Draak-sprokie-kompetisie: Vuilpes en Skimmeltoon vang ’n vuurspoegperd

  • 1

Dis nog ’n droewige dag in die duwweltjiedorp van Dorreldrup. Vuilpes en haar beste mater, Skimmeltoon, lê plat op die naat van hulle krom ruggies.

Ewe skielik sit Vuilpes kiertsregop en kondig selfvoldaan aan: “Ou Skimmeltjie, vandag vang ons ’n vuurspoegperd!”

Skimmeltoon trek haar neusie op en vra ongelowig: “Wat vir ’n ding is ’n vuurspoegperd?”

Vuilpes skud haar koppie verwoed. Sy moet ook alles verduidelik! “’n Vuurspoegperd is een van daardie groot groen, stekelrige perde wat vuurbobbels spoeg. Hulle woon oorkant die Dorreldruprantjie en ek en jy gaan vandag een vang!”

“Nee dankie,” sê Skimmeltoon ewe kalm.

“Wat!?” roep Vuilpes uit. “As ons ’n vuurspoegperd vang, gaan ons Dorreldrup se grootste dappers ooit wees! Al die tjoklitkoek in Dorreldrup gaan ons s’n wees! Ek het in elk geval ’n flaterlose vangplan in gedagte!”

Skimmeltoon kry ’n skynsel in haar skewe ogie toe sy “tjoklitkoek” hoor. “Ek luister!” kondig sy skepties aan.

“Al wat ons moet doen, is om daardie ou verrimpelde vrot vuurspoegperd met ’n goeie skoot water te gooi, want almal weet dat vuurspoegters korrelklein krimp in water! So maklik is dit!” Vuilpes is besonder beïndruk met haar vangplan en glimlag breed. “So, ou Skimmeltjie, is jy in?”

“Dis blerrie briljant!” roep Skimmeltoon uit. “Ek is defnislis in! Tjoklitkooooeeeeeek! Hier kom ek!”

En so is Vuilpes en Skimmeltoon toe daar weg met Dorreldrupdrome van dapperheid en drama. En natuurlik met ’n groot emmer water om ’n vuurspoegperd te vang.

Vuilpes en Skimmeltoon loer oor die Dorreldruprantjie en sien die vuurspoegperd sit heerlik en bakkies broei in die son. Een goeie gooi en daardie ou spoegter is niks meer as ’n snotkol nie!

“Goed Skimmel, as ek nou so sê, dan gooi jy daardie vuurspoegperd papsopnat!” Maar ou Skimmeltjie is so opgewonde dat sy onmiddellik die spoegter gooi, en met dié net sy stert raakgooi.

“Oooeeee poefpaf in ’n papbord!” gil Vuilpes. “Hardloop, Skimmeltjie, hier kom die ou spoegter en hy is dorreldwaas!”

Vuilpes en Skimmeltoon hardloop so vinnig as wat hulle kan, met die vuurspoegter kort op hulle hakke. Hy is heeltemal van balans af met sy kortgekrimpte stert en spoeg wild en wakker om die twee stertkrimpers by te kom. Vuilpes se boudjies is aan die brand en Skimmeltjie se drie bokstertjies is al heeltemal afgeskroei!

“Vat so, julle simpel snotsnuiters! Dis die laaste keer wat julle met ’n vuurspoegter mors!” brul die ou spoegperd van agter. Hy is heeltemal uitgespoeg en klaar gejaag en al wat hy kan doen is om te kyk hoe die twee Dorreldruppers klein raak soos hulle weghardloop.

Terug in Dorreldrup is Skimmeltoon vreeslik vies! “’n Vuurspoegperd vang!? Dis die papste plan wat jy nog ooit gehad het, ou Pestilensie! Ek vang nooit weer niks saam met jou nie! Nee dankie!”

“Watwou, Skimmeltjie! Noudat ons klaar die spoegter se stert gekrimp het, moet ons nog net sy lyf en kop krimp! Môre is nog ’n dag en môre is daardie ou vuurspoegter ons s’n!” Vuilpes glimlag breed en sê: “Aanhouer wen, ou Skimmeltjie!”  

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top