Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Bewustelik joune deur Elsa Winckler

  • 1

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Elsa Winckler

Elsa Winckler is ’n internasionaal-gerekende romanseskrywer wat deesdae ook in Engels uitstekend verkoop in oorsese lande.

Elsa en haar man woon op Bettysbaai. Sy het met haar eerste romanse Tussen jazz en rock in 2008 die rooi rose/LAPA-liefdesverhaalkompetisie gewen. Elsa het ook die jaar daarna met dieselfde boek die ATKV-Woordveertjieprys vir Romanses gewen. In 2014 het sy nog ’n ATKV-Woordveertjie vir die Satyn-romanse, Te eenders, te anders gewen en in 2016 weer met Liefde in laslap. Sy haal die kortlys in 2017 met Liefde deur ’n lens.

Bewustelik joune is haar eerste SuperRomanza.

Elsa weet wanneer om onder die lakens te loer sonder om skunnig te wees. Dit maak haar werk besonder gewild onder jonger lesers, sonder om ouer lesers af te sit.

Verder skroom sy nie om aktuele sake aan te pak in boeke wat heerlik lees op ’n strand, of ’n rusbank, of in die bed nie.

Foto: verskaf


Opsomming

Bewustelik joune
Elsa Winckler
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799386080

Bruce Fordyce het by geleentheid gesê dat ultra-atlete nie noodwendig goeie bedmaats maak nie...

Vyf jaar ná die aanval op Kris, wat byna haar lewe gekos en haar met ’n letsel op die gesig gelaat het, is sy weer op koers. Wel, as mens nou die nagmerries wat haar soms ry, uitskakel. Haar aanvallers is agter tralies, haar verbreekte verlowing is iets van die verlede. Wanneer sy die kans kry in haar fisioterapiepraktyk, breek sy ook weg om kursusse aan te bied in die kuns om bewustelik te lewe – oftewel mindfulness in Engels.

Kris help mense ontdek hulle kan maar net wees, hulle hoef nie die heeltyd te doen nie. Dit is wat haar met heelwording gehelp het.

Tydens só ’n kursus kruis haar en Luca se paaie. Luca is ’n honderdmylatleet (161 km) wat oefen vir een van die wêreld se bekendste wedlope in die VSA. Hy moet fokus om sy borge tevrede te hou.

Luca moet wen, anders het hy verloor, dít is sy leuse.

Plek vir ’n vrou is daar nie in Luca se lewe nie, veral nie een wat steeds nagmerries kry nie. Toe dié twee gedwing word om ’n huis te deel, moet hulle mekaar in die oë kyk en bewustelik ook in hulle eie binneste begin krap.


Uittreksel

“Nee wat, ek gaan nog bietjie kuier. Jy is mos hier met jou eie motor, ek bel jou môre.” Simon draai sy rug op haar nog voor sy sin klaar is.

Kris vat haar handsak en staan op. Om met Simon te probeer redeneer, gaan geen verskil maak nie, dit het sy oor die afgelope vier maande vinnig agtergekom. Almal aan die tafel leun vorentoe om na sy storie te luister en niemand kyk eens in haar rigting nie. Dis reeds halftwaalf en sy sien môreoggend agtuur haar eerste kliënt. As sy nie soos ’n zombie wil lyk nie, moet sy haar slaap inkry.

Sy het haar eie fisioterapiepraktyk twee jaar gelede begin. Dit was harde werk, maar deesdae is haar dagboek vol. Maar om haar werk goed te kan doen, het sy slaap nodig – iets waarsonder Simon skynbaar heel goed klaarkom.

Buite gooi die straatligte poele lig ente uit mekaar.

Groepies mense staan rond en gesels, hier en daar gloei die punt van ’n sigaret rooi.

Simon het vroeër vandag laat weet hy kry haar hier by die restaurant. Dis nie asof sy omgee om alleen te ry nie, maar sy wens soms hy wil meer moeite doen en haar kom oplaai, al bly sy aan die ander kant van die stad. Hierdie deel van Johannesburg gee haar buitendien die creeps.

