Sommiges sal hom bloot herken as Jack Parow se DJ, maar DJ Naaldekoker het ’n loopbaan van sy eie wat van krag tot krag gaan. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, DJ Naaldekoker. Hoe’s dinge?
Dit gaan voor die wind! My projek begin lekker stoom optel, so daar is heelwat om oor opgewonde te wees.
Eerste dinge eerste – die musiekvideo vir jou derde enkelsnit, “Ek smaak jou”, word eersdaags opgeneem. Die tune het oraloor groot aftrek gekry – hoe voel jy oor die sukses van die snit? Is dit waarvoor jy gemik het?
“Ek smaak jou” geniet speeltyd op verskeie radiostasies en vaar tans goed op die Top 40-trefferparades van ’n paar groot nasionale radiostasies, so ek is in my noppies oor die reaksie. Die idee was om ’n lekker mengelmoes van kulturele invloede – via die verskeidenheid van plaaslike tale waarin JR rap – te betrek om so die snit vir soveel mense moontlik aanloklik te maak. Dit lyk of ons daarin geslaag het en die reaksie daarop is tot dusver beslis waarvoor ek gemik het.
Die snit het ’n lekker humoristiese inslag. In watter mate was dit ’n berekende besluit om dit so uit te voer?
Wat die liedjie se lirieke betref, was die “Ek smaak jou”-refrein-gedeelte die fondasie waarmee ons begin het – nie net in terme van JR se rapverse nie, maar ook ten opsigte van hoe ek die musiek self gebou het. Ek wou iets skep met ’n onweerstaanbare pols en groot basklanke. Daarna het JR sy lirieke geskryf en hy het uitstekende werk gedoen om iets te skep wat lig, snaaks en aansteeklik is. Humor en rap is immers bedmaats, en ek glo dis ’n kombinasie wat kan help om die onderliggende spanning wat deurgaans aan ons as Suid-Afrikaners knaag, met speelsheid, selfspot en ironie te verlig. In “Ek smaak jou” onderstreep JR beslis die feit dat ons kultureel verdeeld is, maar wat belangrik is, is dat hy ook met sy grappe beklemtoon dat ons onsself minder ernstig moet vat en mekaar se verskille moet vier eerder as kritiseer. Hopelik kan humor, in hierdie geval humor in hoofstroommusiek, Suid-Afrikaners nader aan mekaar laat beweeg ten spyte van daardie kulturele verskille.
Op daardie noot: jy het ’n ruk terug ’n remix van Kurt Darren se “Kaptein” gedoen wat aanlyn groot aftrek gekry het. Is dit in jou aard om bietjie draak te steek met dinge, of hoe beskou jy dit?
Vir seker! Ek wil beslis meer sulke snitte aanmekaar slaan. “Kaptein” is ’n massiewe treffer deur ’n reuse-kunstenaar in die Afrikaanse musiekbedryf, maar daar is natuurlik baie Suid-Afrikaners wat daai soort musiek – soms met reg – verkleineer omdat dit so homogeen en, wel, soms pleinweg vrot is. Ek sê nie dit is noodwendig die geval met Kurt nie, en die idee is nie om te verkleineer nie, eerder om te parodieer en die hoofelemente van die snit byderwets in ’n ander genre te gaan stort. Parodie is allermins ’n onkritiese viering van iets, maar dit erken nogtans die impak wat die bronskepping in die samelewing gehad het. (Sjoe, ek dink dis omdat ek met LitNet praat dat ek seker so bietjie hoogdrawend klink. My broer is mal oor letterkunde en teorie en sulke goed, so hy praat met my oor goed in hierdie trant, ook oor my musiek.) Verder dink ek die kultuur van “remixing” is onderontwikkel in Suid-Afrika. Ons het baie mense wat covers doen, ja, maar dan gaan staan en klink hulle byna presies soos die oorspronklike kunstenaars, terwyl daar eintlik so ’n wonderlike geleentheid bestaan om iets te vat en dit te herskep in ’n snit wat uniek en vars is. Maar ja, hierdie soort geremixery bevat vir seker ’n stewige skeut draakstekery. Moet net nie vir Kurt sê nie!
