Donkerkamer ingestel op die visuele

  • 0

Donkerkamer
Fourie Botha
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795800221
Prys: R150

Klik hier en koop Donkerkamer nou van Kalahari.net!

 

In die nota agter in die digbundel word genoem dat die meeste gedigte in dié bundel tydens ’n graad in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad voltooi is. Botha het voorheen in Nuwe Stemme 4 gedebuteer en aandag getrek as jong digter.

Die omslagontwerp is interessant: bo-oor die torso van ’n jong man loop stippellyne en figure wat soos deursigtige kubusse voorkom; “gedigte” is afgedruk bo die rek van die manspersoon se onderbroek, en berei die leser voor op poësie wat uit die erogene (sone) spruit, of daarmee verband hou.

Donkerkamer as titel kan drievlakkig geïnterpreteer word: as ’n donkerkamer waarin foto’s ontwikkel word; as ’n ruimte waar gay mans anonieme seks beoefen; of as matrys van die dieper (donker) onderbewussyn waar beelde hulself uitspeel.

Die bundel is in vier afdelings gerangskik: ’n alleenstaande gedig getitel “Foto van my pa se gesig”, gevolg deur I. Bedgebied, II. Skoot en III. Roberts Birds.

Reeds in die eerste gedig word die ontoeganklikheid van die vader in terme van landery-metafore geskets: “Grys landery”, “omgekeerde ploegskaar” en “droë waterpype” suggereer ’n steriele landskap / gesigsfoto van ’n bot vader wat kwalik kommunikeer. In deel III sluit gedigte oor die pa weer aan by eersgenoemde: “Ornitologie” (71), met sy verwysings na ’n haan en papegaai, handel oor die ontgogeling van die spreker as hy as volwassene besef dat die mooi jeugherinneringe wat hy rondom sy twee troetelvoëls gekoester het, eintlik fabrikasies van sy moeder was. “My eerste Bybel” (72) versterk die antagonisme tussen pa en seun as die spreker na analogie van Openbaring 5 ’n metaforiese slaglam van die vader word. Die daaropvolgende “Erediens” (73) skok as die pa ’n weerlose swaeltjie se nek breek tydens ’n erediens.

Die gedigte in Donkerkamer is ingestel op die visuele: om te kyk na en te fokus op kunswerke en foto’s, asook die niesigbare wat gestalte vind in die gedaantes van ongediertes (of vrese) in die onderbewussyn. Beeldspraak, veral visuele metaforiek, dien hier as belangrike stimulus.

Deel I, “Bedgebied”, se gedigte is eksplisiet homo-eroties van aard. “Caravaggio se Bacchus” (11) handel oor Caravaggio se skildery van ’n Bacchus in die gedaante van ’n (gay) besope man. Die digter skep ’n verbeelde werklikheid van ’n one-night stand, en hoe vlugtig en verganklik hedonistiese erotiek is. “X marks the spot” bevestig die alleen-wees van ’n man nadat hy as gevolg van sy eiesinnigheid, en ná ’n eerste liefdesontmoeting, verdwaal. Die verlies aan onskuld blyk ook duidelik deurdat die “potloodhart” en “soen” as naïef ervaar word. In “Patroon” (16) word die idee van verlies aan onskuld voortgesit: die woord “monster” tree tweeledig op as ’n materiaalvoorbeeld van ’n speelgoedman dan monsteragtige afmetings begin aanneem. Hier is die verwysing na Frankenstein heel gepas.

In die ongetitelde gedig op p 21 word ’n slapende soldaat se weerloosheid gejukstaponeer teenoor die sluimerende geweld in die soldaat, maar weerloosheid en wreedheid word opgehef deur die estetiese as daar na die soldaat se voete verwys word as “soos die van Italiaanse piëtas/ gekap uit die hardste marmer”. In die laaste reël, “Koelbloedig slaap hier ’n soldaat”, word daar tweeledig verwys na die letterlike koudheid van die marmer, maar ook na die feit dat die estetiese nie onskuldig of onpartydig kan staan teenoor ideologie of geweld nie.

