Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Doodsake op Karibib deur Isa Konrad

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Isa Konrad

Isa Konrad se vorige spanningsromans sluit Die ondenkbare, Die soenoffer, Diva, en Moord op Karibib in. Kenmerkend van die skrywer is haar vermoë om nie net by ’n sekere subgenre te hou nie, maar om oor grense heen te skryf. Die Soenoffer is byvoorbeeld ’n sielkundige riller wat nog skaars is in Afrikaans en Diva neem die spanningsroman na ’n ander vlak toe.

Konrad het in Namibië grootgeword. Ná skool het sy Switserland toe geïmmigreer. Sy het jare lank in Zürich gewoon, daar getrou en met ’n gesin begin. Van 2001 tot 2008 het die gesin in Pretoria gewoon. In 2002 het Konrad ’n kreatiewe skryfkursus deur die London School of Journalism gedoen, wat tot die publikasie van haar eerste boek gelei het.

In 2008 het die gesin teruggekeer Switserland toe. Hulle woon tans in Solothurn (Switserland), ’n barokstad op die Aare-rivier, maar besit ook ’n huis in die Penniniese Alpe naby die grens van Italië. Dit is hier waar sy die meeste van haar skryfwerk doen.

Isa Konrad het ook agt romanses geskryf voordat sy haar eerste spanningsroman, Die ondenkbare, aangepak het.


Opsomming

Doodsake op Karibib
Isa Konrad

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799388015

Inspekteur Conrad Dorfling is terug!

Isa Konrad laat die sonderlinge speurder van Karibib, Conrad Dorfling, weer krap waar daar ’n lyk is.

Sommer gou-gou ontdek Dorfling twee goed, nee drie:

• Die lyk is oud. Dit gaan moeite kos om uit te vind wat aangaan.
• Alet Gouws is terug in Karibib. Hoekom weet hy nie, maar hy is nie seker dat dit goeie nuus is nie, want ...
• die hele polisiestasie weet skynbaar reeds van sy en Alet se afskeidsoen…

Conrad weet nie wie se lyk dit is nie, maar hy is dankbaar dat dit ’n geraamte is, ’n doodloopsaak dus. Hy kan nie twee moorde in twee weke onder sy neus laat gebeur nie. Boonop krap Alet se teenwoordigheid hom om. Hy het regtig gedink daardie soen was vaarwel. Sy is ’n mooi vrou en Con se vorige huwelik het rampspoedige gevolge gehad. Hy is bang, want hoekom het sy skielik teruggekom Karibib toe?

Intussen warm sy doodloopsaak op. Binnekort is hulle op soek na ’n tweede lyk, en binne in sy eie lyf bewe die geraamtes in hulle kaste.

Doodsake op Karibib volg op Moord op Karibib. Doodsake op Karibib word uit die manlike hoofkarakter, Dorfling, se perspektief aangebied. Dorfling is lieflike, onbeholpe karakter met ’n goeie hart. Daar is iets van Sally Andrews se “Detective Kannemeyer” te bespeur, maar Dorfling ontwikkel in ’n unieke, Namibiese speurder.

Konrad se fyn waarnemingsvermoë en lekker sin vir humor, asook haar deerniswekkende karakters, sorg vir ’n opkrullekkerboek. Nie te veel bloed nie. Net genoeg spanning en hope menslikheid, soos styfgeklitste room, bo-op.


Uittreksel

Con Dorfling is tegelyk moerig en verlig waar hy op sy hurke langs die vlak graf in die Von Bülow-huis se agterplaas sit.

Verlig, want die lyk lê klaarblyklik nie van gister af hier nie. Eerder ’n kwessie van jare, sou hy dink. Eintlik ook nie meer ’n lyk nie. Wat hy daarvan kan sien, is nog net beendere. Geen dooie is ooit goeie nuus nie. Aangesien die rykste man op Karibib skaars twee weke gelede vermoor is, sou ’n varser vonds egter nog slegter nuus wees.

