Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Lam ter slagting deur Madelein Rust

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Madelein Rust

Bloemfontein is nou eenmaal die teelaarde vir reeksmoordenaars, as ’n mens vir Madelein Rust moet glo! Sy het lank in Bloemfontein gebly en gebruik die straatplanne in haar kop om boeke op te baseer.

Haar skrywersloopbaan skop af met die skryf van romantiese kortverhale, en haar twee pogings in dié genre, Tango in die Kuberruim en Skarlakenvrou, verskyn in Huisgenoot. Een van haar kortverhale, “Joy”, verskyn in Bateleur Boeke se In ’n neutedop, gevolg deur Die dag toe oom Willem geval het” in Maskew Miller Longman se Literary Awards Edition-publikasie, Sussie Veer is dood en ander verhale.

Rust se debuutroman, Die 13de kaart, is in Julie 2014 op die rakke en verskyn kort daarna op Nielsen se topverkoperlys. Dit word benoem vir ’n ATKV-Woordveertjieprys vir spanningsliteratuur.

Haar drie daaropvolgende romans, Monstersaad (2015), Bloedlyn (2016) en Moordhuis (2017), verkoop nog beter.

Lam ter slagting is die vierde boek waarin doktor Renata Malan die hoofkarakter is, ’n profileerder met ’n donker verlede en ’n talent om in geweldsmisdadigers se koppe te klim.

Rust is ’n meester in die skep van spanning met humor daarby en skryf heerlik loslittig.


Opsomming

Lam ter slagting
Madelein Rust
Uitgewer: LAPA
ISBN:
9780799390063

Vyf meisies is reeds gemartel en vermoor voordat Renata Malan en haar span deur die polisie gekontrakteer word om ’n nuwe geval te ondersoek. Elkeen is doelbewus geplant sodat dit ontdek móés word en die modus operandi laat geen twyfel dat dit reeksmoorde is nie.

Die spoor is egter koud. Identifikasie is onmoontlik vanweë die slagoffers se gesigbeserings en dit maak slagofferprofilering onmoontlik, want hoe vang mens ’n moordenaar as jy nie weet wie die slagoffers is of waar hulle vermoor is nie? Die enigste ander leidraad is ’n belofte van nog ’n moord oor drie en dertig dae.

Toe ’n outistiese, forensiese beeldhouer in hegtenis geneem word, gaan rooi ligte vir Renata aan. Word iets toegesmeer? Speel die obskure Noagsgemeente dalk ’n rol? Tot watter mate sal die Vrymesselaars een van hulle lede beskerm? Wat weet Mistress Raven, die eienares van die kerker waarin sado-masochiste hul seksspeletjies beoefen? En wat sal die versteurde Chanté Naudé-Mulder nóg doen om Stefan deel van haar lewe te maak?

Lam ter slagting vertel ’n verhaal van korrupsie, mensehandel, geldwassery, bisarre seks en ’n buitensporige magsdrang teen die agtergrond van die donker bedrywighede, ’n kultus en die geheimhouding eie aan die hoogste graad van Vrymesselary.

Die lot van die gewone lede van die SAP wat gekniehalter word in die uitvoering van hulle pligte deur hoëlui in die politiek en polisie word oortuigend weergegee.


Uittreksel

Maandag 6 Junie 2016

Die vrou lê soos ’n vuilwit komma op die grou westelike hang van die dolerietkoppie. Haar liggaam is die oog van ’n orkaan, ’n kalm episentrum omarm deur wemelende polisielede.

Nader aan haar, binne-in die slordige geel sirkel van die misdaadtoneellint, is die speurders en die misdaadtoneeltegnici. Uitverkorenes wat mag druk en stoot en staar en bespiegel. Afgestompte wesens vir wie dit maar net nog ’n misdaadtoneel is.

Doktor Renata Malan byt op haar tande.

Dis tog nie asof die meisie omgee nie.

Selfs al het die siel wat daardie skraal liggaam bewoon het hier getalm, sou dit onaangeraak gebly het deur die banaliteite van hierdie koue dag, hierdie donker uur.

Mens is ’n siel. Jy het ’n liggaam. Sy herhaal die woorde oor en oor in haar kop, deesdae beskerming teen die grusaamheid wat haar dae vul.

Daar is werk om te doen.

