’Aigle, Hybrid Musk, 1955, lees sy op die plaatjie wat teen ’n houtbalk aangebring is. Sy wonder of die onbekende Alma weet wat ’n groot eer haar te beurt geval het toe iemand besluit het om ’n uitsonderlike roos te kweek en dit na haar te vernoem. Miskien moet sy met Freya se hulp ook haar eie roos kweek en dit Roselle noem. Niemand anders gaan dit tog vir haar doen nie. Hoe sal dit lyk? Sy glimlag skeef. Soos haar lewe nou daar uitsien, sal dit seker ’n verdorde vuilpienk rosie wees met skewe en krom kelkblare.

Sy stap dieper die tonnel in. Wat ’n pragtige gesig. Vrede omvou haar en vir ’n oomblik kan sy byna vergeet dat sy ’n gemors van die laaste nege jaar van haar lewe gemaak het. Willens en wetens. Haar keuse. Louisa se groot groen oë doem voor haar op. Wat het die kind besiel? Sy kon iets van haarself gemaak het as sy wou. En Charles? Wat het hy gedink? Hy het nie gedink nie. Punt. Sy byt haar onderlip vas en skud haar kop, soos male sonder die laaste paar dae. Sy weet nie wie van Charles of Louisa haar die seerste gemaak het nie.

Aan die onderpunt van die tonnel draai sy om en stap terug. Sy skrik toe Steph se rysige gestalte in die oop deur verskyn. Sy hou haar blik afgewend.

“Wat dink jy van die Almas?” vra hy toe sy binne hoorafstand kom.

“Besonders. Verskoon my,” sê sy bot en skuur verby hom.

***

Hy staan opsy sonder om ’n woord te sê.

“Hoe het jy geslaap?” vra Kiet toe sy in die kombuis kom. ’n Haan klap sy vlerke en gee ’n uitgerekte kraai onder die kombuisvenster. Aan die ander kant van die werf sit een van sy broers of neefs die stuk saam met hom in. Die resultaat ’n redelike vals duet.

“Glo dit of nie, maar ek het soos ’n klip geslaap.” Roselle onderdruk ’n gaap agter haar hand. “Waar is Freya en die ou vuurvreter?”

Kiet sit ’n koppie koffie en twee stukke boerbeskuit voor haar neer. Lekker. Sy sien sommer op ’n afstand die stukkies kaiings daarin. “Hulle is nou net weg tonnels toe en Steph het ’n paar ekstra werkers by Gabriela gaan haal. Vandag word hier weer vir ’n verandering groot geoes.”

Net die noem van sy naam krap haar om. “Hoe gaan dit met Gabriela?” Sy wil niks van Steph hoor nie, en sy wil ook nie oor hom praat nie. “Ek moet so gou as moontlik by haar uitkom.” Gabriela is net so deel van haar lewe as wat haar twee tantes is. Sy boer op die buurplaas Liberté, waarvan La Roseraie eens op ’n tyd deel was. Haar man Liam het haar vroeg reeds ontval, maar sy wou niks weet van verkoop nie. Vroualleen het sy die plaas se vrugbare grond laat bewerk en vandag is Liberté-wyne wêreldwyd bekend.

“Dit gaan goed met haar. Nes Freya, raak sy mos nie ouer nie.”

“Wat weet jy van hom, Kiet?” vra sy tog die vraag wat sy nie wou vra nie. “Van Steph, bedoel ek,” voeg sy by, asof Kiet nie kan raai van wie sy praat nie. Kiet trek haar een skouer op. “Net wat julle van hom weet.”

“En dit is? Want soos dit vir my lyk, weet Freya en Sophia ewe min van hom af.”

“Hy het een môre aan die deur geklop en gesê sy ryding het voor die plaas se hekke onklaar geraak. Freya het vir ou Petrus en nog ’n werker gestuur om hom te help, hy het hier saam met hulle gelunch, en dis die einde van die storie.”

Roselle klap haar tong. “Dis darem baie gerieflik, nè? Reg voor die plaas se hekke. Ek kan regtig nie glo julle weet niks van hom nie. Dink jy vir een oomblik nuuskierige-agie-Sophia sou nie getorring en getrek het voor sy nie sy hele lewensverhaal uit hom gewurg het nie?”

“Sy het probeer, maar hy het net eenvoudig gesê hy praat nie oor sy verlede nie, en sy het dit daar gelos.”

“Ek glo dit nie vir een oomblik nie.”

“True as nannies.” Kiet soen haar wys- en middelvinger en waai dit deur die lug. “Ek het amper op my rug geval toe sy nie ’n woord verder sê nie.” Roselle glimlag. Kiet se true as nannies is meer bindend as ’n heilige eed wat voor die Pous afgelê word. “Ek sal seker maar jou woord daarvoor moet vat. Maar ek vertrou hom nie, en hy kan dit maar weet ook.”

