Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Blom in die hare deur Kristel Loots

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Kristel Loots

Blom in die hare toon Kristel Loots op haar beste. Sy beskryf die leefwêreld van gewone vroue van verskillende ouderdomme en verskillende figure. Loots skryf met ontsettende patos, maar weet ook hoe om deurgaans humor te gebruik. Jy lag, jy lag, dan pink jy ’n traan saam met die karakters.

Hierdie doyenne van Afrikaanse vrouefiksie het al weggestap met ’n ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans, en met baie lesers se goedkeuring. Ten spyte van haar roem, en al het sy reeds meer as vyftig romans die lig laat sien, is Kristel Loots ’n enigma. Facebook sê sy is in 1980 gebore en basta.

Vir haar enorme bydrae tot die Suid-Afrikaanse leeskultuur, huldig die US Woordfees haar in 2018 met ’n High Tea. (http://woordfees.co.za/event/high-tea-met-kristel-loots)


Opsomming

Blom in die hare
Kristel Loots

Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799387575

Kaila is g’n Salomo nie, waarom moet sy nou keuses maak soos hy?

Die leser loop die pad met Kaila vanaf haar hoërskooljare tot Kaila se seun in die hoërskool is. Daar is mooi én bitter oomblikke op haar pad. Telkens is daar keuses wat opduik in die roman, maar uiteindelik is daar een wat haar die seerste maak: Haar seun se meisie is swanger. Wie se kant moet sy kies? Die jong man met die pyn in sy oë, of die ongebore baba? Die ma van die ongebore baba is boonop die dogter van hóm wat sy heimlik gehoop het vir háár ’n bietjie plesier sou kon bied.

Kaila ken van verwerping. Sy is agterlaat deur ’n vreemde vrou en toe aangeneem deur ’n ewe wêreldvreemde vrou wat toe ook sommer eendag verdwyn het. Haar eerste liefde was haar Wiskunde-onnie, wat ook oornag verdwyn. Blom in die hare is ’n donker roman, een wat siniese vrae vra oor die samelewing se borrelgomidees van die liefde en die huwelik.

Tog: Die boek bied hoop.

Die heel laaste bladsy in hierdie boek is ’n kragtoer, dit bring alles bymekaar en bring ’n enorme verligting aan die leser.


Uittreksel

Asof die meisiekind haar gedagtes kan lees, sien Kaila hoe Bertina haar lyf vorentoe lig om verby haar pa na haar te kyk. Los my pa uit, sê die uitdrukking op haar gesig, ek watch jou.

Kaila wil eers verkrummel en verskonend en ineengedoke bly sit, maar die vegter in haar maak ’n skielike come-back sodat sy die meisiekind vierkant in die oë kyk.

Ja, toemaar, probeer sy daarmee sê. Moenie worry nie, ek het niks met jou pa te doen nie. En so by the way, ek soek jou ook nie by my seun nie. Jy, met daardie oë van jou wat hopeloos te veel kennis vir jou jare dra. Bly van hom af weg. Ek watch jou ook.

Ná die tyd word daar tee gedrink en Max bly aan haar sy. Twee stukke opdrifsels wat naby mekaar uitgespoel en so bly lê het omdat dit die maklikste is. Daar sal oor hulle geskinder word, weet Kaila. Wat soek die wewenaar en die geskeide vrou bymekaar? Is daar iets aan die broei waarvan ons moet weet?

Maar haar en Max se saamwees is nie Kaila se grootste bekommernis nie. Sy weet nou dis by Bertina wat Sebastian sy tyd oor naweke en soms skelm in die week ook verwyl. Dis ook met haar wat hy so gereeld oor die telefoon gesels. Dat dit juis is hoekom hy so geheimsinnig is en niks van sy sosiale of behoede haar, sy liefdeslewe, met sy ma deel nie. Sebastian ken haar, hy besef natuurlik sy sal nie van ’n verhouding tussen hom en Bertina hou nie. Bertina is te loud mouth en te bleddie blond. Maar dis veral die onvergenoegde uitdrukking op die kind se gesig wat Kaila grief. En die manier waarop sy lag. Soos ’n straatvrou op soek na ’n gelukkie. Asof sy haar boodskap van beskikbaarheid en gewilligheid op haar voorkop dra.

Te oud vir haar jare.

