Doodmenslik deur WL van der Merwe: ’n resensie

  • 0

Titel: Doodmenslik
Outeur: WL van der Merwe

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 978 1 4853 0895 9

Doodmenslik van WL van der Merwe is ’n bundel pretensielose verse en handel oor die vreugdes en verdriet van die menslike kondisie. Temas van verlange, verlies en verganklikheid kom aan bod, soos die treffende koeplet in die ongetitelde programgedig dan ook die bundeltitel eggo:

wilgers sal gekruisig aan die hemel hang
en ek sal doodmenslik na jou terugverlang    (5)

"die laaste gedig" (bl 9), wat ironies deel I open, tree in gesprek met die bekende vers van die 2011-wenner van die Nobelprys vir Letterkunde, Tomas Tranströmer:

Weary of all who come with words, words but no language
I make my way to the snow-covered island.
The untamed has no words.
The unwritten pages spread out on every side!
I come upon the tracks of deer in the snow.
Language but no words.

die laaste gedig

(…)

Konklusie: ʼn gedig sonder taal, ʼn gedig in wit
strepe op papier sonder verband of betekenis
net ʼn leesteken hier en daar wat sinjaleer:
hier is die graal van stilte in git

Hierdie versugting om te dig vind uiting in verskeie ars poëtikale gedigte, soos “die digter” (16), “koning in my kasteel” (11) en “Umbrië” (19), waarin die beeldhouer se poging om ’n beeld te poets vergelyk word met die digter wat die engel uit die klip probeer verlos, na analogie van Opperman.

Deel I lewer mooi vondste, soos die volgehoue sinestesie in "padwerker" (18), asook die dubbelduidige spel met “hemelbed” in “grafsteen” (14):

berei vir my 'n hemelbed
van rooigrond en potklei
dek my toe met gruis
en maak 'n leiklip staan:

my troos is dat 'n steen
op aarde my onthou.

In deel II is dit die gevoelige inkleding en beskrywing van die sintuiglike wat tref, soos die naggeluide wat uitspeel in ’n minuet (25), asook die verskillende skakerings van grys wat tydens ’n wandeling besing word in "die kleur van grys" (29). Die daaropvolgende vers, "winter" (31), toon progressie wanneer die monochrome landskap heeltemal dormant raak. Die slotstrofe:

aan die Dooiekus
trek God tevrede sy gordyne
dig, gaan slaap gerus. 

Erotika en pornografiese begeerte kom aan bod. In “Lady Godiva” (na die litografie van Salvador Dali) (32) word die spreker se seksuele drang na ’n vrou gesuggereer deur die gebruik van gebroke rym en ruitermetaforiek. Die  ouerwordende man se seksdrif as voyeuristiese dobbelspel word in teenstelling met laasgenoemde onderbeklemtoning eksplisiet verbeeld in "peepshow, Amsterdam" (35). Die rooiligbuurtverse in hierdie deel sal nie in alle lesers se smaak val nie.

Tematies betrek deel III oorlogservaringe en gepaardgaande geestelike verwonding – 'n tanende religieuse bewussyn en geloof in God, soos dit dan ook gestalte vind in “my godsbegrip” (41), asook die Ou Testamentiese parodie in “en toe was daar God” (45). (Ongelukkig gaan die ontgogeling oor in ’n geteem; daar is ’n ooraanbod van verse wat op ’n religieuse vakuum dui.) In "protesnota" (43) roep die beeld van die papawer die bekende oorlogsvers “Flanders Fields” van John McCrae sinvol voor die gees:

as ek god was
sou ek my aan alles goddelik vergryp:
die son soos 'n papawer pluk
en ter herdenking van die oorlog
in my knoopsgat druk.    

Die opeenvolgende siklusse van lewe en dood word in deel IV gejukstaponeer, maar dit is ongetwyfeld die lykdigte in dié deel wat die hoogtepunt van Doodmenslik vorm. In verskeie verse tref die slotstrofe die leser soos ’n uitknikker – "bejaarde ouers" (63) se slotreëls hier as voorbeeld:

ons groet mekaar:
sy is my ma,
in haar was ek 'n seeperdjie
nóg vlees nóg vis
geen verstand van wat die lewe is
hy is my pa,
ek hou vas waar sy skouers was.

Elegiese verse oor die vader kom ook onder die soeklig. In "te perd" (69) word die vader se lewe verromantiseer deur die metafoor van sy perd, ’n opregte Arabier; die oorledene reis as’t ware tydens die sterfproses déúr die geskiedenis terug na sy oorsprong (die dood). Die Afrikaanse narratief van ’n boerseun met sy ryperd word nostalgies in herinnering geroep.

Prediker 12 word subtiel betrek in “begrafnis” se slotkoeplet:

dit was winter en die son was bleek
toe my kruik en my silwerdraad breek.    (71)

Dan, in deel V, keer die lewe siklies weer terug ná die dood. Daar word gefokus op die verrukkinge van die vleeslike, hartstog, vrugte en die erotiese belofte van mitiese godinne.

Van der Merwe se verse het voorheen aandag getrek in Nuwe Stemme 3 en Groot verseboek (2008). Doodmenslik is ’n bevredigende debuut wat heelwat bied vir die poësieliefhebber. Alledaagse, of doodgewone, verskynsels word digterlik verwerk tot ontroerende verse waarmee baie sal identifiseer. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top