Terwyl sy haar swart leerhandskoene aantrek, bestudeer sy die toneel.

Roet verdonker plek-plek die dolerietplate en in die skeure tussen die klip is swartgebrande plantstompies, getuies van die brand wat die vorige week ’n hoofweg deur die droë plantegroei op die koppie gevreet het.

Vuurklip. Roet. Alles ruik daarna.

Die middagson aksentueer die gryswit van die dooie vrou se bra en broekie teen die agtergrond van doleriet en roet, vul die kurwes van haar lyf met skaduweehalfmane en reghoeke. Haar kop is weggesteek in ’n kokon van roetbesmeerde maskeerband. Eienaardig hoe dit daardie kop eerder as die verwoeste liggaam is wat die weersin en skok in mens oopruk.

’n Oorgewig man in ’n kameelkleurige jas sit gehurk by die toegedraaide kop, sy instrumentetas oop langs hom. Samuel Akande, staatspatoloog.

“Be careful,” maan die massiewe sersant met die groot neus en punt sy ken in die rigting van haar Christian Louboutin-stewels met die hoë hakke. As hy maar weet van die ongoddelike plekke waar sy al met hoë hakke ingeneuk het.

Die man kyk haar op en af met afgetrekte mondhoeke. En sy sien haarself deur sy oë. Wit ontwerpersjas en dáárdie skoene, swart hare in ’n bolla laag in haar nek, pêrels in haar ore, grimering baie presies aangewend. Sy verstaan die kyk wat hy haar gee. Wat soek ’n rich bitch hier in die boendoes by ’n misdaadtoneel?

Die sersant se naam is Zuma, volgens die naamplaatjie op sy bors.

“Thanks, Zuma. Not to worry.” En sy glimlag suikersoet vir hom. Sy kies ’n ompad om by die toneel uit te kom, daar waar dit nie heeltemal so steil is nie, die reuk van brand en Bloemfontein se bitter winter skerp in haar neus.

Sy gaan staan met haar hande op haar heupe en meet die toneel met haar oë. Daar is plekke waar die roetlaag versteur is. Die slagoffer is waarskynlik van die wandelpaadjie daar op die kruin afgegooi en moes gerol het tot waar sy nou lê, op ’n klein plato. Van hier af sien mens die restaurantarea, die dam en die groen en geel van die Vrystaat Nasionale Botaniese Tuin.

“Renata!” Die staatspatoloog hef sy kolos van ’n lyf op, sy glimlag breed en sy swart oë blink agter sy brillense. “Uiteindelik! Ek het gewonder wanneer hulle julle gaan inkry om te kom help. Jy het my dag gemaak. Miskien kry die saak nou koers.”

“Hallo, Samuel,” glimlag sy. Hy lyk soos ’n groot bruin beer, so met die kunspels van die jaskraag wat sy blinkronde gesig omraam. Die lieflike Afrikaans wat uit sy mond kom, verras haar soms nog steeds. Hy is ná sy Nigeriese ma se dood deur haar wit werkgewers aangeneem, grootgemaak met sy een been in wit Afrika en die ander in swart Afrika.

Sy lig die lint op en stap onderdeur, net so dankbaar om hom te sien. Samuel Akande is ’n groot man in meer psigte as sy lyf, die beste forensiese patoloog saam met wie sy nog gewerk het. Hy is een van die min wat slagoffers by die naam ken. Vir hom is daardie nommer op die etiket om die groottoon nooit ’n oorledene se identiteit nie.

Sy druk haar hande in haar jassakke en gaan staan langs Akande, kyk saam met hom na die roetgestreepte, verwoeste liggaam. “Ons dierbare provinsiale kommissaris het my vanmiddag net so ná een gebel en gevra om te help, vir my gesê ons het met ’n reeks te doen. Hy het nogal angstig geklink.”

“Ja, en ek neem hom nie kwalik nie. Die nasionale kommissaris druk hom glo ongenadig vir resultate.”

“Ek het nog niks oor die moorde in die pers gesien nie.”

Akande knik. “Generaal Solomon het besluit om dit eers dig te hou. Soos ek dit verstaan, is hy bang die gemeenskap raak paniekerig. Dis werklik grusaam.”

