LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.
Marinda van Zyl
Marinda van Zyl is op 11 September 1948 te Gobabis (Namibië) gebore. In 2011 was sy die naaswenner in LAPA se romanwedstryd met haar manuskrip Vrypas na Vergenoeg wat as Wilhelmina Radebe kom tuis gepubliseer is. Haar roman Amraal haal in 2015 die kortlys van NB-uitgewers se Groot Afrikaanse romanwedstryd.
Benewens Honeursgrade in Geskiedenis en Biblioteekkunde by Unisa, het sy ook ’n MA in Geskiedenis (UOVS) en MBibl (cum laude) aan die Potchefstroomse Universiteit verwerf en dit opgevolg met ’n PhD in Geskiedenis by Vista Universiteit.
Marinda en haar man, Jan, woon sedert hulle aftrede op Langebaan.
Opsomming
Dors
Marinda van Zyl
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084365
In die loop van 1876 kom verskeie groepe Transvalers by die samevloei van die Krokodil- en Maricoriviere aan met die idee om na Damaraland te trek — ’n land wat hulle net uit die stories van jagters ken. Om daar te kom, moet hulle ’n stuk waterlose Kalahari, bekend as die Dors, oorsteek. Maar die magstryd tussen die voormanne van elke groep om die hoofleier van die trek te wees laat die trek op ’n ramp afstuur, lank voor hulle die Dorsland binnegaan.
Anderkant die dors wag daar nie ’n land van melk en heuning nie, maar koors, tsetsevlieë, olifante en leeus. ’n Land vir mense wat uit hardekool se hout gesny is. ’n Land vir mense wat die dood kan vat en kan doodmaak sonder om ’n oog te knip.
Uittreksel
1
Junie 1876, Greyling-staning naby sameloop van die Marico- en Krokodilrivier
“Kraa, kraa,” lawaai die swartkraai in die haakbos digby die waens.
Dit voel vir Betta Greyling asof die swart kraalogies haar oral volg. Ontstig soek sy ’n klip om die voël te verwilder, maar daar is net sand en blare van die doringbosse wat reeds uitgekap is. Die seuns het gister net genoeg bosse onder die withaakboom uitgekap vir takkrale en só ’n oopte geskep vir die vier waens. Om haar lê ongerepte Bosveld. Iewers wes is die Maricorivier, het Jan gesê.
“Voertsek, voertsek,” probeer sy die kraai met swaaiende arms verwilder, maar hy sit sy sit asof hy die bos gekoop het.
“Nou lyk jý soos ’n reusekraai wat probeer vlieg,” terg Jan. “Los die voël, hy kom aas seker vir ’n stukkie biltong.”
“Jy vergeet al weer ons ma’s het gesê ’n swartkraai bring onheil. Die ding moet weg hier.”
“Ai, my vrou, jy weet tog dit was bogstories van twee susters wat enigiets sou sê om ons twee uitmekaar te hou. Nie een van hulle voorspooksels het ooit waar geword nie.”
“Almiskie, die voël pla my. Maak tog ’n plan.”
“Ek gaan gou ’n draai maak by die anders stanings,” het Jan soos gewoonlik ’n verskoning gereed.
Betta glimlag verlig toe hy die kraai met sy hoed verwilder voor hy tussen die bosse verdwyn. Sy vee die sweet van haar voorkop. Bedags is dit nog somer al is dit reeds Juniemaand. Sy skreef haar oë teen die rooi stof wat dwarrel terwyl Bêrend die grond gelykmaak by die kookskerm.
“Waar loop Elisabet en Janetta rond?” wonder sy hardop.
“Ousus-hulle is bossies toe,” antwoord Bêrend.
Betta ril. Dis nog iets waaraan sy nie gedink het toe sy besluit het om saam met Jan op hierdie tog te kom nie. Sy sal daaraan en aan die sand en stof gewoond moet raak, want dit gaan nog dae en baie vate water neem voor die grond vasgetrap is. Kla daaroor kan sy nie, maar in haar hart verkwalik sy tog vir Jan oor sy nou hier in die wildernis is. Toe hy verlede jaar op Louw du Plessis se aandrang saam met die Alberts-trek was om die beste pad Damaraland toe te vind, het hy haar die pad hel toe en terug laat loop. Daardie vrees toe hy nie, soos met elke ander jagtog, teen September terug was nie en toe November aanbreek, die doodsangs dat sy die pad vorentoe alleen sou moes loop, wil sy nooit weer ervaar nie.
In Februarie, terwyl sy een aand knus met hom lepelgelê het, het hy terloops gesê: “Ek moet volgende maand weer vort om vir Louw du Plessis-hulle deur die Dors tot by Ngami te vat.”
