Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Dubbelspiraal deur André Jansen

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


André Jansen

André Jansen is die skuilnaam van ’n ervare, bedrewe spanningsverhaalskrywer. Hy is die skrywer van Die Jerigo-krisis (Human & Rousseau, 1986) en Die Simson-opsie (Human & Rousseau, 1998). Hy woon op Bettysbaai.


Opsomming

Dubbelspiraal
André Jansen
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801808

Hy en Xolisa Ndlela sou vriende kon wees, besef geheime agent Koos Jooste hier teen die nadraai van die 1994-verkiesing. Want hulle ontdek aspekte van mekaar wat nie een sou vermoed het nie: soos Ndlela se ervaringe in Quatro, die ANC se berugte strafkamp in Angola, en hoe elkeen oor die toekoms voel.

Sedert die Soweto-oproer in 1976 kruis die paaie van dié twee Suid-Afrikaners telkens tydens sleuteloomblikke in die land se geskiedenis. Jooste verdedig die bestaande bestel, Ndlela beywer hom vir die nuwe, en Dubbelspiraal plaas die fokus op hoe die magsewewig tussen hulle gedurig verander.

Die leser word gevoer van Grahamstad na Soweto, Amsterdam na Parys, Mtubatuba na Bettysbaai. Jooste, agent in die vreemde, moet persoonlike tragedie verwerk, in ’n wankelende wêreld vastigheid soek, en sukkel met die begrippe patriotisme en lojaliteit. En wat kan één mens doen om die euwels van die nuwe heersers se korrupsie te bestry?


Uittreksel

Kamerade, waarom is jy lief vir jou land? Want die
brood smaak daar beter, die lug ruik beter, stemme
klink sterker, die hemel is hoër, dis makliker om op
die grond te loop. Is dit nie waar nie?
Bertolt Brecht – Die Kaukasiese Krytkring

Hoe lieflik om jou geboorteland te haat en sy
verwoesting ywerig te begeer – en in sy verwoesting
die daeraad van ’n totale herlewing te bespeur.
Wladimir Petsjerin

Grahamstad 1972

Reg voor die Biblioteek vir Blindes sien die seun iets wat hom viervoet laat vassteek. Daar’s ’n  kettingbotsing onder die voetgangers, en mense stamp en stoot ’n bietjie. Gou staan ’n saamgebondelde troppie op dié amper-wintersdag met die vinger na die veelkleurige sjongolôlo op die oorkantste sypaadjie en wys terwyl hulle opgewonde in Xhosa spekuleer.

Op die hoek skuins oorkant die Drostdypoort wil die blinde ou bedelaar, soos altyd op sy pos, dringend met ’n klaende stemmetjie weet: “Wat gaan aan? Wat doen hulle?” terwyl honderde voete verby hom dreun. Hy klink benoud, want in sy brose wêreld is ’n sent minder in die blikkie vir ewig weg. Dis basiese ekonomie.

As dit reën, is daar minder voete, en dan eet hy minder. Voete is goed, maar só baie maak hom bang. Hy verbeel hom juis hy’t vroegoggend gehoor hoe ’n hele klomp brullende lorries verby kletter. Daar was ook stemme wat growwe grappe vertel. Boere. Daar’s iets aan hul manier van praat. Jy weet nooit met die boere nie. Hulle kan jou sommerso vir die grap in ’n vangwa smyt, al ken almal hom by ’n naam wat hulle dink syne is. Sy sesjarige susterskleinkind, wat hom elke dag na sy staanplek bring en die blikkie tot laatmiddag vir die mense skud, rem aan sy hand, en sy tong knoop.

Voel-voel loop die sjongolôlo nou voor die boekwinkel verby.

Verskrikte gesigte loer deur die groot ruit tussen Virgilius en Chaucer en Grotius en Keynes en Toynbee buitentoe na lang hare, baarde, slonsige baadjies, knoopdoopkaftans, klokbroeke en sandale. Die studente moet eintlik in hul kamers vir die Junie-eksamens leer, maar het eerder ’n rukkie tevore op die grasperk voor die universiteit se falliese wit kloktoring met die rooi Italiaanse teëldakkie saamgedrom.

