Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Dowe gode deur Dibi Breytenbach

  • 2

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Dibi Breytenbach

Foto: verskaf

Dibi Breytenbach is ’n regsgeleerde wat saam met haar gesin op die platteland van KwaZulu-Natal woon. Sy het ’n passie vir kinders en kinderregte en spesialiseer op daardie gebied in haar professionele hoedanigheid. Sy put heelwat uit werkskennis om polisieprosedures van binne te beskryf.

Breytenbach debuteer in 2015 met Saliger en volg dit op met Vrediger in 2016 en Heiliger in 2017.

Van Saliger sê joernalis en resensent Org Potgieter: “Dibi Breytenbach verdien applous vir haar eerste poging met ’n boek wat lekker lees en teen die einde moeilik neergesit word.”

Sy volg haar debuut op met Vrediger in 2016 waarin grondkwessies en gesinsgeweld te berde kom. Riaan Grobler maak in sy resensie op Netwerk 24 die volgende opmerking: “Vrediger is ’n fassinerende blik op Suid Afrika se strafregstelsel en is boonop ’n boeiende raaisel wat knap en ekonomies geskryf is.”

In 2017 word Vrediger gevolg deur Heiliger. LitNet oor Heiliger: “Heiliger kan met Rudie van Rensburg se Kamikaze en Madelein Rust se Moordhuis vergelyk word as die hoogtepunt van die skrywer se oeuvre tot dusver. Eenvoudig uitstaande.”

Heiliger haal ook die kortlys van die 2017 Tempo-toekennings.


Opsomming

Dowe gode
Dibi Breytenbach
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799389814

Wanneer het lewe so goedkoop geword en genade so duur?

Masjiengeweervuur skeur deur die stilte van die nag in die distrik van Opathe in die Natalse bosveld. Dit verander die lewe van een boeregesin vir altyd, want twee geslagte word in ’n oogwink koelbloedig op hulle plaas deur gesiglose aanvallers uitgewis.

Aella O’Malley, die ondersoekbeampte, sukkel om sin te maak uit ’n reeks leidrade wat deur politiek, afguns, vrees, geloof en bygeloof tot ’n verwarrende mengelmoes van inligting deurmekaar geroer word. Om sake te kompliseer kry sy ’n boodskap: “Onthou die pad na Opathe,” wat in gewone omgangstaal ’n doodsdreigement is. Net daarna wórd sy inderdaad raakgeskiet.

Wat is die motief? Is dit net nog ’n sinlose plaasmoord, waarom wil iemand Aella uit die weg ruim, en sit daar iets meer agter hierdie slagting?

Haar eerste verdagte word wreed aangerand deur ’n gefrustreerde jong boer, en nou het die oorwerkte polisie hóm ook in hegtenis geneem.

Die roman bied ’n sonderlinge blik op die polisie se werkwyse. Breytenbach werk daagliks in ons strafregstelsel en sy beskryf die polisieprosedures in detail, maar só dat die leser voel jy stap saam in die aanklagkantoor in. Die lykskouings, die vorms, die klagteboeke, alles word deel van die storie. Hier is ’n kenner se hand aan die werk. Wat meer is, die roman toon hoe sekere ondersoekbeamptes steeds probeer funksioneer in ’n disfunksionele stelsel en ondanks politieke inmenging in hulle werk.

Moord, verraad en hoop: Watter een van hierdie drie sal uiteindelik oorwin?

Eers teen die einde, wanneer Aella besef sy is bedrieg, verstaan sy dat die pad na Opathe ’n verraderlike pad is wat met groot omsigtigheid gestap moet word.

Wat maak die boek anders?

  • Die konflik onder die ou en nuwe lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens op grondvlak word ontgin;
  • Die polisiekultuur word lewensgetrou uitgebeeld;
  • Die roman word geweef rondom ’n oënskynlike plaasaanval waarin die lot van die slagoffers sowel as die misdadigers aangespreek word.

Uittreksel

Die predikant maak sy mond oop, maar word onderbreek deur Aella se selfoon.

Hy lig sy wenkbroue. “Mozart?”

Sy knik. Roel het self nog die eerste mate van “Eine kleine Nachtmusik” as haar luitoon geïnstalleer Sy haal haar selfoon uit haar kortmoubaadjie se sak.