Toe die trofeë uitgedeel is en almal na buite beweeg, stap Kaila ook uit om na Sebastian te soek. Sy sien hom dadelik, die twee figure skuins onder die lamppaal naby die ingang van die skoolsaal. Hulle koppe naby aan mekaar, te naby aan mekaar, gevaarlik naby aan mekaar. Kaila se wêreldjie verkrummel verder onder haar.

’n Debatsbyeenkoms is nie veronderstel om ’n romantiese aandjie te wees nie. Dis gewoonlik net die nerds in die skool wat hul gesigte daar wys. Die skaakspelers en die koorsangers. Nie die jocks of dit hot girls nie. Die ligte skyn helder en die redenasies vlieg soos aasvoëls deur die lug. Daar is nie drank nie, net tee. Nie musiek nie, niks om die sinne te verdof nie. Maar Kaila onthou maar te goed wat die sondes van die vlees jou enige tyd en enige plek kan pootjie.

Wat is dit met haar en haar seun dat hulle hul op debatsaande laat verlei? Dalk die euforie daarvan om ’n argument te wen, die klank van die applous in jou ore, die glans van die trofee wat jy ingepalm het. Dat jy op so ’n high is dat jy selfs hoër wil vlieg. Sweerlik ou Murphy wat in ’n sameswering met die muse is.

Kaila draai sugtend van Sebastian en sy squeeze af weg, te verleë om iets daaraan te doen. Maar die meisie lig haar kop om na Sebastian toe op te kyk en Kaila sien haar gesig in die lig van die straatlamp. Dis ... Kaila is nie seker wie die meisie is nie, maar dis nie Bertina nie. Dis sowaar nie Bertina nie. Sy wil ongemerk terugsluip in die saal voordat Sebastian haar sien, so verlig, sy kan losbars in sang. Maar Sebastian het haar gewaar en roep haar nader. Baie teësinnig, dis duidelik, maar noodgedwonge.

“Ma, dis Ansie.” Hy sug effe. “Ansie, ontmoet my ma.”

Kaila wil die meisie teen haar bors druk, maar sy slaag netnet daarin om dit nie te doen nie.

“Ma kan maar ry, ek sal later kom. Ek stap eers saam met Ansie huis toe.”

Sy wil keer, aanbied om hulle met die motor te vat. Tot by Ansie se huis. Of verder. Van die Kaap tot in Kaïro, om die wêreld, enigiets, enige plek. Om hulle selfs te abba as dit nodig sou wees. Sodat hulle nie koud kry nie, nie aan die gevare van die donker blootgestel sou wees nie. Sodat hulle veilig kan wees en bowenal sodat hulle saam kan wees. Want sy weet instinktief Ansie is nie soos Bertina nie. Ansie het nie die klatergoue persoonlikheid van ’n Bertina nie. Sebastian is veiliger by Ansie as by Bertina met die wye mond wat te maklik lag en te veel praat.

“Dis goed so,” piep Kaila gedwee. En dankbaar.

***

Sy probeer versigtig oor Ansie uitvra, maar kry nie veel uit Sebastian nie.

So af en toe sien sy hoe Sebastian en sy pa smiddae by die hek gesels voordat Daniel pad vat na sy nuwe huis en sy nuwe lewe. Sou hy vir sy pa van Ansie vertel? Hom dalk raad vra oor sy liefdesake? Kaila sluk aan die bitterheid hieroor. Sy word uitgestoot en sy pa word nadergesleep.

Dis op ’n Maandagmiddag met Rosie aan die stryk in die omgewing dat Kaila weer probeer om meer te wete te kom hieroor. “Wat gesels jy en jou pa so?” Sy probeer nonchalant klink.

Sebastian haal sy skouers op. “Ons praat sommer maar. Pa sê ek kan binnekort by hom in sy flat kom kuier. Wanneer sy dinge meer uitgesort is.”

“Mens sou dink sy dinge moes teen hierdie tyd al uitgesorteer wees. Ons is al meer as ses maande geskei.” Kaila skink vir haar tee en teug daaraan sodat haar hande kan ophou bewe.

Dis Rosie wat die prentjie verder inkleur. “Dis daai vrou se kinders wat hom so mal maak. Sy’t hulle in die hostel by die skool gesit, maar naweke kom hulle huis toe. Ek het vir Meneer gesê as ek hulle klere moet was, wil ek double pay hê.”