Hul leiers het gepraat. Genoeg! het hulle gesê. Die Natte moenie dink ons gaan skrik as hulle grom nie. Moenie vir ons sê wat ons moet dink en doen en met wie ons vriende mag wees of wie ons as vyande moet wegjaag nie. Hou op om op ons Chinese studente te pik. Hulle móét met intervarsity daar by UPE saam met ons op die paviljoene sit. Ons sál Saso hier verwelkom as ons wil. Ons wíl hoor wat Biko sê! Ons glo aan vryheid van spraak en assosiasie. Ons dink wat ons wil. Almal in die land is broers en susters, gelyk, en moet ewe vry wees. Ons laat ons nie voorsê of intimideer nie! Kom ons gaan wys hulle!

Die massa, effens meer as driehonderd stuks sterk, het dit toe ’n bietjie benoud agter hul leiers aan deur die windskewe poort en oor Somersetstraat tot in die wye wêreld gewaag.Geen plakkate met slagspreuke sê waaroor dit gaan nie. Daar’s geen gebalde vuiste en gedreunsing nie. Jy sou sweer dis ’n skooluitstappie, dit kort net die tou waaraan almal vashou. Tog is die studente kwaad! Hulle’s kwaad omdat Nusas verbied word. Hulle’s kwaad omdat Grahamstad se volksraadslid, ’n Verenigde Party-man, nogal, sê hulle’s ’n klomp kommies watmoeilikheid soek, en hy sal bewyse teen hulle bedel, leen of steel.

Hulle’s kwaad oor die koerantfoto’s van dienders wat hul Ikey-maats net treë van die Parlement af op die trappe van die St. George-katedraal met knuppels timmer, aan die hare rondsleep en in traangas laat stik. In die gees staan hulle saam met hul Wits-makkers, plakkate in die hande, langs Jan Smutsrylaan, en die Natallers op die Durban- en Pietermaritzburg-kampusse wat ook húl stemme dik maak.

Sommiges voel jammer vir die plaaslike mense wat so wreed onderdruk word, oorkant die dorp in armoede op die windverwaaide vlakte krepeer, en elke aand wanneer die aandkloksirene nege-uur oor die hele dorp loei, soos beeste in ’n kraal in hul lokasie moet wees. Natuurlik het feitlik niemand dit al in Fingo Village se strate gewaag nie, en daarom maak dit hulle nie so érg kwaad nie, want hulle weet nie rêrig hoe dit daar lyk nie.

Ander dink aan die oproer in Parys vier jaar gelede, wat De Gaulle laat val het. Kyk net wat kan studente doen as hulle wil. Een of twee voel selfs aan die weggooi-sigaretaanstekers in hul broeksakke, en reken dit kan moerse pret wees om motors om te dop en aan die brand te steek. Wat ook al, hulle’s kwaad. Kwaad! En almal moet dit weet.

Die parate polisiemanne wat skielik in ’n horde vangwaens en vragmotors van orals opduik en hul pad soos ’n blou gety versper, lyk op hul senuwees. Dis die meeste se eerste keer, en hulle’s nie rêrig hiervoor opgelei nie. Sommiges is vererg omdat hulle nou swetend moet rondhol om japsnoete te vang en te looi. Spul langhaar-hippies! Die offisiere, wat agter staan, is besonder kwaad, want Sy Edele Lourens Muller, die agbare minister van polisie, het hulle beveel om kwaad te wees, en jy luister vir die baas. Die snuiters moet leer, aan die bas voel as dit moet, wat wet en orde beteken. G’n land kan anargie duld nie! Die sjongolôlo bondel teen die blou muur op. Die atmosfeer is snaarstyf. Net een verkeerde beweging van die een of die ander kant, ’n knuppel in ’n oog, ’n knie in die knaters, en dis chaos.

Toe buig die sjongolôlo se honderde knieë en hy gaan sit op die sypaadjie. Kyk, sê hy. Ons is weerloos. Ons is redelik. Ons is beskaaf. Moet ons net nie slaan nie. Ons sing, met effens bewerige stemme, “We shall overcome” en “Die Stem”, en die paar wat die verbode woorde ken en kan uitspreek, “Nkosi sikelel’ iAfrika”.