“O, hy weet dit. Daaroor hoef jy nie te worry nie. Hy en Freya sit baie aande hier onder die druiweprieel met hul koppe bymekaar en skaak speel tot wie weet watter tyd.” Sy kyk om haar rond om seker te maak hulle is alleen. “Sy vertel hom alles. Alles, sê ek jou. Daar is nou net mooi niks van niemand op hierdie plaas wat hy nie weet nie.” Sy loer weer oor haar skouer. “Sophia weer, kan nie uitgepraat raak oor al sy deugde nie. Mens sou sweer die plaas gaan uitmekaar val die dag as hy besluit om op te pak. Dis net Steph voor en Steph agter.”

“Niemand is onmisbaar nie.”

Kiet skud ’n pak meel in ’n knieskottel uit. Tussen ’n klomp toegeknoopte doeke haal sy ’n kastrol uit en lig die deksel. Sy kyk na die inhoud en knik tevrede. Die geur van aartappelsuurdeeg is skielik die hele kombuis vol. “Ek dink hy is. Hy het nie kwaad in hom nie, jy sal nog sien. Hy is goed vir almal hier. En sy twee hande staan regtig vir niks verkeerd nie. Hy neem baie werk uit die twee susters se hande, veral Freya s’n.” Dit lyk asof sy nog iets wil sê, maar haar bedink. Sy trek haar skouers op. “Hy het tot vir ou Petrus leer trekker ry. Kan jy glo? Dieselfde Petrus wat hoog en laag gesweer het hy sal nooit aan ’n ryding se wiel vat nie.”

Roselle rol haar oë. Kiet is dus ook pro-Steph. Vir ’n oomblik het sy gedink daar is iemand aan haar kant. Is sy dan die enigste een met verstand hier rond? “Dankie vir die koffie. Ek moet gaan.”

***

Wonderskoon is die enigste woord waaraan sy kan dink om die nuwe dag mee te beskryf. Die son is nog nie op nie, en alles lyk en ruik koel en vars. ’n Paar verdwaalde misslierte hang bokant die dam en tussen die wilgers. Laat dit effe misterieus voorkom.

***

Die geur van rose en klam grond hang swaar in die lug.

By twee van die kweekhuise is die werkers al aan die gang. In en uit met mandjies vol rose. Daarvandaan gaan dit na die koelkamers waar dit deur kundige hande sorteer, versorg en verpak word. Teen vanaand sal die koeltrok kom wat die blomme in hul onderskeie rigtings vervoer. Die meeste daarvan lughawe toe. ’n Hele duisend daarvan moet uitgehou word vir die Kallis-troue.

Sy kry ’n beklemming op haar bors. Vir so lank as wat sy kan onthou, droom sy al daarvan om hier op La Roseraie te trou. In die ou klipkerkie aan die soom van die bloekombos. Met ’n arm vol groot, oop rose as bruidsruiker. Sy roer haar skouers. Nou sal sy seker nes Freya en Sophia op die rak bly sit vir die res van haar lewe. Charles het haar van so baie dinge beroof. En tog was hy nie net sleg nie. Dis seker omdat sy so verraai voel dat sy net fokus op sy negatiewe punte. Sy skud haar kop. Goeie punte of nie, hy het haar een van die hardste slae denkbaar toegedien. En daarvoor sal sy hom nie maklik vergewe nie.

Sy stap by die kweekhuis naaste aan haar in. Oral word sy met breë glimlagte en welkom-terugs begroet. Sy kan sweer Kiet het vroeër gesê vir ’n verandering word hier weer groot geoes. Of sy het haar verbeel. Dit is hoe dit altyd op die plaas gaan, vir so lank as wat sy kan onthou. Iemand druk ’n mandjie in haar hande. Binne-in lê ’n paar handskoene en ’n snoeiskêr.

“Dottie!” roep Roselle verras uit en omhels haar kleintydse speelmaat.

“Goed om jou ook te sien. Trek aan jou handskoene, dan knip ons in dieselfde ry. Ons het baie om oor te gesels.”

***

Teen negeuur voel dit asof haar arms gaan afbreek. Haar en Dottie se gesels het lankal opgedroog, haar vingers voel dom en sy is dors. Dis bedompig in die kweekhuis. “Dot, sal ons nie iets te drinke gaan soek nie? My water is al vergete op.” Met haar voorarm vee sy oor haar voorkop en trek die handskoene uit. Sy moes nie ’n langmouhemp aangetrek het nie, en sy moes haar bos hare vasgemaak het.

“Hou bietjie uit. Tea time is oor tien minute. Ons sal in elk geval hier by elfuur se kant klaar wees.”

“Slawedrywer.”

