Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Kringloop deur Bets Smith

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Bets Smith

Bets Smith se loopbaan begin as ’n offisier in die SA Weermag se dokumentasiediens waar sy navorsing doen oor die land se weermaggeskiedenis. Ná haar troue verhuis sy platteland toe en word ’n hoërskoolonderwyseres op Witrivier waar sy steeds na dertig jaar is, daarom is die laeveld van Mpumalanga so ’n belangrike ruimte in haar boeke.

Sedertdien het sy al verskeie boeke geskryf en het stil-stil reeds meer as 100 000 Afrikaanse boeke verkoop.

Aan die einde van 2016 tree sy uit die onderwys om voltyds te skryf.


Opsomming

Kringloop
Bets Smith
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799387773

Reine Duvenage word geteister. Die sluipjagter speel met haar, maak haar bang en geniet haar vrees. Sy soek hulp, maar ander lag vir haar.

Uiteindelik word sy wreed aangeval. Nou lag niemand meer nie, veral nie toe dit blyk dat die wreedaard moontlik steeds aktief is nie.

Hoe leef ’n vrou met die wete dat daar ’n man rondsluip wat beloof het om haar leed aan te doen? Hoe begin ’n mens jou lewe oor?

Onder ’n vals naam probeer Reine weer, maar haar poging om anoniem te bly, word bemoeilik toe ’n aantal mans uit haar verlede onverwags in die dorp opdaag waar sy skool hou. Hoekom nou? Is daar ’n rede voor?

Toe die tekens van die sluiper se nabyheid weer al hoe duideliker word, moet Pieter Taljaard, die speurder, alles doen om dié keer nie te fouteer nie, want almal weet dat Reine nie ’n tweede keer sal kan ontsnap nie.

Watter een van hierdie mans was dit wat haar laas aangeval het? Of staar sy al weer haar vrees in die gesig en nie die werklikheid nie?

Hierdie keer lag niemand vir haar nie, maar hoe kan sy beskerm word teen ’n gesiglose persoon wat aan niemand bekend is nie?

Kan die speurder, Pieter Taljaard, ’n gewone, feilbare mens, die regte inligting kry uit die polisie se feilbare stelsels?

Bets Smith skep opsetlik gewone mense. Ja, Reine is mooi, maar sy is ’n plaasmeisie soos baie ander wat deelneem aan kompetisies op universiteit. Die res van die karakters is mans en vroue wat ons ken, juis daarom is hierdie boek soveel meer angswekkend. Wat met Reine gebeur, kan met enige een gebeur.


Uittreksel

Toe Reine by die Grafika-klas instap, is die lokaal besonder vol en sy loop vinnig na die enigste sitplek in die voor­ste ry. Die jool spoed nader en rompslomp dreig om haar klasse in die wiele te ry. Nog studente kom in, voor en by die agterste deure. Sy vryf haar brandende oë. Daar was die afgelope dae min tyd vir slaap. Dis ’n gehardloop tus­sen die stalletjiebouery, haar borge en haar ander debu­tanteverantwoordelikhede. Dis groter schlep as ’n plesier. As Hendrik nader was, het sy hom gaan haal om toesig te hou by die stalletjie. Hy en die ander plaaswerkers is be­troubaarder as sommige van haar sogenaamde helpers.

Met haar skryfblok voor haar, maak sy werktuiglik nog ’n doenlysie.

*Bel die bouhandelaar oor verf.

Die bou van die stalletjie het redelik gevorder maar die verfwerk sloer omdat die skaars verfsoorte nog nie gekom het nie. Die verwers sal vir eers die ander kleure moet ge­bruik.

*Kry vergrotings vir stalletjie by Erasmus.

Oor ’n tweede stel individuele foto’s twyfel sy nog. Sy het min lus daarvoor en daar is te min ure in elke dag. Sy het nooit besef hoe tydrowend kleinigheidjies kan wees nie.

