ek het laas gedroom ’n lang gedig
verskyn onder my naam
daar was baie blaaie vel op vel
en hoe het ek nie aan- en aangeblaai nie
is gedwing (soos in drome) met oë
wat swik
om later na die begin weer terug te keer
as titel sien ek toe
staan daar in blou gedruk:
onderhewig of kontrakont
– ’n woord waarvan Magritte iets sou kon maak –
van die gedig self onthou ek redelik min
(behalwe dat beelde soos spore gesny is)
ek dink alles was ’n lank verlore sin


Kommentaar
Hallo Waldemar
Magritte se vriendekring skrywers het blykbaar 'n vername rol gespeel in die maak van titels vir Magritte se skilderye en daar was glo ook 'n wisselwerking tussen woord en beeld en veral die betrokke denkpatrone en maniere van dink verbonde daaraan "a whole game used to unfold around secondary ideas thrown up by the paintings, either through a process of association, or the reverse, through dissociations." Aldus Jaques Meuris onder die opskrif "Writing, thought" op bladsy 215 van Meuris se boek Rene Magritte uitgegee deur Tabard Press.
Toe ek bostaande werk deur jou gelees het, het die inhoud my dadelik herinner aan die verduideliking wat ek aanhaal en presies aan waar dit verskyn.
Miskien wil jy nou die lang gedig waarvan jy droom en waaroor jy yl aanpak?
Vriendelike groete
Henk Seymore
18 Oktober 2013.
Dankie Henk vir die skakels en iets vd stramien van RM se werk. Iewers het hy geskryf oor sy nagtelike drome: "Ik herinner ze mij met grote vreugde. Het is als een overwinning voor mij,wanneer het mij lukt mijn droomwereld terug te halen."
Dalk droom ek die lang gedig nog eendag uit.