Dottie grinnik. Sy kyk oor Roselle se skouer en glimlag breed. “Steph.”

“Môre, Dottie, Roselle.”

Roselle knik net, sonder om op te kyk. Sy weet sy is nou sommer openlik ongeskik, maar om die een of ander rede voel dit skielik asof sy twee linkerhande en tien duime het. En dis alles sy skuld, want hy ontsenu haar. Hoekom weet sy nie, sy weet net hy is een van daardie mense wat sy ten alle koste wil vermy.

Hy praat oor haar kop met Dottie. “Sal jy asseblief by die sorteertafels gaan oorsien, die rose kom nou te vinnig in. Ek sal vir jou iets te drinke daarheen stuur.”

“Ek maak so. Iets kouds, asseblief, ek kry nou te warm vir tee.” Sy raak aan Roselle se arm. “Sien later.”

“Oukei, dankie vir die gesels.” Sy neem ’n stingel tussen haar vingers om verder te knip, maar sy vat verkeerd en die snoeiskêr val. Hoekom loop hy nie? Hoekom voel sy so verbouereerd en onhandig?

Hy buk en tel die snoeiskêr vir op. Vee die grond wat daaraan vassit aan sy T-hemp af. ’n Oliestrepie bly op die ligblou van sy hemp agter. Hy hou dit woordeloos na haar toe uit en sy staar na sy groot hand met die netjiese naels. Wonder vlugtig hoe dit sal voel as hy haar sou aanraak.

Sy maak doodseker hulle vingers raak nie aan mekaar toe sy die skêr by hom neem nie. “Dankie,” mompel sy en kry wonder bo wonder die roos netjies en sekuur afgeknip. Toe sy omdraai om dit in die mandjie te sit is hy weg. Sy blaas haar asem sag oor haar lippe.

***

“Ek hou niks van hierdie man se teenwoordigheid op die plaas nie. Hy gee my die creeps.” Roselle staan hande in die sye voor Sophia wat rustig aan ’n glas wyn sit en teug.

Vinke kwetter en raas in die wilgerbome waarvan die skadu’s al langer begin rek. Die son is nie ver van sak nie. ’n Koue wind waai uit die weste en sy vryf oor haar arms. Arms wat redelik styf voel ná die oggend se geswoeg in die kweekhuis. “As ek my draai, dan is hy agter my. Dis asof hy my bekruip. En ek sien hy bly nog in die kothuis ook.”

“En waar, as ek mag vra, het jy gereken moet hy bly? In een van die ou stalle? Die kelder? Of nee, wag. Hier by ons in die huis. Dan behoort hy geen moeite te hê om ons te vermoor nie.”

“Ek dink nie jy is snaaks nie, Phia.”

“Ek het nie probeer om snaaks wees nie, ek was sarkasties.” Sy pluk die prop uit die wynbottel en hervul haar glas. “Klim van jou troontjie af en gee hom ’n kans. Net omdat jy ons voorvaders ses of sewe geslagte terug tot in Frankryk kon naspoor en La Roseraie se enigste erfgenaam is wanneer ek en Freya die dag lepel in die dak steek, gee dit jou nie die reg om op hom neer te sien nie. Dit maak nie saak wat sy herkoms is nie, hy is goed vir ons.” Sy steek ’n sigaret aan, beduie na haarself en in die rigting van die kombuis waar Freya doenig is. “Ons het jou nederig grootgemaak. Wat nou met jou aangaan, weet ek nie. Lyk my die stad het stadig maar seker van jou ’n high society-snob gemaak. Hy is ’n goeie, sout-van-die-aarde-mens wat net stil sy gang gaan. Hy pla niemand nie, hy praat nie baie nie, en wat meer is, ek dink nog net aan ’n ding wat aandag kort, dan het hy dit alreeds reggesien. Maar omdat jy nou besluit het hy is uit die bose, moet ons hom die trekpas gee. Asof ons nie oor die nodige mensekennis beskik om te weet of iemand ’n skurk is of nie.”

Roselle pers haar lippe opmekaar om die stortvloed woorde te stuit wat dreig om uit haar mond te borrel. “Vergeet dit. Ek kan nie met jou praat as jy só is nie. Verskoon my, ek gaan vir Kiet en Freya met aandete help.” Sy stap weg, maar draai terug. Hoekom moet sy stilbly? Sy is deel van hierdie familie en het die reg om haar opinie te lug. “Julle het my miskien nederig grootgemaak, maar julle het my ook geleer om nie elke Jan Rap en sy maat blindelings te vertrou nie. Presies wat julle nou besig is om te doen. Ek het vrede met sy herkoms, dis die feit dat julle niks van hom weet nie wat my pla. Hy steek iets weg, en julle is te dom om dit raak te sien.”

