Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die dag toe die draak kom deur Fanie Viljoen

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies


Fanie Viljoen

Fanie Viljoen (Foto: Hanneri de Wet)

Fanie Viljoen is op 2 Januarie 1970 in Welkom gebore. Hy matrikuleer in 1987 aan die Hoërskool Goudveld in Welkom. In 1990 begin hy voltyds by Sanlam werk. Hy skryf in dié tyd in vir ’n deeltydse kursus in grafiese ontwerp en behaal die N6-sertifikaat in 1995 aan die Welkom Kollege. In 2002 volg ’n BA-graad in Sielkunde en Sosiologie aan Unisa.


Opsomming

Die dag toe die draak kom (vir meisies)
Fanie Viljoen
Uitgewer: NB-Uitgewers

ISBN: 9780798178679

Hierdie boek takel die uiters belangrike kwessie van kindermolestering.

Dié aangrypende verhaal dien om kinders in te lig en te bemagtig.

Deur middel van ’n karakter en storie waarmee kinders kan identifiseer word die gevaartekens van molestering uitgewys en riglyne gebied oor hoe om in so ’n situasie op te tree.

Sesjarige Kyla is gek oor stories van dapper prinses Arabia wat selfs teen drake veg.

Maar haar ouer sussie, Abby, glo nie meer in sprokies nie. Abby sê daar is ’n draak in hulle huis – een wat vir niks en niemand skrik nie.

Maar wie kan dit wees? Is dit Mamma wat soms raas? Is dit Oupa met sy growwe stem? Is dit hulle stoute nefie, Nico?

Gelukkig leer Kyla net wat om te doen om haarself te beskerm. Want die dag toe die draak uiteindelik kom, kan sy haarself en ook vir Abby red.

Agter in die boek verskyn ook handige riglyne vir kinders, ouers en versorgers: Hoe herken jy ’n draak? Wat is veilige vat en onveilige vat? Wat doen jy as jy vermoed jou kind word misbruik?


 

Die dag toe die draak kom (vir seuns)
Fanie Viljoen
Uitgewer: NB-Uitgewers

ISBN: 9780798178686

Hierdie boek takel die uiters belangrike kwessie van kindermolestering.

Dié aangrypende verhaal dien om kinders in te lig en te bemagtig.

Deur middel van ’n karakter en storie waarmee kinders kan identifiseer word die gevaartekens van molestering uitgewys en riglyne gebied oor hoe om in so ’n situasie op te tree.

Sesjarige Kevin is gek oor stories van die dapper prins van Arabia wat selfs teen drake veg.

Maar sy ouer sussie, Abby, glo nie meer in sprokies nie. Abby sê daar is ’n draak in hulle huis – een wat vir niks en niemand skrik nie.

Maar wie kan dit wees? Is dit Mamma wat soms raas? Is dit Oupa met sy growwe stem? Is dit hulle stoute nefie, Nico?

Gelukkig leer Kevin net wat om te doen om homself te beskerm. Want die dag toe die draak uiteindelik kom, kan hy homself en ook vir Abby red.

Agter in die boek verskyn ook handige riglyne vir kinders, ouers en versorgers: Hoe herken jy ’n draak? Wat is veilige vat en onveilige vat? Wat doen jy as jy vermoed jou kind word misbruik?


Uittreksel

Die dag toe die draak kom (vir meisies)

Die volgende week het Kyla al vergeet wat in die kar gebeur het. Maar in die klas praat juffrou Arendse van iets wat haar aan die geheim herinner.

Soos altyd staan die juffrou die oggend voor die bord. Haar hare is mooi gekam. Haar mond maak ’n puntjie soos ’n aarbei.

“Seuns en meisies, vandag gaan ons iets baie belangriks bespreek,” sê sy. Sy kyk almal streng aan.

Kyla en Vania kyk na mekaar en frons. Juffrou Arendse was nog nooit so ernstig nie. “Vandag gaan ons praat oor onsself. Ons gaan praat oor ons liggame.” ’n Paar van die seuns lag. Juffrou Arendse sit twee prente op die bord – een van ’n meisie en een van ’n seun.

Van die seuns en meisies giggel weer. Maar hulle hou gou op toe juffrou Arendse hulle kwaai aankyk.