“Eerder paniekerig en veiligheidsbewus as houtgerus en dood,” sê sy. “Dis ’n jammerte dat hy nou eers besluit het om hulp van buite te kry.”

“Ek het gemeen dis vreemd. Hy ken tog die beperkinge van die SAPD intiem. En hy weet baie goed dat julle firma geen tekort aan hulpbronne het nie.”

Selfs die SAPD is nou al vertroud met Renata Malan se miljoene, geld wat sy van haar eiendomsmagnaat-stiefpa geërf het. Die gerug wat die rondte doen, is dat sy in haar leeftyd nie haar geld sal kan opgebruik nie, al probeer sy hoe. Die deursneepolisieman haat Malan & Coetsee oor daardie geld, vertel hulleself dat geld die rede is vir die firma se oplossingsyfer.

Laat hulle praat.

Die geld help beslis.

Dit en bereidwilligheid om die reëls van die spel te buig indien nodig.

Knarsende voetstappe laat haar omkyk. Dis Stefan Coetsee. Vennoot, vertroueling, vriend, oudkinderhuiskameraad, op pad terug van ’n onderhoud met ’n verdagte in ’n bedrogsaak.

Hy is in sy gebruiklike winterwerksdrag – ’n swart pak klere, wit hemp en swart das. Die baard wat hy in die winter kweek, is sy enigste toegewing aan die koue. ’n Face warmer, noem hy dit. Die grys haartjies wat hier en daar uitgekom het, is vir hom ’n bron van groot satisfaksie. Dit laat hom soos ’n ringkop lyk, meen hy. Geen jas en handskoene vir hom nie. Dis asof die man net nooit koud kry nie. Sy het hom al in ’n T-hemp en kortbroek gesien wanneer sy ’n jas bo-oor ’n trui moes dra teen die koue.

Sy dik bos bruin hare staan alkante toe. Soos dit maar elke dag die geval is. Elke haar op sy kop het klaarblyklik ’n wil van sy eie. Hy is lank en breedgeskouer, toring bokant haar en Akande uit, sy glimlag breed toe hy met die patoloog bladskud. Die geur van English Blazer hang vir ’n oomblik in die lug voordat die reuk van die verbrande veld weer oorneem.

“Samuel,” sê hy en pomp Akande se hand energiek, lekkerkry in sy stem. “Long time no see. Hoe gaan dit?”

“Altyd goed, dankie, ou Stefan. Net jammer dat ons altyd onder hierdie omstandighede moet ontmoet.” Akande kyk spytig na die liggaam by hulle voete.

“Ja. Fok, shame. Arme girl. Ek hoor dis ’n reeks.”

“Ja. Soos ek vroeër telefonies vir generaal Solomon gesê het, alles dui daarop dat dit ons sesde slagoffer in die reeks is. Die kop wat so toegedraai is met maskeerband is natuurlik die eerste aanduiding. Dit is ’n ongewone modus operandi. Verder is al die liggame hier in die botaniese tuin gevind, dieselfde tekens van marteling: die wurgmerke om die nek, gewrigbeserings en ligatuurmerke om die enkels, nek en gewrigte, veelvuldige hematome.” Hy sug swaar, sy gesig stroef. Renata verstaan sy swaarmoedigheid maar te goed. Jy kan jou doktorale tesis skryf oor die biologie van boosheid, maar niks kan die afgryse keer wanneer jy voor ’n nuwe perversie te staan kom nie. Dis daardie manifestasie van boosheid wat haar deesdae weer nagmerries laat kry. Miskien moet sy tog maar weer met haar psigiater gaan gesels om perspektief te verkry. “Die tydsduur tussen die moorde?”

“So bietjie meer as ’n maand.” Akande skud sy kop stadig. “Ek het ná die tweede geval reeds geweet ons het hier met ’n reeks te doen. Ons provinsiale kommissaris was nie beïndruk toe ek aanbeveel dat ons julle hulp inroep nie. Hy het my ’n paar loopbaangedrewe dreigemente toegeslinger, wat my laat besef het hoe onvanpas my raad is. Ek is tog maar net ’n staatspatoloog.”

“Dis sommer stront,” grom Stefan. “Moes hy nou wragtig wag tot ses mense dood is voordat hy sy gat in rat kry?” Hy gluur na Renata. “Dink jy hy hou hom hardegat omdat ons nie ’n vaste kontrak wil teken nie?”

