Dryfhout – ’n snaarstywe spanningsroman

  • 0

Dryfhout
Chanette Paul
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799348828
Prys: R200.95

Klik hier en koop Dryfhout nou van Kalahari.net!

Die eerste boek in die reeks was Springgety. Dit speel af op die fiktiewe dorp Kruisbaai, waar speursersant Gys Niemand en Faantjie Fortuin ’n raaiselagtige moord moet oplos: Springklip het nóg ’n slagoffer geëis en Lily Reyneke, wat pas op Kruisbaai haar intrek in die vissershuisie “Visvrou” geneem het, is sterk onder verdenking. Volgens Chanette Paul was Springgety nie geskryf met ’n reeks in gedagte nie, maar ’n jaar of wat later verskyn  Fortuin. Dit speel weer in die Niemandsdorp-omgewing af, en Gys en Faantjie moet weer ’n moeilike saak oplos. Beide boeke het sterk vroue-hoofkarakters en in albei speel die romantiese verhaallyn ’n groot rol. Chanette Paul het met Springgety ’n leemte in die spanningsgenre raakgeskryf en met Fortuin haar merk as skrywer van romantiese spanningsromans gemaak. Hierna was die reeks gevestig: lesers het by die skrywer en uitgewer begin navraag doen oor die volgende boek. Op Fortuin volg Boheem, daarna Meetsnoer, en nou is die laaste boek in die Gys-reeks, soos dit onder lesers bekendstaan, op die rak: Dryfhout

Dryfhout open met die beskrywing van die eerste moord op Kierangbaai. Min wetende van wat op haar wag, neem Aengel Rousseau haar intrek in Kieranghut, een van sewe vissershuisies op Kierangbaai wat almal gerestoureer is. Haar hele lewe deur moes Aengel hoor dat sy onbesonne is – iets wat beslis nie by die ryk Rousseaus se status en beeld pas nie. Ter wille van haar dogter, Lika, het Aengel haar suster Gabrielle en dié se man, Francois, se inmengery en voorskriftelikheid verduur. Maar noudat Lika klaar met matriek en in Frankryk is vir ’n gap-jaar, het Aengel genoeg gehad. Sy wil haar eie lewe lei, weg van haar suster en die familieplaas op Franschhoek – onbesonne of nie. En sy wil rustig die dagboeke van haar voorouer Angelique d’Avignon lees. Vir jare wonder sy, wat die eerste blonde erfgenaam van hierdie voorouer is, oor die dagboeke, die seewatersteen en blou skulp wat sy saam met haar blonde hare geërf het, asook die vreemde testamentêre voorskrif dat sy nie haar hare mag sny nie. Nou is die dagboeke uiteindelik klaar vertaal uit die oorspronklike Oksitaans. Aengel het egter skaars op Kierangbaai haar intrek geneem, of sy ontdek iets grusaams.

Een na die ander word Kierangbaai se inwoners vermoor. Roark, eienaar van Kierangbaai, sien alles raak wat op Kierangbaai gebeur: hy is alewig op die balkon met sy verkyker. En Aengel ontglip nie sy aandag nie. Sy is volgens hom “verloklik genoeg om ’n sugar daddy te hê”, met “rondings waar dit nodig is – suid en noord van die dun middeltjie” en ’n agterstewetjie wat g’n man sal koud laat nie. Maar die pièce de résistance is haar strawberry-blonde hare wat “kronkel en krul tot op haar stuitjie” (24). Die vonke spat vinnig tussen Roark en Aengel, want die aantrekkingskrag tussen hulle is sterk.

Maar die wantroue loop net so sterk. 

Amptelik is adjudantoffisier Gys Niemand met verlof, maar ’n tekort aan personeel dwing hom om die saak te neem. Die verdagtes word vinnig meer soos Gys begin uitvis, en boonop is die eerste slagoffer Faantjie se niggie. Faan, wat nou kriminologie studeer, meld hom ongevraag aan om met die ondersoek te help. Gys en Faan smee vir oulaas kragte saam om die moordenaar vas te trek, en sodoende ook die legende van die visvrou van Kruisbaai, wat soos ’n goue draad deur al vyf boeke loop, op te los.