“Ekskuus, Dominee,” sê sy terwyl sy antwoord. Dit is Handsome Kunene van die misdaadkamer.

“Hulle soek na jou,” sê hy in swaar geaksentueerde Engels. “Jy moet kom.”

In die agtergrond hoor sy dringende stemme. Radio’s piep en kraak. Die elektriese atmosfeer van die misdaadkamer knetter deur die eter.

“Praat met my,” sê sy vir haar kollega. Sy skuif uit die orrelbank, staan op en stap sonder ’n woord na die stoepie onder die kerktoring. Dit is reeds amper donker. ’n Helder lig skyn oor die Muur van Herinnering. Leë nisse staar soos die hol oë van ’n skedelbeen kerkwaarts en wag vir die een of ander ongelukkige siel se as om sin aan dié uitgawe vir die bouwerk te verleen.

“There was an attack.”

Aella maak haar oë toe en trek haar asem diep in.

“Waar?” vra sy toe sy dit stadig uitblaas.

“Die plaas Carlsbad. Hulle wag vir jou.”

’n Onsigbare hand knel om haar bors en pers die lug uit haar longe. In haar geestesoog sien sy die plaaswerf, die ouderwetse huis met sy tuin en sy gasvrye mense. Sy ken die plek goed.

“Carlsbad?” vra sy toe sy uiteindelik beheer oor haar stembande herwin het. “Is jy seker?”

“Yebo.”

“Is iemand dood?” Dit is ’n sinnelose vraag. Hulle sou haar andersins nie gebel het nie. Sy is die enigste speurder wat moordsake in hulle distrik ondersoek.

“Hulle sê so,” antwoord Buthelezi. “Jy moet ry. Die PKRS is reeds gekontak.” Hy beëindig die gesprek sonder seremo-nie.

“Ek kom,” sê sy vir die dooie handstuk. Sy byt haar onderlip vas tot sy bloed deur die dun epiteel kan proe.

Sy het Henno op Boerevereniging-vergaderings leer ken as ’n korrelkopwewenaar. Heinrich se vrou Irmela oefen by dieselfde gimnasium as sy. Daarby het sy en Roel, toe hy nog kon, gereeld op Sondagmiddae met die boer se seën op die uitgestrekte wildplaas gaan rondry in die hoop om renosters of olifante te sien te kry.

Aella trek haar asem diep deur haar neus in. Geleidelik klop haar hart stadiger. Sy ril. Waar is haar motorsleutels? Sy tik-tik aan haar baadjiesakke. Wat het sy daarmee gemaak? Sy stap met afgemete treë die kerk binne. Die sleutels lê op die orrelbank waar sy gesit het.

“Ek moet ry,” sê sy stomp.

“Jy is wasbleek.” Die dominee frons. “Was dit slegte nuus?”

“Daar was ’n plaasaanval.”

“Liewe hemel.” Die man sit sy saamgevoude hande voor sy mond asof hy bid. “Nog een?”

Die kerkklok beier deur die leë kerk en doof die leraar se woorde uit. Dit is seweuur.

“Ek stap saam met jou na jou kar toe,” sê die dominee.

“Dis oukei.” Aella lig haar hand. “Tot later.”

Die jong leraar maak sy mond oop om iets te sê. Sy wag nie om te hoor wat dit kan wees nie. Sonder ’n verdere woord stap sy na die wit dubbelkajuit-Hilux wat die staat aan haar toegeken het.

’n Aanval. Nog een.

Sy klim in die hoë voertuig en druk die sleutel in die aansitter. Haar voete raak die pedale net-net. Met ’n sug knip sy haar pistoolholster los en sit die vuurwapen op die passasiersitplek neer. Dis beter. Sy draai die sleutel en die voertuig dreun gerusstellend onder haar. Toe ry sy by die kerk se lowerryke parkeerterrein uit en draai regs in die rigting van die grootpad na die see. Die roete na Carlsbad lei verby die laerskool aan die regterkant van die pad, verby die groot madressa aan die linkerkant.