Sy knik. “Ons laaste gesprek oor die hele konsultasiekwessie het op ’n suur noot geëindig. Hy dring aan op daardie kontrak.” Stefan grinnik. “Want dan sal dit nie so kak lyk as ons misdade namens die polisie oplos nie.”

Akande kyk fronsend van Stefan na Renata en weer terug. “Maar die belangrikste is tog seker om te verhoed dat nog mense sterf, nie waar nie? Professionele ego behoort mos nie in te meng daarmee nie?”

“In ’n ideale wêreld, ja.”

“Ek verstaan dit nie. Sal dit nooit verstaan nie.”

Renata sak op haar hurke en bestudeer die skraal liggaam. Die slagoffer het op haar sy te lande gekom, haar ruggraat soos ’n string gebedekrale onder haar vel. Die sigbare kant van haar liggaam is bloupers, liggroen en geel gevlek en dit lyk soos vingermerke op haar boarm en bobeen. Dun strepies oral oor die liggaam. Op sommige plekke vaag, op ander plekke het bloed deur die vel gedring. “Hierdie strepies? Wat sou jy sê het dit veroorsaak? Dit lyk amper soos sweepmerke.”

“Dalk eerder ’n karwats of iets soortgelyk. Kyk, mens kan op ’n paar plekke die plat punt sien.” Hy buig vooroor om te beduie. Stefan stap stadig om die liggaam. “Is die vorige slagoffers seksueel aangerand?”

Akande knik. “Met ’n voorwerp, onder andere. ’n Onafgewerkte, silindriese houtvoorwerp. Dennehout. Die voorwerp was nie op enige van die tonele nie, maar daar was splinters. Die vroue het swaar gesterf. Ek kon nog geen seminale vloeistof vind nie, so, die oortreder het waarskynlik ’n kondoom gebruik. Daar was ook ernstige sagteweefselskade aan hulle gesigte, rûe, bobene en gluteale . . . wel, hulle boude. En dit was ’n uitgerekte storie. Die oortreder moet werklik sadisties wees.”

’n Wellusmoordenaar. Die aanduidings van sadisme en penetrasie met ’n voorwerp is goeie indikasies daarvan.

Renata kyk op, skreef haar oë teen die winterson wat futloos agter Akande in die bleek lug hang. “Uitgerek? Praat ons hier van ure of dae?”

“Dae. Ongeveer drie dae, te oordeel na die wisselende grade van verkleuring van die hematome. Die histologie van die vorige vyf slagoffers het die tydsduur bevestig.”

Sy beduie na die maskeerband. “Ek neem aan hulle is dood aan versmoring?”

“Verbasend genoeg nie. Die maskeerband is nadoods aangebring. Die oorsaak van dood was in elke geval massiewe hooftrauma. Daar is soveel weefselskade aan die vroue se gesigte dat ons ’n forensiese beeldhouer moes inkry om modelle van die oorledenes se gesigte te maak. Hy is nog besig daarmee.”

“Waarom nie sommer ’n forensiese kunstenaar inkry om sketse te maak nie?”

“Ek verstaan hy het twee kunstenaars genader, maar nie een van die twee het kans gesien nie. Die skade aan die slagoffers se gesigte was hopeloos te erg. Toe het hy glo probeer om van daardie sagteware vir 3D-gesigsrekonstruksie vir die eenheid aan te koop, maar dit was buitensporig duur.”

“Altyd besorg oor sy begroting, ou Oscar.”

“Die volgende stap was om ’n beeldhouer in te kry. Sommiges sê die generaal sal enigiets doen om uit te staan bo die ander provinsiale kommissarisse.” Hy lig sy hand met die ligpienk palm. “Ek is jammer,” sê hy sag. “Dit was onwaardig. Daar is geen bewyse dat die generaal nie in goeie trou handel nie en nou staan en versprei ek skinderstories. Ek vermoed hierdie saak raak my dieper as wat ek gedink het.”