In ’n onderhoud na die publikasie van Meetsnoer sê Chanette Paul dat die tipiese leser van die spanningsroman baie slim lees. “Dis glad nie maklik om hulle aan die raai te hou oor wie die skuldige is sonder om haar te kul nie.  […]  Die spanningsroman is eintlik ? spel tussen leser en skrywer. Die een probeer die ander uitvang en uitoorlê. Die leser verwag van die skrywer om haar genoeg leidrade te gee om agter te kom wie die skuldige is, maar dit so goed as moontlik te versteek sodat sy eers teen die einde doodseker kan wees wie dit is. Die skrywer probeer natuurlik die leser so ver moontlik om die bos lei. En dis moeilik. ? Bitter klein dingetjie kan die game te gou weggee – selfs net ? enkele woord op die verkeerde plek.” 

Hierdie spel het Chanette Paul góéd leer speel. Haar karakters is besonder deeglik ontwikkel, warmbloedig en so eg dat jy enigeen op straat sou kon herken. Hulle is veelvlakkig en interessant – selfs dié wat aanvanklik half onsensitief en agterbaks voorkom, wys gou ’n ander, sagter sy wat jou aanvanklike oordeel ondermyn. Roark het dit reggekry om my woedend en week te maak; hy is arrogant, meng alewig by ander se sake in en het beslis ’n god-kompleks, soos sy broer Mac hom beskuldig. Soos Aengel het ek menige maal getwyfel of hy te vertroue is. Maar terselfdertyd is hy deernisvol, opreg, passievol en vuurwarm in die bed. Die ruwe Mac, wat jy byna altyd met ’n bier in die hand op sy stoep kry, het my op sy beurt so bekoor dat ek regdeur die boek gehoop het hy is nié die moordenaar nie. Want ’n verdagte is hy beslis, soos byna al die karakters.

Die skrywer plaas haar leidrade (en red herrings) slim en laat jou elke kort-kort na ’n nuwe verdagte gryp. Skaak, dít is wat sy met haar leser speel, en sy bly jou een stap voor. Vanaf die proloog, waar sy haar eerste slagoffer so ewe voorstel aan die leser, bou sy haar plot slim op. Jy weet net genoeg van Miempie om van haar méns te maak, iemand met wie jy kan identifiseer, met wie jy deernis het, en dan slaan die moordenaar toe.

Om vyf boeke in ’n fiktiewe ruimte te laat afspeel, sit ook nie in enige skrywer se broek nie.  Jy moet die ruimte werklikheid maak sonder die hulp van herkenbare bakens. Vanaf Springgety is die Niemandsdorp-omgewing regdeur al vyf boeke slim uitgebrei en opgebou.  In Dryfhout kan jy weer al dié plekke saam met Aengel naloop; Kruisbaai, Niemandsdorp en Kierangbaai het die gevoel van bekende en gereeld-besoekte plekke. Sommige lesers het selfs al by die skrywer navraag gedoen oor waar op die kaart hierdie plekke is! 

Hierdie is die beste boek in die Gys-reeks: daar is genoeg diepte, romantiek en ’n paar stomende liefdestonele om die romantiese leser gelukkig te hou, en dié staan in perfekte balans met die spanningslyn, vinnige tempo en gedetailleerde beskrywings van slagoffers en  polisie- en forensiese prosedures. Hierdie twee aspekte – die sterk spanningslyn en romantiese liefdesverhaal – speel in ’n goeie romantiese spanningsroman in op mekaar, voed mekaar, ondermyn mekaar.

Dit is duidelik dat Chanette Paul die balans tussen spanning en romantiek met elke Gys-boek ál fyner ingestel het. Dryfhout hóú jou aandag; jy hou aan lees agter die oplossing van die moorde, die bekende karakters se neweverhale, die legende van Annie die visvrou, die liefdesverhoudinge – selfs verwysings na karakters uit die vorige boeke – aan. (Want dit is mos lekker om te weet wat intussen van Lily van Springgety en ander karakters geword het – hulle voel dan hoeka soos verlangse familie.) Die pas is vinnig, die spanning deurgaans snaarstyf.

Met Dryfhout bewys Chanette Paul dat sy die romantiese spanningsroman en reeksboeke deeglik bemeester het en met reg onder die topverkopers van dié moeilike genre in Suid-Afrika haar plek gevind het. 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top