Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Losprys deur Martin Steyn

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Martin Steyn

Martin Steyn het op skool begin skryf aan Stephen King-geïnspireerde gruwelverhale. Met sy belangstelling in die donker aspekte van die mens, was dit seker onafwendbaar dat reeksmoordenaars hom sou fassineer. Ná sy studies in Sielkunde en Kriminologie, het hy reeksmoordenaars en profilering begin bestudeer. Hy het ook sewe ware-misdaadartikels vir die Crime Library-webwerf geskryf, onder andere oor Stewart Wilken, Moses Sithole en die Sizzlers-moorde.

Die droom was egter altyd om fiksie te skryf, veral realistiese misdaadfiksie. Dit het tot heelwat navorsing oor die SAPD en sy forensiese eenhede gelei, met die hulp van persone wat elke dag hierdie werk doen. In 2014 het Donker spoor verskyn, en is in 2015 met die ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur bekroon. Skuldig het in 2015 verskyn en is in 2016 met dieselfde prys bekroon. Donker spoor is in 2017 in Engels vertaal en is as Dark traces in die RSA en VSA gepubliseer. Donker Spoor gaan ook volgende jaar in Turks uitgegee word.

Steyn verkies om die storie deur die speurder se oë vertel, daardie persoon met die taak om geregtigheid te soek vir dié wie se naam op ’n moorddossier geskryf word.


Opsomming

Losprys
Martin Steyn

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799390889

“Ek het jou seun. Moenie die polisie bel nie. As julle alles doen wat ek sê, sal ek hom nie seermaak nie. Ek sal weer bel.”

Adjudant Enzo Ariefdien verkies moorde. Dooie slagoffers. Hy wil nie ’n vermiste lewe in sy hande vashou nie, nog minder ’n kind s’n. Dis is egter presies wat hy kry; dit is boonop ’n ontvoering vir ’n losprys, ’n hoë-profielsaak, dus. Die desperate Amerikaanse ouers is aan die een kant en die ambisieuse kaptein druk aan die Lubambo aan die ander kant. Almal wil resultate hê.

Intussen trek die onderhandelingspan by die gesin se huis in Llandudno in, adjudant Karla Blanckenberg in die rol van primêre onderhandelaar. Uitgelewer aan die ontvoerders se skedule om kontak te maak – en te verbreek – kan sy net wag.

Die roman fokus op twee bene: die naspeur van leidrade, getuies en verdagtes, deur die oë van adjudant Enzo Ariefdien van die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid, en die onderhandeling met die ontvoerders deur adjudant Karla Blanckenberg van die Gyselaaronderhandelingseenheid.

Kort voor lank staar elkeen van die rolspelers ’n keiharde waarheid in die oë: ryk kinders altyd voorkeurbehandeling kry wanneer hulle wegraak. Die einde sal jou in die maag skop.

Soos met sy vorige romans het Martin Steyn met die mense gaan praat wat regtig sulke sake ondersoek, insluitend speurders en onderhandelaars. Hy het geloop waar sy karakters loop, van Houtbaai en Imizamo Yethu tot Mitchells Plain. Dit gee die verhaal ’n grinterige realisme.


Uittreksel

29 Augustus 2017. Dinsdag.

“Weet jy wat is ’n trosbom, Zap?” Adjudant Enzo Ariefdien kyk na die wit bordjie: welcome to republic of hout bay, en stuur die Nissan Tiida om die slap draai na regs.

Uit die hoek van sy oog sien hy die beweging van sersant Fikiswa Zaphalala se kop. “Nee.”

Gewoonlik ontmoet sy Afrikaans en haar Engels mekaar heel gemoedelik in die middel, maar nie altyd nie. “’n Cluster bomb.”

“Nog steeds nee.”

“Dis ’n groot bom vol van ’n klomp kleiner bommetjies. Soos wat dit nou val, maak dit in die lug oop en skiet al hierdie bommetjies uit. Gewoonlik ontplof dit ’n entjie bokant die grond sodat dit so ’n scattereffek van verwoesting veroorsaak.”

Die pad kronkel skouerloos tussen die bome deur. Dis nogal woudagtig. Ariefdien herken dennebome en bloekoms tussen die ander onbekendes. Twee wit skoenlappers dwarrel om mekaar langs die pad, want dis mos amper lente, al lyk dit nie so met die grys lug en saamgepakte wolke nie.

