drie gesange vir die somer

  • 5

Foto: Canva

drie gesange vir die somer

 

I

dié somermiddag
is ’n groen
waatlemoen
wat hol klink
as jy daarop klop
wat met sonsondergang
rooi en soet oopbars
met die witte
hitte
wat oor baie dae
geabsorbeer is as
gestolde koel kroon
swart pitte
wat skille word
as die nag
eindelik effe koeler raak

II

sing van die somer
wat uitbundig
groen gedy –
oorvloedig
oordadig
bykans losbandig
onder die snikhete wit
van ’n geilgeel son
en ’n hemel
wat blou
bo ons
in vol blom staan

laat hierdie blink seisoen
in jou ingelê bly
gaar die warmte
in jou kern op
sodat dit helder
by jou sal bly
jou vergesel
wanneer die kort winterdae
strak en stroef
soos ’n stiefma word
jou stil binnewaarts keer
die uitbundigheid demp
en jou vul met heimwee
na die eenvoud
na die vreugde
van hierdie ongekompliseerde
oopgesig-dae

III

die somer is hier
in volle swang
sy son hang swaar
sy son hang skerp
swetend op jou wang
taaipitsoet
soos ’n geelperske
en dryf soos ’n blink boot
helder deur die hemel
se deinings
se see
van dynserig blou
swyend smag ons
na die nag se skone hawe
van kalm waters
van moeë rus
die koelte
van ’n sagte seebries
vol van sout
vol belofte
en stille versugting

  • 5

Kommentaar

  • Somer en winter het elk sy eie ritme en die natuur maak dat ons elkeen kan waardeer. Mooi gedoen.

  • Johan van der Watt

    Kosbasr en roerend mooi!
    Dankie, dankie en dankie vir geskrewe woorde wat my siel nou so behaag en voed.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top