Droomvanger

  • 9

Droomvanger

Foto: Canva

Sy kan die ritssluiter van die tent nie betyds oopruk nie en braak net daar op die grondseil. Tussen die geroeste welsynblikkieskos met voorverlede jaar se vervaldatum op.

“Kind, los die hond en kom help my skoonmaak.”

Die kind kyk nie op nie. Is hy wragtig besig om afgekoude beentjies wat by die

straatbrak se pens uitsteek, uit te trek?

“Maak Ma se eie kots skoon,” reageer hy. “Ek moet die hond help; hy het niemand nie.”

            Net daar, tussen die braaksel, stof en hondebloed, gaan sit sy op die matras met die urienkolle. Kop tussen die bene. Die Here moet haar help. En vinnig ook. Hoe het dit gebeur dat sy en die kind hier beland het? Hier in Kamp Daisy, waar alles behalwe blomme groei?

            Die hond tjank. Lek die kind se hand.

            “Ma, die hond moet by ’n vet uitkom,” sê die kind en steek sy hand onder die matras in.

            “Los ons rent-geld uit.”

            “Fok die rent, Ma, vir wat moet ons rent betaal? Dis staatsgrond. Kosie-hulle maak verniet of die kamp hulle s’n is.”

            Die braaksel brand haar keel. Skroei haar brein. “Dis reg, vat die fokken geld. Loop mors dit op ’n brak wat anyway beyond repair is. Laat Kosie maar weer my lip kom dik bliksem. Solank jy net ’n brak kan red wat stupid genoeg is om ’n spul oorskietbene te vreet, maak dit tog nie ’n moer saak wat met jou ma gebeur nie.”

            “Honger genoeg, Ma. Nie stupid nie.” Die kind vat die laaste bietjie geld onder die matras en stap met die hond in sy arms by die tent uit.

 

“Here, wat het van my geword? Hoe het dinge so skeefgeloop?”

            “Jy weet goed.”

            Sy druk haar hand teen haar bors. Dit voel asof die droomvanger gloei. Wat het die man nou weer gesê toe hy dit voorverlede week vir haar gegee het, nadat sy haar lyf vir ’n boksie sigarette verruil het? En praat die Here sowaar nou met haar? Soos destyds met Moses in die braambos?

            Sy temper haar taalgebruik. Die Here is en bly die Here.

            Die droomvanger voel warm onder haar vingers. Soos haar passie vir die kind se pa – ’n ander twaalf jaar gelede. “Ja, ek weet. Ek het my met ’n paar Black Labels tot in die ander tyd in laat verlei en nou sit ek met die gemors.”

            “Watse gemors?”

            Haar vingers brand. “’n Kind wat net wil pap vree... eet en elke afvlerk versorg terwyl hy nie eens homself kan versorg nie.”
            “So dis verkeerd dat jou kind met ’n hart vol empatie geseën is? En dis sý plig om na homsélf om te sien?”

            Vlamme lek aan haar hart. “Natuurlik nie! Dis mý plig om na my kind om te sien. Maar ek kan nie, want die fokken man het my net so laat staan! Gesê die kind is nie syne nie.”

            “Het jy aangedring op vaderskaptoetse?”

            Die vlamme kruip na haar brein. “Vir wat moet ék dit bewys? Ek weet wat gebeur het! Buitendien, sy ou vrek van ’n ma het geld. Hulle sou my vir brekfis opgevreet het in die hof.”

 

“Ma, wat máák jy?”

            ’n Brandpyn skiet deur haar arm toe die kind haar hardhandig aan die arm ruk.

            “Los my, ek praat met die Here.”

            “Fok tog, Ma! Wil Ma die tent afbrand?”

            Stadig maak sy haar vingers oop. Die boksie vuurhoutjies glip uit haar hand en val tussen die braaksel en die blikkies. Die droomvanger – verskrompelde repies as. Net die draadraamwerk het behoue gebly. Dis dan dit. Die Vader het nie regtig met haar gepraat nie. Daarvoor is sy te waardeloos. Te stukkend.

 

“Wat sê die veearts?” vra sy heelwat later toe sy langs die kind op die matras inskuif.

            “Hy het die hond uitgesit. Hy’t te seer gekry. Buitendien brandsiek gehad.” Die kind se stem voel leeg. “Hy’t gesê dis reg, ek hoef nie te betaal nie. Ek het die geld teruggesit onder die matras.”

            Sy wil haar ore toedruk. Die doodsheid van die kampbestaan is duidelik hoorbaar in haar kind se stem. “Ek is jammer oor die hond – oor alles. Ek weet jy wou net help.”

            Die kind se lyf ruk.

            “Jy vloek darem maar lelik vir ’n kind van jou ouderdom.” Waarom sy nou juis hierdie onderwerp ophaal, weet sy nie. Sy weet dis onbillik om die kind te verwyt omdat hy nie ’n regte kind is nie – dis immers nie sy skuld nie.

            Die kind draai sy rug op haar en ’n paar minute later hoor sy aan sy asemhaling dat hy slaap. 

 

“Ek weet Ma het van die droomvanger gehou. Hier is goed waarmee Ma dit kan regmaak.” Die kind hou ’n sakkie uit en toe sy daarin kyk, sien sy stukkies wol, krale, linte en ander versiersels.

            Sy kyk weg. Wat het sy gedoen om steeds die kind se liefde te verdien? “Waar kry jy die goed?”