Carlsbad, ’n groen juweel in die hartjie van die KwaZulu-Natalse bos. Aella was vyf weke tevore saam met Whistler daar toe drie renosters gestroop is. Sy het vir Roel daardie oggend in die hande van ’n tuisversorger gelaat, want sy moes die Volkers gaan bystaan.

“Fokken bliksems,” het Whistler afgemete gesê terwyl hulle in afgryse na die opgeblaasde, horinglose karkasse in die klein oopte tussen die platkruine gestaar het. “Etters.”

Henno, Heinrich en Irmela Volker was ook daar, stil en woedend. Daar was nie woorde nie.

Dit was die tweede keer dat die Volkers se renosters gestroop is. Die stropers is professioneel. Sover is daar nog niemand gearresteer nie.

Buite die dorp trap sy die versneller dieper met die punte van haar tone in. Die kragtige enjin antwoord sonder teëspraak. Plase en plantasies flits soos ’n snelfilm in die nag verby. Baie daarvan lê braak, want hulle eienaars het lank reeds die grond verlaat om ’n ander heenkome in vreemde lande te soek. Dis net die bittereinders wat steeds vasklou aan hulle plase soos wat hulle dit al vir geslagte lank doen.

Nog ’n aanval.

Dit is die derde een binne agtien maande.

Haar kakebene klem onwillekeurig opmekaar en haar vingers verstyf om die stuurwiel.

Die eerste aanval was verlede Maartmaand by Afgunswinkel op oom Van Galen se plaas. As kind in Nederland het die ouman die Tweede Wêreldoorlog oorleef. Ná die oorlog het hy sy fortuin in Afrika kom soek. ’n Driekwarteeu later het Aella sy lyk in die melkstal opgetel. Hy is vir twee duisend rand en ’n haelgeweer vermoor deur die man wat koeldrank by sy kontantwinkel afgelewer het. In die nag sien sy steeds die ouman se gesig voor haar met sy yl wit hare wat soos donsvere oor sy bebloede gesig wapper.

Sy draai die ruit af. Die koel aandwind streel met sagte vingers oor haar gesig. Die lug ruik na bos en stof en die poeieragtigheid van soetdoringbloeisels.

In Desember was daar Adams in Laersdrift. Dié boer is doodgeslaan deur ’n familielid van ’n werker op ’n buurplaas. Toe Aella op die toneel kom, kon hulle hom slegs uitken aan die trouring aan sy vinger.

Al die sterftes, al die lyke.

Dit hol haar van binne uit.

Sy knip haar oë en fokus op die pad wat soos ’n lanferlint voor haar uitstrek. Dit is donkermaan en die dorp se stralekrans lê reeds ver agter haar. Bliksemstrale speel op die horison en verlig die naghemel. Sy ry verby die witgepleisterde biltongstalletjie aan die linkerkant van die pad. Dit gloei soos ’n baken in die donker. Dié tyd van die aand is dit toe, maar deur die dag doen dit goeie besigheid met vakansiegangers en sakemanne op pad na die see toe. Een of ander tyd gaan dit ook deel word van die statistiek, want daar is geld en die mense is honger.

By die afdraai na Konfoormeule met die klein satellietpolisiestasie langsaan flikker die rooi ligte van ’n ambulans in die donker voor haar. Sy draai links en volg in die voertuig se stofspoor. Dié ry besadig in die rigting van Carlsbad.

“My magtig,” sê Aella afgemete toe sy die voertuig verbysteek. Sy flikker haar ligte. Ry vinniger, beduie sy. Sy wag nie om te kyk of die ambulansbestuurder haar boodskap verstaan nie. Ver voor, omhul deur die duister van plantasies wat die pad aan beide kante begrens, sien sy nog ligte.

Sy byt haar onderlip tussen haar tande vas.

Die boere en die plaaswag is gemobiliseer. Dit voorspel moeilikheid. Angstige boere het ’n kort lont, groot gewere en jeukerige vingers. Daarby vertrou hulle niemand nie. Ná wat sy die afgelope agtien maande gesien en gehoor het, kan niemand hulle daarvoor verkwalik nie. Haar bakkie ratel op die sinkplaatpad en die duisternis suig haar in.