“As jy nou daai prentjie in jou kop vat, en jy maak elkeen van daai bommetjies vol stront, en jy laat dit oor ons twee se koppe ontplof, dan het jy die situasie waantoe ek en jy nou op pad is.”

Mure begin aan die regterkant, stene, hout, later aan die linkerkant ook soos wat hulle Houtbaai binnegaan. Een muur lyk soos ’n huis met vensters, ’n deur en selfs ’n gewel, maar daar is geen dak of ander mure nie. Die bome bly geil, al is heelparty grys en kaal. Rankplante neem verskeie van die stamme in, die hartvormige blare blink en welig.

“So, die man wat gebel het, het geen eise gestel nie,” sê Zaphalala, “maar dit moet oor geld gaan. Anders, hoekom bel om te sê hy het die seun?”

“Ja. Nie dat kidnapping for ransom juis groot in onse land is nie.”

“Het julle al ’n klassieke ontvoering gehad?”

“Daar was ene vandat ek by EGM is. Seker so vyf jaar terug. Vrou wat ontvoer is. Maar dit was amateurs, man. Hulle het die idee uit ’n movie gekry.” Hy gee ’n eennootlaggie deur sy neus en skud sy kop. “Gedink, maar dís nou ’n maklike manier om geld te maak. Nou sit hulle in die tronk. Verder is dit mos maar net die donnerse Nigeriërs wat mekaar ontvoer omdat die een vir die ander ene geld skuld.”

“Ja, Nigeriërs is net geïnteresseerd in geld. Suid-Afrikaners verkies om te ontvoer vir verkragting en moord.” Ariefdien ry om die sirkel by die polisiestasie. Langs die sportveld staan ’n plaat wit hokkies; dit lyk soos vraghouers. “Ek verkies ook moord.”

Zaphalala kyk na hom.

“Met ’n moordslagoffer is jou fokus net om die moordenaar te kry. Nou is dit jou verantwoordelikheid om ’n kind terug te kry.”

Aan die oorkant van die dorp draai hy regs en hulle klim vinnig hoër teen die pas uit. Oor die kruin strek die Atlantiese Oseaan tot op die horison, stil en grys.

“Met ’n ontvoering vir ’n losprys is daar ten minste kontak met die ontvoerders,” sê Zaphalala.

Miskien. Maar hy het geen begeerte om ’n kind se lewe in sy twee hande vas te hou nie.

By die verkeerslig draai hy links na Llandudno. Die see sit nou aan sy regterkant. Voor hom styg ’n skerp koppie met ’n punt wat soos ’n opgewonde tepel lyk. Rotse lê soos ligte grys sproete teen die groen helling. Maar dis die houthuisie aan die linkerkant van die pad wat sy aandag trek.

“Sekuriteitskameras,” sê Zaphalala.

Die kameras sit teen die kant van die huisie en behoort elke voertuig wat in- en uitry af te neem. ’n Blou vierkantige teken sê monitored and patrolled by adt security.

“Is dit die enigste pad in en uit?”

“Ja.”

“Die kameras is nie versteek nie. Die ontvoerders moes daarvan geweet het.”

Ariefdien stoot sy bril hoër op sy neus. “En dit het vir hulle nie afgeskrik nie.” Wat hom al klaar laat dink aan ’n gesteelde voertuig met vals of gekloonde nommerplate. Dis die probleem met opvallende sekuriteit: Wanneer dit as afskrikmiddel werk, hou jy daarvan; wanneer dit faal, wens jy dit was versteek.

Die huise is teen die berg af gebou tot by die see daar ver onder. Die helling is so skuins dat net die mure en geplaveide opritte – tegnies “afritte” – aan sy regterkant sigbaar is, nie eens die dakke van die huise steek uit nie. Aan die ander kant verrys die strukture maklik tot drie verdiepings, net glas en balkonne. Op die draai staan twee rye “pionne” wag in ’n voortuin.

Anderkant die stopstraat luier ’n wit Peugeot Boxer langs die pad. ’n Paneelwa is natuurlik ideaal vir ’n professionele ontvoering. Die agterkant is heeltemal toe. En hulle het al verby twee ander voertuie gery wat iets met herstel- of installeerwerk te doen het. Dit sal nie juis aandag trek nie. Die Tiida skommel oor ’n spoedwal wat met spier- wit strepe geverf is. Breed en plat om nie die lae Duitse motors se buffers te skraap nie. Hy ry om ’n bakkie met c.c.l. flooring op die deur. Baie mense kom van buite af in.

