Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die einde van die storie deur Santie van der Merwe

  • 1

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Santie van der Merwe

Santie van der Merwe (Foto: Izak de Vries)

Santie van der Merwe se skryfwerk word gekenmerk deur deurleefdheid en fyn humor. Sy word geloof daarvoor dat haar werk van deernis met die mensdom spreek, gestroop van oordadige beeldspraak of hogere taalgebruik.

Die einde van die storie is Santie se vyfde roman. Sy het ook al tydskrifverhale geskryf en in 2017 word haar kortverhaal, “Pers”, opgeneem in die US Woordfees se kortverhaalbundel, Wys.


Opsomming

Die einde van die storie
Santie van der Merwe
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799385694

Apatie het in hulle huwelik ingesluip en ’n sluwe derde huweliksmaat geword. Dit het al hoe groter geword, gevoed deur die stiltes tussen hulle wat langer geword het” (bladsy 8).

“Ek het jou nie meer lief nie.” Uiteindelik kry Lizzie dit gesê ná ’n huwelik van agt en twintig jaar.

Dat dit haar man nie skok nie maar hom hoogstens in ’n besonder slegte bui kry, is nog erger. Marthinus praat mos nie, nie oor sulke goed nie. En Lizzie weet sy is nie die mooiste vrou wat hy ken nie, onder andere omdat sy nie juis sukses gehad het met al die diëte wat sy al probeer het nie.

Haar aankondiging laat nie almal sonder woorde nie. Hulle enigste kind begin haar soos ’n irriterende vreemdeling behandel. Ja, en dan is daar Lizzie se eienaardige naweek in die Bosveld tussen nog eienaardiger mense... Sy kan sterf van skaamte.

Bied so iets vir ’n man stof tot nadenke? Met Marthinus sal mens nooit weet nie.


Uittreksel

“Every word has consequences. Every silence, too.”
– Jean-Paul Sartre

Een

En so begin dit

Oorkant Lizzie aan tafel suig Marthinus die murg uit die been van ’n boudtjoppie en eet tydsaam die beentjie af. Sy bord is byna skoon geëet, netjies uitgevee met ’n snytjie bruinbrood. Dis ’n gewoonte van hom wat nooit verander het nie. ’n Sny brood saam met sy aandete. Selfs wanneer daar rys én aartappels op die spyskaart is. Lizzie se bord is vol beet en vleissous, ’n paar korrels rys, die skil van haar lemoenpampoentjie.

Lizzie sit haar mes en vurk neer. Uit die bloute lê sy ’n vinger op presies wat fout is tussen haar en Marthinus. Dis vir haar op hierdie oomblik so duidelik soos daglig. “Marthinus,” sê sy, “ek het jou nie meer lief nie.”

Marthinus verstil ’n oomblik maar kyk nie op nie. Die been is nou perfek skoon geëet en hy sit dit in die kleinbordjie waarin sy beet was, waarin hy sy pampoenskil ook gesit het.

 “Hoor jy wat ek sê?” Lizzie se stem klink vir haarself skril. Sy kan ’n frons tussen haar wenkbroue voel inboor en ’n grys krul val oor haar linkeroog. Sy vee dit driftig ag­ter haar oor in.

Marthinus sit sy eetgerei netjies langs mekaar en vee sy mond sorgvuldig aan die geruite wit-en-groen servet af. Hy kyk haar vierkantig in die oë. “Ek het gehoor, Lizzie.”

“En?”

“En wat?”

“Het jy niks daarop te sê nie?”

Hy sug oordrewe. “Wat wil jy hê moet ek sê?”

Lizzie weet nie wat sy wil hê hy moet sê nie. Hierdie hele wete is te nuut vir haar. Dis al weke, maande, miskien selfs jare wat sy voel iets is af. Apatie het in hulle huwe­lik ingesluip en ’n sluwe derde huweliksmaat geword. Dit het al hoe groter geword, gevoed deur die stiltes tussen hulle wat langer geword het. Maar totdat sy die woorde geuiter het, het sy nie geweet wat makeer nie. Hoe kon sy nou eers agterkom dat liefde vermis is? Dat dit weg is, skoonveld, nêrens in haar hart te vind nie. Dis tog ’n groot ding. Hoe kon sy nie agterkom wat dit is wat haar so leeg laat voel nie? Miskien het sy dit maar met die gemis van Estelle verwar. Gedink dis haar dogter se uit-die-huis-uit- gaan wat so ’n leemte gelaat het.

