in die draadkarman se opkyk-oë
is ’n storie te vertel
dáár onder by die Skaapskeerdam
langs die Bokkomsvlei Motel
jy sien hom eers in seine
en daarna in sy lyf
hy stoot sy kar tot teen jou
half ongemaklik styf
“as meneer die kar wil hê,
kan meneer hom kry;
al wat ek soek is R20,
dit is genoeg vir my”
hy lig sy kop half statig
en kyk dan op na jou
sy oë is diep en stralend
helder, dog ook grou
jy sien sy somber storie
sy lang verhaal van leed
alles in ’n oomblik
wat roerend aan jou vreet
wil jy dan ’n wyle wag
en gister heroorweeg
jou drange en jou drifte
jou wêreld wild en leeg?
In die opkyk van die draadkarman
lê jou gees se toekomsblik
’n sonopbeeld van gister
in ’n onregbos verstrik



Kommentaar
Goeie werk. ’n Gedig so na my hart. ♥️
Baie dankie vir die plasing Litnet.
Baie dankie Carma!