Genadiglik was haar stertjie die afgelope week nêrens in sig nie, anders het sy nie betyds by alles uitgekom nie. Hopelik is hy permanent afgeskrik deur die klomp polisie­manne by hulle huis. Sy sal hulle ewig dankbaar bly dat hulle opgedaag het, al het hulle niks bruikbaars gekry nie. As hy weer sy opwagting maak, sê sy hom dadelik van die identikit by Kampussekuriteit en by die aanklagkantoor.

*Kanselleer afspraak by Julian Frey.

Sy gaan beslis nie tyd kry vir die laaste gesigbehandeling nie. Die pamperlangsessies was lekker maar dis te tydrowend.

Die dosent se binnekoms onderbreek haar gedagtes. Ondanks sy eentonige stem boei die inhoud van die lesing haar so dat sy gefassineerd sit en luister. Eers teen die mid­del van die lesing raak sy bewus van ’n irritasie. Sy frons. Die fyn haartjies in haar nek kry lewe en lig asof iemand saggies in haar nek asemhaal.

Sy byt op haar tande, onderdruk haar ergernis en skuif na links tot op die verste punt van haar sitplek. Die roering in haar nek hou op, tog voel sy nog ongemaklik, verbeel sy haar sy voel hoe iemand vir haar kyk.

Jy is paranoïes, Reine. Hy het verdwyn. Ruk jou reg. Dit kan buitendien nie jou nagmerrieman wees nie want hy draf nie klas nie.

Maar sê nou dis tog hy?

Om dit vir wie ook al in haar nek blaas moeiliker te maak skuif sy vorentoe in haar sitplek toe haar nekhare weer roer. Hy sal opsigtelik vooroor moet sit en ook nader moet leun. Of dit nou haar ou verpester of ’n ander grapjas is wat wag dat sy reageer, sy het nuus vir die pes! Sy weier om enigeen daardie genoegdoening te gee. Van orige mans is sy tot satwordens toe siek. Sy leun nog verder na links maar die meisie langs haar frons ongeduldig vir haar.

Die roering op haar kopvel vervat sonder onderbreking. ’n Onrustigheid in die ry agter haar laat haar vermoed wat aangaan. Hy blaas nie in haar nek nie maar speel met haar hare. Die ander lag onderlangs oor haar onkunde.

Vies swaai sy om om die persoon ’n vuil kyk te gee. En skrik haar koud.

Dis hy. Hy het nie verdwyn nie, hy sit reg agter haar, sy asemhaling hoorbaar en vlak. Sy vingers is deur haar hare gevleg maar dis die eienaardige uitdrukking op sy gesig wat haar bloed laat stol. Die mond is effens oop, sy lippe pap. Die ooglede hang halfmas oor sy irisse, tog kan sy die intensiteit in die starende oë lees. Hy sien haar nie werklik nie, hy is in ’n wêreld van sy eie. ’n Wêreld waarin die ge­voel van haar hare onder sy vingers sy asem laat jaag. Sy kyk verander van koers, soek laer, soek na haar lyf.

Sy onderdruk ’n gil, ruk haar kop weg en haar lyf voren­toe. Uit kan sy nie, die dosent is genadeloos oor klasbywoning. ’n Oomblik oorweeg sy dit om haar teisteraar by hom te verkla maar bedink haar. Hoe formuleer sy dit? Hier’s ’n man wat met my hare speel, Prof. Wat my uit my klere kyk. Sy kan haar net die reaksie voorstel. Die studente wat weerskante langs hom sit, grinnik reeds veelseggend.

’n Versigtige kyk na regs wys daar is geen leë sitplek daardie kant nie. Dan eerder na links en nader aan die paadjie, ingeval sy na ’n ander ry moet verskuif. Die meisie langs haar klap haar tong vies toe sy oor haar klim, twee mans staan vir haar op om verby te kom, toe sak sy dank­baar neer in die oop plek in die tweede ry vlak teen die paadjie. Sy is vir eers buite sy bereik want daar is geen oop plekke agter haar nie.