Sy kyk na haar man. Hoeveel sewejaarjeukplekke het hulle deurleef? Vier. Hulle is agt en twintig jaar saam. Hy het mooi verouder. Hy was nie ’n oil painting toe hulle ge­troud is nie maar hy het aantrekliker geword met die jare, sy terugkruipende haarlyn en boep ten spyt. Hy is ’n goeie man. Hy het nog nooit sy hand vir haar gelig nie. Selde sy stem verhef. Hy dobbel nie. Hy drink nie te veel nie, hy rook lankal nie meer nie. Soms maak hy kos en hy hang wasgoed op. Hy gaan gereeld haar motor se olie en wa­ter na en maak seker dat die banddruk reg is. As iets ver­keerd gaan, as ’n pyp bars of die hekmotor ingee, reken sy op hom. Steeds maak hy vir haar die kardeur oop en trek vir haar ’n stoel uit, nes sy formidabele ma Cornelia hom geleer het. Maar alles ten spyt laat hy haar hart nie meer vinniger klop nie, roer hy haar nie meer nie. Sy hou nie meer asem op as hy in die vertrek instap nie. En Lizzie weet nou sy wil nog geroer wees, al is sy reeds ’n halfeeu oud.

“Ek weet nie, Marthinus. Iets. Sê net iets.”

Hy staan op, sit haar bord bo-op syne, hulle messe en vurke bymekaar. “Ek het niks om te sê nie.”

Emosie ruk saam met sooibrand boontoe, Lizzie se oë skiet vol trane. Sy moes nie die vet geëet het nie. Nou voel sy op die koop toe fisiek sleg.

Marthinus kyk nie na haar nie. Hy gooi die skille in die komposbak, die bene en die servet in die vullisdrom. Spoel die beetsous in haar bord en sy kleinbordjie sorgvuldig onder die kraan weg voordat hy alles in die skottelgoed­wasser pak. “Ek gaan nuus kyk.”

Lizzie bly ontredderd staan. Sy hoor sy uitskopstoel kreun, hoe die TV aangaan. Buite begin dit saggies reën. Troos vir die warm aarde maar nie vir haar nie. Onnodig vee sy die reeds skoon werksoppervlak in die kombuis af, skud die plekmatjies uit, bêre die sout en peper. Haar hande bewe, haar binneste sidder. In die woonkamer ont­plof ’n bom op TV. Sy bly in die deur staan. “Marthinus?”

Hy kyk gesteurd op, die afstandbeheerder soos ’n vuur­wapen in sy hand.

“Ons moet praat.”

Hy sit die TV harder.

Sy gaan sit op die bank, langs ’n koeksel wol wat sy vroeër begin ontrafel het. Estelle moet ’n hekelkombers hê vir haar nuwe woonstel in Johannesburg. Vir haar bed, of vir haar bank. Kon die kind nie maar nader aan hulle werk gekry het nie? Dan kon sy by hulle bly. Sy tel die wol op, soek ’n punt maar kry nie een nie, sit die hele spul weer neer.

“Marthinus.”

Nog steeds kyk hy nie na haar nie. Vir môre word daar verspreide donderbuie voorspel. Hy vroetel met die afstandbeheerder en die DVD-speler se menu verskyn. Blit­sig soek hy daardeur, klik op ’n episode.

House, Marthinus? Jy weet ek kan dokter House nie verdra nie.” Marthinus is nie ’n vraatkyker nie, dis meer haar styl. Ou programme, ouer as hierdie een wat hy nou kyk. Sy gee nie om om ’n reeks te kyk as die hele wêreld dit al jare terug gesien het nie. Sex and the City. Friends. Desperate Housewives. Sy kan dae omkyk terwyl sy hekel. Naweke ook, sommer op haar skootrekenaar, want Marthinus annekseer die TV. Sy kla nooit daaroor nie. Hy be­taal immers vir DStv en hy het die slim-TV gekoop.

“Het jy ’n beter voorstel, Lizzie?”

“Nee. Sit die damn TV af sodat ons kan praat.”

