Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Andolet deur Petronel Louw

  • 1

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Petronel Louw

Petronel Louw se liefde vir mense is die inspirasie en muse wat haar noop om te skryf. Sy begin op hoërskool in A5-swartbandboekies haar eerste stories skryf, maar dit is eers in haar veertigerjare dat sy die moed bymekaar skraap om ’n manuskrip in te stuur vir keuring. So is Jy is myne alleen in 2015 gepubliseer. In 2016 volg Hartsplan.

Twee kortverhale, Die Wals en Kortpad is in Keur onder die naam Ronelle le Roux gepubliseer.

Haar kortverhaal "Die Vlieë" is in 2016 in ’n spookstoriebundel, Skrik op die lyf, gepubliseer. Dit is ’n mylpaal vir Petronel, aangesien bekende skrywers se werk saam met hare in die bundel vervat is. Hierdie verhaal is ook onder die naam Ronelle le Roux geskryf.

Haar jongste publikasies is ’n lekkerlees novelette Net ons twee wat in November 2017 as ’n e-boek vrygestel is, gevolg deur haar derde Romanza, Liefste omgeeman in Desember 2017. Andolet is haar eerste SuperRomanza.


Opsomming

Andolet
Petronel Louw
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799388978

Dit is 1899. Oorlede Simon, Andolet se aanneempa, bemaak haar, soos ’n besitting, as bruid aan ’n onbekende pionierboer, Christian Nitze, woonagtig op sy plaas in die verre Duits-Suid-Wes-Afrika. Sy reis saam met haar diensmeisie, Leila na die vreemde, nuwe land. Christian daag nie op om haar in Walvisbaai te ontmoet nie, maar stuur sy nors neef, Ferdinand, om ’n proksiehuwelik met haar te sluit. Die uitmergelende tog met die ossewaens van Walvisbaai, deur Swakopmund na Windhoek, leer haar oor meer as net die barre Dorsland waardeur hulle trek. Dit laat ’n vlam tussen haar en Ferdinand ontspring, maar dit mag nie. Sy is, ná alles, ’n getroude vrou.

Andolet maak vroeg kennis met die onrus tussen die Herero’s en die boere. Dit noop haar en Leila om by Dawid se mense, die Boesmans, in die wildernis te gaan wegkruip totdat Ferdinand haar uiteindelik na Heimat, Christian se plaas, toe vergesel. Haar skuldgevoel toe Christian haar verwelkom, laat haar haar liefde vir Ferdinand sonder sukses onderdruk.

Haar lewe is in gevaar toe dit bekend word dat die hoofman van die Herero’s haar wil ontvoer. Die aankoms van haar sogenaamde Franse familie begin egter stadig haar ware identiteit ontbloot.

Terloops: Die proksiehuwelik, ook genoem ’n handskoenhuwelik, was meer algemeen as wat ons in die moderne tyd besef. Toegang tot kerklikes wat bevoeg was om mense in die huwelik te bevestig was nie altyd moontlik in die bos nie, en die kuisheid van toentertyd het gemaak dat ’n ongetroude vrou nie saam met haar aanstaande sou kon vertrek sonder ’n chaperone nie.


Uittreksel

Een

1899

“Indien u gereed is, kan ons maar met die lees van die testament begin.” Oom Wim loer vraend oor sy ronderaambrilletjie na die aanwesiges.

Andolet knik liggies. Sy wil nie hier wees nie. Dit maak pa Simon se dood ’n werklikheid. Sy luister met ’n halwe oor na oom Wim. Haar oë volg ’n vlieg se gang. Van die lessenaar na die vensterbank, van die vensterbank na die venster. Vry in vlug. Of dalk nie, want die venster is toe. Sy haal diep asem.

Tant Minette frons afkeurend na haar. Andolet se oë wip terug na waar oom Wim agter die massiewe lessenaar sit. Monotoon dreun sy stem voort.

“...al my bates, wat die volgende insluit: Eerstens...”

Dit voel asof sy al weke aaneen huil. Sy sug en loer lusteloos na haar beeld in die glasvenster van oom Wim se boekekabinet. ’n Ronde lyfie in ’n ongemaklike, onooglike, outydse swart rok ingepers. Sy verlang na haar gemaklike broek en hemp, al het tant Minette haar verbied om dit te dra.

Sy sug weer. Die ongemaklike leerstoel laat haar rug pyn. Sy skuif effe na links. Die skielike stilte laat haar weer op oom Wim fokus. Sy oë is sag, simpatiek op haar gerig.

