DJ Opperman 100 jaar: Etienne Britz se bydrae

  • 0

Die digter DJ Opperman sou op Maandag 29 September 2014 honderd jaar oud geword het. Onlangs het die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch 'n feesvieringsgeleentheid in die Wilcocksgebou op die kampus aangebied waar sy menslike nalatenskap geëer is. Etienne Britz deel sy bydrae by dié geleentheid.

Dorothea van Zyl wou hê ek moes iets luimigs oor DJ Opperman vertel. Dit het byna geklink asof ek die gevaar van 'n hagiografiese ontaarding van vanaand se verrigtinge moes help keer. Ek moes te veel van die goeie en die mooie probeer verhelp met skerts.

Ek wil dit graag probeer. Maar hoe skerts mens oor iemand wat nooit 'n gek van homself gemaak het nie?

Opperman was nie 'n man van airs, ydelhede, flirtasies met die publiek of ander kaskenades nie. Sy enorme status het dit alles nie nodig gehad nie.

Ek onthou hom as onpretensieus, plat op die aarde, teruggetrokke in sy werk.

'n Interessante geval van selfspot in 'n honneursklas wat ek wel onthou, is toe Opperman homself met  'n skewe glimlag as 'n burgerlike persoon bestempel het. In die skewe pruimmondjie het ek gelees dat Opperman homself kontrasteer met sy kollega, die prinslike WEG Louw.

Die burgery het die aristokrasie van Europa begin verbystreef vanaf die oomblik dat hul vindingrykheid vrye teuels gegee is. Ons het dit almal in die Departement goed geweet danksy WEG Louw se lesings oor die opkoms van die Nederlandse burgery in die 17de eeu.

Opperman het volgens my geïnsinueer dat hy miskien nie op die vernaamheid van sy Dertiger-kollega aanspraak kon maak nie, maar dat hy as burgerman uit die jare veertig dalk tóg 'n beter digter was. Wat anders kon sy skewe mondjie beteken het?

Opperman was geen “figure of fun” nie. Nogtans het hy 'n Achilleshiel gehad wat hom kon blootstel aan die spotters wat so graag oor die aristokratiese WEG Louw gelag het. Sy Achilleshiel was die magsposisie wat sy genialiteit en status hom mettertyd besorg het.

Opperman was nie, soos Peter Blum, 'n genie wat vanaf die rand van die Afrikaanse bestel toegekyk het nie. Nee, hy was 'n bul naas die bul NP Van Wyk Louw. As letterkundige was hy die leermeester, keurder of bloemleser van ander digters – die groot “tycoon” van ons literêre sisteem.

Om hierby te pas, was hy effens geset, die “bonkige Zoeloelander”. 

In die visdam Stellenbosch was Opperman 'n enorme goudvis, om wie aanhanger-visse gekring het. Die goud wat Opperman afgegee het, sou sorg dat sy naam in byna elke boek van John Kannemeyer sou weerklink.

Opperman het dus ghoeroestatus geniet. Hy was die “Groot, Groot Gees” van die Wilcocksgebou – die teenpool van die “Groot, Groot Bees”, die gevreesde Piet van der Merwe van geskiedenis.

Peter Blum het dit alles voorsien en Opperman toe die naam Poeperman gegee. Dis ongeveer so luimig as wat ek oor Opperman kan raak.

WEG Louw en Opperman het in ons departement twee literêre periodes verteenwoordig: die Dertigers en die reaksie teen Dertig in die jare veertig. Die twee professore het bepaalde troetelterme gehad waarmee hul botsende benaderings aangedui is.

Louw het gepraat van die gedig as “bewoë spreke”. Die Dertigers wou met “bewoë spreke” op Europese peil die Afrikaanse poësie “opstoot in de vaart der volkeren”. Louw se eie bewoë spreke is deur gevleuelde taalgebruik gekenmerk.

Opperman het gepraat van die “objective correlative” en die “shock of recognition”. Sy eie gedigte was “objective correlatives”: objektiewe voorstellinge van iets groter as hulleself. Daarvoor het die digter alledaagse woorde uit die Afrikaanse spreektaal gebruik, en beelde uit die egte, onvervalste Suid-Afrika. Sy interessantste troetelterm was egter die ander een: “shock of recognition”. Hy het altyd gevra dat ons na die mees treffende element of effek in 'n gedig moet soek. Ek het aanvanklik gedink ons moes in die gedig rondtas totdat ons 'n “shock of recognition” êrens kry.  Die term het egter verband gehou met iets anders, naamlik die konneksie enersyds, en die diskonneksie andersyds, tussen Opperman en WEG Louw. Die konneksie was dat hulle albei skatpligtig  teenoor hul Afrikaanse erfenis gevoel het. Louw wou die Afrikaanse digkuns in die vaart der volkeren opstoot. Opperman het die streng oë van sy Afrikaner-voorvaders voel neerkyk op sy digterlike talent, soos ons sien in sy gedig “Nagwaak by die ou man”.

Opperman moes definitief geweet het dat die uitdrukking  “shock of recognition” van Herman Melville kom en dat dit betrekking het op die werk van die Amerikaanse skrywer Nathaniel Hawthorne.

Melville en Hawthorne het geleef in die 19de, eeu toe die Amerikaanse literatuur nog in die skadu van die Britse literatuur gestaan het, byna soos die Afrikaanse literatuur vroeër oorskadu is deur die Nederlandse literatuur. Melville het gesê dat Hawthorne oor die onvervalste Amerika skryf, iets wat mens herinner aan die onversierde Suid-Afrika wat in Opperman se werk voorgestel word.

Melville rig hom tot sy landgenote en noem Hawthorne 'n skrywer “of your own flesh and blood”: “The smell of your beeches and hemlocks is upon him; your own broad prairies are in his soul; and if you travel away inland into his deep and noble nature, you will hear the far roar of your Niagara.” Nogtans, skryf Melville, besef 'n leser met  'n “shock of recognition” dat Hawthorne se werk 'n genialiteit toon wat wêreldwyd herkenbaar was. “Genius, all over the world, stands hand in hand, and one shock of recognition runs the whole circle round.”

Die “shock of recognition” is dus die skok wat mens opdoen wanneer jy in 'n teks uit jou eie bodem 'n geniale kwaliteit ontdek wat wêreldwyd as genialiteit herken sal word.

Opperman se eie, aards-Suid-Afrikaanse poësie kon 'n “shock of recognition” voortbring. WEG Louw se bewoë spreke, 'n late nagalm van die werk van die Nederlandse Tagtigers en Negentigers, was te onnatuurlik en hoog gestem vir 'n “shock of recognition” in bogenoemde sin. Daar lê die diskonneksie.

Louw en Opperman was albei groot professore, en “to each his own”. Maar ek hoop u verstaan nou waarom Opperman se selfverklaarde burgermanskap iets luimigs was, maar terselfdertyd 'n “objective correlative” van sy geskiktheid as Afrikaanse digter. So het sy kop gewerk. 

Lees ook Wium van Zyl se bydrae.
Lees ook Joan Hambidge se bydrae
.
Lees ook Chris van der Merwe se bydrae.
Lees ook Lina Spies se bydrae.
Lees ook Dorothea van Zyl se bydrae
.
DJ Opperman 100 jaar: In klank en beeld.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top