Hulle het eers drie of vier dae voor die sluitingsdatum besluit om in te skryf vir die kykNET Silwerskerm Filmfees se kortfilm-kompetisie, maar De Plate Kompanjie se eerste kortfilm, Die Buurtwag, het kykers en paneellede in só 'n mate beïndruk dat hulle met drie pryse weggestap het.
Dít weet hulle egter nog nie wanneer ek Dinsdag 4 September met twee van die dryfvere sit vir 'n onderhoud nie - die wenners is eers Woensdag aangekondig.
"Ek het deur my afgelope jaar se skryfwerk gegaan," verduidelik Beer Adriaanse, teksskrywer, "en op die idee afgekom van Die Buurtwag, wat gebaseer is op my ervarings in Durbanville." Adriaanse het die prys vir die beste teks by die fees ingepalm. Verder het Jaco Smit, regisseur, die toekenning vir die beste regie van 'n kortfilm ontvang. Die Buurtwag is ook as die kykerskeuse van kortfilms aangewys.
Met glase halfvol witwyn behaag sit Adriaanse en Smit op die dek van die Bay Hotel in Kampsbaai, waar die Silwerskerm Filmfees afspeel. Die sterre het op vreemde maniere in lyn gekom vir die skep van Die Buurtwag, sê hulle. Nadat die voorlegging vir die projek reeds ingedien was, het Adriaanse bloot tydens 'n middagstappie in Buitenkantstraat, Kaapstad, vir Smit raakgeloop waar hy op 'n stoep gesit het. "Ek het vir hom gesê ons het hierdie projek en gevra of hy betrokke wil wees," sê Adriaanse. Smit het die konsep ge-dig en nie juis lank gehuiwer nie.
Porra van der Merwe (produksiebestuurder), Jaco Smit en Beer Adriaanse
"Dit was baie magical," sê Smit oor die aanvangsproses. "Alles het in plek geval. Ons wou hierdie high profile akteurs gebruik en ek was half bang om hulle te bel ... Maar ná 'n dag en 'n half het ons almal gehad!"
Dié rolverdeling sluit onder meer Deon Lotz, Albert Maritz en Tinarie van Wyk Loots in.
In die Silwerskerm-program word Die Buurtwag so beskryf:
Johan is 'n 34-jarige gesinsman wat onlangs by 'n voorstedelike Kaapse woonbuurt ingetrek het. Ná 'n inbraak sluit hy by die plaaslike buurtwag aan. Dié uiteenlopende groep mense hou hulle egter meer besig om die verveling van die voorstad te probeer verdryf as om die buurt te bewaak, ondanks hul "opperbevelvoerder" (Don) se grootse strategieë. Die aankoms van Johan en nog 'n nuweling, Ayanda, dien as katalisator vir transformasie. Hul grootste aand lê nog voor ...
Die feit dat akteurs van hierdie statuur (en druk skedules) aan boord geklim het, het egter ook 'n nadeel gehad - hulle kon slegs drie dae (16 tot 18 Julie) vasmaak om te skiet. Dié tydjie het egter gevlieg, sê Adriaanse. "Toe ons weer sien, moes ons nog net 'cut away' shots en so aan kry ... Ons het vir die DOP [Director of Photography] gesê hy kan maar voortgaan, ons het in die kar probeer slaap!"
Dit is uiteraard ook nie waar die druk opgehou het nie - op die sperdag waarop die film gepos moes word, het hulle nog die oggend die laaste van die werk aan die klank afgehandel. 'n Effense geskarrel, dus - 'n verskynsel waarmee geen gesoute persoon in die filmbedryf onbekend sal wees nie.
Wat die konseptualisering betref, was hul doel egter dadelik duidelik, die teiken gestel: "Die punt was," sê Smit, "'n mens kan Afrikaanse komedie doen sonder poep jokes en slapstick ... Ons het wel nooit gedink dit gaan só funny wees vir mense nie (te oordeel aan gehore se reaksies) – dit wys ons instink was reg gewees."
Adriaanse beaam die sentiment. "Ons het dit nie weer gekyk voor die première nadat ons dit gestuur het nie. Toe mense in die vertoning begin chuckle en lag, was dit 'n gevoel van ... aaaaaaa ..." (met 'n liggaamsgebaar van skielike, algehele ontspanning).
"Nou kan ons dit met selfvertroue weer doen," sê Smit. "Ses maande terug sou ons nie so gedink het nie."
Foto: Johan Beukes
Foto: Mark Reitz