Dit is piknagdonker in die plantasie. Niemand weet hoe donker dit in hierdie deel van Afrika kan word nie. Drie plaasbakkies voor haar verlig egter haar pad. Voor haar ry ’n bruin Land Cruiser. Dit is die verstekvoertuig in hulle distrik. Elke tweede boer het een. Sy toet toe sy verbysteek en in die polisiebakkie se kopligte kan sy vlugtig ’n hand sien waai. Voor haar is daar nog ’n Cruiser en ’n Toyota Hilux. Hulle ry vinnig, maar Aella ry vinniger. Sy steek die drie voertuie moeiteloos verby. In die verbygaan herken sy die Hilux. Dit behoort aan S.P. van der Walt, voorsitter van die plaasbeveiligingskomitee en ouderling in Roel se kerk. Hy flits sy ligte vir haar.

Nie nou nie, dink Aella. Hulle ligte verdwyn om die draai by Mawana Game Ranch. Weer is sy en die donker alleen op die pad. Sy ry stadiger, want voor haar op ’n heuwel gloei die wit muur van Carlsbad se indrukwekkende hek. Henno Volker het baie geld vir hierdie hek betaal. Irmela het haar vertel.

“En vir wat?” het sy retories gevra terwyl hulle besig was om af te koel ná ’n intensiewe oefensessie in Vicky se gimnasium. “Hy moet eerder die geld vat en iemand aanstel om vir Heinrich te help. My arme man werk hom dood terwyl my skoonpa lekker van die stoep af boer.”

Sy ry nog stadiger totdat sy amper tot stilstand kom voor die oordadige konstruksie. Carlsbad, staan daar in swierige koperletters teen die onberispelike muur. Die naam roep beelde van koue sneeu en skerp bergspitse op, nie stof en mot en roes nie. Die bakkie skud en ratel oor spoorstawe wat in ’n netjiese rooster op die grond tussen die hekpale uitgelê is sodat ’n bees of ’n bok nie daaroor kan stap nie. Of dit ’n olifant sal stuit, weet sy nie. In teenstelling met die oordadigheid van die plaasingang lei ’n eenvoudige tweespoorpaadjie haar die bos binne. Oë gloei onheilspellend in die donker ruigtes.

Sy ril.

Daar is baie ongediertes op Carlsbad.

Sy ry nog stadiger, want sy wil nie in ’n olifant vasry nie. ’n Jakkals draf voor haar oor die klipperige paadjie, toe nog een. Hulle is donkerdiere. Sinister. Sy ril weer. Koue vingers streel oor haar skouers en die weerlose agterkant van haar nek. Sy sal dit nooit erken nie, maar ná ’n leeftyd laat die eerste roep na ’n moordtoneel haar steeds hoendervleis uitslaan.

Die plaashuis se ligte glinster deur die roering van takke en blare. Die bakkie skud op sy harde vere toe sy teen ’n klein steilte af met ’n tuisgeboude laagwaterbruggie oor ’n droë rivierbedding ry. Haar lippe pers ferm opmekaar. Die voertuig stoei aan die ander kant van die bruggie teen die steilte op na die werfhek toe. Uiteindelik is sy bo. Die hek staan oop. Sy ry deur en hou stil onder die akasia waar sy en Whistler stilgehou het die dag toe die renosters geskiet is. ’n Bottel water rol onder die passasiersitplek uit; iets wat sy daar begin bêre het op Roel se aandrang. Sy skakel die enjin af. Daar is ’n algehele afwesigheid van klank op die werf.

Dit is altyd so.

Sy trek haar asem diep in terwyl sy die deur oopmaak. Die groen-en-wit Avanza van die Plaaslike Kriminele Rekordsentrum staan langs ’n blou Skyline met roeskolle op die kattebak. Die kar behoort aan Sibisi. Hy is ’n oorblyfsel uit ’n ander tyd, op die rand van aftrede. Omdat hy uit die ou bedeling stam, sal hy aftree op die rang van adjudant-offisier. In drie en twintig jaar is hy nooit bevorder nie, want die nuwe geskiedenis is in ’n onvergewensgesinde stryd met die oue.

