Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Al wat oorbly deur Santie van der Merwe

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Santie van der Merwe

As jong tuisblyma publiseer Santie ’n paar kortverhale in tydskrifte. Toe haar jongste kind universiteit toe is, skryf sy in vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse wedstryd en wen ’n tweede prys vir haar kortverhaal, ’n Dag in Junie. Dit was genoeg motivering om haar hand aan ’n roman te waag.

Twee van Santie se kortverhale, Pers en Die geur van Patchouli is opgeneem in die Universiteit Stellenbosch se Woordfeesbundels van 2017 en 2018.

Haar eerste boek, Gelyke kans en die opvolg, Vandat jy weg is, verskyn in 2015. In 2016 verskyn haar derde boek, Anderkant vergeet en in 2017 verskyn Ver in die wêreld Kittie en Die einde van die storie.

Gelyke kans en Anderkant vergeet was albei finaliste in die ATKV-Woordveertjieprys vir Liefdesromans, al sou haar werk as algemene fiksie kan klassifiseer.

Santie se skryfwerk word gekenmerk deur deurleefdheid en ’n fyn humorsin. Sy word geloof daarvoor dat haar werk van deernis met die mensdom spreek, en sy skryf met insig en sensitiwiteit oor volwasse verhoudings binne, en buite, die huwelik.


Opsomming

Al wat oorbly
Santie van der Merwe
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799390322

Julia Meiring het haar ma verloor toe sy ses jaar oud was. Haar pa is dadelik weer getroud, en sy is deur ’n ongenaakbare stiefma grootgemaak wat byna die teenoorgestelde was van haar liefdevolle ma. Die stiefma het feitlik al haar aandag aan haar laatlammetjie gewy.

Julia val vir haar buurman, Wynand du Toit, se sjarme. Hy is ’n geskeide man, en die pa van twee kinders maar Julia laat haar deur die verhouding meesleur, want Wynand se kinders woon in die Kaap by hul ma, en sy kan hulle heeltemal vermy.

Omstandighede dwing Wynand se eks en haar gesin terug Gauteng toe, en Julia verbreek summier hulle verhouding. Sy sien nie kans om ’n ma te wees nie, en nog minder ’n stiefma.

Haar drakoniese stiefma sterf, en Julia besef weer eens hoe min sy van haar eie ma weet. Sy probeer ’n beeld van haar ma saamflans uit die herinneringe wat haar veel ouer sibbe half onwillig met haar deel. Stadig maar seker besef sy dat haar ma nie ’n engel was nie, dat haar stiefma nie inherent boos was nie, en dat sy dalk vir Wynand weer ’n kans moet gee.

Van der Merwe gebruik ’n baie interessante vertellersperspektief wat leeskring dalk sou wou ondersoek.


Uittreksel

Dis ek

Jy dink waarskynlik jy gaan lewe totdat jy oud en grys is. Jy dink jy gaan jou kinders self grootmaak, jy bid dat jy hulle gelukkig sal sien. Jy weet nie hoe vlietend die lewe werklik is nie. Nie voordat dit heeltemal te laat is nie.

Dink jou in. Dis ’n soel laatmiddag. In Wes-Transvaal word dit byna ongemerk herfs. Dis net die bome se verkleurende blare, die koeligheid saans en die datum op die almanak wat jou waarsku dat die winter naderkruip. Die dae bly somers totdat die winter op jou is.

Jou kind dans dromerig tussen die goue blare, haar gesig na die son gedraai. Jy hou haar deur die kombuisvenster dop terwyl jy aandete voorberei. Jy kap uie en braai dit, verbruin maalvleis. Jy dompel tamaties in kookwater om dit makliker af te skil terwyl jy macaroni kook en ’n gladde witsous probeer maak.

Jou dogtertjie maak nou ’n klomp blare bymekaar en hou dit so hoog as wat sy kan voordat sy dit los sodat dit om haar terug aarde toe warrel. Jou hande staan nie stil terwyl jy jou aan haar verwonder nie. Jy rasper kaas met die rasper wat jy byna twee en twintig jaar gelede op jou kombuistee gekry het. In jou Pyrex-bak, die kleiner een, pak jy lae. Macaroni, maalvleis, witsous, kaas. Macaroni, maalvleis, witsous, kaas. Plattelandlasagne, want jy weet nie hoe om self pasta te maak nie en Jimmy se winkel hou net die heel basiese aan.

