
Dood van ’n geliefde (2)
Ek is jaloers
want jy sit anderkant
die Melkweg en die volmaan
geheel ’n ander koers.
Jy het vir my op die hoek
hier by die draai na links
gelos
die dag toe jy jou stoomtrein
laat hoes
en sluk-sluk wegry
klik-klak kletter-klapper
die staalwiele
om die hoek, om die draai
jy het gekorrel en gemik
vir die Melkweg,
my Boogskutter my Waterdraer
op pad na die maan.
Ek is jaloers
want jou lag dans
by die Suiderkruis verby
op die oggendster se stert
die son glimlag
die wind hoes sy lag
oor my uit
my geliefde Boogskutter
ek weet jy lag
in die wind
jy lag
in die vroegoggend Sondag-
bries, jy lag in die
ringnekduif
jy wag
want ek is jaloers
op jou doer tussen
Melkweg en die maan
ek is jaloers
ek is jaloers


Kommentaar
Wow,die kuns met woorde word visuele beelde in my gemoed.
Baie dankie ... my boek gaan binnekort beskikbaar wees.