Sy wou vir hom sê: Ek het jou kinders alleen in die wêreld gebring en grootgemaak terwyl jy in die jagveld was; die familie se spot dat jy net huis toe kom om kinders te maak met ’n glimlag verduur, maar ek gaan waaragtig nie weer ’n kind alleen begrawe nie.
Maar sy kon nie die woorde uitkry nie. Net die huil oor jare se eensaamheid en die slap liggaam van ’n seuntjie wat sy nie lewend kon bid nie. Toe Jan beloof om grond in Damaraland, op die jagveld se voorstoep, te kry het sy oorhaastig ingestem.
Sy hoor Jan se hartlike lag by een van die ander gesinne wat saam met hulle uit Pretoria vertrek het. Hy het aan elke gesin ’n boom toegesê sodat hulle nie onder mekaar se voete is nie. Hier in die veld is hy ’n ander mens. Die rusteloosheid wat hom sy pypsteel laat stukkend kou het toe die voorbereidings vir die trek te lank na sy sin geduur het, is weg.
Elisabet en Janetta klets vrolik toe hulle uit die bosse kom. Dit was tog ’n goeie besluit om saam te trek, glimlag Betta, want nou het sy vir Piet ook weer onder haar vlerk. Toe hy uit Rustenburg laat weet het hy gaan ook trek, want die boerdery saam met sy skoonpa werk nie uit nie, het sy haar voorgeneem om haar skoondogter met ope arms te ontvang. Dis nie dat sy iets teen Janetta gehad het nie, maar sy moes tog haar seun waarsku teen die sotheid om met ’n kind vyf jaar jonger as hy te trou. Wat weet ’n dogter van vyftien van huishou en die behoeftes van ’n man? Toe wip hy hom en gaan trek by die skoonouers in.
Tiaan Roets kom met die perdewa vol watervate aangejaag en skop nog stof op. “Skuus Tante moes so lank wag. Dis ’n hele ent Maricorivier toe.” Hy en Motshoare laai twee vate af voor hy weer die perde leisels gee om die ander vate by hulle eienaars te besorg.
“Jy sal nog water moet bring!” roep Betta agter hom aan. “Die grond by die kookplek moet nat kom.”
Met die leisels in een hand lig Tiaan sy hoed sodat sy rooiblonde hare in die son vlam. ’n Week gelede het sy die jongman nie geken nie, nou voel hy al soos ’n eie kind. Die mengsel van vrees en wanhoop in sy ma se oë bly haar by, asook die haas waarmee sy Tiaan se klere gaan pak het toe Jan instem om hom as kneg in diens te neem. Wat moet in ’n ma se gemoed omgaan as sy nie haar kind teen sy stiefpa kan beskerm nie?
Soos al die ander gesinne langs die pad het Tiaan se mense by die suiping nuuskierig kom verneem waarheen die trek op pad was. Die uitdrukking op Jan se gesig toe Tiaan sê hy wil saam Damaraland toe agter ’n voël aan, laat Betta nou weer glimlag.
“Wat! Wat vir ’n voël jaag ’n man die wildernis in?” het hy gevra en oopmond vir die antwoord gewag.
“’n Troupant met ronde stertvere, Oom. ’n Oom wat uit Damaraland gekom het, het vir ons die prent gewys. Ek het hom al probeer teken, maar kan nie al die kleure onthou nie.”
Toe dreig die stiefpa om hom daar en dan ’n loesing te gee.
Dit was die magteloosheid in die ma se oë wat Betta laat praat het. “Jan, jy’t gister gesê jy kort nog hande by die vee.”
Jan het geknik, die pa geïgnoreer en die ma se toestemming gevra om haar seun saam te vat as kneg. Eers later, toe sy vir Elisabet met Tiaan hoor skerts, wou sy haarself skop oor sy vergeet het van haar groen koring op die land.
’n Ruiter uit die noorde trek Betta se aandag. Sy herken Louw du Plessis dadelik al het sy hom bykans twee jaar laas met nagmaal in Pretoria gesien. Dit lyk asof die perd enige oomblik onder sy groot lyf gaan swik. Uit gewoonte is sy breërandhoed afgetrek tot teen sy ruie wenkbroue. Maar goeie maniere vereis dat hy dit moet lig toe hy groet en Betta kyk vinnig weg om nie te gril vir die letsels oor sy pankop nie. Sy kan haar indink hoe sy ma gehuil het terwyl sy die kopvel moes vaswerk nadat ’n leeu hom kleintyd beetgekry het.
“Bêrend, kom groet die oom voor jy jou pa gaan roep,” roep Betta.
Louw lyk ontevrede terwyl hy die kampplek bekyk. “Julle doen erg moeite met ’n oornagplek.”