Maar hy is moerig. Ná hoeveel jaar moes die geraamte toe mos juis vanoggend in die tuin opduik, terwyl hy aktief verstrengel was met ’n mooi vrou. Nou is Alet Gouws op pad terug na haar lewe in Kaapstad toe en Con weet nie of daardie soen in sy kantoor netnou vir koebaai of vaarwel was nie. Hulle was net fluks op pad om uit te vind toe sy konstabels hom kom roep het.

Con kom regop, haal sy hoed af en vee met sy voorarm oor sy nat voorkop. Gaan ’n lang dag wees. Soos hy die ding tot dusver verstaan, wou Erika Schultz – die Herero-vrou wat die ou Duits-koloniale huis as ’n historiese gedenkwaardigheid en taamlik onbeduidende toeristeattraksie vir die munisipaliteit in stand hou – ’n spul turksvye laat uitgrawe. Die tuinier Joppie het die geraamte se linkervoet vergruis toe hy dit per ongeluk raakgespit het. Gelukkig het hy vinnig besef dis nie die beendere van ’n dier nie en alles net so gelos totdat Con hier aangekom het. Die outoppie sit en rol nou eers vir hom ’n zol in die skaduwee van ’n wilde peerboom. Con los hom. Hulle sal vandag nog soos osse swoeg om die area om die graf skoon te kry, want dis turksvye net waar jy kyk.

Hy kry sy selfoon uit sy broeksak en bel die mediese sentrum op Usab, bylyn 4.

“Mediese sentrum, dokter Oosthuizen se kantoor?” antwoord die sekretaresse ná twee luie. “Dag, Hettie, Con Dorfling hier. Kan ek met dokter Oosthuizen praat, asseblief? Dis dringend.”

“Seker, inspekteur Dorfling, hou net gou aan.”

Die erf is groter as wat dit van die straat af lyk. Die huis en buitegeboue versper sy uitsig op die sypaadjie, maar hy verbeel hom die rumoerigheid voor by die hek het al ietwat bedaar. ’n Kleinerige skare het hom ingewag toe hy hier aangekom het, op hol omdat Erika Schultz skreeuend in die straat af polisiestasie toe genael het nadat sy en Joppie die ontdekking gemaak het. Con het sy een konstabel, Jaap Karras, aangesê om haar die huis in te vat en die spulletjie voor die hek tot bedaring te bring.

“Dis Con Dorfling wat praat,” sê hy toe hy deurgeskakel word.

Hy en Oosthuizen mors nooit tyd op ’n groetery nie. Hulle is nie vriende nie. Nie mekaar se tipe perd nie, kan jy maar sê. As die een die ander een bel, gaan dit oor werk.

“Ek sit met ’n lyk,” lig hy die dokter dus sonder omhaal in.

“Al weer? Jy maak seker ’n grap, Dorfling.” Con hou nie van ’n gebulk in sy ore nie en Oosthuizen het ’n manier om te bulk. Oor grappe te lag wat nie grappe is nie. Soos nou. Nee wat. Nie mekaar se tipe perd nie.

“Ek is by die Von Bülow-huis. Die lyk is in die tuin. Dit lê al lank daar, nog net die beendere is oor. Ek sal ’n lisensie moet kry vir die opgrawing en dan is jy seker bevoeg om ons te help. Of moet ek iemand uit Windhoek laat kom?”

“Jip, jy benodig ’n lisensie en jou plaaslike lykskouer. Met ander woorde, jy is by die regte plek. Dit is nou as jy seker is dis nie hondebene wat jy in die tuin gekry het nie.” Con suig lug deur sy kies totdat dit ’n klapgeluid maak. Verder swyg hy.

“Ek sal die minister van justisie self bel,” bied Oosthuizen aan toe die stilte seker te raserig raak vir hom. “Sy kantoor kan die lisensie vir my aftas en e-pos.”

“Wanneer sal jy hier kan wees?”

“Gee my ’n uur.”

