Draak-sprokie-kompetisie: ’n Psycho-sprokie

  • 0

Dis omdat sy links skryf, sê haar ma altyd. Dis hoekom sy so anders as ander kinders is. Die “arbeidsterapeut” het gesê haar ma praat “loutere onsin”. Die aand het Benji dit gaan naslaan en gesien dit beteken “nonsens”. Sy’t gewonder hoekom die arbeidsterapeut nie maar kon “nonsens” sê nie. Dit was iets wat ál die “terapeute” wat haar “evalueer” het, die afgelope paar jaar gedoen het. Groot woorde gebruik.

Maar Benji dink haar ma is eintlik reg. Dis oor sy links is. Want dis oor sy links skryf dat sy so in die klas kan sit en vir Ricco kan kyk. En óók omdat sy agter in die klas sit. Sy sit altyd agter, anders voel sy vasgevang. Die terapeute noem dit agorafobie. Sy het gesit en kyk na Ricco se arms, gewonder hoe dit sou voel as hy haar vashou en toe, net toe lui die klok en juffrou Obermeyer sê: “En dit, klas, is wat dit beteken om met iemand die draak te steek.”

Die res van die dag sukkel sy met ’n kompulsiewe gedagte: ’n “mental picture” van ’n draak wat gesteek word met messe en die draak bloei. (Haar terapeute het haar die woord kompulsief geleer. Dit beteken jy kan dit nie stop nie.)

Op pad huis toe raak die sak op haar rug al hoe ongemakliker en teen die tyd dat sy by die huis is, krap en jeuk die sak so, sy pluk dit af. Al ding is, dit wil nie af nie. Die sak steek vas. Nee, dink sy, die sak klou vas. Toe sy na haar skaduwee kyk, sien Benji dit duidelik: die silhoeët van ’n draak op haar rug.

“Sal jy asseblief van my rug afklim?” vra sy. (Goeie maniere is belangrik, sê haar ouma altyd.)

Woerts, klim die draak af en kom staan op die grond voor haar. Duidelik is hy ook goed grootgemaak.

Benji sien sy uitpeuloë, vlymskerp tande en bloedrooi vlamtong. Orals op sy lyf is groen- bruin kolle. Sy lyf is stekelrig en hy’t twee draderige vlerke.

“Haai.” Dis vir Benji nie vreemd dat hy kan praat nie.

“Haai,” groet sy terug. “Wat’s jou naam?” vra sy.

“My naam is Sistematiese Desensitasie,” antwoord die draak.

Benji kyk geskok na hom. Hoe op aarde moet sy nou so ’n belaglike lang naam onthou?

“Dis ’n moeilike naam,” antwoord Benji diplomaties en hoop die draak raak nie kwaad nie.

“Ja,” antwoord die draak. “Maar dis ’n maklike konsep.”

“Wat bedoel jy?” vra Benji.

“Ek bedoel Mr Sanity het my gestuur om jou te help,” verduidelik hy. “Hy sê die terrible peute kan dit nie net met terapie doen nie.”

“O. Wat is dan nog nodig?” vra Benji.

Die draak staan op en blaas die volgende woorde in wolkies rook uit sy neus: “Pret. Lag. Drukkies. Stap vir stap.”

Hy draai na Benji. “En nou, Benji. Soos hulle in die flieks sê: Let’s get out of here.”

Toe Benji weer sien, is sy in die wolke.

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top