Draak-sprokie-kompetisie: Druïdaad en die droomboom

  • 0

Druidaad rek sy oë wyd oop. Hy is nog vaak, maar is so bang hy vergeet sy droom. Die riete kraak in sy pokkelpote toe hy elke ooglid oop sukkel.

“Dit was die beste droom ooit,” knor hy hardop. Die gras lig toe hy vinnig opspring.

Dis bosberaad vanoggend, val dit hom by. Vandag sal die ander baie beïndruk wees met
hom. Om te dink die diere  soek nou al jare na die oplossing. As iemand net die deur na die mens se droomwêreld kan kry. Met sy groottoon krap hy die plan punt vir punt op die klam grond. Die modder spat teen sy lyf toe hy die “geheime skrif” doodtrap. Nee, besluit hy. Sy droom is sy geheim.

“Leeuloop,” lees die agenda. Vuurtier gesels oor die maand se boskos. De Beer hou ’n praatjie oor winterslape. En so gaan die hele vergadering van sy een oor meter vir meter by die ander oor uit. Al wat Druidaad aan kan dink, is sy droom.

’n Sonstraal kroon om ’n koninkryk groenigheid in die verte. “Die magiese plant!” sê hy in vervoering.

“Weet jy iets wat ons nie weet nie, Druidaad Drakenstein?” brul Leeuloop kwaai.

“Uhm ... Nee. My gedagtes draal ... dwaal ...” kom die woorde swaar uit. Druidaad gee
sommer ’n ekstra-lang oop-oë gaap. ’n Sonstraal blink en wink vir hom. Hy probeer om nie te erg sleepvoetend die sonkroon te volg nie.

Toe hy by die boom kom, weet hy. Dis die boom in sy droom. Hy ruk die boom stadig uit die geil grond. Dan pluk hy die wortels af. Hy werk bietjie sagter met die boom se blare. Baie tevrede strompel hy terug grot toe met sy droomvangers. Dis redelik stil. Druidaad druk ’n bos wortels in sy bek. Hy hik en sluk swaar aan die bitter smaak. Met die blare in sy voorpoot raak hy amper dadelik aan die slaap. Hy voel hoe hy kleiner word. Die blare is nog in sy voorpoot, voel hy. Hy druk die blaarsap uit.

Dan sien hy haar. Dis Mieke se eerste aand in haar kamer. Die bedliggie brand. Daar is prente van feetjies en prinsesse teen haar muur. Die maan, sterre en planete skyn in die plafon. Hy smeer die  blaarsap oor Mieke se oë. Net soos in sy droom die vorige nag, voel hy hoe hy deel word van haar droom.

Hulle speel met  ’n bal op ’n groot groen grasperk. Hy slaan die bal hoog in die lug. Die bal raak kleiner en kleiner totdat dit heeltemal verdwyn.

’n Skerp geluid maak hom wakker. Dis Mieke. Sy skree en skree.

Druidaad ruk sy swaar lyf vinnig regop. Hy voel met albei pote aan sy ore.

“Dit gaan bars! Dit gaan bars!” skree hy terwyl die koue sweet van hom afstroom.

Binne sekondes drom al die diere om hom. Hy kyk verward na hulle.

“Het jy sowaar die nagmerrieboom met wortel en al verorber?” bulder Leeuloop.

En die woud dreun soos die diere skater.

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top