Con lui af en bel die stasie. Geen antwoord daar nie. Hy soek Beer Podolski in sy lys van kontakte op en probeer sy konstabel se selfoon.

“Hier praat konstabel Podolski van die Karibib-polisie. Is dit ’n klagte of ’n noodgeval?” sê Beer sy resitasie vir werksure op, nes Con hom geleer het.

Iets wat niemand hom skynbaar ooit aan die verstand kon bring nie, is om ’n vraag na ’n vraag te laat klink en nie na ’n antwoord nie.

“Beer, dis ek. Luister, ek wil hê jy moet die stasie sluit en kom. Bring die kamera. Is dit al reg?” onthou Con skielik.

Die ding was mos op die koffie met hulle vorige saak.

“Nee, Inspekteur.”

“Dan kan ons Jaap se selfoon vir foto’s gebruik. Het hy nie onlangs ’n nuwe een aangeskaf nie?”

“Ja, Inspekteur.”

“Bring jou sketsgoed ook.”

Hulle sal alles reg van die begin af so deeglik as moontlik moet dokumenteer, want dis nie jou gewone misdaadtoneel nie.

“Dan sal ek eers moet teruggaan, Inspekteur.”

“Teruggaan? Waarnatoe?”

“Stasie toe.”

Hy weet nie waar Beer nou weer uitval nie, al moet hy eintlik teen dié tyd al gewoond wees daaraan. Die grote het onlangs twee en twintig geword. Met hom is dit nie net ’n kwessie van nog nat agter die ore wees nie. Fonteine loop agter daardie ore. Hy staan so hoog soos ’n deur in sy skoene en is twee keer so toe. Maar hy het so hier en daar ’n talent wat onontbeerlik is vir die werk.

“Beer, ek het nie tyd hiervoor nie,” raas Con. “Kom nou net.”

Hy lui af. Trek sy hoed laer oor sy voorkop. Die son steek ’n man blind hier teen laatoggend se kant. Hy het net weer op sy hurke gesak toe Beer om die hoek gestap kom.

Con vlieg op. “Wat de . . .?”

“Moet ek nou teruggaan stasie toe, of moet ek hier bly, Inspekteur?”

“Hoe lank is jy al hier?”

Beer kyk op sy horlosie, tel op sy vingers en maak somme. “Sewentien minute, Inspekteur. Ongeveer.”

“Ek dag ek het jou gesê jy moet die stasie beman.”

“Ek het.”

“Maar dan was jy mos al hier voordat ek jou laat kom het.” Die grote knik. ’n Meewarige glimlaggie speel om sy mond wat soos ’n pienk proppie tussen sy wange vassit.

“Wat soek jy hier voordat ek jou laat kom het?”

“Mevrou Gouws het my kom haal.”

Con se verstand slaan toe. “Hè?”

“Sy het teruggekom. Haar swart kar staan voor die huis. Jy kan self gaan kyk, Inspekteur.”

Beer grinnik. Met sy paar bolwange lyk hy half soos die Oros-man op die advertensie. Net pienk pleks van oranje. Con wil hom waarsku om nie met hom te sukkel nie, maar hy weet die grote sal nie aspris met hom moeilikheid soek nie.

“Vir wat het Alet . . . vir wat het mevrou Gouws teruggekom?” vra hy, totaal uit die veld geslaan.

“Ek weet nie, Inspekteur.”

“Maar hoekom het sy jou by die stasie kom haal?”

“Om te kom help met die mense.”

Laat hy haar maar liewer self vra.

Con krap die agterkant van sy nek, waar hy skielik ’n jeukerigheid aan hom het. “Waar is sy nou?”

“In die huis.”

“En waar is Jaap?”

“By die hek.”

“Is daar nog baie mense?”

“Nie meer nie, Inspekteur. Mevrou Gouws het gesê ek en Jaap moet hulle huis toe stuur. Sy het gesê ek moet só staan...” Beer plant sy voete wyd uitmekaar en maak sy arms bak. Toe laat sak hy dit weer. Grinnik sy Oros-grynslaggie vir Con. “Jaap sê jy het haar gesoen dat sy hop.”