Verskeie voertuie staan aan die einde van die doodloopstraat: ’n dubbelkajuitklagtebakkie, ZH26, en ’n paar ongemerkte sedans, een met die addisionele lugdraad van ’n polisiekar, die groepleier s’n.

Ariefdien hou ook teen die randsteen stil en hulle klim uit. Die lug is koel teen sy wange.

Die huis is aan die regterkant van die pad, ’n hoekige boog wat see toe swel, die mure die kleur van nat sand, die vensters donker. Die dak is gelyk met die straat. Tollende piramides flits op die hoeke.

’n Kamera sit soos ’n slakoog teen die motorhuis se muur en langsaan staan ’n uniform by ’n stel trappies wat daal. Ariefdien fluit deur sy tande. “Shit, maar dit is vir jou ’n view, hè?” Die groen vloei soos verf teen die koppie met die tepel af, raak op waar die gladde ligbruin rotsvingers die see in wys. In die verte steek ’n stukkie wit sand uit en ’n berg rond dit af. Daar is oral berge hier, elke rigting waarin hy draai behalwe see toe.

Sy selfoon lui en hy antwoord. “Kaptein?”

“Adjudant Ariefdien, waar is jy?” Hy kan hoor kaptein Fundile Lubambo hou hom in, maar die Engels vibreer nogtans in Ariefdien se oor.

“Net hierso buite die huis, Kaptein.”

“Wat doen jy? Bewonder jy die uitsig?”

“Ons is op pad in.”

Zaphalala het alreeds haar identifikasiekaart vir die uniform gewys en halfpad met die trappe afgeloop.

Die foon gaan dood en Ariefdien volg Zaphalala. Die voordeur – wit en breed met skarniere bo en onder ’n ent van die kant af – swaai oop en Lubambo staan daar in sy swart pak en sneeuwit hemp.

“Het jy vir ontbyt gestop, adjudant Ariefdien?” Lubambo se gedempte toon haal nie die skerp randjies uit sy woorde nie. “Die slagoffer is ontvoer, nie vermoor nie. Ons kan nie bekostig om tyd te mors nie.”

Ariefdien hou sy sug in. Hoëprofielsake is soos driedubbele espresso’s vir die groepleier. Al die aandag. En met hierdie een sal daar nog baie wees.

Die trosbom het oopgemaak. Hy kan al amper die gefluit hoor.

“Die seun se naam is Steven.” Lubambo kyk hom soos sy vrou hom kyk wanneer hy nie die eerste keer na haar geluister het nie. “Hy is vyftien. Hy is gistermiddag laas gesien. Daar was ’n groot soektog, die gesin, bure, ADT en die polisie. Vanoggend het ’n man gebel en gesê hy het die seun.”

Nie veel wat hulle nie alreeds geweet het nie. Vrae vorm in Ariefdien se kop, maar hy wil dit direk vir die gesin vra, nie tweedehandse antwoorde by Lubambo kry nie. Behalwe een: “Is die negotiators op pad?”

“Ja. Dit lyk asof hulle selfs stadiger as jy bestuur, adjudant Ariefdien.” Lubambo kyk hom op en af, ontwikkel ’n plooi tussen sy wenkbroue. “Kom. Die gesin is Amerikaans.”

Ariefdien kyk af na sy skoene, daar waar Lubambo se oë getalm het, die vaalgeskaafde punte van sy Mancini’s, een van drie pare wat hy twee, drie jaar terug op uitverkoping by ShoeCity gekoop het.

Hy volg die groepleier oor die grys gelamineerde houtvloer. Die versonke plafonligte weerkaats op Lubambo se kaalgeskeerde kop. En sy blinkswart leerskoene. Daar is ’n geur in die huis wat Ariefdien laat dink aan die goed waarmee hulle die lykshuis skoonmaak. Die mense is in die sitkamer, ’n ruim vertrek met vier lang wit banke, ’n koffietafel vol diepblou bekers, ’n groot ingeboude kaggel teen die korter muur en aan weerskante twee boompies met gevlegte stamme en fyn blare.

“Dis adjudant-offisier Ariefdien en sersant Zaphalala,” sê Lubambo. “Adjudant Ariefdien sal die ondersoekbeampte wees.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top