Draak-sprokie-kompetisie: Rede vir partytjie op Draakfontein

  • 0

Op die eerste dag van die Jaar van die Draak besluit Driekus Draak om sy vuurblasery te staak.
Alles het goed gegaan, totdat sy krag af gaan.
Hy was so honger en swak, en hy moes nog sy toebroodjies vir môre pak.
Hy het gedink: “Net een vuurtjie vir die stofie …”
Hy het maar die versoeking weerstaan, en buite gaan staan.
Al die drake van Draakfontein het reeds buite rondgestaan.
Driekus het besef dat daar groot probleme was, want die hele Draakfontein was in as!
Piet Polisiedraak het probeer uitvind wie of wat die skuldige was.
Ansie Ambulansdraak het gehoop dat niemand beseer was.
Hoekom was Draakfontein vol as?
Driekus was nog steeds baie honger en nou ook dors.
Ben Bullebakdraak het rondgehardloop, breëbors.
Piet Polisiedraak het onraad vermoed
en agter Ben Bullebakdraak aangehardloop, maar sonder sy hoed.
Ben Bullebakdraak het skielik geval met ’n vreeslike knal.
Met dié slag het Piet Polisiedraak op Ben Bullebakdraak geval.
Ben Bullebakdraak het begin huil, want sy nuwe hemp was ook nou vuil.
Al die drake van Draakfontein het begin wonder wat gaan van Ben Bullebakdraak word,
en of die misterie van die as opgeklaar gaan word.
Riaan Regterdraak het al die feite in die vinnige hofsaak bekyk
en besluit dat Ben Bullebakdraak onskuldig lyk.
Die hele Draakfontein was ongelukkig en verbaas.
Driekus se maag het al begin raas!
Sarel Slimdraak het Draakfontein se drake probeer stilmaak.
Na ’n lang gesukkel en gesweet kon almal nou begin weet wat hy nog altyd weet.
Hy het hulle verduidelik van ’n vulkaan, ’n paar meter weg van die oseaan.
Die vulkaan se naam was Vulkade, en word aktief elke dekade sedert presies 100 jaar gelede.
Draakfontein was verstom, en Driekus se maag het harder begin grom.
Sarel Slimdraak het verder vertel dat die elektrisiteit nog ’n week of wat moet wag.
Almal het weer gesug, Driekus was al op sy rug …
Danie Domineedraak het almal wel rustiger gemaak.
Hy het hulle vertel dat hulle self maar hul kos moet maak, soos hul oupadrake en oumadrake dit moes maak.
Hy het verduidelik dat hulle hul eie vuur moet gebruik.
Hulle moes maar hul gasstofies gebruik
om te kan eet, drink en selfs te kan stryk!
Dit het sin vir die hele Draakfontein begin maak en almal het gelukkiger begin raak.
Petro Partytjiedraak het opgespring
en ’n partytjie aangekondig
vir die aand, en ook gesê dat al die drake niks partytjie toe hoef te bring!
Sy sou sorg vir al die kos en koeldrank
om Sarel Slimdraak, Danie Domineedraak en selfs Piet Polisiedraak te bedank.
Driekus het skielik regop gespring, want hy hoef niks te bring!
Die Draakpartytjie begin vieruur. O ja, moet ook nie vergeet:
Nou gaan Driekus Draak saam met die hele Draakfontein lekker koeldrank drink en baie baie lekker eet!

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top