Draak-sprokie-kompetisie: Die groen draak

  • 0

Hulle het vriende gemaak toe hy sy kort swaard met die rooi robynstene vir haar gewys het. Sy het haar heldergroen gebreide tjalie van haar skouers laat gly en dit oor die roosboom gegooi.

“Dis ons draak. Die kwaaiste een waaraan jy kan dink.”

Hy het wydsbeen gaan staan en sy kort swaard in die lug geswaai. “Ek is nie bang nie.”

Sy het om haar rondgekyk en toe vir hom gewys dat hy moet wag. Sy het ’n langerige dik stok onder die bome by die hek sien lê. Die huishulp het dit gepluk as beskerming teen die opspringerige honde van die buurt. Die meisie toets die sterkte daarvan deur dit teen die rankroos te slaan. Pienk konfetti reën neer.

“Begin om die draak te bekruip,” beveel sy die seun.

“Wie is ek?” Vra hy op sy knieë.

“Jy is ... my perd.” Sy dink ’n rukkie na en kyk na haar lang stok. “Of jy is ’n ridder. Jy moet my red as die draak my wil doodmaak.”

Dit lyk of die meisie hom byderhand wil hê net as iets dalk skeefloop.

“Bly daar,” beveel sy hom en stap na die roosboom toe waaroor die groen tjalie hang. “Vat so! Vat so!” Sy swaai haar stok heen en weer, koes en swaai, draai in die rondte en spring op en af.

Die seun bly op sy knieë in die agtergrond.

“Kyk die groen draakbloed! Kom help my nou. Hy is amper dood.”

Die seun storm, maar gaan staan dan botstil. Die groen tjalie lê op die grond tussen die roosblare.

“Wat moet ek doen?” vra hy.

“Doodmaak!” gil sy.

Hy deurboor die groen draak, lig dit op met sy swaard en draai dit bo sy kop.

“Klaar!” Hy gooi dit op die grond neer.

Die meisie gaan sit op die tjalie. “En nou mag jy my soen. Jy het die draak oorwin.” Sy hou haar hand na hom toe uit.

Die seun tel ’n blaartjie van die grond af op en gooi dit na haar kant toe. Die meisie trek die gebreide tjalie van die boom af. “Eina,” sê sy toe ’n doring haar steek. Sy val neer op die grond.” Ek gaan nou ’n duisend jaar lank slaap,” sê sy en maak haar oë toe.

Die seun stap weg en steek met sy kort swaard na verbeelde gevaartes in die lug.

“Waarnatoe gaan jy? Wat as daar weer ’n draak kom?”

“Jy weet mos nou hoe om ’n draak dood te maak,” roep hy oor sy skouer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top