Draak-sprokie-kompetisie: Die klein swart wolkie

  • 1

In die middel van die Honderd Akker Bos loop ’n drakie stoksielalleen onder die ou akkerbome. Hy weet nie eintlik hoe hy hier beland het nie. Seker op die gewone manier, maar hy is nie seker nie. Miskien is hy die Heffalump waarvan almal hier praat. Hy sing vir homself ’n liedjie. Hy sing van lettertjies op papier. Die lettertjies het lank gelede hierlangs aangewaai gekom en hy kon dit jaag en vang met die punt van sy vuurspuwende tong. Sy tong het die lettertjies se boude gekielie en dit laat bollemakiesie slaan op die wind voor dit sag te lande gekom het op die blare van die woud. Die diere hou daarvan om na die lettertjies te kyk. Soms rangskik hulle die letters in sirkels en draaie of druk dit tussen hulle tone in.

Deesdae lyk hulle almal maar na Verspotte Verskynsels. Mensekinders glo nie meer aan sprokies vandat hulle realiteit-TV kyk nie. “Dis tog nie rêrig nie!” het hy ’n kind hoor skree toe hy ’n ruk gelede sy kop om die hoek van ’n winkelsentrum hier naby gedruk
het. Die baba in die waentjie het hardop gelag, maar haar sussie het hewig gefrons.

“Kry ’n mens groen skubberige goeters wat hier tussen ons rondloop?” het die kind vir haar ma gevra.

“Natuurlik nie,” het haar moeder haar gerusgestel. “Net in flieks ... jy weet mos.”

Die drakie het ’n klein swart rookwolkie by sy neusgate uitgeblaas en vinnig weggesluip. Net betyds, want die veiligheidswag het aangehardloop gekom.

“Geen rook nie!” het hy geskreeu en wild beduie na die klein swart wolkie wat in die lug bo die sjokoladestafies hang. Die mense het daarrondom begin saamdrom.

“’n Brandblusser ... gou!”

Die klein swart wolkie wat uitgeblaas is, het gelukkig vinnig verdamp.

In die Honderd Akker Bos het Die Beer wakker geword. Hy was soos altyd baie honger en het om hom rondgekyk. In die verte het ’n klein swart wolkie gehang. Hy het by homself gewonder of ’n draak ’n Woeste Dier is. Hy sal vir Uil moet gaan vra.

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 1

Kommentaar

  • Adriaan Coetzee

    liewe biesiesbewe, dit was pragtig, baie geluk. ek kan nie wag om te hoor wat Uil gaan sê nie...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top