Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Bet-El deur Helena Hugo

  • 2

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Helena Hugo

Die veelsydige Helena Hugo was al onder meer aktrise, dramaregisseur, dramadosent en uitgewer. Sedert 1995 skryf sy voltyds en ’n indrukwekkende 77 boeke het al uit haar pen verskyn. Bet-El is dan die derde en laaste aflewering uit ’n boekereeks by Lux Verbi en volg op die gewilde Mispa (2016) en Elim (2017).


Opsomming

Bet-El
Helena Hugo

Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320520

Die oorlog dreig terwyl Mispa en Elim se mense ook die hart se stryd moet besleg. Daniël met sy horrelvoet en sy ongeneeslike begeerte na die meisie wat hom verraai het, het die goeie weg gekies, waarvoor hy liefde van sy vrou Anna ontvang. Anna, die verstandige, sy wat so begeer dat haar man net moet sê hy het haar lief ... Op daardie pynlike aand voor die mans oorlog toe vertrek, weet geliefdes wat mekaar dalk nooit weer sal sien nie net dit: God sal sy kinders seën, hulle wat naby Hom bly.


Uittreksel

Dis vroeg, nog skemerdonker. Daniël is soos gewoonlik al op en uit, watter tyd van die nag nou weer, weet Anna Catharina nie. Die oggendbries, wat die kantgordyn lig, is verfrissend koel teen haar wang. Sy verwelkom die lafenis. Januarie, Februarie en selfs Maart was ondraaglik warm en sy olik, lig in die kop en mislik – veral as sy soggens die reuk kry van pruttende koffie of eiers wat bak. Praat nie van halfgaar niertjies en lewer nie!

Sadrag se Dina, wat met Bekka op haar rug in die kombuis probeer handgee, was nie veel van ’n aanspraak nie en het haar geduld tot die uiterste beproef. In een ding is sy haar voor. Swangerskappe. Haar maandsiekte het maar die tweede keer weggebly, toe vertel Dina haar hoekom sy naar word van kookmelk en net flou tee in haar lyf kan kry.

“Die melk makeer niks. Jy is in die ander tyd,” het sy haar reguit gesê.

Haar maag het gedraai, die mislikheid het in haar keel opgedruk. Al het sy dit in die stilligheid vermoed, het sy dit nie so gou verwag nie. “Jy lieg,” het sy kastig gestry. “Dis die melk en die wors. Jy’t te veel vet ingemaal.”

Sy was tegelyk skaam en trots.

Dina het mieliepap opgeskep, hare vir haar aangegee. Sonder melk. “Hoeveel maande?”

“Verlede week twee,” het sy met ’n mate van selfvoldaanheid toegegee.

“Tel veertig weke van die eerste dag wat jou man by jou gelê het. Dis hoe lank jy gaan loop.”

“Jy sê niks vir Sadrag voordat ek met Daniël gepraat het nie!”

Daniël en Sadrag was vir ’n week lank buiteposte toe en sou eers oor drie dae terugkom. Dampies, wat op vyftienjarige ouderdom klaar was met meester Elie se skool en op Elim ingeval het, het met die swaar werk op die werf gehelp. Sonder Daniël en Sadrag het hulle nogtans harder as gewoonlik geswoeg. Saans wou sy huil van uitputting. Sy het Dina se raad gevolg en die fraaie Pears-almanak wat aunty Meredith vir haar present gegee het, geraadpleeg. Om seker te maak het sy by die tweede week in Januarie begin, die weke omtrent tien keer sorgvuldig oorgetel, veertig soos ’n optelsom uitgewerk en by middel Oktober uitgekom. Nog drie dae, dan sou Daniël terug wees, eers dan.