“Is jy wel, Andolet?”

Sy wil haar kop skud en sonder ophou gil, maar sy knik net effentjies, soos wat tant Minette dit in haar ingemoker het. Sy simpatieke stem laat trane opnuut vrylik oor haar wange drup. Sy grawe weer haar sakdoekie uit haar mou en vee oor haar gesig. Sal daar ooit weer ’n tyd kom dat sy “wel” sal wees? Sy dink nie so nie.

“Hier is die gedeelte oor wie die plaas erf.” Oom Wim bly vir ’n kort rukkie stil voordat hy keel skoonmaak.

“My plaas C’est la Vie laat ek aan herr Christian Nitze na, met alle roerende en nieroerende bates ingesluit.” Daar volg ’n doodse stilte. Dit rek en rek, totdat die betekenis Andolet soos ’n voorhamer teen die voorkop tref. Die dreuning begin van ver af deur haar kop rammel, soos magtige waters, sonder keer. Die woorde refrein. Haar hand dwing haar bewende lippe om nie te gil nie. Sy is nie die erfgenaam van C’est la Vie nie? Sy loer versigtig links, na waar tant Minette en oom Koos sit. Was dit nie vir die omstandighede nie, sou sy haar in hulle gesigsuitdrukkings kon verkneukel het.

Oom Koos blaas soos ’n gans. Sy ronde gesig is bloedrooi van verontwaardiging, sy gepofte wange dril en wikkel soos Sondagjellie. Hy rem ongeduldig aan sy boordjie. Tant Minette se mond is in ’n dun afwaartse kurwe vertrek, haar oë woedend.

“Verskoon my, herr Veenstra.” Tant Minette se skril stem sny deur die gelaaide atmosfeer. Oom Wim se stem raak stil. Hy kyk op, sy gesig vraend: “Ja, madame Du Pré? Is iets onduidelik?”

Tant Minette staan stadig op. “Hoe durf daardie lamsakkige broer van my die plaas aan ’n vreemdeling nalaat? Daar swoeg my seun Philippe dagin en daguit om die plaas te laat floreer en hy word nie eens in die testament van die hooggeagte Simon Valois benoem nie?” Haar stemtoon klim.

“Dis ’n skreiende skande dat sy aangenome dogter nie eens die plaas erf nie. Sy is nou wel nie bloed van sy bloed nie, maar nog steeds. Ek gaan prosedeer, ek sal dit nie aanvaar nie! Ek en Koos het ons afgesloof om Simon se lewe vir hom makliker te maak ná sy verlamming en dis die dank wat ons kry? Oor my dooie liggaam gaan die plaas na ’n vreemdeling toe. Dit kom Philippe toe!” skreeuspoeg sy die laaste woorde woedend uit, haar gesig in ’n lelike grimas vertrek.

Oom Wim wag ’n wyle voordat hy rustig antwoord: “Ek is bevrees dit is ’n wettige dokument, madam Du Pré.” Hy kug. “U sal net u geld en die hof se tyd mors om die testament te betwis. Sit gerus en luister na die hele testament voordat u u verder ontstel. Dit mag dalk ’n paar verrassings oplewer.”

Tant Minette is nog nie klaar nie. “Kyk, my broer se verstand het hom duidelik in die steek gelaat. Waar is hierdie sogenaamde erfgenaam? Moes hy nie teenwoordig gewees het met die lees van die testament nie?”

“Mevrou, ek verstaan dat dit vir almal hier teenwoordig ’n groot skok is, maar glo my, Simon was so normaal soos ek en u. Herr Nitze is ’n Duitswester wat welbekend is as ’n man van formaat. Uit die aard van die saak is dit nie vir hom moontlik om hier teenwoordig te wees nie, want hy boer naby Gobabis in Duitswes. Sit, asseblief, Madame.” Hy kyk tant Minette afwagtend aan terwyl sy hom fronsend aangluur. “Asseblief, madam Du Pré,” kom sy stem sag.

Tant Minette ruk haar skouers vererg terug en gaan sit vinnig op die stoel. Haar hele houding skree haar protes uit. Oom Wim hervat die lees van die testament. Andolet se kop draai. Dit voel of sy nie asem kry nie. Sy rem benoud aan haar kraag. Wat gaan van haar word? Wie is hierdie erfgenaam, ene Christian Nitze? Sy het nog nooit van hom gehoor nie.

