Draak-sprokie-kompetisie: Waar kom drake se vuur vandaan?

  • 0

Het jy al gewonder oor hoe drake met hul tonge vuur kan toor? Ek weet. Wil jy ook weet?

Dit alles gaan oor wat hulle eet, dis wat ek nou weet.

Ek het eers nie geweet nie, so ek het almal gevra. Ek het eerste my oupa gaan vra. Oupa sê drake eet beet, dis hoekom hul oë en vuur so rooi is.

Ek dink nie so nie! Dis iets anders, beslis!

Ouma sê drake eet lemoene en appels, dis hoekom hul tande het soos ’n jakkals.

Ek dink nie so nie! Drake se tande is baie groter as dié van ’n jakkals!

Pappa sê drake eet net brood, want hulle is groot.

Ek dink nie so nie, en ek soek voort.

Mamma sê drake eet rissies en vissies, want hulle het skubbe en vuur op hul lippe.

Dit kan miskien wees, maar ek móét seker wees!

Sussie sê drake eet meisietjies en seuntjies.

A nee a! Sies! Sy maak my sommer vies!

Boetie sê drake eet niks, want daar bestaan nie so iets nie.

Ek dink nie so nie! Dit is nie waar nie!

Oom Gideon sê drake kom van die son en leef op sonstrale.

Dit kan miskien wees, maar ek moet seker wees!

Tannie Bets sê drake eet alles en dit maak hulle vet.

Sy het ’n punt beet, maar ek moet meer weet!

Lyk my niemand weet wat ek presies wil weet nie. Ek gaan nou wag tot die son opkom, dan sal my antwoorde seker kom.

Ek het begin droom en toe begin die antwoorde instroom. Drake eet nie beet nie. Drake eet nie lemoene of appels nie. Drake eet glad nie brood, rissies of vissies nie. Gelukkig eet drake ook nie klein kindertjies nie! Drake eet tamaties, piesangs, aartappels en druiwe. Druiwe gee hulle die skubbe op hul lywe. Aartappels om hul magies te vul. Piesangs eet hulle vir die geel kleur van die vuur. Tamaties help ook vir die vuur – dit maak die vuur rooi en hulle ogies mooi!

Nou weet julle ook wat ek weet: dit gaan alles oor wat die drake eet!

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top