Jy sit die bak kos in die temperamentele oond, die een wat reeds in die huis was toe julle hier kom woon het, en los die skottelgoed net so in die wasbak. Vanaand ignoreer jy jou ma se instruksies soos soveel keer tevore. “Was altyd op terwyl jy werk sodat daar nie later ’n hoop skottelgoed is nie. Jy weet nooit wat gebeur nie.” Jou ma is reg. Jy weet nie wat kan gebeur nie, jy weet net wat jy wil hê moet gebeur. Jy wil jou kind se hare lokke draai want dis hoe sy op haar eerste skoolfoto wil lyk. Jy weet dit gaan ’n stryd wees om die reguit haartjies in die lokke in te dwing, maar jy gee nie om nie. Vir hierdie kind gee jy alles wat jy het en al wat jy het, is tyd.

Al is sy al ses, help jy haar uittrek. Maak haar vlegsels los, haal glimlaggend ’n stukkie herfs tussen die fyn goue draadjies uit. “Môre moet ons gaan stap en mooi blare optel, dan pars ons dit,” sê jy vir haar. Jy maak seker die badwater is presies die regte temperatuur en die regte hoeveelheid. Jy dink aan niks anders wanneer sy soos ’n otter die water ingly en gaan lê dat net haar gesig uitsteek nie. Om in die oomblik te lewe is nog nie ’n ding nie en jy het die woord Zen nog nie eens gehoor nie maar jy het die laaste ses jaar die kuns vervolmaak. Die kind se ligte hare waaier soos ’n eksotiese blom onder die water se oppervlak. Jy pik nog ’n stukkie blaar uit die water, sit dit op die bad se rand. Sy wip regop, jy draai die geel doppie van die Johnson’s-babasjampoe af en gee vir haar die pienk waslap wat jou ma omgehekel het om voor haar oë te hou. Al belowe Johnson’s “no more tears”, vat julle twee nie kanse nie. Met jou ander kinders het jy gedink pyn is deel van grootword maar nie meer nie. Jy spaar hierdie kind soveel trane as wat menslik moontlik is.

Die beeld sal in jou siel ingeëts bly. Die broosheid van haar skouerknoppies, die bultjies wat haar ruggraat onder haar wit vel maak. Die wit sjampoeskuim wat jy saggies in haar hare inwerk, die algehele vertroue in haar blou oë.

Jy dra haar toegedraai in ’n bont handdoek kamer toe. Nie omdat jy moet nie maar omdat jy wil. Dit is asof haar tinktinkiegewig jou anker, jou begrond. Jy vryf haar lyfie droog, smeer pienk room aan, help haar om haar sagte geel nagklere aan te trek. Sy het gerek sedert laas winter. Haar slaapbaadjie sit bokant haar smal gewrigte, laat haar nog broser, breekbaarder, eterieser lyk.

Voordat jy met haar hare begin, gaan loer jy in die oond. Die pastagereg borrel en die kaas het reeds gesmelt. Jy stel die oond ’n bietjie laer want jy wil nie hê dit moet te donker bak nie.

In die kamer het sy die lang stroke materiaal al netjies reggesit en sy sit kiertsregop op die stoeltjie voor jou spieëlkas. Sy gee vir jou die blou kam met die lang steel aan. Versigtig kam jy die lang ligte hare uit. Sy vertel vir jou van die boek wat haar juffrou vandag in die klas gelees het. “Die heksie was baie stout en sy het allerhande nare goed getoor wanneer sy nie moes nie. Goggas en spinnekoppe en sulke goed. Toe neem haar ma haar towerkrag weg en sy is net ’n gewone dogtertjie en sy moet in iemand se huis gaan werk. Sy moes hope aartappels skil. Hópe. Die hoop was groter as sy. En sy het gehuil. Ek sal ook huil as ek so baie aartappels moet skil.” Sy maak haar blou blik van joune in die spieël los en draai om sodat sy jou in die oë kan kyk. “Maar sal Mamsie my wys hoe? Ek sal my nie raakskil nie. Net sodat ek weet hoe.”

