Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: ’n Tuin vir Tessa deur Helena Hugo

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Helena Hugo

Helena Hugo | Foto: verskaf

Helena Hugo het haar loopbaan as aktrise begin, maar skryf en vertaal deesdae voltyds. Benewens talle boeiende verhale oor verskillende genres heen, is sy ook regisseur en skrywer van radiodramas en -vervolgverhale. Luisteraars sal haar veral vir Blinkwater en Mooi mense onthou. Sy het ook al drie keer die eerste plek in die Sanlam/RSG-skryfkompetisie gewen en haar drama Swane is met ’n ATKV-Woordveertjie bekroon. Helena en haar man, Henk, woon in Roodepoort en het drie volwasse kinders.


Opsomming

’n Tuin vir Tessa
Helena Hugo
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796321084

Tessa het die perfekte lewe; haar man Altus se besighede doen goed en haar seuns is goeie kinders. Sy woon in ’n pragtige huis in ’n spogbuurt. Haar tuin is haar stukkie hemel, haar skuilplek, die plek waar sy troos soek en kry. Die laaste tyd begin Altus se stiltes haar pla. Wie of wat sit daaragter? En beteken dit dat sy haar tuin sal moet prysgee?


Uittreksel

Altus speel met die televisie se afstandbeheerder. Tessa het die gordyne van die venster weggetrek. Sy lê op haar sy en kyk deur die dowwe ruite. Die kamer het ’n agterdeur wat uitloop op ’n smal stoepie met ’n smeedystertafeltjie en twee stoele. Vier leë bierbottels, vuil glase en een teekoppie staan die tafel vol. Die peperboom op die rand van die stoepie is behang met trossies ligrooi sade. Dun blaartjies en ronde saadjies val tussen die glase en bottels op die tafel, dwarrel in die ligte wind  oor die vensterbank.

Agter haar soek Altus steeds na ’n program. Hy kry blykbaar niks waarin hy belang stel nie.

Sy kyk by die boom verby en sien ’n skewe draadheining. Agter die heining staan ’n boerbok en snuif die aandlug. Sy wys vir Altus die bok.

“Verlang ek nou na Sêrah,” sê hy.

“Ek ook.”

“Ons sou met hulle kon boer – vir die melk, nie vir die vleis nie.”

Sy antwoord nie. Nee, wil sy sê, nie weer nie.

Hulle lê op die bed en kyk na die plafon. Aan die manier hoe hy haar hand vat, lei sy af dat sy gedagtes ook dwaal – en na dieselfde plek as hare.

Hulle het ’n Switserse melkbok gehad. Dorpsmense, wie se kinders allergies vir koeimelk was, het by hulle kom melk koop. Altus het tagtig melkkoeie gehad, ’n goed toegeruste melkery. Hy het gereeld melk gelewer aan ’n bekende verspreider wat dit op vasgestelde dae en tye kom haal het.

Daardie Sondag was hulle van plan om kerk toe te gaan, maar Altus los nooit sy werkers om alleen te melk nie. Die rowers het hom by die melkery ingewag, kastig om melk te koop. Hy het later vir haar vertel dat hy dadelik onraad vermoed het. Sy voorman was nêrens te sien nie en die koeie nog in die kamp. Hy het verduidelik hy verkoop nie melk aan mense wat nie vooraf met hom gereël het nie.

Een het die praatwerk gedoen. “As jy nie verkoop nie, vat ons,” het hy gesê.

“Ons het nog nie gemelk nie, waar sien julle die melk?”

“Ons sien jou koeie, ryk man.”

“Dis my boerdery, ek boer,” het Altus hom verweer.

Hy is ru rondgepluk. “Huis toe! Kombuis toe! Ons is dors! Ons is honger!”

Daar was drie. Twee het hom vasgegryp, hom kombuis se kant toe gestoot.

Altus het twee boerboele op die werf gehad, Herklaas en Sannie. Die mans is moordenaars, het hy besef, toe hy die getroue diere keelaf elk in sy eie plas bloed sien lê. Hy het die Here in sy gedagtes gesmeek om te keer dat die wreedaards sy vrou en kind leed aandoen.

Tessa was in die kombuis besig om ontbyt te maak. Toe hulle die deur oopstamp, het sy so groot geskrik dat sy die glasbeker met lemoensap wat sy in haar hande gehad het, op die vloer laat val het. Een van die kwaaddoeners het die glasstukke uit die pad geskop, ’n vadoek van die rak af gegryp, haar hande agter haar rug vasgeknoop.

Sy het hom onverskrokke in die oë gekyk, gebid, hardop die geloofsbelydenis: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is …”

Die lafaard het haar geklap deur haar mond, so hard sy kon die bloed proe.

Hulle het Altus se gordel uit sy broek geruk, sy hande vasgemaak, sy broek om sy nek aan die stoelleuning. Sy kon hom nie help nie, nie eens naderstaan nie. Haar oë het syne ontmoet. Dit was asof hulle mekaar vir oulaas vashou. Hulle het hom teen sy kop geklap, geslaan tot sy nek slap gehang het. Sy wou wegkyk, maar haar oë het oopgesper gebly. Bloed het oor sy bors gestroom, sy sterk gespierde bene was aan die bewe asof hy enige oomblik ’n aanval gaan kry. Sodat hy seker nie kan sien nie, net hoor wat hulle nog van plan was om te doen, het hulle hom met een van haar kombuisvadoeke geblinddoek, ’n ander een in sy mond gedruk. Sy het gevrees hy sterf, haar Altus wat as kind rumatiekkoors gehad het en ’n ruising in sy hart oorgehou het.

Sodat hy kon hoor dat sy nie opgee nie, het sy hard gebid: “Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en …”

“Sjarrap!” Die leier was ’n wilde man sonder genade.

Sy het nog ’n paar klappe gekry en is op ’n stoel teen die kombuiskas neergeplak.

“Jy! Sit!”

“… wat begrawe is en neergedaal het na die hel … wat op die derde dag weer opgestaan …”

Een het ’n mes opgetel. “Sjarrap, of ons sny jou keel af!”

Dit was ongemaklik met haar hande agter haar rug. Haar kamerjapon wat sy oor haar naghemp aangehad het, het voor oopgehang. In die somer sou sy nog kaler gewees het. Sy wou nie eens dink aan haar eie lyf nie, haar vrouwees was haar swakpunt. Toe haar borste vol melk skiet, loop die trane. Ewald was, dank die Here, in die slaapkamer. Die middeldeur na die res van die huis was toe, hy was gevoed en rustig in sy bedjie, ’n weerlose ou kindjie wat niemand enige kwaad gedoen het nie. Sy sou haar lewe vir hom gee, soos Simson haar boeie breek, met naels en tande baklei. Ter wille van hom het sy stilgebly, in haar hart gebid dat hy  nie moet huil nie, haar en Altus se babaseun. Ter wille van hom, het sy nie ’n geluid gemaak nie. In haar hart het sy nie stilgebly nie.

… wat op die die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top