Hy weet sy geniet dit om in die middae ná haar laaste kliënt te gaan draf, maar soos gewoonlik het sy maar by sy planne ingeval. Draf is haar manier om te ontspan aan die einde van ’n lang dag. Nie iets wat Simon regtig verstaan nie.

Agter haar lag stemme. Die restaurant is baie gewild en die gebied rondom die perseel word opgeknap, maar op die oomblik is die straatjies reg langs die restaurant nog nou en donker. Sy sou verkies het om nie alleen om die blok te stap tot waar sy parkeer het nie, maar vir Simon gaan sy nie gou wegkry van sy bewonderaarsklub nie.

Sy kyk af na haar hand. Die diamantring aan haar ringvinger blink onder die straatligte. Sy is verloof. Aan Simon. Die man van haar drome. Dis in elk geval wat sy geglo het. Tot baie onlangs.

Hy is alles wat die meeste vrouens wil hê, wat sy gedink het sy wil hê – lank, aantreklik, suksesvol. Hy het jonk reeds sy eie IT-besigheid begin en alhoewel sy nie regtig weet presies wat hy doen nie, weet sy hy is ’n gerekende sakeman, plaaslik en oorsee.

Hoekom hy in haar belang stel, slaan haar nog steeds dronk. Sy is nie glamorous of bekend of vreeslik mooi nie. Dis woorde wat die tipe vrouens met wie hy daagliks te doen kry, beskryf. Maar sy het die sjarmante man op ’n partytjie ontmoet, hy het behoorlik haar voete onder haar uitgeslaan en toe sy weer sien, het sy sy ring aan haar vinger. Alles sommer binne die bestek van twee maande.

Ingedagte stap sy om die hoek van die blok. Dis donkerder hier, die straatligte verder uitmekaar. Haar motor is die enigste een wat nog hier geparkeer staan, ’n hele ent af in die straat.

Dis nou ’n paar maande later en Simon wil hê sy moet op ’n troudatum besluit, maar sy skram telkens weg en verander die onderwerp. Sy is maar vyf en twintig; dis nog bitter jonk, soos haar ma sê.

Haar ouers is vriendelik met Simon en het nog nooit ’n negatiewe woord oor hom gesê nie, maar sy ken hulle. Hulle is nie vreeslik opgewonde oor haar keuse vir ’n lewensmaat nie. Haar broer Nicol is nie so terughoudend nie en het sonder skroom vir haar laat verstaan wat hom betref, is Simon ’n vierkantige houer. Hy was net baie meer eksplisiet in sy beskrywing.

Aanvanklik het sy die dinge aan hom wat haar hinder, probeer afmaak as dis seker maar soos mans is. Sy is immers ook nie sonder foute nie.

Maar nou is die euforie van die eerste roosgetinte dae verby en sy begin al hoe meer wonder of sy by die regte man is. Alles draai om hom en as dit nie die geval is nie, raak hy dikbek. Nie alle mans is so behep met hulleself nie. Nie dat sy baie mans ken nie, maar nie haar pa of haar broer is so nie.

Sy het gedink sy is lief vir hom. Maar is sy? Regtig lief? Lief genoeg dat sy kans sien om ’n leeftyd lank elke oggend langs hom wakker te word? So lief dat die ophef wat hy van homself maak, haar nie sal pla nie?

Dis die vraag wat haar elke keer wil laat hiperventileer.

Is dit normaal om so te twyfel?

Hy het die ring aan haar vinger gedruk voordat sy regtig oor die vir-altyd-en-ewig-gedeelte gedink het.

En wat presies voel hy vir haar? Hy sê hy is lief vir haar, maar wat bedoel hy daarmee? Haar hele lewe draai eensklaps net om hom en wat hy wil doen. Hulle woon die funksies by wat oor hom gaan, hulle gaan kyk na flieks wat hy wil sien, hulle gaan na konserte toe waarvan hy hou. Die een of twee keer wat sy ’n voorstel gemaak het, het hy dit weggelag.

