Titel: Doodloopstraat
Skrywer: Leon van Nierop
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485306627
Doodloopstraat begin, soos 'n goeie boek, die leser dadelik interesseer. Die storie speel af in 'n klein dorpie in Botswana, waar 'n man op 'n snikhete dag met 'n das en 'n pak klere te voet opdaag en verblyf kry.
Lourens Schoeman is die verpersoonliking van 'n geheimsinnige karakter. Sy optrede en aantreklike voorkoms het die hele dorpie aan die raai, veral nadat die vermoede bevestig word dat hy 'n baie bekende rugbyspeler is.
Gaandeweg word dit bekend dat hy ophou speel het en van 'n gebeurtenis uit sy verlede weghardloop.
Die roman hou op hierdie manier die leser betrokke, maar nie vir lank nie. Lourens eet daagliks sy maaltye by 'n hotel op die dorpie – ja, daar is sowaar een! – en raak bevriend met Elzaan, die assistentbestuurder. Hulle begin mekaar meer gereeld sien, draf saam en gaan op uitstappies.
Gaandeweg ontknoop Lourens se geheimsinnige verlede: hy glo hy was verantwoordelik vir die dood van sy boesemrugbyvriend, Fanie.
Lourens raak ook bevriend met die poskantoorwerker Lienkie. Sy is ook 'n gefrustreerde skrywer wie se boeke slag op slag verwerp word, en sy wag op 'n prins met 'n wit perd, maar "sy sal gelukkig wees as 'n ou man op 'n donkie haar hier ontdek." 'n Mens verwag dat haar vriendskap die tafel gaan dek vir 'n tweestryd tussen haar en Elzaan en dat Lourens self voor 'n moeilike keuse gestel gaan word. Niks hiervan gebeur nie – die Lienkie-karakter verdwyn sommer uit die teks en die gegewe lewer geen bydrae tot die verhaal nie, behalwe om die storie te rek.
Op 'n dag kry Wolfie, die bejaarde duikklopper by wie Lourens tuisgaan, 'n hartaanval en Lourens en Elzaan haas met hom hospitaal toe. By die hospitaal rek suister Abigail se oë toe sy Lourens sien. Sy slaan die kruis en waarsku Elzaan dat hierdie man 'n doodsengel is: mense met wie hy omgaan, sterf. Dis nóg 'n ietwat goedkoop gebeurtenis wat verwagtinge skep, maar wat, net soos Lourens se vriendskap met Lienkie, geen bydrae maak tot die roman se ontwikkeling nie.
Daar is ook 'n vroueverslaggewer van 'n skindertydskrif wat haar bes probeer om agter die kap van die byl te kom: Wat maak Lourens hier? Dis in hierdie stadium reeds bekend, en as leser begin jy maar jou moed bymekaar skraap om tot op die einde te lees, hopende op 'n riller van 'n slot.
Die leser kry wel 'n ontboesemende slot, maar die verdere verloop van die roman is totaal onwerklik en onoortuigend en hou geen verband met die regstelsel nie.
Van Nierop is 'n groot gees in die plaaslike vermaakwêreld en het ook al 'n magdom uitstekende boeke geskryf. Doodloopstraat is nie een van hulle nie en is nie die soort boek wat nuwe lesers vir Afrikaanse boeke gaan skep nie.
Volgens die flapteks is dit 'n verwerking van 'n roman wat al 15 jaar gelede verskyn het. Dit laat 'n mens wonder oor die uitgewer se motivering om dit weer die lig te laat sien. Is dit dalk bedoel as 'n verbetering op die oorspronklike, of skort daar iets met die uitgewer se oordeel en ondervind hy 'n gebrek aan goeie nuwe boeke?