Dit was die eerste keer vandat hulle op 5 Januarie getroud is dat hy haar vir langer as vier en twintig uur alleen gelos het, en op so ’n ontydige tyd. Vandat sy besluit het om hom te vertel, het haar hart oorgeloop van angs. As hy iets moet oorkom en sy bly alleen agter, het sy haarself wysgemaak, treur sy haar dood. Die huis was leeg sonder hom en hulle bed … Hulle bed was nie meer hulle bed nie, net ’n lêplek vir een wat nie tot rus kom nie en skaars asem kry in die bedompige kamer, so benoud omdat sy bang was en die vensters dig toegemaak het. Motte en ander vlieënde insekte het teen die ruite vasgevlieg. Die getrippel van knaagdiertjies en die geseil van slange op die houtvloer het haar heelnag uit die slaap gehou. Annatjie se gees het gereeld die kamerdeur oopgestoot en na binne gesweef, ’n wit fladdering teen die mure.

“Help my, liewe Jesus, om myself nie allerhande dinge in te prent nie. Ek is groot, ek is ’n getroude vrou. Help my om dapper te wees,” het sy hardop gebid.

Intussen was sy te bang om die kers op te steek, ingeval haar vrese bewaarheid word.

“Laat Daniël asseblief vroeër terugkom, asseblief, asseblief tog.”

Sy het haar arms om haar lyf geslaan, haar knieë opgetrek, gewag vir die slaap wat weggebly het – en vir Daniël. Hoe het sy nie na hom verlang nie.

Hy kon haar van hul eerste huweliksnag af nie uitlos nie. Sodra hy sy lê langs haar kry, trek hy haar nader. Soms skuif hy haar nagrok oor haar skouers af, soms begin hy by haar voete en vou sy hande om haar enkels, dan haar kuite. Sy hande streel die dag se moegheid uit haar lyf, hy werk haar op tot sy haar skaamte verloor en aan hom vat waar sy nooit gedink het om aan ’n man te vat nie. Die donkerte is haar medepligtige, die hitte van die afgelope dag haar verskoning om haar voor hom uit te trek. Sy het vermoed dis hoe getroudes mekaar liefkoos. Dat dit so maklik kom, het sy nooit kon droom nie.

Haar ma het haar net mooi niks gesê nie, behalwe dat sy hoop Daniël is ordentlik genoeg om nie te veel van haar te verwag nie. Haar beste vriendin Henriëtte Benade het haar bang gepraat met die grusaamste besonderhede uit haar suster se ongelukkige huwelik.

“Maak jou oë toe en dink aan die see,” was tant Hester se raad. “Verduur, dis gewoonlik gou verby.”

Nie met haar en Daniël nie. Hy kan met haar aangaan tot sy uitasem is. Sy het hom lief, van sy breë voorkop af tot by sy skewe voete. Hy het die dierbaarste manier om te sidder elke keer wanneer hy sy saad in haar stort. Dan hou sy hom vas tot hy bedaar, en sy wag vir hom om te sê dat hy haar liefhet.

“Dis gedoen,” het hy op hul eerste huweliksnag verklaar. “Jy is nou myne.”

Vergeefs het sy toe al gewag vir die woorde wat sy die graagste wou hoor: Ek het jou lief, jy is my enigste ware liefde.

Vir hom het sy dit by herhaling in haar gedagtes gesê.

Klankloos. In stilte, met trane in haar oë.

Ek het jou lief! het haar hart geskreeu. Ek het jou lief!

Het jy my lief? wou sy hom vra, maar sy was te bang vir die antwoord.

Geduld, het sy haarself gemaan, dis wat jy nodig het. Wees geduldig en lydsaam. Maak hom gelukkig. Hou hom gelukkig.

Daniël was uit sy vel uit verheug om te hoor sy verwag.

“Ek sal bly wees as dit ’n seun is, maar ek hou ook van dogtertjies. Wanneer?”

“Iewers in Oktober. Ek dink vroeg.”

“Saam met die lentelammers.”

  • 2

Kommentaar

  • Irene Cornelissen

    As ek nie reeds Helena Hugo se boeke hoog op my leeslys gehad het nie, en dit my eerste kennismaking met haar werk was, sou ek nadat ek die uittreksel gelees het, die boek gaan koop het. Wie kan daar ophou en nie meer van die mense wil weet nie? Want Hugo se karakters is altyd mense - mense wat vir jou bekend is en oor wie se optrede jy begaan is. In hierdie gedeelte, gewis die mooiste beskrywing van 'n liefdestoneel wat ek nog in Afrikaans gelees het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top