Doodsberig: Nelson Mandela

  • 0

Doodsberig: Nelson Mandela

Nelson Rolihlahla Mandela is dood.

Hy is op 18 Julie 1918 in Mvezo gebore en is op 5 Desember 2013 in die ouderdom van 95 in Johannesburg oorlede. In Suid-Afrika en wêreldwyd is Mandela met groot agting bejeën. Hy is dikwels as die vader van die volk beskryf. Hy is ’n Xhosa uit die Thembu koninklike familie en is ook Madiba (sy familienaam) en Tata (Vader) genoem. Van1994 tot 1999 was hy president van Suid-Afrika.

Polities was Nelson Mandela ’n Afrika-nasionalis en demokratiese sosialis. Van 1991 tot 1997 was hy president van die African National Congress (ANC) en internasionaal was hy van 1998 tot 1999 die sekretaris-generaal van die Non-Aligned Movement.

Mandela, wat hom as prokureur bekwaam het, het in 1944 by die ANC aangesluit. Hy het die leier van die ANC se jeugvleuel in Johannesburg geword en in 1952 het hy nasionale adjunkpresident geword. Aanvanklik het hy niegewelddadige verset teen die Nasionale Party-regering voorgestaan, maar ná die Sharpeville-onluste van 1960 het hy die paramilitêre tak van die ANC, Umkhonto we Sizwe, help organiseer om guerrilla-oorlog teen die regering te voer.

In 1961 is hy op ’n aanklag van landsverraad gearresteer, maar hy is vrygespreek. In 1962 is hy weer gearresteer en vyf jaar tronkstraf op Robbeneiland opgelê. In 1964 is hy op ’n aanklag van sabotasie verhoor. In Junie 1964 is hy en ander ANC-leiers in die Rivonia-verhoor tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.

Mandela het 27 jaar se gevangenisstraf uitgedien, eers op Robbeneiland, vervolgens in die Pollsmoor-gevangenis, en daarna in die Victor Verster-gevangenis naby Paarl. In Maart 1980 het ’n internasionale veldtog om sy vrylating die aandag van die wêreld op hom gevestig. In 1989 het FW de Klerk staatspresident van Suid-Afrika geword. Hy het die verbod op die ANC opgehef en in February 1990 is Mandela vrygelaat.

Op 11 Februarie 1990 het Mandela as ’n vry man uit die Victor Verster-gevangenis gestap, sy hand in dié van sy destydse vrou, Winnie. Dit is wêreldwyd uitgesaai en groot skares het hom verwelkom. By die stadsaal van Kaapstad het hy sy eerste vryheidstoespraak gelewer. Hy is daarna op ’n toer deur Afrika en oorsee, waar hy wêreldleiers soos pous Johannes Paulus II, George Bush en Margaret Thatcher ontmoet het. Hy het president van die ANC geword en in Desember 1994 is sy outobiografie, Long Walk to Freedom,gepubliseer. Onderhandelings met die regering op die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (KODESA) het in Desember 1991 in Johannesburg begin. Cyril Ramaphosa het dit gelei, maar Mandela was die sleutelfiguur. KODESA 2 het in Mei 1992 plaasgevind. Mandela en De Klerk het ooreengekom om ’n tussentydse grondwet te aanvaar. ’n Verkiesing is in 1994 gehou en Mandela is as president van die nuwe regering van nasionale eenheid verkies.

’n Nuwe grondwet is opgestel en die Waarheid-en-Versoeningskommissie het plaasgevind.

Mandela is internasionaal geloof vir sy antikolonialisme en anti-apartheidsveldtog. Hy het meer as 250 toekennings ontvang, onder meer die 1993-Nobel–vredesprys, wat hy met FW de Klerk gedeel het, die VSA se Presidential Medal of Freedom en die Sowjetunie se Orde van Lenin.

Verskeie films is op sy lewe gebaseer, onder meer Mandela and De Klerk met Sidney Poitier as Mandela, en Invictus met Morgan Freeman as Mandela. Tans word Mandela: Long Walk to Freedom vertoon.

Mandela het vergewensgesindheid en versoening gepropageer. Hy het by Hendrik Verwoerd se weduwee, Betsie, gaan kuier en gesê: "Courageous people do not fear forgiving, for the sake of peace." Hy het ook tydens die 1995-Wêreldrugbybeker die Springbok-rugbyspan ondersteun. Die Springbokke het die finaal gewen en Mandela het die beker aan die kaptein, Francois Pienaar, oorhandig. Hy het die Springbok-trui met Pienaar se nommer 6 gedra. Dit is beskou as ’n belangrike versoeningsgebaar tussen wit en swart Suid-Afrikaners. Mandela se versoeningspogings het gehelp om die vrese van baie wittes te besweer.

Nadat hy in Junie 1999 uit sy amp bedank het, wou Mandela ’n rustiger lewe lei wat tussen Johannesburg en Qunu sou wissel, maar dit was nie vir hom moontlik om uit die openbare oog te verdwyn nie. In 1999 is die Nelson Mandela-stigting gestig en in 2003 is die Mandela Rhodes Foundation gestig. Mandela was so gesog dat hy weer in Junie 2004 sy uittrede aangekondig het. Teen dié tyd was hy 85 jaar oud en sy gesondheid het verswak. Sy 90ste verjaardag is op 18 Julie 2008 met groot luister, met die vernaamste verrigtinge by Qunu, gevier.

In Februarie 2011 is hy met ’n longinfeksie in die hospitaal opgeneem. Sy gesondheid het stelselmatig verswak. In Maart 2013 het die longinfeksie weer opgevlam en hy is in Pretoria gehospitaliseer. Op 8 Junie 2013 het dit vererger en hy is weer in Pretoria in die hospitaal opgeneem, in ’n ernstige toestand. Ná vier dae is daar gesê dat sy toestand gestabiliseer het, maar steeds ernstig bly. Op pad na die hospitaal het die ambulans onklaar geraak en hy moes 40 minute wag om verder geneem te word. President Jacob Zuma het verklaar dat Mandela uitstekende mediese sorg ontbang en dat die situasie volledig beheer word.

Op 22 Junie 2013 het CBS News berig dat Mandela nie sy oë oopmaak nie en dat hy nie op behandeling reageer nie.

Op 23 Junie 2013 het president Jacob Zuma ’n verklaring uitgereik dat Mandela se toestand kritiek bly. Deurgaans is Mandela deur familie en vriende besoek. ’n Familielid van Mandela het bevestig dat hy op lewensondersteuning is. Hy het op 5 Desember 2013 gesterf.

Dwarsoor die wêreld is Mandela as ’n morele leier beskou. Hy was ’n Afrika-nasionalis, wat ook onwrikbaar in demokrasie geglo het. Hy het versoening as die primêre taak van sy presidentskap gesien en Suid-Afrika se bevolking is die Reënboognasie genoem.

Mandela het drie keer getrou. Sy eerste vrou was Evelyn Ntoko Mase, sy tweede vrou was Winnie Madikizela-Mandela, en sy derde vrou was Graça Machel (née Simbine), die weduwee van Samora Machel, voormalige president van Mosambiek.

Mandela het ses kinders, 17 kleinkinders en etlike agterkleinkinders.

Huldeblyke stroom steeds van oral in die wêreld in.

 

Malene Breytenbach

MA in joernalistiek: “Nelson Mandela: The Creation of a Myth: A Comparative Study of Reporting in Two Cape Town dailies, 1962 to 1990”

 

Terug na die Nelson Mandela Gedenkmuur

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top