Oom Wim se stem dring deur haar verwarde gedagtes: “...herr Nitze nie C’est la Vie behou nie, maar ek, Simon Valois, wil dit beklemtoon dat Christian Nitze die somtotaal van die verkoop van die plaas in sy eie onderneming moet belê. Daarmee saam het herr Nitze onderneem om hom in die eg te verbind met my enigste kind mejuffrou Andolet Valois. Ek het alles in ’n brief uiteengesit, wat ná my afsterwe aan Andolet oorhandig moet word.” Oom Wim kyk vir ’n oomblik na Andolet. Empatie straal uit die sagte bruin oë.

’n Swart waas omvou haar. Sy maak haar mond oop en toe, maar daar kom geen geluid oor haar lippe nie. ’n Donkerte sluk haar in.

“Ek sê mos hy was van lotjie getik.”

Andolet sweef stadig terug na die werklikheid met tant Minette se skril stem in haar ore. Sy lê vir ’n oomblik en luister na die woedende relaas van haar tante voordat sy haar oë stadig oopmaak. Oom Wim se angstige gesig kom in fokus. Hy word sonder seremonie deur sy vrou tant Rina weggestoot terwyl sy kloekend met ’n klam lappie naderkom.

“Toe nou, Minette. Jy staan die kind toe. Gee bietjie ruimte sodat die kind kan asem kry. Toemaar, my kind.” Sy vee moederlik en versigtig met die lappie oor Andolet se gesig. Die trane wat uit Andolet se oë vloei, kom al vinniger en vinniger.

Tant Minette klik haar tong ongeduldig en mompel iets van aansit.

Tant Rina sit haar sagte arms om Andolet.

“Toe nou maar, kindjie, so nou. Ai tog. Die skok en al die gebeure was vir jou eens te veel.” Met die laaste woorde kyk tant Rina verwytend na haar man. Sy help Andolet op waar sy plat op die mat voor die groot lessenaar lê.

“Kom. ’n Bekertjie soet tee is wat jy nou nodig het.” Sy word uit die vertrek gelei na die Veenstras se groot kombuis toe.

“Sit daar, hartjie.” Tant Rina skarrel vinnig met haar klein figuurtjie tussen die ketel op die koolstoof en die tafel.

Die eerste slukkie tee se soetigheid laat Andolet se kiewe saamtrek, maar sy drink gehoorsaam die hele koppie leeg.

Tant Rina glimlag meewarig vir Andolet en neem haar hand in hare. “Ek weet alles is oorweldigend, maar ek wil jou vra om tog jou pa se oordeel te vertrou.”

Andolet kyk met verskerpte aandag na tant Rina.

“Weet Tante iets van die saak af? Van die vreemdeling wat C’est la Vie se erfgenaam is?”

Tant Rina knik haar kop liggies. “Jou pa het baie keer, terwyl hy en oom Wim skaak gespeel het, gepraat van sy kommer oor jou en wat van jou gaan word as hy die dag nie meer daar is nie. Hy het alte goed geweet dat nie jou tant Minette of oom Koos of daardie wispelturige neef van jou aan jou enige liefde of genade gaan betoon wanneer hy sy laaste asem uitblaas nie.”

Andolet skud haar kop onbegrypend. “Hoekom het hy hulle dan toegelaat om hierdie laaste jare by ons in te woon? Hoekom,” haar stem raak sagter, “het hy toegelaat dat sy my soos ’n slaaf in die huis behandel?”

Tant Rina sug. “Dis nie alles so eenvoudig nie, my kind. In die begin was hy oortuig dat hy die regte ding doen, omdat daar nie ’n moederfiguur was wat jou kon leiding gee of versorg nie. Veral omdat jy in die begin duidelik ondervoed was en ’n vrees vir mense gehad het. Hy het ook baie skuldig gevoel dat jou tante haweloos was nadat jou oom sy hele erfporsie weggedobbel het. Jou pa het nooit in sy wildste drome gedink dat sy suster in ’n koue, liefdelose en verbitterde vrou sou verander nie. Hy het haar onthou as ’n spontane, vrolike mens, die middelpunt van ’n geselskap. Teen die tyd dat hy agtergekom het sy vergiftig almal en alles om haar was dit te laat, want ’n paar weke daarna het hy die verlamming gekry en was hy soos ’n hulpelose baba afhanklik van haar goeie trou. Gelukkig het hy net voor die aanval sy testament verander en bekragtig.”

