Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Retoer deur Marita van der Vyver

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


 

Marita van der Vyver

Marita van der Vyver is gebore in Kaapstad en het 'n meestersgraad in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Tussen die ouderdom van 20 en 30 publiseer sy drie jeugromans voordat haar eerste volwasse roman, Griet skryf 'n sprokie, in 1992 'n blitsverkoper en 'n literêre sensasie word.

Sedertdien het sy 'n heeltydse en veelsydige skrywer vir alle ouderdomme geword, met 'n tiental romans, 'n bundel kortverhale, twee versamelings van humoristiese essays, prenteboeke vir kleuters, talle kortverhale en essays in versamelbundels, en gereelde rubrieke in koerante en tydskrifte. Sy het reeds verskeie pryse vir haar skryfwerk gewen.

Haar volwasse romans word deurgaans in Engels, Hollands en Duits vertaal, terwyl Griet skryf 'n sprokie in sowat 'n dosyn tale gepubliseer is. Dit was die eerste Afrikaanse roman ooit wat in Chinees vertaal is, en het meer onlangs ook in Yslands verskyn. Marita woon op 'n klein dorpie in die suide van Frankryk saam met haar Franse man, Alain Claisse. Hulle het 3 seuns en 'n dogter.


Opsomming

Retoer: Pretoria – Provence; die ongelooflike avonture van ’n skrywende ma
Marita van der Vyver
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780799384796

Op reis saam met Marita van der Vyver, van Pretoria tot Provence! Retoer: Pretoria – Provence is ’n bundel van dié bekroonde en immergewilde skrywer se beste rubrieke, sketse en essays wat nog nie voorheen in bundelformaat uitgegee is nie. Dit sluit in ’n rubriek oor seksuele teistering waarvoor sy in 2018 met ’n ATKV-Mediaveertjie vereer is. Dié “meisie van die suburbs”, soos sy haarself beskryf, neem die leser op reis deur haar lewe en wêreld: Van haar jeugherinneringe – haar oumas, haar eerste juffrou en die kind wat sy was – tot haar dae op Stellenbosch, Pretoria en natuurlik die Franse platteland. Sy raak nostalgies oor ’n tiekieboks, die karre van haar kleintyd (’n bruin Opel en ’n geel kewer),en laat die leser tegelyk skater en verlang. Met haar kenmerkende humor, deernis en eerlikheid skryf sy oor die ouderdom, tienerstreke, Calvinisme, David Bowie, vegetariërs en die verskriklike vrees vir “verdagte knoppies”. Haar woordkuns neem die leser van die alledaagse na die eksotiese, van die skreeusnaakse na die hartverskeurende, van die lyflike na die geestelike. ’n Tema wat soos ’n paar voetspore deur Retoer loop, is dié van reis: Die reis na heerlike, onbekende plekke en die meer onstuimige, dikwels vreesaanjaende reis na die self. Retoer sal jou hardop laat lag en trane in jou oë laat opwel terwyl dit jou boei, ontroer en op ’n sielsreis neem.

Sy het ons oorrompel met Griet skryf ’n sprokie. Hoe kon so ’n jong vrou soveel patos in ’n boek vol Griekse mitologie en Grimm-sprokies pas?

Hoeveel van ons het nie al lees-lees saam met haar gekuier in die huis met die blou deur nie? Volg jy haar op die sosiale media, waar sy baie bedrywig en altyd vrygewig is met haar tyd, dan weet jy hoe lyk haar kinders, haar man en die wêreld van haar hart. Deur die jare het die karakters in Marita van der Vyver se boeke ook myle bygekry en sy het self al ’n ouma-boek geskryf.

Weet ons egter wat ín haar hart aangaan? Hierdie bundel essays en rubrieke skuif dáárdie deur so effens oop. Sy waarsku egter: “Wanneer fiksieskrywers ’n outobiografie skryf, word daar soms meer gelieg as wanneer hulle ’n roman skryf.”

Ten spyte van al die waarskuwings, is Retoer, Pretoria – Provence; Die ongelooflike avonture van ’n skrywende ma, ’n opregte manier om aan ’n waarderende gehoor die retoerrite van Marita van der Vyver se hart en lewe te openbaar.

Die boek is ingedeel in afdelings, en elke afdeling se naam is die titel van een van haar boeke. Al lesende gaan die leser dus op reis saam met Marita van der Vyver, van Pretoria tot Provence; en terug.

Die reis is nie altyd maklik nie. Een van die stukke wat in hierdie bundel verskyn, is ’n rubriek oor seksuele teistering waarvoor sy in 2018 met ’n ATKV-Mediaveertjie vereer is.