Dan gaan sy voort. “Ons lywe is ons eie. Ons moet hulle mooi oppas. Ander mense mag nie sommer net aan ons raak nie. Van watter dele van ons lywe dink julle praat ek?”

“Ons neuse,” antwoord een van die stout seuns in die klas.

Juffrou Arendse rol haar oë.

“Nee, Jaco. Ek praat nou van ENIGE plek op jou lyf waar aanraking jou ongemaklik of bang laat voel. Maar VERAL jou bors, tussen jou bene en jou boude.” Juffrou Arendse wys weer na die prente op die bord. “Net ’n dokter of verpleegster kan daar vat as hulle ons moet ondersoek en gesond maak.”

“Of iemand wat ons bad,” sê een van die ander seuns en almal lag weer.

Juffrou Arendse frons. “Julle is mos nou al mooi groot, so julle kan self bad, tensy jy dalk siek is of iets, en iemand jou moet help. Reg so?”

“Ja­a­a, Juffrou,” sê al die kinders in ’n koor.

“En ons gaan ook nie toelaat dat ander mense daar vat nie, reg so?”

“Ja­a­a, Juffrou.”

Skielik dink Kyla terug aan daardie oggend in die kar. Oom Jason het aan haar bors geraak. Maar dit was mos per ongeluk. Hy het mos gesê hy is jammer. En hy is mos ’n goeie oom?

Nee wat, dink sy, sy hoef nie bekommerd te wees nie.

Juffrou Arendse maak haar keel skoon om almal se aandag te kry. “As iemand aan jou lyf vat en dit laat jou ongemaklik of bang voel, moet jy hierdie rympie onthou:

“Ek het ’n lyf, maar dis myne alleen,
en jy het jou eie – van vel en van been.
My vingers is gemaak om te verf of te skryf,
daarom sit my vingers aan die punt van my lyf.

My neus is gemaak om snollies te blaas,
my mond en my keelgat om lekker te raas.

My bene en voete is gemaak om te spring,
ek kan staan op my tone of dans in ’n kring.

Ek ken mos my lyf – ek weet wat dit doen,
ek mag kies wie ek druk en vir wie ek wil soen.

Geen vashou maak seer nie, jy druk my te styf,
hou daarom jou hande ver weg van my lyf.

Verrassings is lekker, maar geheime is naar,
en ek sê vir almal – finish en klaar!”

Juffrou Arendse laat hulle die rympie oor en oor in die klas opsê. Sy luister tevrede.

Dan sit sy ’n volgende prent op. Dis van ’n hand met name op elke vinger. “Laastens wil Juffrou vir julle van die VEILIGE HAND leer.” Almal steek ’n hand in die lug soos juffrou Arendse verduidelik. “As daar ooit enigiets slegs met jou gebeur, moet jy vyf mense daarvan kan vertel. Een vir elke vinger op jou hand. As die een mens nie kan help nie, moet jy vir die volgende mens vertel. En as hy of sy nie kan help nie, vertel jy vir die volgende mens. Besluit sommer nou wie julle op julle Veilige Hand wil hê.”

Kyla dink en dink. Sy sien Vania kry sommer gou vyf mense. Uiteindelik het Kyla ook hare.

Sy onthou te laat van oom Jason, maar haar vingers is nou vol.

“Wonderlik!” roep juffrou Arendse uiteindelik. “Julle het vandag sommer oulik geleer. Kom ons sluit af met daardie rympie.”

Die hele klas staan en sê dit drie keer saam op.

Later die middag draai die rympie steeds deur Kyla se kop. Sy kyk ook na haar Veilige Hand en onthou almal se name.

As iemand iets leliks met haar gaan probeer, sal sy presies weet wat om te doen.



Die dag toe die draak kom
(vir seuns)

Die volgende week het Kevin al vergeet wat in die kar gebeur het. Maar in die klas praat juffrou Arendse van iets wat hom aan die geheim herinner.

Soos altyd staan die juffrou die oggend voor die bord. Haar hare is mooi gekam. Haar mond maak ’n puntjie soos ’n aarbei.

“Seuns en meisies, vandag gaan ons iets baie belangriks bespreek,” sê sy. Sy kyk almal streng aan.