“Het jy al uitgefigure wat jy wil hê ek moet sê?”

“Nee.” Sy maak ’n hulpelose gebaar in die lug. “Hoe kan ek vir jou sê wat om te sê?”

Hy antwoord haar nie, sit net die TV nog harder. Op die plat, wye skerm syg ’n jong vrou op ’n tennisbaan neer. ’n Man met ’n nek soos ’n jong os sak op ’n bokskryt in­mekaar. ’n Onderwyseres voor haar klas.

Lizzie soek verder deur die wol, vind ’n dofpienk punt. Sy laat glip dit in die gleufie wat sy in ’n kartonrolletjie gesny het en begin dit om die rolletjie draai. Hoe word ’n paar bolle wol in haar hande so ’n deurmekaarspul, so ’n knoeisel, so ’n gemors?

Lizzie laat sak die wol in haar skoot, kyk aandagtig na die TV. Blykbaar het al die slagoffers organe van dieselfde skenker ontvang. “Dis kanker,” sê ’n lid van dokter House se span. “Dis vir seker nie kanker nie,” sê House.

Om en om die rolletjie draai Lizzie die pienk wol. Marthinus se een mondhoek trek in ’n glimlag oor iets wat sy onbeskofte held sê. Lizzie se blik dwaal oor Marthinus se lyf. Breë skouers, bultende armspiere. Marthinus is ’n bouprojekbestuurder en hy werk dikwels saam met sy span. Hy was nog nooit bang vir werk nie.

Sy T-hemp span effens oor sy maag maar sy bene onder die kortbroek is jeugdig, sy bobene kragtig, sy kuite ferm. Daar is ’n wit lyn waar sy sokkies hom teen die son begin beskerm. Sy voete is skralerig, sy lang tone perfek reguit. Lizzie vou haar eie voete onder haar in. Sy hoef nie te sien hoe haar kleintoontjie oor die toon langsaan klim nie, hoe haar lang toon ’n knop trek nie. Dis haar eie skuld. Jare lank het sy haar voete in puntige hoëhakskoene gedwing en nou pluk sy die wrang vrugte. Haar blik dwaal terug na Marthinus se gladde hakke. Geen skuurdery en vylery en Pinterest-rate vir hom nie. Hy knip net sy naels gereeld en basta. Lizzie het moed opgegee daarmee en haar beloning is pynlike kraters in haar hakke. Wanneer laas het sy vars naellak aangeverf? Sy skud haar kop ef­fens. As die kleur begin afskilfer, of as haar naels begin uitgroei, plak sy net nog ’n laag bo-oor. Sy het eiehandig haar huwelik in ’n rotsbank in laat donder en nou sit en dink sy aan hulle voete. Op die skerm sluk House Vicodin en Lizzie staan vererg op.

In die kombuis skakel sy die ketel aan. Teen die muur bokant die ketel hang ’n kruisiesteekprojek uit haar borduurdae, voordat sy met hekelwerk begeester geraak het. A house is made of brick and stone, but only love can make a home. Toe haar blink naald die woorde in die gaatjieslap vasgewoel het, was sy selftevrede en miskien selfs ’n bietjie arrogant oor die lewe wat sy en Marthinus saam gebou het. Hulle huwelik, hulle kind, hulle huis. Die pad vorentoe wat hulle drie in liefde sou saamloop, gekarteer. Húlle huis is nie net stene en sement nie, húlle huis is ’n tuiste en sal altyd een wees, het sy grootdoenerig gedink. Hulle liefde is vir ewig en Estelle is die verpersoonliking daarvan.

Die ketel klik af. Lizzie haal outomaties twee bekers uit. Tee. Haar teenvoeter teen alles. Haar selfmedikasie. Dis beter as drank, troos sy haarself. En dis vol antioksidante. Veral as jy dit swart en sonder suiker drink, soos Marthi­nus. Vervlakste Marthinus. Sy is lus en gooi syne in die wasbak af maar sy kry dit nie oor haar hart nie en dra dit vir hom aan.

Nou kyk hy sport.

“En nou?” vra sy.

“En nou wat?”

“Kyk jy nie meer die storie nie?”

“Jy kan mos sien, Lizzie.”

Sy gaan sit, tel weer die wol op. “Maar wat is fout met die meisie? Nou gaan ons nooit weet wat was die uiteinde nie.”