En dis nie asof sy wil hê hy moet heeltyd om haar kloek nie, allermins. Sy is ’n onafhanklike mens. Maar dit skeel hom nie dat sy alleen in die donker in ’n onveilige deel van die stad na haar motor toe stap nie. Sy kan mooi na haarself kyk, maar net soms sal sy so ’n bietjie outydse ridderlikheid verwelkom. Soos vanaand, byvoorbeeld.

Haar motorsleutel is diep in haar handsak en sy moet rondgrawe voor sy dit in haar hand het. Wat ís liefde nou eintlik?

Sy druk die knoppie en maak die motordeur oop.

Die vraag hinder haar nou al dae lank, want wat sy by Simon ervaar, is nie wat sy gedink het liefde is nie.

’n Voetval. Agter haar? Sy begin omdraai. Hande gryp haar van agter, ’n hand druk haar mond toe. Sweet. Manstemme. Wat gaan aan? Vrees skop in. Sy spartel, probeer losruk. ’n Vuis beland in haar maag, sy knak vooroor van die pyn.

“Bring haar hiernatoe,” lag ’n dronk stem.

Sy probeer gil en haar kop in die rigting van die stem draai, maar die een agter haar pluk haar aan haar hare en ruk haar vorentoe.

“Sharrup,” sis hy agter haar. “Trek haar die stegie in. Niemand kan ons hier sien nie, ons kan bietjie pret hê.”

Sy probeer weer gil en losruk. Die man agter haar swets en stamp haar hardhandig vorentoe. Ander hande gryp haar arm, trek haar met geweld van haar voete af en sleep haar ’n ent weg in die stegie. Hier is net een lamplig en in die flou lig maak sy net die silhoeëtte uit van twee mans.

“Wat wil julle hê? Moenie my seermaak nie,” begin sy, maar ’n skop tref haar in haar rug, toe ’n hou teen haar gesig.

Toe weer ’n skop, nog ’n hou en nog een. Pyn. Alles pyn. Sy probeer weer vra hulle moenie haar seermaak nie, maar elke keer as sy probeer praat, val ’n hou of tref ’n skop haar lyf. Sy kreun en probeer wegskuif, maar die aanval is meedoënloos.

“Ek gaan seker maak ons is alleen,” sê ’n stem en voetstappe beweeg weg.

’n Man buig oor haar, in die dowwe lig van die straatlamp kan sy duidelik die grynslag op sy gesig uitmaak. Sy suur drankasem blaas oor haar gesig. Die lem van ’n mes glim. Vrees slaan sy tentakels deur haar lyf, maak haar lam. Laggend sny hy haar jean se knoop los en druk die skerp punt in haar maag. ’n Gil ontsnap haar keel, maar hy leun vorentoe, druk haar mond toe en druk die koue metaal teen haar wang.

“Moenie my seermaak nie,” pleit sy onder sy vingers. Angs wil-wil haar lugpyp toedruk.

“Wel, as jy stil lê, hoef ek nie die mes te gebruik nie.”

Sy hou op asemhaal, lê doodstil.

“Of, wat de hel, kom ons kyk hoe skerp is die lem.”

Hy lag. En sy weet.

Die mes sny diep, bloed vloei warm oor haar wang.

Voetstappe kom nader, die een wat oor haar buig, kyk op na die man wat naderkom. Paniekerig kyk sy heen en weer tussen die twee mans. Hulle is aan die praat. Hulle is opgewerk, die waansinnige uitdrukkings op hulle gesigte ysingwekkend.

Sy moet wegkom. En nou is haar kans, moontlik al een wat sy gaan kry. Hulle is dronk, nie net van drank nie, ook van mag. Dalk is sy gelukkig. Adrenalien bruis deur haar lyf. Blitsig skarrel sy agteruit, spring orent, stamp die man naaste aan haar wat nog op sy hurke sit, van balans af, duik onderdeur die ander een se arm en begin hardloop. Haar hele lyf pyn, maar vrees gee haar voete vlerke.

