Elke twaalf jaar hou al die drake van regoor die wêreld die Draakspele. Dit is gewoonlik ’n vreeslike gedoente. Vanjaar word die Draakspele gehou in Draaktonië, die oudste en grootste draak-koninkryk. Die wolke was mooi versier, die berge en die heuwels was ook opgedollie, want dis nie aldag dat die Draakspele gehou word nie!
Die eerste item op die program was die Vuurvliegie-ring. Die doel van die speletjie was om deur ’n ring te vlieg wat uit vuurvliegies bestaan. Soos die speletjie aangegaan het, het die vuurvliegiering al hoe kleiner geword, totdat ’n wenner beslis sou word. Die wenner is die draak wat deur die meeste vuurvliegieringe kon vlieg.
Derek het drie ringe deurgemaak, so ook Pokkelpensie en Pienkvoete. Darius het sewe ringe deurgemaak, ’n persoonlike rekord, sowel as ’n nuwe Draakspele-rekord! Die wyfiedrake het mal geraak toe hy as wenner beslis is!
Die tweede speletjie was die Wolke-Neus-Krabber. Die deelnemers moes kyk wie ’n wolk die verste kon stoot met sy neus. Dit was makliker gesê as gedaan, want jy mag geensins geblaas het nie. Gelukkig was dit maklik om te sien, want sodra ’n drakie blaas, trek die vuur by sy mond uit.
Pokkelpensie het hierdie keer gewen! Draaktonië het gedruis van al die gejuig. Almal kon sien dat Pokkelpensie sy spelplan verfyn het. Hy het nog altyd elke item ver verloor, maar hy was steeds ’n gunsteling hier. Hy was die vriendelikste atleet-draak in Draaktonië, en hy het altyd tyd gehad vir die gewone drake wat met hom geselsies wou aanknoop. Die wyfiedrake het ook oor hom gesmeul, maar sagter as met Darius, want Pokkelpensie was pas getroud en baie fikser!
Hoog-Koppie-Spring was volgende. Daar was altesaam vyftien koppies waaroor die atlete moes spring. Die koppies het geleidelik groter geword. Darius het eerste probeer. Hy het die afstand tussen hom en die koppie misgis en geval. Hy het seergekry en kon nie meer aangaan nie. Sommige van die wyfiedrake het selfs begin huil na dié nuus.
Pienkvoete was volgende. Dit was glad nie vir hom moeilik nie en hy het sommer oor drie koppies gelyktydig gespring. Hy was natuurlik die wenner, nog voordat Pokkelpensie en Derek kon spring.
Dit was nou vir jou ’n storie. Geskiedenis! Dit was die eerste keer sedert die Draakspele se begin dat drie drake gelykop was met net een item oor! Draaktonië was in ekstase! Almal het gejuig en gedans! Hier en daar kon jy die gedreunsang vir Pokkelpensie uitmaak. Ander kere kon jy hoor hoe iemand Pienkvoete en selfs Darius se vermoëns toejuig.
Die laaste item was die Vuurblaas, om te bepaal wie kon die verste blaas. Darius het probeer, maar weer gefaal – ai, wat ’n jammerte! Pienkvoete was volgende. Hy het nie juis ver kon blaas nie, want sy gô was behoorlik uit na die vorige item. Pokkelpensie het geblaas... Hy het die spele gewen! Almal het gejuig!
Pokkelpensie was nou darem ook in die geskiedenisboeke, danksy al sy harde oefening.
>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

