Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Die Afrikaners deur Herman Giliomee

  • 1

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Herman Giliomee

Herman Giliomee (Foto: verskaf)

Hermann Giliomee word internasionaal erken as voorste historikus van die Afrikaners. Hy het die prestigeryke Jan H Marais-prys verower, en The Economist het The Afrikaners uitgesonder as die beste geskiedenis van Suid-Afrika wat nog geskryf is. Sy boeke sluit in Die Afrikaners en Die laaste Afrikanerleiers, langdurige topverkopers.


Opsomming

Die Afrikaners
Herman Giliomee

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624071075

Hermann Giliomee, top-historikus, is die aanbieder van die 26-episode kykNETreeks Die Afrikaners in beeld, in samehang waarmee dié boek gepubliseer word.

Hy het talle toekennings ontvang vir die oorspronklike boek waarop die reeks gebaseer is, die topverkoper The Afrikaners, en word gesien as die wêreldkenner van dié onderwerp.

Hierdie uitgawe van Die Afrikaners bied die kern van die langer akademiese werk in leesbare Afrikaans aan vir ’n moderne leserskap. Talle omstrede aspekte van Suid-Afrika se verlede en die rol daarin van die groep mense wat mettertyd na hulself as "Afrikaners" sou verwys word in kleur en geur in storievorm vertel, sodat lesers met ’n vars, soms uitdagende perspektief op ons verlede gelaat word.


Uittreksel

Apartheid-“idealiste”: Uiteindelik totale skeiding

In 1950 het ’n konferensie van die NG Kerk se federale raad ’n verreikende besluit aanvaar en dit aan die kantoor van die eerste minister, dr. DF Malan, gestuur. Daarvolgens sou geen volk ooit tevrede wees sonder ’n stem in die regering van die land nie. Om die swart mense van ’n stem te weerhou was nie alleen onredelik nie, maar was bestem om tot groot wrywing te lei. Die kerkleiers het besluit dat die enigste oplossing in “uiteindelike totale skeiding” van “blanke” en “nie-blanke” lê.

Die Afrikaner-nasionaliste se ideaal was, soos die titel van ’n boek lui, Regverdige Rasse-apartheid. Historici het hulle later die “idealiste” van apartheid genoem, maar het “idealiste” altyd in aanhalingstekens geplaas as waarskuwing om dit nie letterlik op te neem nie.

Malan het op die konferensie se voorstel geantwoord: “Wel, as jy algehele apartheid moet hê, dan sou elkeen erken dat dit ’n ideale toestand is . . . maar dit is nie die beleid van ons party nie. Dit is nie uitvoerbaar nie en dit help nie vir enige party om die onmoontlike te probeer regkry nie.”

Die kerkleiers het egter moed geskep met die regering se aanstelling van ’n kommissie om die sosiaal-ekonomiese probleme in die reservate te ondersoek en voorstelle te doen oor hoe meer mense daar ’n bestaan kan maak. Prof. FR Tomlinson, ’n bekende landbou-ekonoom, is as voorsitter aangestel.

In die middel 1950’s het twee invloedryke kommentators, een swart en die ander ’n liberale Afrikaner, ook hierdie temas bespreek. Die een was ZK Matthews, seun van ’n Bamangwato-mynwerker wat ’n meestersgraad aan die Yale-universiteit verwerf en later professor by Fort Hare geword het. Die ander was ’n uitgewer, Leo Marquard, seun van ’n NG predikant in die Vrystaat, wat later by die Liberale Party aangesluit het.

Prof. Matthews het in 1956 op ’n vergadering van swart geestelikes gepraat net nadat die Tomlinson-kommissie omvangryke voorstelle vir die ontwikkeling van die swart reservate of tuislande ter tafel gelê het.

Matthews se kommentaar was dat die Smuts-regering ook omvattende planne vir die sosiaal-ekonomiese ontwikkeling van die tuislande aangekondig het. Die Tomlinson-verslag het, soos Matthews dit tereg genoem het, ’n “heeltemal nuwe faktor” bevat. Die reservate se ontwikkeling was nou nie meer deel van die land se algemene ekonomiese ontwikkeling nie, maar deel van ’n plan wat die swart mense se ekonomiese regte en politieke aspirasies tot ’n klein deeltjie van die land beperk. As daar na die ontwikkeling van die tuislande in die daaropvolgende 30 jaar gekyk word, is dit duidelik dat hierdie kommentaar versiende was.

Die volgende jaar het Marquard die presidentsrede gelewer op die liberale South African Institute of Race Relations se jaarvergadering. Hy het ’n paar jaar tevore gesê Suid-Afrika is in werklikheid ’n koloniale moondheid – al verskil is dat sy kolonies binne die fisieke grense van die moederland lê.