Die polisieman met die snor en luidspreker en drie sterre op sy skouers, wat nog goed onthou hoe hy as jong gryshemp ook chaos probeer saai het, sê drie maal in ’n luide stem, soos artikel 7(1) van die Wet op Oproerige Byeenkomste 17 van 1956 mutatis mutandis vereis: “Aandag! Aandag!”

Dis ’n oomblikkie stil terwyl hy die luidspreker se skakelaar ’n paar keer kliek-kliek tot hy behoorlik blikkerig bulder: “Aandag! Aandag! Hierdie is ’n onwettige oproerige vergadering! Ons kan dit nie toelaat nie! Julle moet kalm huis toe gaan! Sonder geweld! As daar geweld is, sal ons optree! Julle het tien minute om vreedsaam uiteen te gaan! Vreedsaam! Bly net kalm! Tien minute! As julle nie huis toe gaan nie, sal ons julle verwyder!”

Hy bedoel: Dan gaan ons julle dik kom donner, snotkoppe. Twaalf-en-’n-half minute later staan die sjongolôlo op. Die polisiemanne vat hul knuppels stewiger vas en haal hul donshaelgewere klik-klak oor en maak seker hul traangasblikkies is reg en vat-vat aan hul gasmaskers, maar dis onnodig. Die sjongolôlo beweeg. ’n Klomp van die studente klim sommer self agterin die Bedfords wat daar wag, tot dié vol is en wegry.

Die res van die sjongolôlo begin stap, by die eerste straat links, dan weer regs, na die polisiestasie in Newstraat toe. Daar, in die parkeerplek, kry elke paar sjongolôlo-pote ’n eie lewe. Die stappers word toegejuig deur hul maats wat uit die Bedfords spring. Dis ’n vrolikheid. Hulle maal rond, klets, rook, dié seuns en dogters van die rykmense. Die koel ouens begin gesels met die oulikste meisies op wie hulle lank reeds ’n ogie het. Die meisies flikflooi. Die gevaar bou bande. ’n Bleeksiel lees ’n slapbanduitgawe van Xenophon se Anabasis Kyrou in die oorspronklike Grieks terwyl hy op sy beurt wag. Regstudente deel links en regs twyfelagtige raad uit.

Die jongmense spel hul name vir die konstabels agter die toonbank, die moeilikes en ook die maklikes soos Clark Kenten Sandra Dee. Die aanklag is openbare rusverstoring, hoor hulle, maar wie se rus is verstoor? Daar was skaars ’n rimpeling op die dorp.

Die seun, wat op ’n veilige afstand staan en kyk het, skud sy kop en wonder wat die sjongolôlo bereik het. Miskien sal môre se koerant hom vertel. Behalwe dat die boere so byna ’n klomp wit mense opgesluit het, in plaas van bantoes soos gewoonlik, was dit maar ’n flou spul. Geen gekraakte skedels nie. Geen skote en traangas nie. Niks.

Tog het die ontploffing vlak gelê. As sy swart gesig net wit was, sou hy self daarvoor kon gesorg het. Hy’t mooi gekyk. Skop daardie dik sersant teen die skeen. Dié ruk sy voet weg, verloor balans, en kyk vererg rond. Wie de hel . . .? Sy haelgeweer swaai met die beweging, en die student reg voor hom skrik haar oor ’n mik. Sy lig haar hande op om haar gesig te beskerm. Die konstabel langsaan dink sy gaan hom slaan en mik met sý wapen. Die ander studente glo hy gaan skiet. Hulle skree, en val plat, en hardloop. Oombliklike chaos. Iemand verloor kop, en ’n skoot klap.

En as jy rêrig gróót marakkas wil hê, fantaseer hy, laat jy ’n groep na die duskant van die straat hardloop, om agter die boere in te kom, en ’n ander groep dáárdie kant toe. Dan’s die boere se aandag verdeel, jy kan tussen hulle inkom. Met hul eie mense in die pad kan hulle nie skiet nie. ’n Klompie messe in die sokkies en moue, skerpgemaakte fietsspeke . . .

Maar om jou soos ’n trop mak skape te laat aankeer, is woes dof. Hy draai sy rug op die dutjiesdorp en begin na die universiteitsgeboue daar voor aanstryk. Sy pa se vergadering moet omtrent klaar wees. Oor ’n rukkie is hulle op pad terug Alice toe.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top