In die ongetitelde gedig op p 23 word die juwele van die spreker se moeder parallel gestel aan die waardebepaling van ’n liefdesverhouding. “Egte pêrels”, “’n geskenk uit Venesië” en “’n klein robyn” het waardeloos geword as die spreker se erfgoed vir ’n goedkoop horlosie verpand word; of, anders gestel, die goedkoop horlosie staan hier as metafoor vir verlore tyd en die brose aard van verhoudings. Ook die gedig op p 24, “My own Private Idaho”, handel oor ’n liefdesteleurstelling en bloei surrealisties uit tot die metafoor van ’n “rooi maan”. As die geliefde vertrek ná die eet van (“gewoonlik bitterder”) pomelo, kan die pomeloskyf op sigwaarde as ’n “rooi maan” beskou word.

In “No photography allowed” (26) tree die verontmensliking van die geliefde eksplisiet in as daar ’n foto van hom geneem word. Ná laasgenoemde verontmensliking word die geliefde ’n reptiel in “Bloukopkoggelmander” (27), ’n oergedierte wat uitgroei tot ’n tirannosourus wat mans vanaf ’n rots op Sandy Bay bekyk. In “S&M bar” word die idee “die liefde is hard” (29) voortgesit in die kroeg vir sadomasochistiese mans, en die idee onderstreep dat liefde en pyn ineengestrengel is, maar ook (self-) vernietigende gevolge kan inhou – vgl “abattoir-ejakulaat”. In “Anti-klimaks” (33) is daar vernuftige woordspel in die dubbelsinnige “draad”/“bedraad” en “die krom roede geleier” wat veronderstel dat seks, wat as “enkel flou vonk” begin, kan lei tot ’n elektriese storm wat hiperbolies uitgroei tot ’n natuurstorm.

In afdeling III, “Skoot”, word daar in die gedig “Ombalantu (38) (na ’n foto van John Liebenberg) verwys na twee troepe wat verby ’n klomp ontbinde mense slenter. Die mans se “roere” onder die handdoeke is ’n dubbelsinnige toespeling op die viriliteit van die mans / weerbare soldate, in skrille kontras met die dood (“verkoolde film/ op ’n draagbaar, beurend/ teen die donkerkamers van die brein”).

In “Don’t feed the lions” (42) en Aaispaai” (43) kom homo-erotiek weer aan die bod. Ongelukkig bly beide gedigte teen die oppervlak vassteek, en die dubbelsinnige verwysings na die “voëls” doen geyk aan. In “Lunch II” (44) verskyn twee naakte mans en ’n geklede vrou op ’n foto, geneem tydens die skiet van die Les Dieux du Stade-kalender (2004). Die digter voer ’n intertekstuele gesprek met die skilder Manet oor sy skildery Le dejeuner sur l’herbe, en die androgene vrou op die foto is veral opvallend.

“Skaking” (52) lees bitter ironies as kinders gaan bloed skenk, maar in ’n ongeluk sterf en die grond dorstig hulle bloed opdrink – en herinner aan Breyten se bekende woorde “die land vra water, maar kry bloed.” In “Berig” (53) bereik die verminking van die vroue wat “slegs half geklee” is, toutologies ’n hoogtepunt as daar verwys word na ’n hond wat die een se lip verslind het – die eintlike fokus van die verminking.

In afdeing III, “Roberts birds” is daar verskeie gedigte wat ongediertes op surrealistiese wyse beskryf. In aansluiting hiermee word daar op “gruwels” soos moontlike kindermolestering gesinspeel in “Iemand het ’n lappop op ’n ashoop opgetel”, terwyl verlies aan onskuld in “Ek was toe mos net ’n kind” (69) aan die bod kom. Ontnugtering by wyse van uitgediende sentiment word in die ongetitelde gedig (70) beskryf.

Die kombinasie van teks en visuele kommentaar is in Donkerkamer heel geslaagd. Botha se gedigte is heg gestruktureer en netjies afgerond. Alhoewel die bundel van goeie vakmanskap getuig, kry die leser egter tog soms die gevoel dat die (fokus op die) visuele teen die oppervlak bly vassteek en die leser nie werklik uitdaag om met nuwe oë na dié belowende digter se werk te kyk nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top