Waar daar ’n rokie trek, is daar ’n vuurtjie. En die gerugte oor generaal Oscar Solomon is eerder ’n bosbrand. Sy staan op. “Kan ons aanneem dat nie een van die vorige slagoffers nog uitgeken is nie?” Hy knik. “Ongelukkig, ja. Boonop is al die slagoffers in net hul onderklere gevind. Daar was geen juweliersware of ander kledingstukke wat uitkenning sou kon vergemaklik nie. Geen tatoes nie. Geen prosteses met reeksnommers nie. Niks nie.”

“Fok, dis nou ’n bummer.” Stefan druk sy hande deur sy hare, woel dit nog deurmekaarder.

“Ek stem saam met jou, Stefan. Want waar begin mens sonder ’n identiteit? En ons het nie eens ’n primêre toneel nie, net die weggooiplekke.” Akande sak steunend af op sy hurke en knip sy tas toe. “Die slagoffers kon ook nog nie positief geïdentifiseer word as enige van die vermiste persone op die nasionale databasis nie. Daar is vingerafdrukke geneem om te help met identifikasie, maar die sloerstaking wat tans by Binnelandse Sake aan die gang is, veroorsaak ’n enorme agterstand wat elke dag erger word. En tyd is die vyand.”

“Gots,” sê Stefan. “Dié piet het ’n helse lot moeite gedoen om ons werk so moeilik as moontlik te maak. En hy klink na een van die sieker fokkers.” Hy krap aan sy ken, sy vingers girtsend deur sy baard.

Renata vou haar arms om haar lyf teen die ysige windjie wat skielik om die koppie gewaai kom. “Jou voorlopige bevinding oor tyd van dood?”

“Haar lewertemperatuur is net so oor die twintig grade Celsius. Gepaardgaande die mate van rigor mortis, is ek van mening dat sy gisteraand tussen ses en nege dood is.”

“Die oortreder laat ons met bitter min,” sê sy. “Wie het op die liggaam afgekom?”

“Dit was blykbaar die man daar anderkant.” Akande beduie in die rigting van ’n ouer boepensman in ’n dik kakiekleurige baadjie wat met twee van die polisiemanne staan en gesels, ’n verkyker om sy nek en ’n kakiehoed met lang, wollerige oorflappe op sy kop.

“Nou ja, ons sal gou met hom gesels en dan is dit kantoor toe. Daar is hope werk om te doen. JT het darem seker al begin grou vir addisionele inligting.”

Akande glimlag. “Sê vir hom groete en weer eens dankie. Hy het my nou die dag gehelp met ’n probleem wat ek met my rekenaar gehad het, dit binne minute uitgesorteer. Julle is gelukkig om vir Jaun Tiquin te hê.”

“Die beste informasietegnologiespesialis in Suid-Afrika,” beaam Renata. En die beste kuberkraker, maar dit sê sy nie hardop nie. Daar is ’n ongeskrewe reël dat daardie woord nooit in Malan & Coetsee se kantore gebruik word nie, al kraak Tiquin hoe. Sy metodes werk. Geweldenaars word aangekeer en dis tog seker al wat behoort te tel. Akande se gesig versober. “Julle het net meer as ’n maand, Renata.” Hy pleit met sy oë. “En ek sal verkies om nooit weer een van hierdie man se slagoffers op my tafel te hê nie.”

Sy sit haar hand op sy arm. “Jy weet ons sal ons heel beste doen.” Sy het nie nodig om hom te herinner dat die afkoelperiode tussen hierdie soort oortreding gewoonlik korter word nie. Ook nie dat die vlak van geweld gewoonlik eskaleer nie.

Hy sit sy hand oor hare en druk dit sag. “Anne Bishop skryf in Daughter of the blood: ‘There is good and evil among every kind of people. It’s the evil among us who rule now’.” Hy kyk af in haar oë. “Dis een van die ontstellendste dinge wat ek nog ooit gelees het. Al staan dit maar net in ’n storieboek is daardie woorde deurdrenk van ’n verskriklike waarheid.” Die staatspatoloog se mondhoeke is afgebuig, sy gesig grys terwyl hy afkyk na die verwoeste liggaam by sy voete. “Dit is dié wat boos is wat tans ons wêreld regeer.”

Daar skuil wel goed in die mens ook. Eens op ’n tyd het sy dit vas geglo. Miskien sal sy weer, eendag. Maar nie in die wêreld waarin sy en Samuel Akande leef nie.

“Dan is dit ons werk om hulle heerskappy te beveg, Samuel.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top