Marquard het geargumenteer dat Suid-Afrika op die punt gekom het waar dele moes begin wegbreek, maar het bygevoeg dat geen grondliggende beginsel vir so ’n beleid nog geformuleer is nie. Hy sou sekerlik die gedagte verwerp het dat ’n vorm van dekolonisasie van die swart tuislande op sigself ’n oplossing bied.

Verwoerd, wat in 1958 eerste minister geword het, was die leier wat die tuislandbeleid apartheid se hoeksteen gemaak het.

Weinig pogings om Verwoerd te beïnvloed het ooit veel indruk op hom gemaak, maar daar was moontlik wel een. Dit was toe Dag Hammarskjöld, die VVO se sekretaris-generaal, Suid-Afrika in Januarie 1961 besoek het. Sy opdrag was om die skending van menseregte onder apartheid te ondersoek. Verwoerd en Hammerskjöld het hul gesprekke as só vrugbaar beskou dat hulle ses ontmoetings, pleks van die geskeduleerde een, gehad het. Hammerskjöld se private aantekeninge toon dat die twee leiers probeer het om sekere grondliggende beginsels te formuleer wat apartheid op die weg na ’n haalbare oplossing sou plaas.

Hammarskjöld het gesê dat die VVO spoedige integrasie in Suid-Afrika verlang, maar vir Verwoerd was dit totaal onaanvaarbaar. Hammarskjöld het toe die belangrike vraag gestel: Is daar ’n kans dat apartheid in iets omskep kan word wat dit ’n “kompeterende alternatief” vir integrasie maak?

Verwoerd het geantwoord dat die beleid van swart tuislande so ’n alternatief kon wees. Hammarskjöld het gesê dat die beleid as ’n kompeterende alternatief beskou sal word as dit aan die volgende vereistes voldoen:

  • die regering moet voldoende grond en samehangende gebiede opsy sit;
  • ’n plan vir hul ekonomiese ontwikkeling moet gepubliseer word; en
  • instellings moet daargestel word wat op die volkswil berus en wat tot onafhanklikheid kan lei as die mense dit so verkies.

Die regering moet ook besef dat die tuislande nie ’n algehele oplossing bied nie. Die swart mense wat buite die tuislande woon en werk, moet dieselfde beskerming kry as wat Westerse lande aan gasarbeiders gee. Ná langdurige verblyf moet hulle geregtig wees op burgerregte en volle burgerskap.

Verwoerd het ’n unieke geleentheid gehad om ’n plan te ontwikkel om minstens Westerse steun te kry vir ’n meer aanvaarbare beleid. Hammarskjöld is egter ’n paar maande later in ’n vliegongeluk in die Kongo oorlede en daarmee het die Suid-Afrikaanse regering ’n potensieel waardevolle bemiddelaar verloor.

Ná die verkiesing van 1948 het die swart nasionalistiese leiers geen belangstelling in die tuislande getoon as deel van ’n oplossing nie. Hulle het wel ná die verkiesing van 1948 aangevoel dat die nuwe regering sekerlik nie hul lot sou versag nie.

Albert Luthuli, ’n latere ANC-leier, het gesê dat swart mense nie veel meer as toeskouers was nie en dat dit dus “irrelevant” was of Smuts of Malan aan die bewind kom. Oliver Tambo, ook ’n latere ANC-leier, het egter verskil. Nelson Mandela het onthou dat hy gesê het. “Dis goeie nuus. Nou weet ons presies wie ons vyande is.”

In 1949 het die ANC ’n inspuiting gekry met jong leiers soos Mandela, Tambo en Walter Sisulu wat hul kragte agter die ANC Youth League gewerp het. In 1952 het die ANC in ’n brief aan Malan direkte verteenwoordiging vir alle swart mense in die parlement en ander wetgewende liggame geëis.

Malan was tevrede met aparte groepsgebiede en hy het hom nie baie aan die gedagte van swart tuislande gesteur nie. In sy Nuwejaarsboodskap van 1953 het hy daarna verwys dat Suid-Afrikaners van alle groepe mekaar se bestaansreg moet aanvaar en in die Engelse teks vervolg: “South Africa is our common heritage and belongs to us all.” Twee jaar later sou die ANC se “Freedom Charter” presies dieselfde woorde gebruik en beroemd maak.

  • 1

Kommentaar

  • Natie van Vuuren

    Ek het baie uitgesien na Giliomee se boek Die Afrikaners maar is ongelukkig oor die
    feit dat daar geen woord oor resente gesê is nie, bv geen woord oor die Zuma-era nie. Verstaan mooi, ek is ’n groot bewonderaar van HG en besit seker al sy boeke.
    Dr Natie van Vuuren, Modimolle (Nylstroom)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top