Kevin en Ethan kyk na mekaar en frons. Juffrou Arendse was nog nooit so ernstig nie. “Vandag gaan ons praat oor onsself. Ons gaan praat oor ons liggame.” ’n Paar van die seuns lag. Juffrou Arendse sit twee prente op die bord – een van ’n meisie en een van ’n seun.

Van die seuns en meisies giggel weer. Maar hulle hou gou op toe juffrou Arendse hulle kwaai aankyk.

Dan gaan sy voort. “Ons lywe is ons eie. Ons moet dit mooi oppas. Ander mense mag nie sommer net aan ons raak nie. Van watter dele van ons lywe dink julle praat ek?”

“Ons neuse,” antwoord een van die stout seuns in die klas.

Juffrou Arendse rol haar oë. “Nee, Jaco. Ek praat nou van ENIGE plek op jou lyf waar aanraking jou ongemaklik of bang laat voel. Maar VERAL jou bors, tussen jou bene en jou bou de.” Juffrou Arendse wys weer na die prente op die bord. “Net ’n dokter of verpleegster kan daar vat as hulle ons moet ondersoek en gesond maak.”

“Of iemand wat ons bad,” sê een van die ander seuns en almal lag weer.

Juffrou Arendse frons. “Julle is mos nou al mooi groot, so julle kan self bad, tensy jy dalk siek is of iets, en iemand jou moet help. Reg so?”

“Ja-a-a, Juffrou,” sê al die kinders in ’n koor.

“En ons gaan ook nie toelaat dat ander mense daar vat nie, reg so?”

“Ja-a-a, Juffrou.”

Skielik dink Kevin terug aan daardie oggend in die kar. Oom Jason het aan die plek tussen sy bene geraak. Maar dit was mos per ongeluk. Hy het mos gesê hy is jammer. En hy is mos ’n goeie oom?

Nee wat, dink Kevin, hy hoef nie bekommerd te wees nie.

Juffrou Arendse maak haar keel skoon om almal se aandag te kry. “As iemand aan jou lyf vat en dit laat jou ongemaklik of bang voel, moet jy hierdie rympie onthou:

“Ek het ’n lyf, maar dis myne alleen,
en jy het jou eie – van vel en van been.
My vingers is gemaak om te verf of te skryf,
daarom sit my vingers aan die punt van my lyf.

My neus is gemaak om snollies te blaas,
my mond en my keelgat om lekker te raas.

My bene en voete is gemaak om te spring,
ek kan staan op my tone of dans in ’n kring.

Ek ken mos my lyf – ek weet wat dit doen,
ek mag kies wie ek druk en vir wie ek wil soen.

Geen vashou maak seer nie, jy druk my te styf,
hou daarom jou hande ver weg van my lyf.

Verrassings is lekker, maar geheime is naar,
en ek sê vir almal – finish en klaar!”

Juffrou Arendse laat hulle die rympie oor en oor in die klas opsê. Sy luister tevrede.

Dan sit sy ’n volgende prent op. Dis van ’n hand met name op elke vinger.

“Laastens wil Juffrou vir julle van die VEILIGE HAND leer.” Almal steek ’n hand in die lug soos juffrou Arendse verduidelik. “As daar ooit enigiets slegs met jou gebeur, moet jy vyf mense daarvan kan vertel. Een vir elke vinger op jou hand. As die een mens nie kan help nie, moet jy vir die volgende mens vertel. En as hy of sy nie kan help nie, vertel jy vir die volgende mens. Be sluit sommer nou wie julle op julle Veilige Hand wil hê.”

Kevin dink en dink. Hy sien Ethan kry sommer gou vyf mense. Uiteindelik het Kevin ook syne.

Hy onthou te laat van oom Jason, maar sy vingers is nou vol.

“Wonderlik!” roep juffrou Arendse uiteindelik. “Julle het vandag sommer oulik geleer. Kom ons sluit af met daardie rympie.”

Die hele klas staan en sê dit drie keer saam op.

Later die middag draai die rympie steeds deur Kevin se kop. Hy kyk ook na sy Veilige Hand en onthou almal se name.

As iemand iets leliks met hom gaan probeer, sal hy presies weet wat om te doen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top