Feite, ja.

Con laat sy duim en voorvinger oor die kante van sy mond gaan, vee die glimlag af wat daar dreig. Hy het dalk daarmee begin, maar Alet het hom teruggesoen dat dit bars. Beste soen van sy lewe.

“Dit het niks met julle twee bakvisse uit te waai nie,” jak hy Beer af.

Hy en Jaap moenie dink hulle kan hom loop en beskinder nes hulle lus kry nie.

Maar Con se oë trek al huis se kant toe. Hy wil weet wat Alet hier maak. En vir hoe lank.

“Jy sê mevrou Gouws het Erika die huis in gevat?”

“Ja, Inspekteur.”

“Dan wil ek eers gaan hoor wat aan die gang is.” Con kry vyftien Namibiese dollar uit sy gatsak en knik na Joppie se kant toe waar hy nog steeds onder die boom sit en rook.

“Gaan koop solank vir die tuinier ’n Coke oorkant by die vulstasie. Daar lê nog ’n lang dag vir ons voor.”

“Is hy dan ook dors, Inspekteur?” vra Beer. Con grawe nog ’n tien en ’n twintig uit sy sak. “Kry dan maar vir jou en Jaap ook.”

“Rêrig!” hou die grote hom verras. “Joppie?” roep Con na die outoppie onder die boom en stap eers soontoe.

Dié troetel ’n vars lyn tabak in sy hande, lek sy sigaretpapier se rand tydsaam, vreedsaam. Steur hom nie aan die wêreld nie.

“Joppie, een van die konstabels gaan jou oor ’n ruk kom haal. Ek wil met jou en Erika praat. Oukei?”

Joppie knik, het net oë vir sy zol.

Hulle stap terug huis toe, hy en Beer. Toe Caltex se verversingswinkel skuins oorkant die straat in sig kom, stoom Beer soos ’n lokomotief voor hom uit. Con staan honderd agt en tagtig sentimeter in sy skoene en dink nie gereeld aan homself as ’n kortgat nie, maar sulke tye probeer hy nou nie eens byhou nie. Partykeer wil hy vir die grote pa speel, partykeer wil hy hom onder sy agterent skop.

Hy stap stoeplangs voordeur toe. Voordat hy ingaan, haal hy sy hoed af en kam sy hare na die kant toe plat met sy vingers. Nie dat dit ’n verskil sal maak nie. Hy is natgesweet, sy klere is vaal van die stof en hy moet ook maar nie te vinnig bly raak nie. Alet Gouws is ’n getroude vrou. Hy het gedink sy is op pad Kaapstad toe om van haar man te skei.

Con draai die deurknop en stap in, deur ’n portaal en ’n gang. Dit is die eerste keer wat hy in die Von Bülow-huis kom. Die ou plek dateer uit die vroeë negentienhonderds. Dit was die huis van ’n Duitse spoorwegkommissaris, dié dat dit as ’n historiese gedenkwaardigheid geld.

Aan sy regterkant is daar ’n eetkamer met ’n tafel waaraan helfte van die dorp onthaal sou kon word. ’n Sitkamer aan sy linkerkant. Gedrukte staalplafonne, grênd kandelare. Maar die ou plek val omtrent uitmekaar. Die mure dop plek-plek tot op die steen af en is oortrek met krake. Party begin teen die dak en eindig op die vloer. Die toeristebusse wat ’n paar maal ’n week deur Karibib kom, hou altyd by Caltex stil, dan laat Erika die mense vir ’n fooi deur die huis stap. Dit dek seker min of meer haar en Joppie se kosrekening, maar iewers op ’n kol sal die munisipaliteit dit waarskynlik moet laat sloop. Hopelik voordat dit op die toeriste inmekaarsak.