Kaila haal skaars asem, nuuskierig om te hoor wat daar anderkant aan die gang is. Bly om te hoor dis blykbaar nie net ’n liefdesnessie met rose en maanskyn nie.

“Pa wil hê ek moet my BMX vir die laitie gee,” mompel Sebastian.

Kaila verstik in haar tee. Gaan aan die hoes asof haar lewe letterlik daarvan afhang.

“Jy doen dit nie,” sis sy tussen haar tande deur.

“Hy sê ek gebruik tog nie meer die fiets nie. Dit sal net mooi reg wees vir die laitie. Pa sê dan sal die laitie naweke onder sy voete uit wees.” Sebastian aarsel ’n oomblik. “Ek wil dit nie eintlik doen nie.”

“Jy doen dit nie, Sebastian, onder geen omstandighede gaan jy iets van jou eie vir jou pa se houvrou se gebroedsel gee nie. Sy het genoeg by ons gesteel, die bleddie bitch.”

Selfs terwyl sy praat, skrik Kaila vir haarself. Hoor hoe praat sy, ag, hemel, en dit met haar kind. Soos enige ander agterstraatse viswyf. Dit moet haar gene wees, haar kommin gene wat sy seker by haar biologiese voorsate geërf het wat sulke tye in haar na vore kom, wat haar innerfeeks in al haar vreeslikheid laat oorvat. Kaila sak op die naaste stoel neer, hou haar hande voor haar gesig. “Jammer, Sebastian, ek is jammer. Ek behoort nie so te praat nie.”

“Ek het anyway nie lus om dit te doen nie,” brom Sebastian.

“Fok die laitie. En fok Pa ook sommer.”

Kaila laat die gefok gaan, maar dit maak haar ongelukkig. Sy doen alles wat ’n mens nie in ’n situasie soos hierdie moet doen nie. Maar my liewe hel, waar sit Daniel se verstand? Hoe dink hy wat sal dit aan sy seun doen om sy BMX wat so deel van sy kinderjare was dat die fietsie op reëndae in sy kamer, toegegooi onder ’n kombers, geslaap het, aan te pass na ’n kind wat nou meer van sy pa het as hyself. Soms voel dit vir haar Sebastian is in ’n bootjie wat al hoe verder van haar af wegvaar terwyl sy op die wal bly staan en wuif. Sy wil hom met grasie bon voyage toewens, dit aanvaar as ’n natuurlike deel van die lewensloop, bly wees dat hy hopelik ’n beter lewe tegemoet gaan, maar sy is bang daar is ’n gat in die bodem van daardie bootjie.

Soms dink sy dit help nie eens sy probeer keer nie. Sebastian sal tog maar van ’n kant af opgeneuk wees. For life.

Kaila is min of meer reg om permanent in haar ellende en selfbejammering te versink. Iets moet sy doen sodat daar lewe ná Daniel kan wees, ook vir haar. Sy kan dalk paaldanse leer doen. Of iets praktieser soos om weer by ’n boekklub aan te sluit. Een keer ’n maand saam met nog leesgierige vroue bymekaar te kom en om teekoppies te gesels oor die letterkunde van die dag. Sy wil nie ophou leef nie, sy wil net nie leef soos nou nie. So effentjies, so senuweeagtig soos een van die wilde voëltjies wat met tye per ongeluk in haar huis beland. Sy wil nie so vasgevang voel nie, so desperaat rondfladder op soek na ’n uitkomplek terwyl dit vir haar voel of die lewe by haar verbygaan nie.

***

Kaila skrik toe die telefoon sowat ’n maand later hier teen skemer aan die skel gaan. Die landlyn word selde gebruik, eintlik is dit hoofsaaklik daar om ’n ADSL-lyn te hê en vir telebemarkers om haar te pla. Sodat sy vir die Dierebeskermingsvereniging kan bydra, die renoster kan red en oproepe kan kry van oproepers met vreemde aksente wat voorgee hulle bel namens Windows se tegniese personeel wat wil ingryp omdat haar rekenaar glo allerhande manewales uithaal. Daarom is sy nie haastig om te antwoord nie. “Hallo, Kaila hier,” laat sy lusteloos hoor.

“Is Sebastian daar?”