Hy haal sy skouers op. “Nou kyk jy dit as jy graag wil weet.” Hy gee die afstandbeheerder vir haar aan. “Ek gaan slaap,” kondig hy aan en los haar alleen met die TV blêrend en die wol wat sy nie ontknoop kry nie op haar skoot.

Met ’n sug skakel Lizzie die TV af. Sy drink haar tee ter­wyl sy alles wat gebeur het, probeer deurdink. Hoekom het sy gesê wat sy gesê het? Hoekom vanaand? Vanoggend het sy en Marthinus nog gemeensaam koffie gedrink en beskuit geëet. Hulle het wel nie gepraat nie maar hy het met sy skouer styf teen hare in hulle bed gesit. Sy het was­goed in die wasmasjien gelaai en sy het gevra dat hy haar rooi bloes mooi moet ophang, dan is dit nie nodig om dit te stryk nie. Hy het geknik en gesê sy kan klaarmaak vir werk, hy sal vir hulle broodjies maak. Al die jare vandat Estelle kleuterskool toe is, gaan Lizzie douvoordag werk toe en kom sy eenuur huis toe. Marthinus het Estelle altyd by die skool afgelaai en Lizzie het haar gaan haal. Marthinus gaan werk eers ’n uur of wat later maar werk tot vyf-, sesuur saans. Soggens hang hy wasgoed op, pak die skottelgoedwasser uit, haal vleis uit vir aandete. Nog nooit het sy gevoel sy doen meer as haar deel nie. Wanneer sy tuiskom, bêre sy die wasgoed en later maak sy aandete. Vir agt en twintig jaar leef hulle al simbioties saam.

Vanmiddag het sy die wasgoed gebêre, syne ook. Outomaties, met geen gedagte aan wat sy later gaan uitblaker nie. Sy het sy sokkies opgevou soos hy daarvan hou, al neem dit langer as om dit in bolletjies te rol, soos sy hare verkies. Vir vanaand het sy nogal sy gunstelinggroente, groenbone en lemoenpampoentjies gekook by die vleis wat hy gekies het. Min het sy geweet dis the last supper van hulle huwelik soos dit was.

Onder die eggo van haar woorde soek sy. Is wat sy gesê het ooit waar? Sy kan nou om een of ander rede nie meer onthou hoe voel liefde nie. Is dit ’n fladdering, ’n fluistering, of net ’n aangename warmte? Is sy van haar trollie af? Wat nou?

Sy tel die geblomde strooikussing op wat Marthinus soos gewoonlik gegooi het dat dit trek en sit dit op sy stoel, boender die wol terug in ’n mandjie, bêre die afstandbeheerder in die kissie op die koffietafel.

Soos ’n slaapwandelaar loop sy na die kamer toe waar sy haar pophuise bou. Dis haar toevlugsoord waarheen sy vlug as Marthinus vasgenael sit voor sport of dokumentêre programme. ’n Gesellige vertrek met haar werksbank, rakke en die wiegstoel waarin sy altyd gesit het terwyl sy Estelle borsvoed. Sy skakel die tafellamp aan. Die nuwe pophuis se vloer staan trots in die kol helder lig. Dié een het sy self ontwerp, uitgemeet, gesny. ’n Huis soos ’n tjoklitboksprentjie. Victoriaans. Gewoonlik bestel sy ’n kit maar sy het lankal die behoefte gehad om self een te skep. Die laaste huis wat sy ontwerp het, was Estelle se Barbie-huis en dit was net vier kubusse met ’n driehoekdak. So­dat dit later in boekrakke omskep kan word. Die dak staan nou in die garage maar Estelle het die kubusse saam. Dit gaan bedkassies wees, het sy beduie.

Die vloer van ’n pophuis is maar die begin. Daar is ven­sters wat in mure gesny moet word en deuropeninge. Die mure moet geplak word, opgerig word. Onder en bo. Die dak moet geteël word. Dan eers begin die pret van binneversiering. Die huis verdien natuurlik ook handgemaakte meubels. Lizzie sug. Wat maak dit tog saak? Die fonda­ment onder haar en Marthinus het ’n kraak in. Sy kan nie nou dink aan pophuise nie. Sy sit die lig af, onthou toe haar teebeker en gaan haal dit.