“Jy’s vroeg op my spoor,” red Jan vir Betta van ’n antwoord. “Die plan was om teen môre by jou uit te kom. Die plek moet eers leefbaar kom vir die vroumense.”
“Maar jy weet tog ons laer is langs die Krokodil. ’n Volle uur te perd hiervandaan.”
Betta beloer die twee mans onderlangs terwyl sy koffie skink. Alhoewel Jan ’n paar jaar ouer as Louw is, lyk hy met sy seningtaai lyf heelwat jonger. Iets aan Louw se houding pla haar. Sy onthou hom as ’n vrolike platjie wie se blou oë kon skitter van die pret as hy iemand ’n streep getrek het. Nou vroetel hy senuweeagtig met sy stompievingers in sy blonde baard terwyl hy wag op Jan se antwoord.
“Met die spul vee wat julle het, is dit seker nou kaalgevreet teen die Krokodil en my diere moet vet wees vir die trekpad. Is julle reg om in die pad te val?”
“Ja, opperhoof Khama het al in Desember vir my toestemming gegee om deur sy land te trek en in Maart laat weet Haakdoringpan is vol, maar toe was al die mense mos nog nie hier nie.”
“Ek’s jammer,” maak Jan verskoning, “ek wou einde Maart hier gewees het, maar iets het voorgeval.”
Betta ignoreer die kyk wat Jan haar gee. Mans begryp nie dat jy nie jou hele lewe in ’n paar dae kan oppak en boonop voorsiening moet maak vir honger mae vir wie weet hoe lank nie. Ten minste weet sy hoe om Louw van die oponthoud te laat vergeet. “Ek het vir julle ’n baksel beskuit, ingelegde vrugte en ’n paar pampoene saamgebring. Jan sal dit môre bring.”
Louw se gesig verhelder. “Ag, dankie, nig Betta. Truia bak lekker brood in ’n miershoop, maar daardie oond deug nie vir uitdroog nie. Dalk kan Jan die goedjies sommer nou met die perdewaentjie bring, want ons moet vir Daniël Erasmus gaan spreek.”
“Waaroor nogal?” frons Jan.
“Daniël voel ons kan die trek nie sonder regulasies aanpak nie. En daar moet ampsdraers gekies word.”
“Maar jy’s mos die kommandant, Louw. My akkoord is met jóú om julle die pad deur die Dors te wys. Verder moet elke man sy eie mense in toom hou en bestraf.”
“Daniël sê sy mense het hom nog voor hulle by die Pienaarsrivier weg is as kommandant verkies en hy het die meeste mense met hom saamgebring. Daarom behoort hy die trekleier te wees.”
“Wie dink die man is hy dat hy hom so aanmatig?”
“Hy’s Van Straat Erasmus se neef. Nou ja, jy sal seker nie weet nie, want jy is mos meer in die jagveld as by die huis. Van Straat was ons waarnemende president voor Burgers verkies is. Daniël self het glo naby Paul Kruger geboer en ken hom persoonlik.”
“En dit gee hom die reg om ons te hiet en gebied?”
“Dit klink vir my of hy meer skoolgeleerdheid as ek en jy het, Jan.
Ons het al klaar so ’n bietjie gesels oor die regulasies waaronder ons sal trek. Nou moet die kommissie gekies word om dit op skrif te stel,” sê Louw baie vernaam.
Betta weet ná sewe en twintig jaar saam met Jan dat hy hom gaan vererg. “Wat van nog ’n dronkie koffie met beskuit?” bied sy aan om sy aandag af te trek.
Maar dit stuit Jan nie. “Loop sê jy vir Erasmus al die kennis wat ons nodig het om deur die Dors te kom is in hierdie kop van my. Ek weet waar elke put en pan is en wanneer jy waar kan loop infoeter. Ek was al op hoeveel jagtogte die Dors in. Die eerste in ’52 tot by Ngami. In ’65 was ek en die groot olifantjagter Hendrik van Zyl tot by die Okavango. As Erasmus dink hy kan met boekkennis die Dors tem, God behoede almal wat saam met hom trek.”
“Nou kom sê dit self vir hom,” paai Louw.
Betta glimlag. Dis nou een ding van Louw. Hy het die statuur van ’n reus. Met sy ruie baard en fors bou lyk hy nou wel na ’n leeumannetjie, maar ’n bakleier is hy gewis nie.
Louw se kalmte laat Jan afkoel. “Vandag moet ek eers die kinders se velskoene versool. Dis ’n lang pad wat ’n touleier te voet moet aflê. Ons kan môre praat.”
Louw glimlag verlig. “Tot môre dan. So tienuur by Erasmus se laer.”