
Foto: Canva
Du Plessislaan 61
Die huis was reg oorkant die laerskool in Du Plessislaan 61. “’n Drieslaapkamerhuis met twee oë en ’n neus. Geen mond. Seker ook maar goed.”
Lika kom van die skool af.
“Hallo, Mamma,” sê Lika.
“Is dit seer, Mamma?”
Stilte.
Lika roep haar hond en gaan buite toe.
“My ma het nou niks tande nie.”
“Huh?”
“Sommer niks.”
“Nee man, wat sê jy?” vra Betsie terwyl sy die bal in die lug gooi.
“Sy spoeg nou bloed in die piepiepot. Haar nuwe tande maak haar te séér.”
“Gaan ons nie korfbal oefen nie, Lika?”
“Nee. Gaan huis toe.”
Daardie aand eet hulle slap pap met botter.
Die volgende oggend maak Lika die piepiepot leeg. Sy spoel dit onder die kraan.
“Môre, Mamma.”
Sy sit die pot en ’n rol toiletpapier op die bedkassie neer.
Stilte.
“Ek gaan laat wees vir skool. Totsiens, Mamma.”
Stilte.


Kommentaar
Edna laat 'n my hier diep nadink oor die verskil tussen 'n huis en 'n ware tuiste.
'n Ware tuiste gaan oor veel meer as net die sigbare en uiterlike indrukke van 'n gebou, maar eerder vêr meer oor die mense wat dit bewoon, die blywende herinneringe wat ons van hul het, asook die ervaringe wat ons gehad het en watter impak dit op 'n mens as kind in jouvormingsjare mag hê.