
Foto: Unsplash.com
Doodsvrees
Vandag het iets in my gesterf
agter ’n masker met blink bergwateroë
‒ saam met ’n hart
wat ek skaamteloos in my gatsak dra
want hierdie keer wou ek só graag
wegstaar na ’n kabbelende droom.
Ek wou jou asem tussen sekondes stop
en vandag afbid in andersom oomblikke
wat die nadraai van ’n nag in sprokiestaal kon herhaal.
Ek wou ’n tipe mensmaking binne jou ontwaak
iets wat almal saam kon dra
met laaste woorde soos:
“Sy het dit vir ons gegee”
al was dit net ’n abstrakte begrip
of ’n verwarde gedaanteverwisseling van gedagtes
iets wat nasies tot vervulling sou bring.
Ek wou my mens-siel in jou laat vlinder
jou trane stop en jou hartklop verdubbel
ek wou jou tot lewe skreeu
want iets in my het vandag gesterf
en al wat ek wou doen was lewe
soos een wat die dood nie vrees nie.


Kommentaar
Uitsonderlik!
Caren hierdie is baie baie mooi en baie diep uitgehaal uit 'n ver stilte uit.
Uitsonderlik
Diep geskryf!
Ontroerend...