Sy sukkel om weer op die lesing te konsentreer. Dis asof sy vingers nog in haar hare talm, sy asem in haar nek. Daardie uitdrukking op sy gesig . . .

Dis die toppunt. As hy haar uit die klas volg, loop sy reguit na Kampussekuriteit toe sodat hulle kan optree. En dan bel sy vir Hendrik om te hoor of hy al ’n datum het vir haar pa se terugkeer.

Die dosent sluit kort daarna sy lesing af. Voor hy sy no­tas kan oppak, gryp sy haar pen, notaboek en sak. Daarmee in die hand, wip sy die vier trappies twee-twee af ondertoe, draf by die podium verby en is voor die dosent uit die lo­kaal. By die deur kyk sy vinnig om. Haar agtervolger is op pad uit, skouer ander studente uit die pad om verby te kom, sy gesig gedetermineerd.

Terwyl sy haar goed in die sak druk, koers sy na Kam­pussekuriteit. Dis ver van die naaste kampushek af, in die teenoorgestelde rigting, maar dit kan nie verhelp word nie.

Die geraas agter haar op die stoep word harder. Die an­der is ook uit, met hom waarskynlik aan die voorpunt. Sy rek haar treë, begin draf. Studente stroom uit ander lokale, val agter haar in en versper sy uitsig tydelik.

Buite nooi die vryheid van kampuspaadjies haar om te hardloop tot waar groot bome koelte oor die loopgang gooi. Koue vingers vee oor haar vel. Die gedagte aan sy ge­sig, die intensiteit van sy kyk wat oor haar hare streel, na haar lyf soek, spoor haar aan. Haar enkele omkyk in die klas het duideliker verklap wat in sy kop aangaan as wat die graffiti kon. Selfs nou voel sy die oë wat deur haar klere tot op haar kaal vel staar.

’n Skielike steek in haar sy laat haar byna dubbeld vou, verplig haar om spoed te verminder. Uit haar geboë po­sisie sien sy die Adidas aankom. Verder agter haar vleg hy tussen die ander deur en bly by, haal selfs in. Sy kom regop en rek haar treë voor die steekpyn behoorlik skietgee.

Daar is een ligpunt. Hy vermoed blykbaar nie waarheen sy op pad is nie anders sou hy haar nie volg nie. Hopelik haal sy Kampussekuriteit voor hy haar inhaal.

Sy gil gedemp toe ’n hand haar boarm vasvat.

“Dêmmit, vriendin, waarheen gaan die trein wat jy wil haal?” Thea blaas uitasem kort agter haar. “Is dit al weer hy?”

Die studente wat verbyloop, kyk geïnteresseerd om na hulle en Reine verslap haar pas.

“Hy’s hier agter. Ek’s op pad sekuriteit toe.” Sy luister met ’n halwe oor na Thea se reaksie want die voetpaadjie deur die kampus vertak en die enkelstroom verdeel in drie, elk met sy kwota studente. Die groep om haar en Thea dun vinnig uit.

“Hy het nou in die klas agter my gesit en met my hare begin vroetel.”

“Het jy iemand gevra wie hy is, of sy naam iewers ge­sien?” Thea kyk grootoog agtertoe.

“Jimmel tog, Dorethea, is jy mal,” kners sy gedemp. “Asof hy sulke aanmoediging nodig het.”

“Ek raak nou ook bang,” fluister Thea.

“As hy my tot by sekuriteit volg, kan hulle hom vas­trek.” Sy vat haar vriendin se arm. “Hy moet net nie met my praat nie. Ek dood van skaamte as ander studente die goed hoor wat hy vir my sê.”

Toehoorders sal hom nie pla nie. Sy onthou die gehyg agter haar en versnel instinktief. Die kort staking van vy­andelikheid het hom net aangevuur en hy geniet die kat-en-muis-speletjie intens. Sy wil gil van frustrasie.