“Ekskuus?” Die vraag was net te kortaf. So sonder ’n inleiding en sonder ’n groet of asseblief of ’n dankie of iets.

“Sebastian. Ek wil met Sebastian praat. Ek het hom op sy selfoon probeer bel, maar hy antwoord nie.”

Dis ’n jongmeisiestem, die irritasie duidelik hoorbaar.

Bertina? Klink so. Verdomp. Sy het begin hoop Sebastian kuier nie meer daar nie, dat hy eerder by Ansie is wanneer hy soms vir ure lank verdwyn.

“Sebastian is nie hier nie,” sê sy met ’n sug.

“Sê hy moet my bel. Dadelik. Dis dringend.”

Daar is iets in die kind se stem wat Kaila se nekhare laat rys.

“Is daar iets waarmee ek kan help?” waag sy om te vra.

“Nee, maar ek en Sebastian sal moet chat. Gee net vir hom die boodskap.” En toe na ’n sekonde of twee: “Asseblief.”

“Wie is dit wat praat?” Asof sy nie weet nie.

“Dis ... Oh, my gosh!” Kaila is seker daarvan die oproeper rol haar oë. “Gee maar net vir hom die boodskap. Hy sal weet wie dit is.” Kaila hoor die sagte asemhaling in haaroor. “Totsiens.”

Kaila kan skaars wag dat Sebastian by die huis moet kom, haar nuuskierigheid geprikkel. “Daar was ’n oproep vir jou, ’n meisiekind. Sy’t gevra jy moet haar dringend bel.”

Sebastian sug. “Ek weet, ja, sy het my op my selfoon ook probeer bel.”

“Wie is dit?” hou Kaila haar dom.

’n Oomblik lyk dit asof hy haar nie wil antwoord nie.

“Dis ... bleddie Bertina. Sy kan mos vir haarself dink ek wil nie met haar praat as ek nie my selfoon antwoord nie. En ook nie op haar whatsapps reageer nie. Sommige girls is ook so blond in hul denke, mens moet hulle met ’n plank oor die kop slaan om die boodskap te kry.”

“So, sy is nie jou ... e ... meisie nie?”

Sebastian gluur haar aan asof sy hom in sterk taal beledig het.

“Nee, Ma, juis nie. Ek wens net die bleddie dom blonde wil die boodskap kry.”

Daar is iets aan die telefoonoproep wat Kaila onrustig stem. Die effense desperaatheid in die meisiekind se stem.

Sy wil vir Sebastian preek, hom aanspreek, verduidelik dat dit nie sal help om van ’n probleem af weg te hardloop nie, dat hy met die meisiekind moet praat en klaarkry. Dat hy vir haar moet verduidelik as hy nie vasgevang wil wees nie en ook nie meer oproepe van haar wil ontvang nie. En dit so sag as moontlik moet doen sodat niemand tog te veel seerkry in die proses nie. Al hou sy nie van Bertina nie, weet sy hoe dit voel wanneer ’n man jou nie meer wil hê nie. Daardie gevoel van waardeloosheid gun sy sowaar vir niemand nie.

Maar sy laat dit verbygaan, doen nie haar moederlike plig nie.’n Paar aande later hoor sy dele van ’n telefoongesprek wat Sebastian agter sy toe kamerdeur voer toe sy verbyloop badkamer toe. Sy verstaan nie presies waaroor dit gaan nie, maar sy stem styg ’n oktaaf of twee en wat wel hoorbaar is, is ontstellend genoeg. Sodat sy voor die deur bly staan, haar ore spits.

“As dit ’n grap is, is dit ’n siek grap,” hoor sy hom sê.

“Ek pes girls wat te veel televisie kyk en hulle verbeel hulle is drama queens. Dis nie asof ons twee ’n item is nie, is dit?” Dis ’n oomblik stil terwyl daar van die ander kant af geantwoord word. “Moenie so ’n helse issue daarvan maak nie, Bertina. Ons het ’n fling gehad. Sort off. Dis al. Dit was ’n flash in the pan en dis nou oor en verby.”

Bertina. Dan is dit tog met haar wat Sebastian praat.

En hy praat van ’n flash in the pan. Wat oor en verby is. Daardie nag slaap Kaila heelwat beter as gewoonlik.

