Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die vyfde Aspoester deur Jan Vermeulen

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Jan Vermeulen

Jan Vermeulen publiseer sy eerste kortverhaal, “Die sneeuprins van Alaska”, toe hy net veertien jaar oud is in 1976 in die destydse jeugtydskrif Patrys.

Sy debuutroman van 1998, Die laaste dans, is ’n grensoorlogroman en haal die kortlys van die Eugene Marais-prys. “Die laaste dans is ’n ballade vol weemoed en hartstog,” het sy uitgewer, Riana Barnard, destyds gesê.

Intussen rig hy ook stringe pryse in vir sy uitstekende jeugromans.

  • Geraamtes dra nie klere nie wen goud in 2000 goud in NB se jeugromankompetisie, en ryg daarna nog talle pryse in.
  • Asem is as wenner van LAPA Uitgewers se jeugromankompetisie vir 2015 aangewys.
  • Teen die einde van 2017 het hy silwer gewen in NB se jeugromankompetisie met Soen.
  • Kort daarna het Jan Vermeulen ook LAPA Uitgewers se jeugromankompetisie vir 2017 gewen met Oopmond.
  • Vroeg in 2018 word Asem deur IBBY (International Board on Books for Young People) as ereboek in die kategorie vir Afrikaanse jeugliteratuur aangewys, wat beteken Asem sal deel vorm van die internasionale erelyskatalogus wat tweejaarliks deur dié gesaghebbende kinderboekliggaam saamgestel word.

Opsomming

Die vyfde Aspoester
Jan Vermeulen

Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799387544

Die vyfde Aspoester begin met ’n donkerkopmeisie wie se liggaam in ’n agteraf hotel in ’n Aspoester-uniform gevind word. Haar linkervoet se tone is afgesny sodat die voet in die glasskoen kon pas.

“Hoe sal jy voel as ek dieselfde met jóú dogter doen? Haar naam is mos Franci?”

Dit is wat die elektronies vermomde stem vir doktor Olaf Demeyer, forensiese profileerder, vra terwyl hy die dossierfoto’s van die moordtoneel bestudeer.

“Hoekom sou jy dieselfde met my dogter wou doen?”

’n Koggellaggie klink op. “Dit is wat jy moet uitvind, Doktor. Kom ons kyk of  jy werklik so baie vir verontregde vroue omgee soos wat die media beweer. En kom ons kyk of jy my betyds met jou agtste sintuig kan uitoorlê.”

Die lyke van nog drie meisies word binne ’n paar dae gevind. Olaf besef hy sal baie diep in sy eie donker profiel moet delf na die waarheid as hy wil verhoed dat sy enigste dogter die vyfde slagoffer van die Aspoestermoordenaar word.

Herinneringe aan sy traumatiese kinderjare, sy oordrewe skuldgevoelens en sy fobie vir lemme, maak nie sy taak vir hom ligter nie. Intussen voel hy hoe die uurglas baie vinnig vir Franci leeg loop.

Die Vyfde Aspoester delf in die lewenslange invloed wat gesinsgeweld, asook geweld in die algemeen, op die psige van ’n mens kan hê. Dit ondersoek ook die invloed wat geweld teen vroue en kinders op die samelewing het.

Kwessies soos pedofilie, geestesversteuring en seksverslawing word aangespreek teen die agtergrond van ’n reeks bisarre misdade waarin jong meisies grusaam vermink word voordat hulle sterf.


Uittreksel

“Regtig, Olaf, ek... ons het jou op dié een nodig. Ek het al alles gesien, selfs meer grusamer, maar nog nie so bisar nie.” Sy het ’n netjiese grys langbroekpakkie aan wat perfek om die kurwes van haar lyf pas. Haar koperrooi krullebos is in ’n dik bolla agter haar kop gebind. Middelpaadjie.

“Drink ’n dop voor jy na die foto’s kyk.”

“Is dit so erg?”

“Daar is ’n mes betrokke.”

“En jy weet hoe ek oor messe voel.”

“Jip. Om jou ’n idee te gee, die meisie se oë is netjies uitgesny en missing.”

“Genade.” Eintlik wou hy hardop vloek.

“Sy is moontlik verkrag. Ons het semenvlekke op haar bobene en maag gekry.”

