
Carl Friedrich Deckler, A Farewell of Hector to Andromache and Astyanax (foto: https://www.pinterest.com)
1.
Andromake
te jonk is jy dood my eggenoot
te jonk is ek vir weduweeskap
ek reeds vader- en moederloos
ek het getreur
ek het probeer treur
sal treur
as astyanax vra na jou
op wie se knie hy kon sit
blinkmond van skaapvet en -murg
bitterder kan ek nie wees nie
bitter oor jy nie kon sterf oud soos priam
in my arms in ons bed
met die reuk van kamp harslag perdesweet
aan jou harde lyf
oorlog is vir mans sê jy
weef en lyke afwas vir ons
trotse hektor
jou moord maak van jou bruid ‘n slavin
in die huis
van jou kind se moordenaar
2.
Hekuba
Ecuba trista, misera e cattiva,
wie dra my seun se lyf terug na troje na troje wat stink na reeu
wie glip sy lyk soos ‘n dooie papie uit Apollo se kokon
wie gaan my dogter offer wie gaan my hoor blaf soos ‘n teef
wie het geglo toe ek droom van slange en fakkels
wie kon my keer toe ek polimestor verblind
wie bly oor as die hoop van troje met hom op die baar
daai hakskeenwetter daai kinderverslawer
daai verwyfde smyter van die verbronsde speer
wag wag ek vir paris se wraakskoot
apollo se vertroosting
3.
Helena van Troje
wie is oor as my vriende hier in illium
stad van my jagse saggesigbeminde
jy perdefluisteraar kaalgestroop op die houte
is ek te ydel om van my hare uit te pluk
my neer te gooi en my wenkbroue te skroei
hom sou ek op sy skild wou sien terugkom
gouelokkies met die melkbaard
oor jou ween ek man met die vlammende helm
oor jou weeklaag ek