Agter haar vloek iemand, voetstappe volg haar en sy hardloop vinniger, haar oë op die hoek waar sy weet mense is. Sy druk teen haar wang waar die bloed in strome vloei. Die voetstappe kom nader, sy versnel. Die bliksems gaan haar wragtig nie weer in die hande kry nie. Sy kan vir hulle weghardloop.

“Help! Help!” skree sy ’n ent voor die straathoek, net toe vingers raak-raak aan haar rug.

’n Groepie mense kom om die hoek net toe hande haar weer van agter wil vasgryp. Sy versnel haar pas.

“Help! Bel die polisie!”

Sy word vorentoe gestamp, tussen die mense in. Iemand probeer haar vang, maar sy bly val en val en val. ’n Donker kombers vou haar toe.

*

Pyn. Intens, fel, genadeloos. Sy kry nie haar oë oop nie, sy kan net deur ’n skrefie sien. Waar is sy? Sê nou die aanvallers is nog naby?

“My kind,” sê ’n stem naby haar oor.

“Mamma?”

“Sjuut. Jy’s in die hospitaal. Jy’s veilig.”

Die arms vou weer om haar. Dis anders dié keer. Teer. Beskermend. Haar ma s’n.

*

“Dis nou al drie dae, Nicolas.”

“Ek weet, maar ons meisiekind is sterk. Jy sien hoe lyk sy, maar ten spyte van wat daardie helle aan haar gedoen het, het sy weggehardloop. Sy gaan oukei wees. Hou daaraan vas.”

Kris hoor die stemme verlangs. Pappa en Mamma? Dit klink soos hulle. Sy moet seker haar oë oopmaak, maar die wolk waarop sy dryf, is sag en geruisloos en daar is nie pyn nie. Niks, niks pyn nie.

“Wat sê die polisie?”

Polisie? Hoekom praat haar ma van die polisie? Kris beur haar oë oop.

Wit mure. Hoë bed. Pype. Hoekom al die pype? Pyn. Dis minder as sy nie beweeg nie.

“Kris, liefie!” roep haar ma uit en kom nader. “Kristine, my kind.” Trane loop oor haar ma se wange. Sy vat haar hand, druk dit styf teen haar lippe.

“Kris?” Haar pa leun oor haar, soen haar voorkop.

Sy soek in die kamer rond. “Simon?” vra sy.

Haar pa en ma kyk vir mekaar.

“Hy is nie hier nie, my kind.” Haar ma kyk haar nie in die oë nie.

Haar pa pers sy lippe opmekaar. “Hy wil jou glo nie só sien nie. Ek gaan die dokter roep.” Hy verdwyn uit die kamer.

Haar kop is vol watte, hier en daar wil-wil ’n beeld deurdring. “Wat het gebeur?” Sy vat aan haar gesig. “My gesig?”

En toe onthou sy. Angs druk haar keel toe. “’n Mes. Hy’t ’n mes gehad.”

“Daar is ’n sny aan jou wang, maar die dokter reken hulle kan dit mooi regmaak. Maar ag, my kind, ek dank die Liewe Here jy kon wegkom voor hulle jou verder seergemaak het.” Haar ma se stem breek in ’n snik en sy druk haar hand.

Haar pa is terug. Hy tel haar ander hand op.

“Die dokter is op pad. En die polisie wil ook met jou praat. Ek weet nie wat jy onthou en of jy kans sien daarvoor nie?”

Kris staar na die pypie wat drup, drup, drup bokant haar kop. “Ek onthou alles. Die straatlig was flou, maar die twee mans se gesigte sal ek nooit vergeet nie. Hulle het my ingewag en tot in die stegie gesleep.”

Hortend vertel sy wat sy onthou. Die tentakels van die angs wat sy ervaar het, wil-wil haar lamlê. Maar sy weet sy moet praat. As sy net een keer alles hardop gesê kry.

  • 1

Kommentaar

  • Sjoe, dit is darem baie bitter erg as so iets gebeur. Baie spannend. Klink belowend om te lees - haar reis na genesing. Boeiend geskryf - hou die aandag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top