“Wat van semen binne-in haar?”

“Dokter Kapoor sê hy sal eers by die outopsie met sekerheid weet. Ek skat haar so oud soos jou dogter.” “Soos Franci?” ’n Woeste rilling vleg deur hom. “Franci is twintig!”

“Sy het my baie aan Franci laat dink, so met die lang swart hare en dieselfde liggaamsbou.”

Jasmyn se groen oë roer soos gewoonlik aan sy binneste. Sy hand vou om die geheuestokkie, asof hy só die onbekende meisie en sy eie dogter teen verdere pyn kan beskerm.

“Weet julle wie sy is?”

“Nog nie. Sy het geen identifikasie by haar gehad nie, nie eens ’n selfoon nie. Die personeel weet nie hoe sy daar beland het nie, die kamer was nie bespreek nie. Hulle sê die gaste val gewoonlik net in. Dronk, hoog, moeg, almal is welkom, solank hulle kontant betaal. Die meeste is straatprostitute met hulle kliënte, as jy my vra.”

“En sekuriteit?”

“Wat ’n grap.” Haar regterhand rus op die pistool aan haar heup. “Geen kameras nie. Net een beampte was aan diens en hy het volgens die ontvangsdame heelaand in sy kantoor na ’n porno-DVD gesit en kyk.”

Olaf voel so geboei deur die sagte, sensuele bewegings van Jasmyn se lippe dat hy nou met ’n halwe oor na haar luister.

“Oulike rosies,” ruk sy hom tot sy sinne. Sy beduie na die potruiker van dwergrosies op sy lessenaar.

“Isabel en ek is vandag twintig jaar getroud.” Hy besef daar is geen entoesiasme in sy stem nie. Jasmyn se oë neem syne gevange. “Jy koop vir haar ’n pot dwergrose om julle twintigste te vier, maar vir die afgelope twee jaar slaap julle in aparte kamers.”

“Potrose is Isabel se gunsteling.”

“Jammer, die afstand tussen my brein en my lippe krimp soms.” Agter haar rug het hy al gehoor die manne verwys na haar as kaptein Giftige Lippe. Soms noem hulle haar kaptein Jolie Lips, na Angelina Jolie. Hy voel skuldig dat hy op sy herdenking tot ’n ander vrou se mond aangetrokke voel. Net effens, want dit is nie asof hy op enige ander dag nie so oor Jasmyn voel nie. En dis nie asof hy en Isabel in enige van die laaste sewe honderd en dertig dae mekaar selfs net gepiksoen het nie.

’n Ligte kloppie aan die deur tussen die spreekkamer en ontvangs versteur vir hom die intimiteit van die oomblik.

“Kom in, Gretha.”

Sy ontvangsdame loer met ’n verwilderde kyk om die deur. Haar korterige krulkop is deurtrek met natuurlike silwer strepe. Hy kan sien haar oë meet die afstand tussen hom en Jasmyn. “Jammer, Doktor, maar dis amper naweek.”

Sy tree na binne met ’n pakkie lêers in die hand. Haar swart langbroek en pers bloesie lyk gegiet aan haar. Sy beweeg tussen Jasmyn en die lessenaar in en sit die lêers voor hom neer. “Maandag se afsprake,” sê sy saaklik. Sy raap die dag se afgehandelde lêers op, gaan verpak dit met ’n heupswaai in die staalkabinet en sweef by die spreekkamer uit terwyl sy vir ’n oomblik oor haar skouer na Jasmyn gluur.

“If looks could kill,” sê Jasmyn, “dan het jy nou nog ’n moordsaak op hande gehad.”

Olaf pak sy skootrekenaar in sy aktetas. “Gretha is nie goed met gevoelens wegsteek nie.”

“Ek is nie ’n sielkundige nie,” sê Jasmyn, “maar ek kan sien sy wil my laat verstaan jy is haar eiendom. Sy doen dit elke keer as ek hier kom. En oppas, sy’t jou die Daisy de Melker-kyk gegee.”

“Gelukkig weet Gretha waar sy met my staan.” Hy laat glip die geheuestokkie in die aktetas. “Tog kry ek haar jammer. Die lewe het haar al lelik verniel.”