Dit is ’n skande. Sibisi is ’n goeie polisieman. Hy verdien beter. Daarby is hy die enigste speurder op die klein polisiestasie langs Konfoormeule. Hy is hoofsaaklik getaak met die bemiddeling van onderlinge dispute wat die potensiaal het om op geweld uit te loop. Sibisi is ’n vredemaker. Hy is waarskynlik eerste gekontak omdat Carlsbad vir amptelike doeleindes van die satellietstasie met sy gebrekkige hulpbronne vir polisiëringsdoeleindes afhanklik is.

Sy tel haar pistool op en klim stadig uit die bakkie. Lig spoel uit die huis oor die onverligte grasperk en laat skadu’s voor haar voete speel. Haar oë gly oor die werf terwyl sy die holster aan haar broekband vasknip. Die pistoolkolf druk koel teen haar vel.

“Sawubona,” klink ’n diep stem uit die nag op.

Aella kyk op. Sibisi leun in die skadu’s teen die stoepmuur langs die strelitziabos. Toe sy naderstap, staan hy regop en strek regaf teen sy lyf.

“Captain.”

“Naand, Adjudant.” Aella hoor bewegings in die huis, maar geen stemme nie. “Praat met my.”

Hy maak sy keel skoon. In die oorspoellig van die stoep lyk sy gesig so grys soos as. Sibisi hoort nie op hierdie toneel nie.

“Amabili,” sê hy sag – twee.

Aella probeer praat, maar haar woorde stol in haar keel.

“Wie?” vra sy uiteindelik.

Hy druk met sy duim en voorvinger teen sy neusbrug. “Mister Volker and his son.”

Sy maak haar oë toe. Vir ’n oomblik wieg sy op haar voete. “Mevrou Volker en haar kind?” Sy maak haar oë oop.

“Hulle is binne.” Sibisi knipper sy oë. “Hulle is . . . orraait.” Hy fluister die woorde.

Aella lek oor haar droë lippe. “Waar is hulle?”

“In die eetkamer.”

Sy trek haar asem diep in en draai na die stoeptrappe om die huis binne te gaan.           

“Wag,” sê Sibisi.

Aella frons. “Wat nou?”

“LCRC. Hulle het gesê ons moet wag. Hulle neem nog foto’s.”

Sy draai terug. “Het jy met haar gepraat?”

Sibisi skud sy kop. “Not much. Sy praat deurmekaar.”

Aella byt aan haar wysvinger se nael tot sy die bloed soos warm koper in haar mond proe. “Het sy seergekry?” vra sy uiteindelik.

“Angisabona” – ek het nie gesien nie.

Haar oë gly oor die werf. Sy hoor ’n ritseling in die bos langs die draad en verbeel haar sy hoor die flappende ore van ’n olifant wat stilweg in die duisternis verdwyn.

Sy is bang vir olifante.

“Hoe het hulle by die werf ingekom?” Hulle. Hy. Sy weet nie. Sy tuur na die donker bos. Die huis is ’n eiland van lig in die duister van die woesteny wat hulle omring. Sewentig kilometer na die ooste lê die eindelose Indiese Oseaan, na die noorde die ruigtes van Mosambiek en die einders van die res van Afrika. Is die boosdoeners nog in die omgewing?

Sibisi skud sy kop. “Angazi” – ek weet nie. Hy volg haar oë. “It is very dark.”

Vir ’n lang oomblik staan hulle en luister na die bosgeluide wat deur die stil nag klief. Iewers skree ’n jakkals en verder af, in die rigting van die rivier, klink die onheilspellende antwoord van sy maat.

Sibisi maak sy keel skoon. “Hulle het die jong mister Volker daar op die stoep geskiet.” Hy beduie met sy kop na die voordeur.

“Waar is sy liggaam dan?” vra Aella fronsend. Van waar sy staan, kan sy die voordeur sien. Daar is geen liggaam op die stoep nie.

“Inside.”

“Binne?”

Sibisi knik. “Sy’t hom binnetoe gesleep.”

“Jy’s nie ernstig nie.” Heinrich Volker was ’n lang man, groot en swaar van been. Ten spyte van die feit dat Irmela se lyf reeds ’n kind gedra en gebaar het, is sy steeds gebou soos ’n merrievul.

“Dis wat sy sê.”

Die diep dreuning van meer as een voertuig onderbreek die gesprek.

Aella kyk om.