Dit is stil in die kombuis. Andolet staar onsiende na die blompatroon op die tafeldoek.

“Tante, wie op aarde is Christian Nitze?” Sy kyk op, haar oë wanhopig. “Pa Simon kon my voorberei het,” fluister sy.

Tant Rina skud haar kop. “Dan sou jy dit nie sonder meer aanvaar het nie. Dit is nie hoe ek jou ken nie.” Haar hande raak besig met die smeer van botter op die varsgebakte skons. “Ek weet nie presies hoe die vurk in die hef steek nie. Jou pa is al jare bekommerd oor ’n heenkome vir jou. Dit is tien teen een wat hom gemotiveer het om tot so ’n stap oor te gaan.”

’n Kuggie klink op. Oom Wim staan in die deur. Hy vee verleë oor sy gesig.

“Ek is regtig jammer dat die nuus so ’n groot skok is, Andolet, maar ek het jou pa belowe dat ek jou nie van sy planne voor sy afsterwe sal verwittig nie. Die res van die testament is in jou afwesigheid aan monsieur en madam Du Pré oorgedra, omdat jy nie verdere belang daarby het nie. Hulle is meer as tevrede dat hulle die ruim dorpshuis hier op Stellenbosch en heelwat kontant geërf het. Hulle het ook onderneem om teen die einde van die week al hulle besittings oor te skuif na die dorpshuis toe.” Hy knipoog ondeund vir haar. “Mevrou Du Pré het verklaar dat Flippie, ag, ek bedoel, Philippe, nog nooit werklik ’n boer was nie en dat hy tog nie die boerdery geniet het nie. Hy praat glo al die afgelope paar maande daarvan dat hy belang stel om ’n leerlooiery te begin en het reeds met mijnheer Dykstra gereël om sy internskap by Dykstra Leerlooiery so gou moontlik te begin.”

Hy tree nader. “Die huweliksplegtigheid gaan eers in Walvisbaai plaasvind, my kind. Jy weet Christian kan jou nie self kom haal nie. In hierdie stadium kan hy dit nie bekostig om die plaas vir so lank alleen te los nie.”

Bekende gevoelens van angs breek in Andolet oop.

Oom Wim gee haar ’n vaderlike kloppie op haar skouer. Hy hou ’n verseëlde koevert na haar toe uit. Sy neem dit huiwerig by hom.

Sy rustige stem is soos ’n anker in ’n stormagtige see. “Gaan lees eers jou pa se brief, dan vergader ons môre ná oggendtee in my kantoor om die detail te bespreek.”

Wanhoop klem soos ystervingers om haar hart. Verwese vra sy: “Wat gaan van my word, oom Wim? Ek wil nie met ’n vreemdeling trou nie. Ek wil teruggaan plaas toe, na Ahmat en Maya toe.”

“Moed hou, Andolet. Gaan lees rustig jou pa se brief, dan vergader ons môre om die detail te bespreek.

Sy pers haar lippe saam om ’n nuwe tranevloed te stuit.

“Jou pa het alles in die brief aan jou verwoord. Moenie hom te hard oordeel nie. Jy weet jy het ’n tuiste hier by my en tant Rina totdat jy jou bruidegom in Walvisbaai ontmoet.”

Tant Rina knik instemmend. “Ja, dis die beste onder omstandighede. Jy was nog altyd soos ’n dogter vir my en oom Wim en dit sal ’n groot plesier wees om jou tot tyd en wyl te huisves. Stap sommer nou saam met my na die gastekamer toe. Jy weet mos watter een, nè? Die lilapers een waar jy altyd tuisgaan wanneer jy hier in by ons kuier.”

Andolet knik dankbaar. Haar klein kleretrommel het in elk geval saamgekom, want die brief wat oom Wim saam met die boodskapper gestuur het vir die lees van die testament, het ’n hartlike uitnodiging van voorlopige verblyf ingesluit. ’n Uitnodiging wat sy sonder meer en dankbaar aanvaar het.

  • 1

Kommentaar

  • Baie romanties met die mooi name, Andolet, Leila ... en die gewone voosgeskryfde temas van plaasromans en dan die kamptige begrip en verbintenis met die inheemses.
    Maar ek is seker Andolet het moed gehou en alles het goed uitgewerk. Dit is so, die onderdrukte gil ... en die kalm uiterlike.
    Klink na 'n cool storie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top