Sagkens draai jy die gesiggie weer vorentoe sodat jy kan voortgaan met die lokke. “Maar jy hoef nie bang te wees nie, Poppie, jy toor mos nie verkeerde goed nie.”

Julle lag na mekaar toe in die spieël. Sy met die haasbekkie, jy met jou haarwortels wat donker uitgroei. Perfek onvolmaak. “Maar as jy wil, sal ek jou môremiddag wys. Ek gaan môre van daardie lekker nekvleis kook wat ons by Ouma Plaas gekry het, met aartappels daarby.”

Jy weet nie jy gaan nooit hierdie kind leer aartappels skil nie, nooit die vleis sag stowe saam met aartappel en ui in die groen swaarboompot wat jy by jou ma gekry het nie. Jy weet nie jy gaan nooit die foto’s sien waarop haar hare in lokke gedraai is nie. Jy weet nie die tyd wat vir jou oorbly saam met haar is besig om uit te loop nie.

Gelukkig weet jy nie. Want dan sou jou hart net oor en oor bly breek het, en jy sou nie die laaste vreugde kon ervaar nie.

Dis ’n gewone aand. Jy maak tamatieslaai en jou kind dek die tafel, messe en vurke verkeerdom, al het jy haar al male sonder tal gewys hoe. Die bekende ritueel. Toe sy haar pa by die voordeur gaan haal, sit jy dit vinnig reg. Met hierdie kind raas jy nie. Jou man groet jou met ’n skrams soen voordat hy sy hande gaan was.

Julle eet macaroni-en-kaas. Jou man kla daaroor maar eet dit tog, op ’n sny gebotterde brood. Ná ete dek jy en jou poppie die tafel af. Jou man kyk iets op TV maar jy help jou kind om haar skoolklere reg te sit, om haar leesboek terug te sit in haar tas. Jy borsel haar swart skoene af en vryf dit blink. Jy het dit netnou al dik gesmeer met politoer. Daar is nog baie tyd om haar te leer om dit self te doen, dink jy. Jy wil hê die skoene moet blink. Sy is klein, sy sal heel waarskynlik in die voorste ry staan op die klasfoto.

Jy lees vir haar ’n Bybelstorie en nog ’n storie. Die Bybelstorie om haar hartjie rein te hou, die ander een om haar gedagtes soet te hou terwyl sy aan die slaap raak. Jy sit die lig af maar gaan lê by haar tot sy slaap.

Later sit jy vir ’n rukkie saam met jou man en TV kyk, julle kruip saam in, jy in jou bed, hy in syne. Julle maak nie meer liefde nie. Sou jy dit vir oulaas van hom gevra het as jy geweet het dat dit jou laaste nag op aarde is?

As jy geweet het dat jy môreoggend met ’n kopseer gaan wakker word wat jou naar en byna blind laat terwyl jy die lappe uit jou kind se hare woel? As jy geweet het dat jy nie eens vir haar haar pap kan gee nie, dat haar pa dit sal doen want jy wil net nog so bietjie lê?

Sou jy vir jou man sê hy is nie ’n opwindende man nie, maar hy is ’n goeie man as jy geweet het hy sou vir jou ’n pilletjie bring, maar dat dit te laat sal wees?

As jy geweet het dat jy dood sal wees voordat jou kind by die hoek is op pad skool toe, sou jy haar teruggeroep het? Sou jy haar vir oulaas teruggeroep en vasgedruk en die Here gedank het vir die genade van haar menswees?

Sou jy? Of sou jy haar die laaste gewone dag gegun het?

Ek weet jy wil nie verder hoor nie. Want op hierdie oomblik dink jy aan jou huis met die wasbak vol skottelgoed en wasgoedmandjies wat oorloop. Jy dink aan die klere wat soos siellose wesens oor die strykplank hang. Maar veral dink jy aan jóú kind, jóú man. Maar onthou: Hierdie storie is nie joune nie. Die storie is myne. Ek is Amelia en ek is dood ná ’n aar in my kop gebars het toe ek veertig was.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top