“Wat op deeske aarde laat jou dink hy steek iets weg?”

“Hemel, Sophia, hoeveel keer moet ek dit nog sê? Julle weet boggerol van hom. ’n Mens wat nie oor homself wil praat nie, steek iets weg. Steph Watsenaam beïndruk miskien vir jou en Freya met sy aantreklike bakkies en groot lyf, maar ek het verstand in my kop. Hy is niks anders as ’n goudgrawer en ’n indringer wat misbruik van julle goedh. . .” Sy klap haar mond toe. Iewers is iets nie pluis nie. Iets in Sophia se oë is nie reg nie, en dis asof sy ’n teenwoordigheid kan aanvoel. ’n Groot teenwoordigheid. Sy draai stadig om en kyk weer in ’n breë borskas vas. Sluk en sluit haar oë. Hoop dat wanneer sy dit oopmaak hy nie meer daar sal wees nie. Dat dit net haar verbeelding was. Maar die gode is haar nie genadig nie, hy is nog steeds daar. Sy maak haar mond oop om iets te sê, maar die woorde steek in haar keel vas.

“Steph Reynard,” sê hy bedaard. “Steph Watse- naam klink soos ’n nobody wat nêrens hoort nie.”

Hy tree verby haar asof sy net iemand is wat toevallig in sy pad beland het. “Lus vir geselskap, Sophia? Die kothuis is vanaand vir my te klein.”

Roselle luister nie verder nie. Sy storm behoorlik van hulle af weg en val amper in haar haas oor Arthur wat lank uitgestrek oor die breedte van die agterstoep lê. In by ’n sydeur en af met die gang. Sy kom uitasem in die kombuis tot stilstand.

Freya kyk op van die uie wat sy besig is om in dun skyfies te sny. “En nou?” vra sy fronsend. Sy gee die snybord vir Kiet wat die uie sissend in ’n pan laat val.

Kiet draai weg van die stoof. “Lyk of jy in ’n dwalende gees vasgeloop het.”

Roselle sak op ’n kombuisstoel neer. “Ek het nou vreeslik teenoor Sophia uitgevaar oor Steph, toe staan hy reg agter my.” Sy sug. “Ek voel nou baie sleg. My opinie van hom is steeds dieselfde, maar om darem so openlik . . .” Haar woorde droog op. “Ek voel net sleg, dis al.”

Freya kyk ernstig na haar. “Jy is besig om jou eie lewe te versuur, Roselle. Maak vrede met Steph. As jy ’n bietjie moeite doen, sal jy gou agterkom dat hy ’n goed gebalanseerde mens is, wat baie vir sy medemens oorhet. Ek sê nie julle moet boesemvriende word nie, ek wil net hê jy moet hom ’n kans gee.” Sy sny ’n groenrissie middeldeur. Haal met sorg die sade uit en sny dit ook in dun skyfies.

“Hy irriteer my.” Sy laat haarself dink aan ’n kind wat haar sin wil hê en teenkanting kry. “Oukei, fine,” gee Roselle oor. “Ek sal hom probeer verdra. Let wel: verdra.”

Freya sluit haar oë en vee die rugkant van haar hand oor haar voorkop. Die gebaar is rukkerig. “Dankie. Dis goed genoeg vir my.” Die laaste paar woorde kom asemrig oor haar lippe.

Roselle kyk ondersoekend na haar. “Voel jy siek?” Sy kan sweer Freya lyk blekerig. Haar hande wat skaars ’n minuut gelede die groente so sekuur gesny het, is ook skielik bewerig.

Freya glimlag, maar dit lyk meer soos ’n gryns. “Net moeg. Dit was ’n lang dag.”

Roselle staan op en hou haar hand uit. “Gee vir my die mes. Ek sal verder vir Kiet help, gaan sit by Sophia-hulle op die stoep. Ek sal julle kom roep wanneer die kos reg is. Ek dek sommer hier in die kombuis.” Hopelik eet Steph by sy eie huis. Of sy die krag het om ’n etenstafel met hom te deel weet sy nie. Sy glimlag suur. Ten minste maak hy dat sy nie meer so knaend aan Charles en Louisa dink nie.

Freya knik. “Ek dink ek moet liewer ’n bietjie gaan lê.”

Roselle kyk haar fronsend agterna. Iets is regtig nie lekker met Freya nie. Sy word nooit siek nie, en as sy die slag olik voel, weier sy volstrek om te gaan lê. Freya kom in die gangdeur tot stilstand. Dit lyk asof sy wil omdraai, maar sy wieg net heen en weer en sak stadig inmekaar. Kiet se verskrikte uitroep ruk haar tot aksie.

“Steph!” skree Roselle twee of drie maal ná mekaar terwyl sy op Freya afstorm en op haar knieë langs haar neerval.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top