Op hierdie snit het jy saam met JR gewerk. Jy het ook al voorheen met onder meer Goodluck gewerk – hoe geniet jy die collabs en hoe word dit georganiseer? Is daar iemand spesifiek met wie jy binnekort ’n collab sal wil doen?
Collabs is ’n wonderlike geleentheid om meer gevestigde kunstenaars se markte te betree. Hopelik is die voordeel mutual, want die gaskunstenaar kry die geleentheid om saam met ’n nuwe kunstenaar te werk wat dalk sy eie aanhangersbasis aan’t opbou is wat nie noodwendig na die gaskunstenaar se musiek luister nie. Ek geniet dit sommer ook net vir die blote feit dat mens nuwe mense ontmoet en belangrike kontakte opbou. Dit word gewoonlik so gereël: ek skep ’n “sketch track” – ’n voorlopige en onvoltooide snit wat ’n idee gee van hoe dit uiteindelik gaan klink – en dan stuur “my people” (haha) die musiek vir so drie kunstenaars se mense om te hoor of hulle dalk daarop sal wil sing, rap, trekklavier speel of wat ook al. Indien al drie instem, neem hulle dan iets bo-op daardie sketch track op. Ons kies dan die mees gepaste een. Dis nie te sê al drie se bydraes is nie uitstekend nie; dis maar net eenvoudig so dat sekere colabs net beter werk as ander. Wat die kies van die kunstenaars wat moontlik op die song gaan feature betref, hoor ek soms vroeg in die skep van die nuwe liedjie in my kop wie of wat op die song sal werk. Dis hoe ek op Juliette van Goodluck besluit het – ek het net geweet haar vocals gaan vir “The meltdown” werk. Ek het ’n wish list van kunstenaars saam met wie ek graag wil werk en dit sluit uiteenlopende mense in wat strek van Chris Chameleon en Laurika Rauch tot Ladysmith Black Mambazo en Sipho Hotstix Mabuza. Daar is reeds ’n paar collab-projekte in die pyplyn.
Jy het naam gemaak as Jack Parow se DJ op die verhoog. Hoe beskou jy hierdie aanvanklike “etiket” in terme van jou loopbaan? Keer mense jou op straat voor?
Ek is al by enkele gevalle as “Jack Parow se DJ” op straat voorgekeer, maar dit gebeur bitter min. Met Jack is ek maar in die agtergrond, maar dis piekfyn, want in daardie projek is ek nie juis veronderstel om op die voorgrond te wees nie. Ek beskou die “Jack Parow se DJ”-etiket as broodnodige en waardevolle blootstelling – dis ’n positiewe assosiasie wat beslis baie deure oopgemaak het en beslis aanhou om dit te doen, maar ek beskou dit as baie ver van dit waarna ek in my loopbaan streef. Die Jack Parow-ervaring was en is uitstekend vir my loopbaan en ek is baie dankbaar daarvoor, maar ek hoop dit sal later beskou word as net die beginfase van iets enorm!
Terug na die “Ek smaak jou”-snit: in ’n mediaverklaring word gesê die konsep vir die video is gebaseer op “exultation, ritual and transcendence”. Kan jy uitbrei op hoe hierdie konsepte in die video na vore sal kom en wat dit vir jou beteken?
Met die video wil ek visuele vergelykings tref tussen die verskillende maniere waarop mense vlakke van “exultation en transcendence” bereik deur rituele, dans en geloof. Ek laat dit oor aan die kykers om hulle eie opinies te vorm oor die drie genoemde middels waarmee dit bereik word. Dokumentêre-styl-tonele is al reeds verfilm vir my video in Kongo en Soweto, en nog meer gaan geneem word teen die Weskus af. Dit word so wyd verfilm om te verseker dat ’n groot verskeidenheid van ons samelewing getoonbeeld word.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir DJ Naaldekoker in?
Die nabye toekoms hou vir my baie nuwe colabs in. Ek wil ’n vollengte-album uitbring wat mense kan speel van begin tot einde en regdeur dit “party”. Ek wil seker maak alles is op ’n internasionale standaard. Op lang termyn wil ek my musiek oorsee neem en Suid-Afrikaanse EDM (elektroniese dansmusiek) versterk in die buiteland.
Wat is die punt van die lewe?
Eerstens is dit om gelukkig te wees. En in die soektog daarna niemand opsetlik te benadeel nie en eerder te help waar jy kan.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