***

Sy is verbaas om ’n whatsapp van Max te kry. Sy het nie eens geweet hy het haar selfoonnommer nie. Seker by Dominee gekry. Die man behoort nie sy gemeentelede se telefoonnommers so lukraak links en regs uit te deel nie.

Nie sonder hul toestemming nie.

Kan ek jou vanaand ná sewe kom haal vir ete? wil Max in sy whatsapp weet.

Kaila weet nie wat om te antwoord nie. Ete? Soos in ’n ... liewe genadetjie, tog, soos in ’n date? Wat sou in die man se kop aangaan? Wil hy nou by haar aanlê noudat dit duidelik is Sebastian en Bertina is nie ’n item nie en dit dalk nie so complicated sal wees nie? En hoe voel sy daaroor?

Sy weet nie. Sy weet die vroue van die omgewing sal haar beny, maar sy weet nie of sy die energie het vir ’n… ’n date nie?

Kaila storm eers op haar klerekas af. Sy het sowaar niks om aan te trek nie. Niks wat haar tien jaar jonger sal laat lyk nie. En mooier nie. Minder verweer nie. Behalwe, if all else fails, dalk maar verskyn met een van haar uitspattige helderkleurige Mexikaanse rompe aan haar lyf. As sy haar Frida-personae aanneem. Natuurlik met ’n blom in haar hare. ’n Angelier uit die tuin. Nie te oorweldigend nie, maar nogtans een wat die geur van ’n blom sal dra. Max sal dalk nie weet wat hom getref het nie, maar hy sal ook nie sommer vergeet hoe sy date vir die aand gelyk het nie.

Ek sien uit daarna, tik haar vingers op die piepklein sleutelbord. Dis nogal waar, besef Kaila toe sy haar hare onder die stort was en ’n vae vrolikheid haar omhels.

“Ek gaan vanaand uit,” waarsku sy vir Sebastian, maar sy sê nie waarheen nie.

“Ek ook.” Dis al.

Nou ja toe, dan is hulle maar ships that pass in the night.

Maar toe Sebastian sien hoe uitgevat sy is, frons hy tog in haar rigting. “Waarnatoe gaan Ma?”

Hy mag vra, maar sy nie.

“Oom Max neem my uit vir ete.”

Hy lyk uiters ongelukkig oor die nuus. “Jinne, Ma, ons is almal totally fucked-up, maar dit beteken nog nie jy kan met elke tweede poephol wat hier opdaag in die bed spring nie.”

Kaila is meer as net ’n bietjie verbaas oor hierdie uitbarsting.

“Dis nie elke tweede poephol wat opdaag nie, Sebastian, dis oom Max. En buitendien ek is nie van plan om saam met enigiemand in die bed te spring nie.” verseker sy Sebastian van haar hoë morele lewe. Sy kan haar dit glad nie verbeel nie. Hoewel dit seker opwindend kan wees, noudat sy aan die moontlikheid dink. Om in die bed te spring. Nie met ’n poephol nie, maar met iemand soos Max Viljoen. As dit dan nie Daniel kan wees nie.

Toe Max kort ná seweuur voor die huis stilhou, is Sebastian nie by om hom te sien of uit te vra nie. Kaila weet nie of sy bly of spyt moet wees daaroor nie.

Tot haar teleurstelling lyk dit nie juis asof Max haar mooi romp raaksien nie. Of vir haar nie. Of die blom in haar hare nie. Hy is afgetrokke. Maak vir haar die motor se deur oop, neem haar aan haar elmboog toe hulle uitklim, maar praat nie veel nie.

“Ons sit sommer hier in die hoek,” besluit Max toe hulle by die Green Room in Bellville kom. “Sodat ons ongehinderd kan gesels.”

Sy gesig lyk asof hy oor al die rampe en ellendes van die land wil praat en Kaila begin wonder of sy nie eerder by die huis moes bly nie.

 “Ek is baie bekommerd oor Bertina,” sê hy toe die kelner vir hulle elkeen ’n glasie wyn bedien het.

“Is sy siek?”

Hy kyk haar vreemd aan. “Nie regtig siek nie, swanger.”

“Wat?”

“Ek lei af Sebastian het nog nie met jou daaroor gepraat nie ...”

