Titel: Helene de Kock Keur 4
Skrywer: Helene de Kock
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798177580
Drie van Helene de Kock se ouer romans word saam in hierdie bundel uitgegee.
Digby Grootgewaag vertel die verhaal van drie susters, Zia, Bettina en Carola, se lief en leed. ’n Verhaal van diep, intense liefde; van offervaardigheid en ootmoed. Die hoofkarakters worstel almal met aanvaarding – nie net van hul eie lewens nie, maar van die liefde en van ander. Carola se jeugdigheid laat haar verlief raak op ’n sepiester, terwyl Zia die slagoffer van ’n ryk, pretensieuse, liefdelose man was. Bettina blyk almal se staatmaker te wees, maar sy het ’n donker verlede wat haar gaan inhaal.
Die boek is oorspronklik in 1983 deur Tafelberg uitgegee.
In Kronkelpad na Vergenoeg kom besoek Tessa, ’n internasionale konsertpianis, haar mense in die Oos-Vrystaat. Sy is as klein dogtertjie van haar beste maatjie, Mossie, geskei en met haar terugkoms vind sy uit dat die lewe nie net uit hoogtepunte bestaan nie. Haar lewe is in Italië en konsertsale regoor die wêreld waar sy met haar klavierspel bekoor, maar haar hart het in die Riemland agtergebly. Sy moet luister na haar hart se versugting van internasionale roem, maar haar voete is stewig op die Vrystaatse aarde by ’n bruingebrande man met oë soos waterpoele, wat maklik vertroebel as hy seerkry. Hoe gemaak om daardie twee wêrelde te probeer versoen?
Die boek is oorspronklik in 1986 deur Human & Rousseau gepubliseer.
In Sonder winter is dr Karen Marais ’n vrou wat liefde geken en weer verloor het. En dan kry sy die kans om daardie liefde terug te wen wanneer sy na die platteland terugkeer. Maar daar het baie water in die see geloop sedert sy vier jaar tevore haar koffers gepak het en Londen toe is.
Die boek is oorspronklik in 1979 deur Human & Rousseau uitgegee.
Al drie boeke speel in die Riemland in die Oos-Vrystaat af en Helene se beskrywings van die omgewing; hoe na die boere aan die natuur leef; die wye oop vlaktes wat mense se harte en siele vernuwe, is aandoenlik en tasbaar. Jy is onmiddellik daar op die plase en kan byna die ou plaashuise se plankvloere hoor kraak as die wind deur die bome suis. Jy ken uit jou eie kinderdae die stiltes in daardie kolossale plekke; hoe, as daar om ’n groot seer geleef word, niemand die seer by die naam wil noem nie, maar almal weet dit is daar.
Die eerste twee boeke volg op mekaar en dis een van my gunstelingstyle. Ek hou daarvan as jy die karakters van kindsbeen af leer ken en dan saam met hulle stap tot hulle self kinders het. Dit maak volronde karakters van wie jy swaar afskeid neem. En des te beter as dit in een boek kan wees, dat jy nie hoef te wag vir ’n opvolg nie.
Die laaste boek is aansienlik dunner as die ander twee en voel byna te skraps om behoorlike karakterontwikkeling toe te laat. Hoewel die hoofkarakters ’n geskiedenis het en die hele hofmakery dus nie nodig is nie, is die storie se lyf vir my effe te yl. Dis die oudste van die drie boeke en dit is natuurlik te verstane dat Helene toe nog besig was om haar stem te vind. Dit doen egter vir my afbreuk aan die eerste twee in hierdie keur.
In die eerste twee boeke is die Grensoorlog en die nadraai daarvan deel van die storie: óf een van die karakters is die slagoffer van die oorlog óf die oorlog word die finale breuk tussen twee mense.
In die tweede boek word ’n rehabilitasiesentrum opgerig vir soldate wat vermink of gestremd terugkom van die grens af.
Mens vergeet so gou die hele generasie wat direk deur die oorlog geraak is; en nog te meer die geslagte daarna wat dit met hulle gaan saamdra. Ek was baie klein tydens die oorlog en het die gegewens vanuit ’n romanperspektief baie insiggewend gevind.
In 1988 is Kronkelpad na Vergenoeg benoem vir die ATKV-prys vir goeie gewilde prosa. Helene het verskeie pryse op haar kerfstok en een van haar boeke, Somersneeu, was ’n finalis vir die ATKV Woordveertjies (2010) in die kategorie liefdesverhale. Sy gee gereeld lesings oor die skryfkuns by die ATKV Skryfskool en spreek gereeld leeskringe toe.
Helene is ’n ervare woordsmid en dat sy uitgeknip is om met woorde te toor, is gewis. Ek het die boek oor die algemeen baie geniet, maar sou tog die laaste verhaal weggelaat het uit hierdie bundel. As jy ’n Helene de Kock-aanhanger is, is hierdie egter net die boek om heeldag in ’n sonkol te sit en lees.