Die gang eindig in nog ’n sitkamer. Dit is groter as die ander een, formeler met ’n marmerkaggel en swaar, antieke meubels. Die houtvloer kraak onder Con se velskoene toe hy van die mat af stap. ’n Stel houtdeure met glasvensters maak na die kombuis toe oop. Die vloer is ’n skaakpatroon van swarten- wit marmerteëls, waarvan die blink verdof het. Daar is ’n hoë, vierkantige tafel in die middel van die vertrek en ’n swart ou koolstoof teen die oorkantste muur. Links van hom is daar ’n deurgang wat seker na ’n brekfiskamer toe lei. Con skat dis waar die vroue sal wees.

Halfpad soontoe klink Alet se stem van daardie kant van die muur af op. Sy praat so sag dat dit klink asof sy neurie. Con steek vas, luister. Wragtig, sy is terug.

’n Stoel skuif en hy hoor die geklik van haar hakskoene oor die vloer. Sy binnegoed trek styf. Skielik is sy daar. Hier. Staan sy voor hom in haar deftige rooi bloes en swart langbroek, blonde hare gekap, gesig ingekleur. Sy het ’n skinkbord met koppies en pierings in haar hande. Lyk nietemin pure stad, pure klas. Net die opgehewe klein litteken bokant haar regteroog verklap nog wat haar in die eerste plek Karibib toe gebring het. Twee weke gelede het sy ’n getuie in die moord op Faan Visser geword omdat sy by die mediese sentrum gaan hulp soek het. Con het haar met sewe steke in haar voorkop en ’n blou oog leer ken. Danksy haar man. Oftewel Die Poephol, soos hy verkies om aan Eugene Gouws te dink.

“Wat maak jy hier, Alet?”

“Tee,” sê sy, sonder om te blik of te bloos en lig die skinkbord. “Jy kan mos sien.”

“Ek sien, ja, maar hoekom maak jy hiér tee terwyl jy veronderstel is om op Walvisbaai se lughawe te wees?”

“Dit is vir Erika. Sy ly aan skok. Waar dink jy kom sy aan haar naam, Con? Dink jy nie ook Erika Schultz is ’n deksels eienaardige naam vir ’n Herero-vrou nie?” Sy glimlag vir hom, draai om en wals flink weg. “Is jy lus vir ’n koppie?”

“Nee.” Hy kug. “Dankie.”

Con stap agter haar aan, maar hy bly op ’n veilige afstand. Sukkel nog half om sy oë te glo. Hulle het mekaar iets soos twee ure gelede gegroet. Hy het nie geweet of hy haar ooit weer sou sien nie. Dit voel asof sy die hele tyd hier was en terselfdertyd asof sy maande lank weg was.

Alet tap water in die ketel. Was koppies en lepels terwyl dit opwarm. Droog die skottelgoed af en pak die koppies weer op die skinkbord uit. Sy kry teesakkies uit ’n blik, gooi suiker in die suikerpot, melk in die melkbeker. Skuif goed rond dat dit kletter. Besiger as ’n by.

Die twee weke wat hy haar nou al ken, is lank genoeg dat hy weet dit het niks met huislikheid uit te waai nie. Sy is soskerp soos ’n lem, ’n vrou wat kan kophou soos min. Ordentlike mens ook, al het sy ryk grootgeword. Net nie ’n huisvrou se dinges nie.

Aan die einde van haar verblyf in die gastehuis op sy plaas het sy die wit lakens en blou handdoeke vir hom gewas dat alles na dese grys is.

“Gaan jy my vertel wat aan die gang is, Alet?” vra hy op sy geduldigste. “Hoekom het jy teruggekom?”

Haar hande word stil op die skinkbord. Haar skouers lig, haar rug staan styf.

“Hoekom vra jy nie wat jy my eintlik wil vra nie?” sê sy sonder om om te kyk.

“Wat is dit?”

“Jy dink ek loop agter jou aan.”

Die gedagte het nie eens amper by hom opgekom nie. ’n Vrou soos sy hoef nie agter ’n bosvark soos hy aan te loop nie.

“Wel, jy is verkeerd,” antwoord sy voordat Con ’n woord kan uitkry.