“Sebastian? Wat het hy daarmee te doen?” Kaila se mond gaap oop. “Ag nee, komaan, Max. Moenie vir my sê jy dink Sebastian is enigsins betrokke nie.”

“Dis wat Bertina sê.” Max neem ’n groot sluk wyn. “Ek weet dit gebeur met duisende tienermeisies, maar ek is woedend daaroor. En teleurgesteld.” Hy kyk amper verwytend na Kaila. “Glo my, my dogter gaan nie alleen met die baba in die arms bly staan terwyl Sebastian sorgeloos sy toekoms tegemoetgaan nie.”

Kaila vererg haar nie vir hom nie, sy steur haar skaars aan hom. Sy is selfs jammer vir hom. Hy soek ’n donkie om te slaan, maar sy gaan haar regtig nie onnodig ontstel oor iets wat so verregaande is nie. Dit kan tog nie moontlik nie wees nie. Sebastian is ’n intelligente seun, só sou hy hom nie laat vang het nie.

Deesdae word daar openlik oor seks gepraat, ook op skool. Dis ingesluit in die leerplanne en die ouers word voor die tyd gewaarsku dat die voorstellings daarvan taamlik grafies sal wees. “Ons gaan nie vir ons leerders ’n foto van die ooievaar wys en die arme voël al die skuld gee vir babas wat onbeplan opdaag nie,” het die skoolhoof ’n grap probeer maak by die vorige oueraand toe daar met die ouers vergader is om die saak te verduidelik. “Daar word behoorlike demonstrasies gedoen, onder andere oor die korrekte gebruik van kondome. Dis nie dat ons seks op hierdie stadium van hul lewe vir die tieners as die norm wil verkondig nie, maar dit sal dom wees om te ignoreer dat dit wel plaasvind.”

Kaila is nie naïef nie. Sy kan goed glo dat daar kinders is wat hulle daaraan skuldig maak. Ander kinders. Maar ’n kind soos Sebastian, veral Sebastian met sy skerp redenasievermoë is darem wragtig te verstandig om in daardie slaggat te trap. Sy besef ook Sebastian se vriende, wat alte graag vuil grappe vertel, is nie engeltjies nie, maar sy twyfel selfs of enigeen van hulle so vroeg ryp, vroeg vrot sal wees. Die meeste van hulle bly hier in die noordelike voorstede, in hul comfort zone agter die boereworsgordyn waar al die geykte ou reëls en regulasies hoofsaaklik nog geld. Almal is goed grootgemaak. Kerngesonde Afrikanerkinders. Katkisante. Gaan selfs ewe gedwee kerk toe, bly min of meer binne die grense. Goeie, veilige Calvinisme tel tog seker nog vir iets, al is daar nie waarborge nie.

Sebastian seksueel aktief? Ag nee, wat. Sy is Sebastian se ma, hulle is tans ’n bietjie vervreemd, maar dis tydelik terwyl Sebastian se hormone en die dinge wat by die huis gebeur het van hom ietwat van ’n monster maak. Eintlik is sy en haar seun baie na aan mekaar. As daar enigsins so iets was, sou sy daarvan geweet het.

Ja, ja, sy weet van die partytjies wat tieners hou, wat alles daar gebeur. Sy weet ook van dwelms wat die kinders minder verantwoordelik maak, sy weet alles. Maar Sebastian is nie jou gewone D-klas kind wat handevol gratis kondome by die kliniek kry en steeds nie weet hoe om dit te gebruik nie. En buitendien, sou sy kon byvoeg, as Sebastian so domonnosel sou wees om iets so radikaals te doen voordat hy werklik gereed is daarvoor, sou dit nie met Bertina wees nie.

Bertina was net ’n oase langs sy pad, ’n stilhouplek om sy nuuskierigheid oor die nuwe meisiekind in die skool te bevredig. Om uit te vind of daar iets anders aan haar is as aan enige van die ander meisies wat al van laerskooldae af saam met hom op die skoolbanke sit. Die dag wat Sebastian besluit om ’n meisie op daardie vlak te leer ken, sal dit moontlik eers op universiteit wees. Of daarna. Met iemand soos Ansie. Mooi ou meisietjie, saggeaard as Kaila moet raai. Na alle waarskynlikheid nog ’n maagd. Soos dit hoort.