“Jy het nog altyd ’n hart vir die afvlerkies gehad,” sê sy waarderend. “Ek bewonder jou, want ek sou nie in jou beroep aard nie.”

“Presies hoe ek oor jou ook voel.”

Sy lag. Bloos.

Olaf knip sy aktetas toe. “Ek het nie die derms vir jou werk nie.” En dan tref ’n gedagte hom. “Jy sê julle vind semen op die meisie en sy is met ’n mes vermoor terwyl die sekuriteitswag pornografie sit en kyk?”

“Ek volg die rigting van jou gedagte,” sê sy. “Ons sal hom opvolg, dankie, Olaf. Ek moet seker nou gaan.”

Hy moet die begeerte om haar teen hom vas te trek en haar langer hier by hom in die spreekkamer te hou met inspanning onderdruk. En hy sien die hunkering in haar oë wat nie wil wegkyk nie ook. Dit is die kyk wat hy al vir die afgelope paar maande in haar oë sien. Hy beweeg gevaarlik naby aan haar verby toe hy die deur na ontvangs oopstoot.

Die spreekkamer voel dolleeg toe sy uit is en hy die deur weer toemaak. Hy trek sy asem diep in om haar sagte, warm aura in te neem. Net toe hy wil sluit, maak Gretha die deur van die ander kant af oop.

“Het jy my nou met Jasmyn bespreek?” vra sy.

“Wat laat jou dink ek sal jou met haar bespreek?” systap hy die waarheid.

Sy stoot haar vingers deur die kort krullerige hare teen die kant van haar kop. “Wel, julle werk al ses jaar lank saam. Julle praat oor gory goed met mekaar. Jy moes haar vir maande lank hier in jou spreekkamer troos ná haar man doodgeskiet is. Julle het ’n band, Olaf. Julle praat seker oor persoonlike goed ook.”

“Maar wat laat jou dink ons het oor jou gepraat? Het jy ons afgeluister?”

Haar gesigspiere ruk styf. “Sy kon my verskroei met haar oë en sy sal nie eens groet nie. Wat anders moes ek aflei?” Hy tel sy aktetas van die lessenaar af op. “Ek dink ons moet sluit en huis toe gaan.”

“Ek wonder hoekom dra sy nog haar trouring,” sê Gretha. “Sy is al drie jaar ’n weduwee. Sy het haar nooiensvan teruggeneem, maar sy dra nog die ring. Hoekom?” “Wat het dit met ons te doen?” Olaf voel kriewelings onder sy gesigvel.

“Dalk wil sy vir jou iets daarmee sê, Olaf. Iets soos sy is oop, maar daar is grense.”

“Dit is sulke dinge van jou wat dit soms vir my moeilik maak,” erken hy afgemete.

“Ek probeer jou net beskerm,” sê sy. “Jy weet ek dra jou belange op my hart.”

“En jy weet ek kan na myself kyk, Gretha.”

“Kan jy?” Sy wen ’n krullerige lokkie met haar wysvinger op. Hy sien die duidelike aanduiding van grys teen haar haarwortels. “Jasmyn Oktober is twintig jaar jonger as jy.”

“Neëntien,” korrigeer hy haar, “maar wat probeer jy vir my sê?”

“Ek wil net nie hê jy moet seerkry nie.” Sy draai weg van hom. “Ek het al aanvaar jy het ’n soft spot vir jonger vroue, maar jy stel jou bloot vir seerkry. Isabel is net sewentien jaar jonger as jy en kyk, jy het nie meer ’n huwelik nie, het jy, Olaf?”

Hy voel die wrewel in hom opstoot. “Ek hoef nie langer hieroor met jou te praat nie.”

“Ek sluit voor.”

“Dankie, Gretha.”

“Moenie vergeet van Isabel se ruiker nie,” sê sy met fyn sarkasme in haar stem.

“Totsiens, Gretha. Hoop jy het ’n lekker naweek.”

Hy wag om te hoor hoe sy die buitedeur sluit voordat hy self die deur na ontvangs ook sluit. Daarna maak hy die deur wat sy spreekkamer met sy huis verbind oop en stap sonder die potruiker by die huis in. Sluit.