Sy draai na Thea en loer versigtig oor haar skouer. Hy is baie nader as wat sy gehoop het en die sekuriteitskan­toor is nog ver. Haar oë vee korter as ’n millisekonde oor sy gesig maar hy grinnik selfvoldaan asof hy daarop ge­wag het.

“Maak gou, hy is naby.” Haar vingers span om Thea se elmboog.

“Jy maak my seer, pel.” Thea vryf haar arm toe Reine haar los maar drafstap nog saam.

“Ag dêmmit, daar’s Vera,” sê Thea. “Ek gaan haar gou sê ek bank klas en haar vra om vir my notas te neem. Ek haal jou in voor jy by sekuriteit kom. As hy jou intussen pla, stuur hom hel toe. Of vra die hulp van die naaste man. Dit behoort hom in sy spore te stuit. Sien jou nou-nou.”

“Maak net gou.”

Thea is skaars weg, toe klamp die hand van agter af om haar elmboog. Sy onderdruk ’n gil.

Hy val langs haar in, benouend naby. Sy reuk is in haar neusvleuels, oral om haar, verstikkend. Sy hande is oral, ’n seekat. Een knel haar elmboog vas, sy skouer druk teen haar rug, die ander hand speel oor haar linkerarm.

“Hallo, prinses.”

Sy ruk haar elmboog eenkant toe, probeer uit die greep losdraai maar verniet. Studente loop geselsend verby, niemand sien haar nood en kom help nie. Haar hart klop swaar. Niemand is naby genoeg om te roep nie. Ook Thea is uit sig agter ander studente.

“Ek is bly jy het jou lastige vriendin afgeskud sodat ons kan praat oor ons volgende rendezvous. Verkieslik nie in ’n klas vol studente of hier in ’n gedrang nie. Iewers afgeleë. Alleen.”

Sy plat uitspraak vermink die woorde. Hy trek haar arm om sy lyf, meedoënloos. Haar rug is teen sy ribbes, sy asem hyg by haar oor terwyl hy dig teen haar loop.

Trane brand in haar oë. Hulle lyk waarskynlik soos twee verliefde studente wat ingehaak aanslenter.

“Weg van nuuskierige oë en ore, stem jy saam?” Hy vryf tydsaam oor haar voorarm.

“Kampussekuriteit weet hoe jy lyk. Los my voor een van die wagte jou sien.”

“Sien jy miskien iewers ’n wag?” smaal hy.

Reine krimp ineen. Haar dreigement het geboemerang. Hart in die keel rem en trek sy desperaat om weg te kom maar hy is ontstellend sterk vir sy bou. Drie studente loop verby en kyk glimlaggend om.

“Lovers’ tiff,” verduidelik hy veelseggend.

Iemand kom selfoon in die hand verby, gewoond aan blindloop. Niemand lig ’n vinger om te help nie. Sy sal om hulp moet roep.

Almal het selfone.

Haar voorneme om te skreeu verflou. Sy wil nie ’n op­spraakwekkende insident veroorsaak waarvan iemand ’n video-opname kan maak nie. Haar pa en ma sal dit dalk nie sien nie maar wat van haar stiefbroers? Haar vriende? Bekendes op die dorp? Sy skaam haar dood as so iets die wêreld ingestuur word. ’n Sensasionele opstootjie kan boonop opslae maak op YouTube en die joolpoging baie skade doen.

Sy bly kalm. Hulle is tussen mense. Die manier waarop hy haar vashou, lyk onskuldig, al voel dit soos ’n vergryp. As hy net nie sulke bisarre dinge kwytgeraak het nie.

“’n Verhouding soos ons s’n het privaatheid nodig om te groei.”

Die hitte teen haar kopvel voel soos lippe teen haar hare. Haar arms word hoendervleis toe haar vel in afsku wegskram. Sy vingerpunte streel oor haar voorarm.

