Dood in Venesië

  • 0

Ek is die regisseur van my eie lewensdrama
nes Visconti varend oor die vuil waters
van Venesië met die produksie: La morte a Venezia.
’n Gegrimeerde Aschenbach (deur Dirk Bogarde vertolk)
smagtend na die Poolse seun Tadzio.
Oor en oor kyk ek na die video op YouTube,
luister na die streng bevele van Luchino
met die repetisie van daardie één toneel:
die jong, blonde seun wat stap oor ’n donker brug.
Mahler, en sy doodsobsessie, speel in die agtergrond,
met die drama van hartstog, wanhoop, versugting.
Bogarde se gegrimeerde wit gesig, rooi lippe
en swart gekleurde hare – ’n engelgesig, hierdie Objek
van Begeerte, iewers tussen seun en man,
bewus-onbewus van die ouer man in ’n cholera-besmette stad.
Obsessie, word beweer, meld sig immer só aan:
die ouer een sterwend van ellende, die jonger een
reeds elders, op pad, aan die beweeg, wég van die Subjek.
Mahler vertolk één se treurigheid, verlatenheid.
Is dit wat Thomas Mann wou síén?
En Bogarde wat agterna bely hoe die grimering,
aanwysings ten spyt, op sy gesig skryn.
’n Mislukte film, roep die kritici:
Visconti het Mann glo sleg vertaal.
Hoe durf hy die storielyn aanpas
en musiek, eerder as skryf, ’n groter impak gee?
Dalk sy eie homoseksualiteit wat hier inspeel,
’n gesprek met Zefferelli, glo ’n lover? Wie weet?
’n Klein toneel, ongeveer twee minute en dertig sekondes,
word herhaaldelik uitgespeel, nes herinnering:
dog jy en ek plotseling getermineer. Finaal.
Wis jy ooit hoe ek in Venesië tob oor óns produksie?
Presies wáár het ek jou verloor in hierdie klein film?
Nes Visconti varend oor die vuil waters van Venesië
– let op die alliterasie van die klanke “varend en vuil”
en die binne- en halwe ryme, my obskure objek –
reis ek per boot, nie in ’n romantiese gondola helaas, terug
na die oomblik toe jy wegdraai (finaal oor ’n brug)
om ons verbintenis en veral jouself te verraai.
Jy en ek. Thomas Mann versus Visconti. Verdraai,
swak vertolk, soos in ’n film waar die regisseur roep: “Cut!”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top