Die neus van S.P. van der Walt se Hilux verskyn in die werfhek.

“Heiden,” sê sy sag terwyl sy haar weerbarstige hare uit haar gesig stoot.

Sibisi antwoord nie.

Sy kyk woordeloos na die bakkie wat langs die voëlbad op die gras stilhou. Die twee Land Cruisers parkeer in gelid. Die voertuie se kopligte gooi helder strale oor die werf. Sy byt aan die los naelriem van haar verwoeste vingernael terwyl Van der Walt sy deur oopmaak en met ’n vloeiende beweging uitklim. Die spoeg in haar mond laat haar vinger brand. Sy vee haar hand aan haar broekspyp af en stap met lang treë vorentoe.

“Klim terug in jou kar en draai om,” beveel sy sonder om te groet. Sy moet opkyk, want Van der Walt is ’n groot man.

“Sê jy?” vra hy met sy growwe stem.

Aella sit haar hande op haar heupe en hou sy oë met hare gevange. S.P. van der Walt is ’n intimiderende man met ’n lyf en gesig wat lyk of dit uit Afrika-klip gekap is. Sy het die eerste keer met hom te doen gekry toe sy net in Opathe aangekom het en saam met Whistler die boer se gesteelde beeste moes opspoor. Dis hy wat vir haar van die geskiedenis van hulle distrik vertel het, van die Voortrekker-setlaars wat gesteelde beeste vir koning Cetshwayo gaan soek het en toe deur sy impi op die pad na Opathe in ’n hinderlaag gelei en uitgemoor is. In omgangstaal is die verwysing “die pad na Opathe” ’n doodsdreigement. Die pad na Opathe is ’n verraderlike pad.

“Sê ek. Dit is my toneel, S.P. Moet dit nie moeiliker maak as wat dit is nie.”

“Irmela het geradio.” Van der Walt se mond is ’n donker spleet.

Aella trek haar asem in. “Sy is daarbinne. Sy en Sigrid is oukei.”

’n Kiewiet roep onrustig. Die wind steek van die see se kant af op en fluister deur die doringbome wat hulle omring.

Die groot boer staar na Aella en asem uiteindelik uit. “Heinrich? En die oom?” Sy neusvleuels sper wyd. Hy wil verbybeur na die huis, maar Aella sit haar hand op sy arm.

Sy skud woordeloos haar kop.

Van der Walt maak sy oë toe. Sy lippe beweeg, maar hy maak geen geluid nie.

“Ry,” sê sy weer. “Daar is niks wat julle nou kan doen nie.”

Die boer knip sy oë en staar oor Aella se skouer na die huis agter haar. “Die ander manne het reeds begin om die paaie af te sper, tot anderkant Konfoormeule.”

Aella maak keel skoon, want ’n knop het hom in daar tuisgemaak en sy sukkel om te praat. “Dis ’n goeie ding.” Sy lek oor haar droë lippe. “Gaan nou.”

’n Motordeur klap en Aella kyk op. Vet Jan Pieterse klim stadig uit sy Land Cruiser en stap moeisaam oor die netjiese grasperk in hulle rigting. ’n Groot rewolwer hang in ’n holster aan sy sy.

“Ons kan nie ingaan nie,” sê Van der Walt met ’n strak gesig toe die vet man by hulle aansluit.

Selfs dié tyd van die aand kan Aella die sweetdruppels op die boer se bolip in die swak werflig sien glinster. Sy hartaanval is ’n ramp wat ’n plek soek om te gebeur.

“Nou wat dan?” vra hy. Sy asem hyg deur sy oorwerkte longe.

“Ons kan nie ingaan nie.” Van der Walt se woorde is strak.

“Draai terug,” sê Aella.

Jan Pieterse trap besluiteloos rond.

“Julle kan niks hier doen nie,” sê sy sag. “Nie voor ons klaar is nie.”

Die twee boere staar woordeloos na mekaar en toe na haar. Daar is niks om te sê nie, niks om te doen nie. “Ons wag by Konfoormeule,” sê Van der Walt uiteindelik. Hy haal ’n selfoon uit sy sak en hou dit in die lug. Sy gesig gloei in die lig van die instrumentjie in sy hand. “Fok, daar’s al weer nie sein nie.”

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top