“Sien jy, jy geniet dit, jy kan dit netsowel erken.” Sy vingerpunte kruip onkeerbaar teen haar boarm op en hy staar veelseggend na die voorkant van haar T-hemp.

Sy vou haar voorarm beskermend oor haar bolyf, vat haar skouerknop vas om haar lyf vir sy gulsige oë weg te steek. ’n Manstudent wat verbydraf, glimlag afwesig. Sy sal móét skreeu as sy hulp wil hê. Oortuigend moet skreeu.

“Hier is te veel mense.”

Tot nou was sy optrede vir ander se oë, besef sy. Nou is sy greep meedoënloos. Terwyl sy desperaat spartel, te uitasem om te skreeu, trek hy haar in die rigting van ’n stil steeg tussen geboue.

Twee mans kom van voor af. In ’n wanhopige poging ruk sy haar arm teen die knelgreep terwyl sy terselfder­tyd omtol. Hy verslap sy greep net genoeg dat sy haar lyf verder van syne af kan wegdraai.

Sy trek haar asem rukkerig in en kyk hom in die oë. “Los my uit. Ons het nie ’n verhouding nie en ek het nie vir jou gewag nie,” sis sy.

Die twee verbygangers stop geïnteresseerd.

“Lovers’ tiff.”

Weer slaag die verduideliking. Die twee lag en loop ver­by.

“Help!” roep sy. “Hy is nie my kêrel nie.” Hulle draai fronsend om.

“Moenie julle aan haar steur nie, natuurlik sal sy so sê.” Sy hoë stem is hard en deurdringend. “Ek en sy is ou lovers, nè, skatlam? Hoekom weier jy nóú skielik om dit te erken? Wie probeer jy fool?”

Nog ’n man kom van agter af verby en kyk om. Dis Marius.

Sy skep moed. “Help my, asseblief.”

“Ignoreer haar,” sê Marius vir die ander belangstellen­des. “Sy ken hom goed.”

Sy staar geskok na hom.

“Sien jy nou, jou hard-to-get-houding fool niemand nie, my meisie.”

Iets gee mee in Reine se kop. Sy hou op spartel, haar wange brandend van woede en vernedering. Die greep op haar arm verslap merkbaar. Op hierdie oomblik kyk nie­mand om nie. Sy lig haar elmboog en byt met mening. Byt so hard in die harige rughand dat haar kakebeen daarvan pyn en iets onder haar tande knars.

Hy brul verras, ruk sy hand weg en vryf dit vinnig teen sy langbroek. Sy is los, gee twee, drie groot tree weg van hom terwyl sy oor haar mond en lippe vee. Hy gluur verontwaardig na haar, toe vryf hy oor die duidelike rooi sirkel op sy hand terwyl hy dreigend nader kom. Sy retireer vinnig.

Drie meisies loop omkyk-omkyk verby, herken haar, knik veelseggend.

“Daar is geen verhouding tussen ons nie, ook nie ’n afspraak nie.” Sy kners dit tussen haar tande uit, gee nie werklik meer om wie hoor nie. “Nie tussen my en jou nie. Daar gaan ook nie een wees nie, nooit nie. Ek wil nêrens saam met jou gaan nie, wil nie eens met jou praat nie. Of jou leer ken of sien of hoor nie. Ek wil niks met jou te doen hê nie. Nooit nie, verstaan jy? NOOIT. NIE. Los my nou uit, anders roep ek sekuriteit.”

Dis ’n leë dreigement want daar is geen sekuriteitswag in sig nie. Al het sy nie hard gepraat nie, dam ’n paar om­standers op, vorm ’n digter kring geleidelik om hulle. Hoe lank duur die nagmerrie dan al? Blykbaar lank genoeg om die sensasiejagters byeen te roep, party reeds met selfone gereed.