            “Ek het ou Kosie se vrou gehelp water aandra, toe gee sy dit vir my.”

            “Jy moenie met daardie mense meng nie.” Sy voel skuldig toe die lag uit die kind se oë verdwyn. “Jy is naïef – soos ek lank gelede was. Dit gaan jou nog in die gat kom hap.”

            Die kind loop uit. Praat oor sy skouer: “Ou Kosie se vrou kan net so min vir sy dinge help as ek vir Ma s’n.”

            Lank nadat die kind weg is, krap sy in die ou gereedskapkissie wat sy by die vullishoop opgetel het. Kom op ’n geroeste tang af. Gewapen met die tang, die verinneweerde droomvanger en die sakkie wat die kind vir haar gegee het, stap sy na die rivier.

 

Naaldekokers dans om die leë blik wat in die water dryf. In die verte roep ’n piet-my-vrou. Al bly hulle in ’n kamp, is daar darem iets moois naby hulle. Die rivier.

“Jy maak nie reg met die kind nie.” Weer hoor sy die stem van die vorige aand.

            Sy knik. “Ek weet.”

            “Kinders kan nie gestraf word vir die sondes van hul vaders – of moeders – nie.”

            Sy byt op haar onderlip. Haal ’n kort blou lint uit die sakkie. Blou soos die hemel wat daardie dag, toe die man haar net so gelos het, stuk-stuk op haar neergewetter het.

            “Jy weet die man het jou bloot misbruik? Hy sou jou in elk geval gelos het, of die kind daar was of nie.”

            As dit die Vader is wat met haar praat, waarom die seermaakwoorde? Die Almagtige is tog veronderstel om genadig te wees? Jou dor hart met trooswater nat te giet?

            Sy ryg ’n geel lintjie uit die binnegoed van die sakkie. Geel soos die son daardie dag toe sy haar eerste werk by die pizzarestaurant gekry het. Die droom om na haar eie woonstel te trek – weg van haar ma en pa en die suur wynbottels – was binne bereik. Twee maande se tips sou genoeg wees vir ’n deposito.

            “Die goed wat jy onthou, gister se drome, dis nog nie te laat nie, weet jy – as jy één maal uit jou omstandighede kon wegkom, kan jy dit weer doen.”

            Stof spat in haar oë toe sy na ’n graspol skop. “Wat het dit my in die sak gebring? Skaars drie maande, toe donner ek my nuwe lewe op.”

            “Jy het ’n fout gemaak – enige mens kan. Dis wat jy daarná doen wat saak maak.”

            “As die pizzaplek my nie gefire het oor ek preggies was nie, sou dinge anders verloop het.”

            “Hou op! Hou op om ander te blameer. Ja, jou lot is met ander verbind, maar soms moet jy daardie band afsny en jou eie paadjie vind.”

            Sy diep nog ’n lint uit die sakkie en ryg ’n kraal daarin vas. Haar oë swem en sy kan die kleure nie sien nie. Dis waar; die pizzaplek was nie die enigste plek wat vir haar ’n werk sou gee nie – maar sy was jonk en bang en verward. Met niemand om by raad te vra nie. Allermins haar pa en ma met hul ewige gesuipery.

            “En wat doen jy nou aan jou kind? Is jy ’n beter ouer vir hom as joune vir jou?”

            Sy ruk die graspol met haar kaal tone uit die grond. “Ek drink nie.”

            “Toegegee, maar wat is selfbejammering anders as ’n doofmiddel?”

            Die droomvanger klingel toe sy dit teen ’n klip vassmyt. “Ek probeer darem ’n tuiste skep vir die kind.”

            “Ha! ’n Tent vol ou kots.”

            Die droomvanger voel koud toe sy dit optel en ’n swart kraal daaraan vasknoop. Die stem praat die waarheid. Sy het haarself – en haar kind – gefaal.

            “Liewe Vader, wat moet ek doen om dít wat ek verbrou het reg te stel?”

 

Die kind steek by die tent se opening vas. Fluit deur sy tande. “Sjoe, Ma! Wat het hier gebeur?”

            Trots beduie sy vir hom om aan te sit by die tafel wat sy van ou kratte geprakseer het. “Ek het ou Kosie se vrou gehelp om haar huis skoon te maak – in ruil vir groente uit hul tuin. Môre gaan sy my help om ’n bietjie te tof sodat ek werk kan soek. In ruil daarvoor gaan ek, sodra ek op my voete is, háár help om van ou Kosie af weg te kom. Ons ballingskap is verby, my kind.”

            Daar is ’n knop in haar keel toe sy die genot op haar seun se gesig sien terwyl hy aan die feesmaal van swaarverdiende groente en welsynblikkieskos smul.

             In haar gedagtes hoor sy die worshond se weentjank en sy bedank hom stilweg dat hy die eerste spoortjie van haar en haar seun se nuwe lewe help vind het.

Sy verbeel haar die droomvanger wat sy bo die matras vasgemaak het, knipoog toe sy sê: “Seun, van vandag af is ek en jy nie meer niemand nie. Ons is Nickie en Jan-Frederik Bothma van Kamp Daisy. Ons is mense. Ons het ’n toekoms, want die Vader is vir ons net so lief soos vir daardie hondjie wat daardie vet gister moes offer. Maar anders as daardie hondjie kry ons ’n nuwe kans.”

 

  • 9

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top