Dié “meisie van die suburbs”, soos sy haarself beskryf, neem die leser op sleeptou deur haar lewe en wêreld: Van haar jeugherinneringe – haar oumas, haar eerste juffrou en die kind wat sy was – tot haar dae op Stellenbosch, Pretoria en natuurlik die Franse platteland. Sy raak nostalgies oor ’n tiekieboks, die karre van haar kleintyd (’n bruin Opel en ’n geel kewer), en laat die leser tegelyk skater en verlang.

Met haar kenmerkende humor, deernis en eerlikheid, skryf sy oor die ouderdom, tienerstreke, Calvinisme, David Bowie, vegetariërs en die spoke van haar jeug.

Maak vas julle veiligheidsgordels. Op hierdie reis is daar soms turbulensie te wagte.


Uittreksel

Ek het altyd gesê, nie heeltemal spottend nie, dat ek vreeslik oud sal moet word voordat ek eendag my memoires aandurf. Daar is net te veel mense wat eers moet doodgaan, van nare onderwysers tot formidabele familielede, voordat ek werklik eerlik oor hulle kan skryf.

En nou is ek eensklaps ‘vreeslik oud’ – of dis altans hoe die sestienjarige meisiekind wat ek lank gelede was, my huidige beleë toestand sou beskryf het. Daarvan is ek doodseker. Ek het onlangs weer daardie tiener se dagboek in dromerige trant gelees, en besef sy sou haar kop in stomme ongeloof geskud het as sy my nou moes sien.

‘Hoe op aarde het dít gebeur?’ sou sy my vra. ‘Hoe het ek en jy saam tot hier gekom?’

Dis die soort vrae wat tot dié boek gelei het. Ek beskou dit beslis nie as ’n amptelike outobiografie nie – daarvoor voel ek steeds te jonk! – maar dis dalk tyd dat ek my litte begin losmaak vir so ’n taak. Eendag. Kom ons sê maar die rubrieke en essays en herinneringe, wat meestal die afgelope paar jaar in tydskrifte of koerante of op die internet verskyn het, is vingeroefeninge vir die ‘regte memoires’ wat ek nog eendag wil skryf.

Hoewel ek ook nie meer so seker is of dit ’n goeie plan is nie. Wanneer fiksieskrywers ’n outobiografie skryf, word daar soms meer gelieg as wanneer hulle ’n roman skryf. Dis nie doelbewuste bedrog nie, bloot ’n beroepsrisiko – as jy heeldag en aldag jou verbeelding moet gebruik om die pot aan die kook te hou, kan dit moeilik wees om daarmee op te hou en jou tot die vervelige waarheid te beperk.

Maar ek het ook geleer dat die ware lewe dikwels veel vreemder kan wees as enigiets wat selfs ’n verbeeldingryke romanskrywer kan uitdink. Daar het al dinge in my eie lewe gebeur, gruwels en wonderwerke, wat ek sou huiwer om in ’n roman te beskryf. Ek sien al hoe sit en skud ’n suur resensent sy kop oor so ’n ongeloofwaardige storie...

En baie briewe wat ek deur die jare ontvang het van mense wat wil hê ek moet hulle storie vir die wêreld vertel, bevestig bloot die vreemdheid van die werklikheid. Die stories van sommige van ons is meer melodramaties as ’n Italiaanse opera. Meer hartverskeurend as een van Dickens se ergste tranetrekkers. Meer bisar, meer eienaardig, selfs meer ongeloofwaardig, as sommige van Harry Potter se avonture.

In ’n stadium, nadat my eerste huwelik uitmekaar gespat het en my eerste kind na maande in ’n hospitaal gesterf het en my ma kanker gekry het en my gewese man in ’n psigiatriese inrigting beland het, het my ma haar kop verslae geskud en geprewel: ‘Siestog, my kind, jou lewe klink al hoe meer soos ’n episode uit Dallas...

Dit was dalk net wat ek nodig gehad het om te besluit: Nee, my lewe gaan nie in Dallas verander nie, ek gaan nie bly lê en jammer voel vir myself nie, ek gaan oorlewe. ‘I will survive’, soos Gloria Gaynor gesing het in daardie liedjie wat so geliefd geword het onder vele van my gay vriende.

Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat jy ’n doodgewone saai nege-tot-vyf-lewe kan lei – en nogtans die ongelooflikste avonture kan belewe. Terwyl jy buitengewone boeke lees of vreemde kossoorte kook of na opwindende musiek luister. Solank jy jou verbeelding vrye teuels gee, kan niks jou keer nie.

Deesdae vind my ongelooflikste avonture hoofsaaklik in my skryfwerk plaas, in my kop en in my verbeelding, terwyl ek in my kantoor vol boeke op die Franse platteland sit en stories uit my duim suig.