Sy loop blindelings weg. Die skade is gedoen, dit moet net nie erger raak nie. Sy vleg kop omlaag tussen die lywe deur, hoor hom vinnig naderkom, slaan oor na ’n drafstap. Nog mense kom by, druk teen haar, hou haar teë.

“Jou verwaande slet.” Hy spoeg die woorde uit. “Lok my nader met jou kom-bed-toe-kyke, nou speel jy hard to get. Wie dink jy is jy?”

Die laaste woorde skreeu hy feitlik. Almal binne hoorafstand steek vas, selfone gereed. Uitdrukkings wissel tus­sen ongemak, skok en belangstelling.

Reine se wange brand.

“Kamtig ’n debutant wat welsynswerk doen vir die var­sity se joolpoging. Ga!” vervat die monoloog agter haar. “Paradeer uitlokkend voor almal maar as ’n vis aan die aas byt, hou sy haar hoogheilig. Jy gaan spyt wees, hoor jy? Jim­my Henrico laat nie met hom mors nie.”

’n Selfoon flits. Nog een. Sy strompel voort.

“Hei, ek praat met jou.” Hy las ’n paar kras benamings by.

Reine strompel verder. Die beeld voor haar swem uit fokus, word sigbaarder toe sy die trane wegknip. ’n Paar toeskouers neem selfoonvideo’s, ander lyk onseker oor of hulle moet help of nie, nog ander lag agter handpalms of fluister bakhand.

“Kry jou ry, jou weirdo, voor sekuriteit opdaag om jou van die kampus af te escort.” Thea val langs haar in, praat oor haar skouer met hom. “Ons gaan nou na hulle kan­toor toe met hierdie foto wat ek van jou geneem het.” Thea swaai haar selfoon dreigend, gryp Reine se hand en laat haar omtrent deur die studente langs haar in die rigting van sekuriteit voortmarsjeer.

“Dankie.” Reine kyk vinnig vir haar, sien die wit kring om Thea se mond.

“My goeie donner tog, ’n flash mob. Hoe tipies.” Thea se stem bewe.

“Julle gaan spyt wees,” kom die eggo agterna. “Julle gaan baie spyt wees.”

Reine probeer die kru benamings wat volg uit haar ge­hoor blokkeer. Haar wange brand. Sy voel besmeer en tot in die grond verneder. Soveel gif het sy nog nooit beleef nie. As dit alles op video is, gaan dit soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Thea se greep op haar voorarm is ’n anker. “Hou net aan loop, vriendin. Jy’s so wit soos ’n lyk. Moenie nou op my omkap nie, flippit, hou net aan loop.”

Reine strompel willoos saam.

“Juffrou, is jy oukei? Kan ek help?” Die diep stem be­hoort aan die man wat nie nuuskierig bly staan het nie. Tog het hy teruggekom.

“Ek is nou oukei, dankie.” Haar stem klink yl, allesbe­halwe oukei. Sy maak keel skoon. “Ons is op pad Kam­pussekuriteit toe om ’n klag te gaan lê.”

“As jy seker is . . .” Hy loop nog ’n entjie saam.

Sy skud haar kop en probeer glimlag. “Daar is die kan­toor. Als is in die haak, regtig.”

Die sekuriteitskantoor voel na ’n veilige hawe. Almal is rasioneel, amptelik, doeltreffend. Professionele gesigte be­luister die storie. Skryf die verslag in ’n boek by die groot identikit wat sy laas week ingegee het. Sy lees en onder­teken dit werktuiglik.

’n Selfoon piep. Nog een. Die eienaars staar tellings lank na die skermpies, kyk vinnig op na haar, weer af na die fone.

Haar sel vibreer ook en sy haal dit gelate uit. Die klikaas is effektief: Werf voorloper in debutantekompetisie stemme? ’n Stilfoto uit die video wys haar gesig en ’n klik daarop lei reguit na die video. Dit lyk nog erger as wat sy gevrees het. Haar vingers bewe toe sy afskakel en die selfoon bêre.

Die nuus is op die net.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top