In die kombuis skakel sy die skottelgoedwasser aan nadat sy haar beker daarin gesit het. Dis nog ver van vol af maar sy het tog nie lus vir suur skottelgoed nie.

Frik loer uit sy hok toe sy kos in sy bak gooi. Hy het al diep geslaap en sy lang bassetlyf kom stadig in beweging, sleep in paaiemente uit. Nie meer ’n jong hond nie maar ook nie ’n oue nie. Middeljarig, soos Lizzie en Marthinus. Hy snuif aan sy droë kos en kyk treurig na Lizzie, asof hy wil vra of dit al weer al is wat hy kry vir sy troue diens as sekuriteitsbeampte. As dit moontlik is, word sy ore langer, sy bek rem verder af en sy voorbene word bakker. Lizzie ignoreer die vertedering wat in haar opwel. Sy gaan haar nie vanaand deur ’n hond laat intimideer nie.

“Nee, Frik,” sê sy streng. “Ons kan nie altyd kry wat ons wil hê nie.”

Hy wip sy agterent vir haar en gaan terug hok toe sonder om die gebruiklike ore vryf te vra.

Marthinus is ook al in die bed. Haar mooi kussings lê oor die vloer gestrooi. Hy het nie die deken opgevou nie, dit net eenkant toe gesmyt. Hy het ook nie soos gewoonlik haar bedliggie aangesit nie. Deur die oop gordyne skyn die maan  wat deur die wolke gebreek het helder in en sy bors beweeg rustig op en af onder die wit laken. Hy slaap sowaar. Min gespin. Sy sit die hooflig in die kamer aan in plaas van haar bedliggie. Hy roer nie. Met soveel geraas as wat sy kan, stort sy en maak gereed om in die bed te klim. Sy slaan kasdeure toe, laat val haar haarborsel met opset, stamp onnodig aan die bed toe sy verbyloop na haar kant toe. Die minste wat hy kon doen, was om in die spaarkamer te gaan slaap.

Toe sy in die bed klim, besef sy hy het nie sy slaap­klere aan nie, net sy kortbroek. Sy bolyf is kaal. “Marthinus,” fluiter sy maar hy slaap. Sy skud aan sy skouer, hy vlieg op.

“Wat nou?” wil hy knorrig weet.

“Jy kan nie hier slaap nie.”

“Dis my bed, Lizzie.”

“Maar na alles . . . Marthinus, gaan slaap in die spaarka­mer. Die bed is opgemaak.”

“As jy nie langs my wil slaap nie, gaan slaap jy daar.”

“Jy weet daardie matras is te sag. My rug.”

Hy ignoreer haar, draai sy harige rug na haar toe.

“Trek ten minste slaapklere aan. Jy kan nie so . . .”

“Fok jou, Lizzie.”

“Wat?”

“Ek sê fok jou.”

“Marthinus! Hoe kan jy?” Natuurlik vloek Marthinus soms. Sy ook. Maar om haar so direk te vloek, dit het hy nog nooit.

Hy draai terug na haar toe. “Lizzie,” sê hy afgemete. “Jy wil my uit my eie bed jaag, jy wil dikteer waarin ek moet slaap. Fok jou.”

“Maar ek het gesê ek het jou nie meer lief nie! Jy kan nie verwag ek moet langs jou slaap asof niks gebeur het nie en dit terwyl jy halfkaal is nie.”

“Jy het dit gesê, Lizzie, dis jou probleem. Jy het my nie meer lief nie, nie andersom nie.”

“So jy het my nog lief?”

“Elke oomblik minder. So slaap hier of gaan slaap in die spaarkamer. Ek gee nie ’n hel om nie. Maar ek is moeg. Nag, Lizzie.”

Vir ’n vlietende oomblik wag sy vir sy gewone goeienagsoen. Sy lippe wat vlugtig aan haar raak. Maar dan besef sy dit gaan nie gebeur nie. Dis net gewoonte. En dis verby.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Willie van Aswegen

    Die gemaklike skryfstyl, fyn waarneming van soms die alledaagse, kennis van emosies en interaksies daarvan met ander, lig hierdie prikkel stukkie uit Santie van der Merwe se nuutste boek tot 'n "besliste MOET-lees" Ek gaan voorwaar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top