Ek weet my lewe klink vir baie Suid-Afrikaners begeerlik en eksoties. Dink net aan al die heerlike Franse kos en wyn waaroor ek so gereeld liries raak. Die uitgerekte etes aan lang tafels onder platane. En dan is daar boonop byna geen misdaad nie! Ek kan snags gaan slaap sonder om my voordeur te sluit! Alles waar, natuurlik. Maar ek moet al hoe harder werk om aan die lewe te bly, want my inkomste is steeds hoofsaaklik in rande – wat al hoe minder werd is wanneer dit oorgeskakel word na die euro’s wat ek nodig het om hier te lewe. En ons alledaagse bestaan is lankal nie meer vreesloos in Frankryk nie. Ons is net op ander maniere bang as in Suid-Afrika.

Terreuraanvalle het ’n aaklige werklikheid geword in my aangenome land. Soos ek dikwels vir my Suid-Afrikaanse geliefdes probeer verduidelik, hier in Frankryk voel ons veilig in ons eie huise, in ons eie beddens, anders as in Suid-Afrika – maar ons word al hoe banger vir skares en byeenkomste. In Suid-Afrika glo ons nog daar is veiligheid in getalle. Ons word van kleins af geleer om dit snags nie alleen in donker strate te waag nie, of bedags alleen op afgesonderde paadjies te stap nie, of selfs om te afgesonderd of alleen te woon nie. Terwyl ons in Frankryk juis eerder op ons eie wil wees, weg van skares, want al die terreuraanvalle van die afgelope paar jaar was waar klompe mense bymekaar was. In restaurante en konsertsale, in winkels en treine, in besige strate en op pleine, plekke waar ekstremiste bewapen met selfmoordbomme of masjiengewere of messe maklik verwoesting kan saai. En selfs al sou dit moontlik gewees het om al die wapens te konfiskeer, kan enigiemand steeds agter die stuur van ’n voertuig inskuif en doelbewus deur ’n skare ploeg.

Waarmee ek nie wil beweer dat my lewe in Frankryk slegter is as wat dit in Suid-Afrika sou gewees het nie. Dis nie slegter of lekkerder nie, dis net anders. Elke land op aarde het sy heerlikhede en sy aaklighede. Ek het lief geword vir ’n Fransman en vir die land waarin ons ons kinders saam grootgemaak het, maar soms word ek grensloos geïrriteer deur my Franse medeburgers se gewoontes en klagtes. Nes ek altyd sal lief bly vir my geboorteland, maar soms op my tande moet kners oor Suid-Afrikaners se gewoontes en klagtes.

Enigiemand wat al in ’n ander land moes aanpas, sal weet dis nooit maklik nie. As jy boonop ’n vreemde taal moet leer praat, ’n vreemde godsdiens en kultuur en lewenswyse moet leer begryp, kan dit bitter moeilik raak. My seun, Daniel, het my in sy opstandige vroeë tienerjare soms heftig verwyt dat ek hom as kleuter uit Suid-Afrika weggevat het, van alles wat bekend en veilig gevoel het, en hom hier in ’n onbekende land kom neerplak het. Waar hy ’n nuwe taal moes aanleer, sy plek in ’n nuwe gesin moes vind, sy pad deur ’n wildernis van angswekkende nuwe ondervindinge moes oopkap.

Dit het my onbeskryflik skuldig laat voel. My laat twyfel aan alles wat my in Frankryk laat beland het en alles wat ek gehoop het ek en hy saam hier sou kon vind. Jare lank, selfs nadat ek kon sien hy het uitstekend aangepas, het ’n bietjie twyfel steeds in my keel vasgesit. Amper soos die stukkie appel wat die arme Sneeuwitjie halfdood in ’n kis laat beland het.

Tot hierdie einste seunskind, nou ’n lang, bebaarde student in argitektuur aan ’n Franse universiteit, ’n paar jaar gelede vir my kom sê: ‘Weet jy, Ma, ek voel half jammer vir my Franse pêlle wat net één taal behoorlik kan praat en net één soort kultuur ken. My Suid-Afrikaanse en Afrikaanse back story maak my mos eintlik baie ryker as hulle.’

Dit was die dag toe die twyfel uit my keel verdwyn het, toe ek eindelik weer heeltemal lewend gevoel het. Ek stem saam met my seun. My Afrikaanse back story verryk my lewe elke dag in Frankryk – en my huidige Franse storie laat my ryker voel elke keer wat ek weer in Suid-Afrika kom.

Die woorde wat in dié boek versamel is, is ’n mengsel van daardie back story en stories oor nou se dae. Dis soos rotse wat bo die water uitsteek om ’n voetpaadjie oor ’n rivier te vorm, om my terug te lei na wie ek lank gelede was en te kyk na wat ek geword het: ’n Afrikaanse skrywer en ma in Frankryk met ’n verbeeldingslewe wat my soms veel ryker laat voel as wat ek eintlik is.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top