Maar sy onthou ook Sebastian se stiltes, sy onthou van die diefwering voor sy kamervenster wat losgeskroef is. Sy moes Sebastian lankal daarmee gekonfronteer het, kans gesien het vir wat daarop sou volg. Maar sy was bang as hulle te veel vassit, hy later sou verkies om by sy pa te gaan bly. Dít sal sy sowaar nie oorleef nie.

Hulle bestel nie kos nie, sy en Max ewe haastig om by die huis te kom.

***

Kaila sien die skrik in Sebastian se oë toe sy hom inwag en van die gesprek met Max vertel. Sy sien ook hoe hy verbleek.

“Sebastian?” vra sy en haar stem slaan weg. “Kan dit waar wees?”

“As die storie oor die blomme en die bye waar is, kon dit seker gebeur het, Ma.” Hy kyk haar uitdagend aan.

Die wêreld draai om Kaila. Sy begin lag, hard en lelik. Dis histerie maar sy het geen beheer daaroor nie. Toe neem die woede oor. Sy staan op, stap op Sebastian af asof sy hom wil seermaak. “Sebastian!” kerm sy. “Wat het jy aangevang, my seun? Ag hemel, tog, wat het jou besiel?”

“Ek het drooggemaak, Ma. Big time.”

Kaila sien hoe sy oë begin smelt, sy sien die verborge trane daarin opdam. En skielik is hy weer die klein seuntjie wat haar hart so maklik kon laat vermurwe wanneer hy kwaad gedoen en dit hom ingehaal het.

“Ek het gedink die fokken mal meisiekind praat crap toe sy my die eerste keer die storie spin dat sy preggies is, Ma. Ek kon nie uitfigure wat de hel sy probeer regkry met die kakstorie nie en het vir haar gesê sy moet fokof.” Sy stem is nie so kwaai soos sy woorde nie.

Kaila plaas haar hande om haar kind se kop, trek hom nader sodat hy sy gesig teen haar lyf kan verberg. Sy streel oor sy nek, sy skouers. Toemaar, toemaar, wil sy sê soos sy dit kleintyd kon doen. Dis nie so erg nie, dis oukei. Mamma sal dit weer regmaak. Mamma sal die skerwe optel, Mamma sal die gemors opruim.

Maar hierdie keer sal dit nie so maklik wees nie. Al wat sy hierdie keer kan prewel is: “Ai, Sebastian, my arme, arme kind.”

Eers heelwat later vra sy versigtig uit. “Is jy ... Was jy dan ...” Kaila kug ongemaklik. “Is jy lief vir haar, Sebastian? Is dit hoekom dinge so ver gegaan het?”

Sy antwoord lê opgesluit in die woordeloosheid waarmee hy na haar kyk, die smeking en verwarring in sy oë.

“En Ansie, seun? Wat nou van Ansie?”

Hy haal sy skouers op. “Ek weet tog nie, Ma.”

“Hoe voel jy oor haar? Oor Ansie? Voel dit vir jou of jy haar liefhet?”

“Ma, ek weet tog nie van liefde en sulke heavy stuff nie.

Ek weet net as ek by Ansie is, voel dit vir my of ek… wel, in ’n way of ek by die huis is.”

“Soos in boring? Terwyl Bertina opwindend is?”

Hy skud sy kop. “Nee, nie soos in boring nie, soos in vrede en fun en… en… soos ’n sagte kombers. Whatever. By Bertina is daar altyd drama. Ma ken my, ek is nie so hoog op drama nie. Ek soek peace and quiet. Nou nie so quiet dat mens in ’n depro verval nie, maar ook nie soos dit ... Sorry Ma, soos dit met Pa en Ma was nie. Al daai high-pitched voices en koppies en pierings wat deur die lug vlieg, is ’n bietjie heavy op die nerves.”

“Ons het darem nie koppies en pierings deur die lug gelanseer nie,” probeer Kaila haar verontskuldig.

Maar sy weet wat Sebastian bedoel. Dat hy sy kwota drama en dinge reeds weg het met die oorloë tussen haar en Daniel. Maar Sebastian weet nog nie wat drama is nie.

Sebastian bevind hom nou in die oog van moeder van alle storms. Bo die geloei van stormwinde om hom gaan daar die deurdringende geskreeu van ’n baba ook nog wees. En daar is niks wat Kaila kan doen om dit vir hom beter te maak nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top