Die onderste gedeelte van die dubbelverdieping is ’n oopplan met ’n kombuis, sitkamer, ruim ingangsportaal en ’n ontspanningsarea. Die vloer van die portaal tot by die houttrappe wat na die boonste verdieping lei, is met wit marmerteëls en geweefde matte bedek.

Isabel staan voor die toonbank langs die stoof. Sy staan en kap driftig ’n ui met ’n lang vlekvryestaalmes in fyn stukkies op; sy vismes. Haar digte swart kapsel is vandag deur ’n haarkapper onder hande geneem, kan hy van hier af sien.

Vir hulle herdenking?

Franci en haar vriendin van laerskooldae af, Zahn Kratz, sketter soos ’n mossiekolonie in hul jeans en T-hemde rondom die pooltafel in die ontspanningsarea. Hulle het dieselfde effens voller liggaamsbou. Franci se lang swart poniestert is elegant hoog en styf op haar kop gebind. Zahn het ’n korter silwerblonde bob, donkerder teen haar kopvel, donker geaksentueerde wenkbroue.

Hy besluit om stil teen die trap op na sy kamer te gaan, maar Franci se hoë gilletjie laat hom omswaai. Sy hardloop op hom af soos toe sy nog ’n kleuter was. Hy sit die aktetas neer, trap vas, gooi sy arms oop en vang haar toe sy teen hom opspring.

“Geluk met julle twintigste,” sê sy teen sy nek. “Of het Pappa vergeet?”

Hy sit haar op haar voete neer. “Ek het nie vergeet nie.”

“Toemaar, ek verstaan mos. Julle vier nie meer die dag nie.” Sy kyk na hom met daardie alsiende seerkrydonkerbruin oë van haar. “Zahn en ek gaan vanaand weer saam met die universiteit se koffiekroeg straatwerk naby die hawe doen.”

Hotel Algoa D’Almeida is ook naby die hawe, flits ’n gedagte deur sy brein. Jasmyn het gesê die jong slagoffer het haar aan Franci laat dink. Selfde ouderdom, hare en liggaamsbou.

“Wil jy nie dié keer uitsit nie?”

“Haai nee, Pappa. Jesus het nog nooit vir my uitgesit nie.”

“Ek sal sorg dat sy nie haar foon op silent stel nie,” belowe Zahn met ’n engelgesig.

“Ek wil tienuur terug wees,” vul Franci aan. “Ek skryf Maandag Kunsfilosofie, so, ek wil nog kom leer.”

“Is jou foon se battery gelaai?” vra hy. “En is jou pepersproei in jou sak?”

“My skokstok is ook in. En daar gaan ouens saam met ons. Mean machines.”

“Gaan daar lekker in die bondel gevry word?” probeer hy skerts.

“Skaam vir Pappa. Maar ja, presies, Pappa weet mos ek wag nog vir meneer ‘reg’ om in my lewe op te daag. Die ding is net, ek wag tot ek iemand soos Pappa kry.”

“Jy bly altyd in die groep en jy antwoord as ek bel.”

Franci salueer hom. Die getatoeëerde kruis teen haar pols flits. “Kaptein, my kaptein.”

Hulle groet met ’n omhelsing. Selfs Zahn groet hom só. Hy beweeg met sy aktetas teen die houttrap op, tot bo. Reg voor die trap is sy kamerdeur. Isabel se kamer is langsaan. Die volgende is Franci se kamer. Hy draai om. Van hier af kan hy vir Franci en Zahn by die voordeur sien. Hy sien die oopplansitkamer en -kombuis. ’n Eensame pan staan op die stoof. ’n Stoofliggie brand. Die geur van gebraaide uie versprei tot hier bo.

Isabel sit eenkant met haar elmboë op die marmertoonbank gestut. Haar duime dans oor die sleutels van haar selfoon. Vir ’n oomblik oorweeg hy dit om tog die potruiker vir haar te gaan haal, maar uit vrees vir ’n koue skouer, gaan hy by sy kamer in. Waarna hy nou uitsien, is tyd onder die stort. Daarna ’n goeie boek, ’n glas rooiwyn en donkersjokolade. En dan behoort hy gereed te wees vir die dossierfoto’s. Net voor hy by sy kamer ingaan, sien hy hoe Franci en Zahn deur die voordeur beweeg, die Vrydagnag in.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top