Donker plekke ’n waardevolle toevoeging vir die misdaad- en spanningsverhaal-fynproewer

  • 0


Titel: Donker plekke
Skrywer: François Bloemhof
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799352078
Prys: R174.95

Klik hier om Donker plekke te koop by Kalahari.com.

Ek het Donker plekke met oortuiging toegevou nadat ek die laaste verhaal gelees het. Nie omdat al die verhale goed is of omdat ek nog nie so ’n bundel onder oë gehad het nie, maar omdat ek reeds sedert my ek-is-ses-en-lees-net-Nancy-Drew-dae sold is op veral die misdaadgenre. Die vraag is egter of lesers wat nuut tot die misdaad- en spanningsgenres sold sal wees op dié versamelbundel, en die antwoord is ’n moeilike toffie om te kou.

Donker plekke is die hersiene weergawe van Donker veld, ’n versamelbundel misdaad- en spanningsverhale wat in 2002 verskyn het en wat nou uit druk is; die oorspronklike 11 verhale is egter saam met 13 nuwe verhale in die hersiene weergawe ingesluit. François Bloemhof, redakteur en samesteller van beide bundels, het ’n wye verskeidenheid Suid-Afrikaanse skrywers (en nie net misdaad- of spanningskrywers nie) genader om hulle eie interpretasie van een (of albei) van die twee genres in kortverhaalvorm te lewer.

Al sê Bloemhof in die inleiding dat daar met die skrywers se eie interpretasie van die genres nie ’n reg of verkeerd is nie, is daar wel ‘n verhaal in die bundel wat ek voel nie tuishoort nie. In Quintus van der Merwe se “Die man met die groot ego” is dit, ten spyte van die klein hoeveelheid spanning in dié kortverhaal, eerder die sosiale ongemaklikheid as bloedpomp-spanning wat die plot dra. Dit is glad nie ‘n swak verhaal nie, maar dit pas nie vir my heeltemal in by die res van die bundel se oorhoofse tema nie. Ook Johan van Lill se “Wanneer dit gebeur” laat my dink aan ’n wanhopige poging om Diepe grond in prosavorm om te sit – die karakters is nie oorspronklik genoeg nie en die plot nie sterk (of lank) genoeg om hulle te dra nie. Moontlik het ek (en klaarblyklik Van Lill ook) eenvoudig al te veel Japannese rillerflieks gesien, want die oorspronklikheid lê vir my maar vlak.

Die meeste van die verhale in Donker plekke het my egter so breed soos Alice se Cheshire Cat laat glimlag. Deon Meyer doen sy ding met twee kortverhale. In “Die perfekte moord” verskyn ’n gunsteling-Meyer-karakter, Bennie Griessel, en die plot het in regte Meyer-styl ’n paar gruwelike knope wat die leser op die puntjie van sy stoel hou. Sy puik karakteriseringstegnieke vind ook neerslag in sy tweede verhaal, “In die bloed”. Speurder-inspekteur Mbali Kaleni, met haar “kropduif”-lyf, pluis in dié verhaal ’n klaarblyklike fratsongeluk uit. As jy ’n Meyer-aanhanger is (en al is jy nie lief vir kortverhale nie), is beide hierdie verhale die lees werd.

François Bloemhof wys ook twee maal waarom hy in die spanningsgenre gereken word. Veral sy “Skemer staan vir huis toe gaan” is heerlike bangmaak-leesstof. ’n Vreemde kulkunstenaar wat kom kuier en die geheimsinnige verdwynings van seuns in die omtrek keer ’n klein dorpie op sy kop.

Dit is egter Mike Nicol se “Full House” oor die poker-spelende Vicki Kahn wat my so lekker laat kry het dat ek dadelik my man se pokerstelletjie nadergetrek het. Nicol karakteriseer veral met dialoog – en hy doen dit uitstekend. Jy hóór sommer die skarminkels met hulle Kaapse aksente wanneer die een hand na die ander gespeel word. Leon van Nierop se byna aggressiewe riller “My naam is Bart” het my ook beïndruk, en al gril mens skoon vir die brutale einde, vergeet jy nie sommer dié verhaal maklik nie. “Vuurdoop” deur Odette Schoeman en Jacques Janse van Rensburg is kort en kragtig, maar die spanning loop van begin tot einde hemelhoog.

Ek stem saam met Bloemhof wanneer hy in die voorwoord skryf dat die aantal verhale in Donker plekke bemoedigend is – veral Afrikaanse misdaadfiksie het die afgelope dekade ’n ongelooflike opbloei beleef, en uitgewers is sterk op pad om dit ’n suksesvolle genre vir skrywers te maak. Ongelukkig is daar tans net ’n handjievol Afrikaanse skrywers wat ’n lewe uit dié genre kan maak. Afrikaanse spanningsfiksie suig nog aan die agterspeen – al bewys Donker plekke dat dit nie die geval hoef te wees nie. Ten spyte van die een of twee vrot kolle in die bundel, is die spanningsverhale van goeie kwaliteit en hoop ek werklik ’n paar van die deelnemende skrywers is deur dié projek bemoedig om ’n kans te waag met ’n grillerige vollengte-riller. Bloemhof sê self in ’n onderhoud met Mike Nicol dat daar ten spyte van die paar Afrikaanse tekste wat as spanningsfiksie bemark word, pynlik min werklike interpretasie van dié genre in Afrikaans is. Of ons skrywers nou bang is vir monsters of kritici – ek hoop hulle gooi binnekort vir beide middelvingers en laat waai met goeie, grillerige rillers.

Donker plekke sal vir die misdaad- en spanningsverhaal-fynproewer ’n waardevolle toevoeging tot sy biblioteek wees, maar lesers wat nuut is tot die genre (veral in sy Afrikaanse jas) moet dalk eers ’n Deon Meyer of Mike Nicol onder oë kry om die gogga te laat byt. Ook herinner Donker plekke aan ’n Elbow-album. Dié groep se musiek is soms so swaar en kragtig dat mens oorweldig voel na so een of twee snitte (hulle is nietemin briljant). Lees elke dag so een of twee verhale uit Donker plekke en (hetsy jy ’n ou of nuwe leser van misdaad- of spanningsfiksie is) – jy sal stadig maar seker oorreed word van dié genres se belangrikheid in enige taal se literatuur.

Het Donker plekke Afrikaans se eie HP Lovecraft- of Arthur Conan Doyle-eweknie opgelewer? Ongelukkig nie, maar dié versamelbundel is wel ’n duidelike teken dat Afrikaanse misdaad- en spanningsfiksie binnekort dieselfde mas sal opkom. Deon Meyer ry nou lank reeds die golf en dit lyk asof daar uiteindelik (al is ek gek oor Meyer se skryfwerk) ’n paar skrywers is wat hom opdraande kan, en hopelik ook gaan, gee.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top