Draak-sprokie-kompetisie: Die goue draad

  • 0

Eenmaal was daar in die Lank-lank-gelede-land ’n klein voëltjie wat elke oggend ’n liedjie gesing het. Dan het daar ’n goue draad uit sy bekkie gekom wat so kosbaar was dat mense dit die goue draad van waarheid genoem het. Al was daar ook hoeveel ander skatte in die land, was niks so wonderlik soos die goue draad nie. Dit was vry om rond te vlieg as dit uit die voëltjie se bekkie glip, want dit het die pragtige deursigtige vlerkies van ’n wesp gehad. 

In daardie land was daar ook ’n vreeslike draak. Hy wou die voëltjie vang wat soggens die goue draad uitsing.

“As ek eers die voëltjie gevang en opgevreet het, sal daar nooit weer ’n goue draad van waarheid wees nie!” het hy gesis en ’n klomp vuur gespoeg.

In ’n doringboomstam het daar ’n feetjie gewoon wat die voëltjie met haar towerstaffie moes oppas. Sy het in ’n soet stemmetjie gesing:

’n Duif koer mooi goed oral waar jy gaan,
maar Jantatarat wil alles weet
en Jantatarat sê wat aangaan.

Die draak het dit gehoor en groot geskrik! Dit was die wakkermaakliedjie van die waarheid! Hy wou die feetjie ook in sy kloue kry en opvreet sodat sy nie meer haar liedjie kon sing nie.

Die feetjie het een oggend haar veldkossakkie omgehang, die goue draad daarin gesit en gaan soek na die wysste man wat ooit in die Lank-lank-gelede-land geleef het. Kort-kort het sy haar liedjie gesing om die draak weg te lei van die voëltjie af.

Toe sy uiteindelik met haar towerstaffie teen die wyse man se deur tik, maak die diensmeisie die deur oop en sê: “Die wyse man slaap en mag nie gepla word nie!”

Die feetjie gaan sit toe op ’n vensterbank en sing die wakkermaakliedjie. Die wyse man word dadelik wakker. Maar die draak hoor ook die liedjie en kom aangestorm.

Die wyse man laat die feetjie binnekom en maak die venster styf toe.

“Ai, Oom moet help!” sê sy. “Die vreeslike draak wil die voëltjie opvreet wat soggens die goue draad uitsing, en as die voëltjie eers in sy keelgat af is, sal al die slim mense se slimmigheid niks meer help om die Lank-lank-gelede-land mooi te maak nie, want daar sal mos vreeslik gejok word!”

“Genugtig! As ek maar net die goue draad in my hand kan vashou!” sê die wyse man.

Die feetjie haal die goue draad uit haar veldkossakkie en sit dit in die wyse man se hand. Dadelik verander die draad in ’n goue swaard. Die draak kyk deur die venster en skrik so groot dat hy morsdood neerslaan.

“Nou sal die draak niemand ooit kan bedrieg nie! Die koning van die land sal nie meer na hom hoef te luister nie en almal sal gelukkig wees!” sê die wyse man.

Die swaard het dadelik weer ’n goue draad geword en die feetjie is terug na haar huisie in die doringboomstam en die voëltjie wat die goue draad kon uitsing.

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top