Donkerhart breek nuwe grond vir krimis: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Donkerhart
Skrywer: Henda Olivier
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 978-0-7981-8621-6

’n Hele paar jaar gelede woon ek ’n praatjie oor disleksie by. Een gedagte bly my by: Wanneer ’n kind se diagnose ouers se verwagtinge van die toekoms ingrypend verander, kan daar ’n vreemde rouproses ontstaan. Dit gaan nie oor die kind wat voor hulle staan nie, maar oor die verbeelde kind: die kind én die toekoms wat hulle gedink het hulle sou hê. In die sielkundige literatuur word daarna verwys as die loss of the imagined child.

Dit raak aan ’n groter sielkundige begrip, Pauline Boss se ambiguous loss: verlies sonder duidelike afsluiting, waarin iemand tegelyk teenwoordig én op ’n ander vlak afwesig kan wees.

In Donkerhart leef Matilda met twee vorms hiervan. Haar dogter Mia het ses jaar gelede verdwyn, op tweejarige ouderdom. Sy is fisies afwesig, maar daar is geen afsluiting nie, want niemand weet of sy dalk nog leef nie. Dan is daar haar oudste dogter Petra – fisies steeds teenwoordig, maar vir haar ma emosioneel onbereikbaar.

Olivier gebruik dié dubbele verlies om ’n veel ontstellender raaisel te ondersoek as die vraag oor wat van Mia geword het: Wat gebeur met ’n moeder wanneer sy van die een kind nie weet wáár sy is nie, en van die ander nie meer seker is wié sy is nie?

Dit plaas Donkerhart op ’n interessante plek binne die Afrikaanse misdaadgenre. Die literêre psigologiese roman het ’n gevestigde Afrikaanse tradisie, waarin trauma, skuld, identiteit, geestelike ontwrigting, familieverhoudings en die donkerder dele van die menslike psige sentraal staan. Ook die psigologiese riller en misdaadroman vorm ’n gevestigde en groeiende veld.

Veel yler raak die rak egter wanneer ’n mens na ’n derde soort roman soek: die literêre psigologiese familiedrama waarin ’n ouer moet worstel met die moontlikheid dat daar iets diep ontstellends omtrent sy of haar eie kind is. Hier is Annelie Botes se Raaiselkind natuurlik die voor die hand liggendste Afrikaanse verwysingspunt.

Die raakpunte tussen die twee romans lê egter dieper as die misdaadgegewe. In Raaiselkind val die fokus nie primêr op die misdaad nie – Alexander is dood en sy ma word van sy moord verdink. Die misdaadstruktuur word hier die raam waarbinne die uitwerking van sy outisme op sy gesin en veral ’n moeder ondersoek word.

Ook in Donkerhart is die misdaad meer as ’n raaisel wat opgelos moet word. Dit word die narratiewe raam waarbinne die psigologiese aftakeling van ’n gesin, en veral ’n moeder, ondersoek word. Hier skei die twee romans se paaie egter: Waar Alexander se andersheid in Raaiselkind ’n gegewe is waarmee sy ma moet leer saamleef, word Matilda se onsekerheid oor haar eie kind in Donkerhart deel van die raaisel self.

Afrikaanse romans waarin misdaad verweef raak met die verhouding tussen ’n ma en ’n kind wat sy nie meer verstaan of vertrou nie, is egter veel skaarser. Internasionaal is dié terrein veel bekender, met romans soos The fifth child, We need to talk about Kevin, Defending Jacob en The push. In Afrikaans is die lyn veel dunner: Raaiselkind en Donkerhart.

Veel minder bekend in Afrikaans is die soort roman wat die ongemaklike kernvraag vra waarmee Donkerhart worstel.

Met dié verskuiwing breek Donkerhart nuwe grond binne die Afrikaanse psigologiese misdaadroman.

Olivier laat dié psigologiese diepgang egter nie ten koste van spanning kom nie. Sy trek die spanningslyn behendig al stywer deur die roman in vier dele te verdeel. Die struktuur is slim bedink: Deel 1 skep onsekerheid; Deel 2 destabiliseer die leser se oordeel oor Matilda en Petra; in Deel 3 beweeg die twee narratiewe nader aan mekaar; en Deel 4 dwing die leser om die morele vraag in die oë te kyk.

Olivier weerstaan boonop die versoeking om Petra vroeg reeds vir die leser te verklaar. Juis deur sekerheid terug te hou, word Matilda se twyfel oor Petra ook die leser s’n.

Onsekerheid is nie net ’n tema in Donkerhart nie; Olivier bou die roman só dat die leser dit self ervaar.

Veral interessant is die tonele uit die fiktiewe dokumentêr Boosheid op Bremel: ’n ware misdaadverhaal wat die hoofnarratief onderbreek. Ses daarvan word tussen Deel 1 se 29 hoofstukke ingevoeg, met nog een in elk van Deel 3 en Deel 4. Die dokumentêr word só meer as bloot ’n strukturele tegniek; dit plaas Matilda se private trauma onder die vergrootglas van die openbare blik en dwing die leser telkens om getuienis te weeg en eie gevolgtrekkings te bevraagteken.

Lesers van Lionel Shriver se We need to talk about Kevin sal die ongemaklike terrein van ouerliefde, vrees en morele verantwoordelikheid herken; lesers van Raaiselkind sal die psigologiese tol herken wat die onvermoë om ’n eie kind te verstaan van ’n hele gesin kan eis. Donkerhart staan egter stewig op eie bene.

Die ontstellendste raaisel in Donkerhart is wat van ’n ma word wanneer die kind wat sy wil beskerm, dalk die een is teen wie ander beskerm moet word.

En as jy lank nadat jy eintlik al die bedliggie moes afgesit het, steeds net nóg één hoofstuk wil lees, is Donkerhart ’n móét.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top