Die ketel kook. Alet haal die een koppie van die skinkbord af en plak dit hard op die tafel neer. Skynbaar het hy haar dors bederf. Sy skink die ander koppie vol en maak tee met ’n sakkie. Rooibos, sê sy neus vir hom. Die pap teesakkie gaan land eenkant op ’n piering, toe tel sy die skinkbord op en draai om. Gluur hom vies aan. Con sluk. Sy het sulke branderige bruin oë, propvol lig.

“Ek het nie teruggekom omdat ons . . .” ’n Pienkerigheid slaan op haar vol, mooi gesig uit. “Dit gaan nie oor wat in jou kantoor gebeur het nie.”

“Ou-kéi.”

“Ek het teruggekom omdat ek julle nie in die steek wou laat nie.”

Con staar haar verbluf aan, weet nie of hy wil lag of haar wil gryp nie.

“Toe konstabel Karras jou in jou kantoor kom roep het, het hy gesê iemand het ’n lyk in hulle tuin ontdek. Ek het gedink iemand is weer vermoor. Op pad Walvisbaai toe het ek te bekommerd geraak en besluit . . .”

“Te vrek nuuskierig geraak, bedoel jy.”

“Bekommerd,” hou sy vol, ’n flikkering van ergernis in haar oë. “Konstabel Karras het ook vir jou gesê die vrou wat die lyk ontdek het, was histeries en ek het geweet julle sou julle hande vol hê met allerhande dinge. Nou ja, en toe besluit ek om nog ’n paar dae te bly.” Sy haal haar skouers op. “Kaapstad gaan nêrens heen nie.”

Die Poephol ook nie. Dis nie dat Con wil hê sy moet weggaan nie. Maar as sy haar egskeiding uitstel, gaan sy dit nog afstel. In sy werk het hy al genoeg met vroue in haar situasie te doen gekry om te weet die kanse is goed dat sy op die ou einde by haar man gaan bly. Dis nou maar eenmaal hoe dit in die meerderheid van sulke gevalle gaan, en Alet is al agt jaar met hom getroud.

“Erika wás histeries toe ek netnou hier aangekom het,” voeg sy by toe hy niks sê nie. “Niemand het na haar omgesien nie en ek kan my nie eens indink hoe traumaties dit moet wees om ’n moordslagoffer in mens se agterplaas te ontdek nie.”

“Luister hier, Alet.” Con tree vorentoe sodat hy reg voor haar staan. Hy wil hê sy moet elke woord wat hy nou vir haar gaan uitspel mooi verstaan. “Jy moet versigtig wees wat jy sê. Hoe hierdie storie ook al gaan uitdraai, dis polisiesake. Nie jou sake nie. Ek wil ook nie weer die woord ‘moordslagoffer’ uit jou mond hoor nie. Ons het geen idee waarmee ons te doen het nie.”

“Dit was moord. Die lyk lê al vyf en twintig jaar in die tuin.”

Dit voel asof die grond onder sy voete stadig kantel. Con sit een voet agteruit, toe die ander een. Plant hom ’n goeie meter van haar af weg. Dis belangrik. Want hy is nou wragtig sonder grappe lus om haar te gryp.

“Waarvan praat jy, Alet?” vra hy afgemete.

“Vra Erika Schultz.”

Sy lyk benoud. Nie benoud genoeg nie. As sy hom beter geken het, sou sy banger gewees het.

Con suig lug deur die kant van sy mond. “Dit klink vir my asof jy haar klaar gevra het.”

“Wel, ek . . .” “Ja of nee. Het jy Erika op jou eie ondervra, Alet?” vra hy deur saamgeklemde kake.

Sy byt op haar onderlip. “Dit was nie my bedoeling nie, regtig. Ek het haar net probeer kalmeer, toe pak sy oor alles uit. Wat anders kon ek doen as luister? Sy voel verskriklik, want sy weet wie dit is.”

“Wie wie is?”

“Die lyk in die tuin, Con.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top